Posts Tagged ‘gedigte’

Hannalie Taute. Op soek na ‘n dieretuin.

Wednesday, November 20th, 2013

Alles het seker begin by ʼn foto van Koala beertjies in ʼn Australiaanse dieretuin.  ʼn Vriend het dit op ‘facebook’ geplaas en dit het my laat kriewel, want ek is nie n groot aanhanger van dieretuine nie.

Kort daarna, (toevallig?) word ek uitgenooi om aan hierdie uitstalling deel te neem:

Uitnodiging na die uitstalling: ZOO

In die brief van die “Kurators” word Lauren Beukes se boek: Zoo City genoem.  Daar en dan het ek myself voorgeneem om dit te lees, maar o wee, dit was nie beskikbaar in ons kleine biblioteek nie.  Die gawe dames het dit aangevra vanaf ʼn ander biblioteek in die streek.  “Slangrivier” is die biblioteek se naam waar hulle toe n kopie opspoor.

Ek het die boek geniet, en wou dit nie neersit todat ek klaar gelees het nie.

Daarna het ek begin soek na gedigte wat handel oor dieretuine.  In my ‘google’ soektog gooi die rekenaar die naam : SJ Pretorius vir my uit. Op hierdie blad kry ek toe twee gedigte van hom. Die eerste een: “Die Kranksinnige” kon ek onthou.  Ons het dit behandel in matriek.  Dit was en is my gunsteling gedig.  ʼn Voorlesing daarvan is te vinde op Youtube, maar dit word verkeerdelik toegeskryf aan Koos Kombuis.  Die voorlesing is ietwat emosieloos na my smaak, maar nou ja, dit het my laat wonder hoe digters voel as ander hul gedigte voorlees. Die voorleser laat my ook dink aan ʼn leeu met maanhare; en dit bring my tot by die tweede gedig:

Leeu in die dieretuin deur SJ Pretorius

Sy sien die maanhaar op die grou beton,

Sy ore stomp, sy lang stert spitsgekwas,

Geel flikkerende oë in die son,

En wonder of hy soms nie in die gras

Waar Pappie Sondag ry graag sou wou speel:

Hoe wreed om tussen mure ingeperk

Te ly….mens voel asof jy hom moet streel

En argloos vat sy aan die traliewerk.

Toe storm hy met donderende gebrul

En gryp die vinger styf van vrees gekrul

En byt deur senings sonder mededoë

En skeur die vleis en been totdat die bloed

ʼn kabbelende stroom word en ver, soet

Groen vlaktes opdans voor sy droewe oë.

 Terwyl ek hierdie gedig lees kon ek dit nie verhoed om aan die Melissa Bachman sage, wat nou orals die rondte doen op sosiale netwerke, te dink nie. Ai.

Dit bring tot by hierdie volgende gedig en ʼn skets ter voorbereiding vir n nuwe werk:

Kirke se varke deur SJ Pretorius

As ons moet varke wees, laat ons dan deur

En deur vark wees:  gee ons alleen vol trôe

Met hope doppe en op-hitte-sôe

En modder om ons snoete deur te sleur

En slym en slyk genoeg om met plesier

Te rol in elke wellus van die dier

En laat ons als vergeet van die verlede,

Ons huise in die groot wit marmerstede,

Tempels en gode wat ons uit die tyd

Wegroep ver na ʼn grootste ewigheid,

Wis alles uit, die laaste heimweedrange

Wat al ons lus verlam met siek verlange,

Gee ons alleen die liggaam: spier en klier,

Niks as net die genot van nou en hier.

Skets ter voorbereiding vir n nuwe werk.

Hannalie Taute. Skitterende meisies, winkelpoppe en fantasie

Thursday, September 5th, 2013

Wat het Sonja Heroldt en Lauren Beukes in gemeen mag jy dalk wonder.  Seker nie veel nie, maar kom ons kyk hoe pas die legkaart inmekaar…..terwyl ek my gedagtes hier onder orden.

Ek (en ander kunstenaars) is onlangs uitgenooi om deel te neem aan ʼn uitstalling ten bate vir Rape Crisis via Kurator Jacki Lang en skrywer Lauren Beukes.  Ek het die projek vreeslik geniet!  Die opdrag: Hulle stuur bladsye wat uitgeskeur is uit haar nuutste boek: The Shining Girls.  Die bladsye word aan kunstenaars gestuur wat dit op enige manier mag intrepreteer en iets daarmee doen.  Ek het bladsy 136 gekies.  Aangesien ek nog nie die bogenoemde boek  gelees het nie, het die woorde op die bladsy my leiding gegee.  Ek het ʼn paar woorde uitgewis en voila- inspirasie!.

Ek wil almal graag uitnooi na hierdie opwindende inisiatief/uitstalling tydens die Openbook Festival

Uitnodiging

Vir meer inligting oor die projek besoek Lauren se webwerf hier.

Ek het nou wel nie Lauren se nuutste boek gelees nie, maar wel Maverick- Extraordinary women from South Africa’s past, wat handel oor noemenswaardige vroue in Suid Afrika.  Nadat ek Sonja, meisie van Nigel – ʼn lewensverhaal  deur Carel R Cronje gelees het, is ek van mening dat sy ook  as ʼn noemenswaardige vrou beskou kan word.

Ek het groot geword met Sonja Heroldt se musiek in die huis.

“Ek verlang na jou…

Na die wind wat sy arms om my vou.

So verlang ek as die son en die maan en die wind

En die wolke oor my gaan….”

Juis omdat ek dalk groot geword het met die klanke van haar stem het ek besluit om haar lewensverhaal te lees.  Die omslag het my oog gevang terwyl ek op soek was na Fees van die ongenooides.

Soos ek verstaan was sy die begin van ligte Afrikaanse musiek.

Ons eie Suid-Afrikaanse  winkelpop:

Winkelpoppe: glinsterrokke:

As jy wil en weet kom hou my –

Blondekoppe: goue lokke:

As jy wil en weet kom hou my –

Winkelpoppe: onbetrokke:

As jy wil en weet kom hou my vas….

Haar lewensverhaal is broos. Die boek boeiend.  Met tye wou ek lag en huil. Soms was ek boos en ander kere wou ek haar troos.  Ek het so baie geleer van haar as mens, asook ligte afrikaanse musiek in daardie tyd (70 en 80’er jare).  Hoe Anton Goosen lank vir haar geskryf het, en toe op ʼn dag gese het hy kan nie meer ”marshmallow stuff” skryf nie- of so iets.  Asook hoe David Kramer van mening was dat Skipskop nie haar song was nie, maar volgens my vertolk sy dit uitstekend en is haar bydrae defnitief een van my gunsteling weergawe van die liedjie.

ʼn Paar jaar gelede het ek na haar nuutste album (Reconstructing Alice) geluister en daarvan gehou, en nou wonder ek: sing sy nog?

If music is the food of Love, play on!  sê Shakespeare.

Musiek = lirieke of poësie? Ek het baie oor die vraag gewonder. Wicus Luwes het in sy vorige inskrywing daaraan geraak.  Ek wonder of ek Joernaal van Jorik beter sou onthou indien dit getoonset was….sou ek beter punte by die eindeksamen behaal het?

In my soektog na meer inligting oor lirieke vs poësie het ek op die boek Lyflied.  Liedtekste deur Hennie Aucamp afgekom.  In die nawoord, geskryf deur Daniel Hugo, staan daar: “Hennie Aucamp was die eerste skrywer van Afrikaanse lirieke wat ook teoretiese tekste oor die onderwerp gepubliseer het.”  Baie interessant, maar ek merk op dat dit meer handel oor Kabaret as Sonja se tipe liedjies, maar nogsteeds- ek is vasgenael.

“Eers saam met musiek en ʼn sanger wat ook woordkunstenaar is, kan ʼn liedjie ʼn soort gedig word.”

Woordkunstenaar….wat n mooi woord.

A ha en hoor hier: “..n ‘rym’ is nog nie ʼn gedig nie, maar vertoon darem ʼn ernstige strewe in die rigting.”

En danksy Daniel is Hennie Aucamp as ernstige digter opgeneem toe hy twee van sy liedtekste in Speelse verse van 1988 ingesluit het- 11 jaar na Hennie se Die lewe is ʼn grenshotel.  Snaaks hoe die lewe sy paadjie loop.

Voordat ek die hele Nawoord herhaal gaan ek hierdie laaste sin op bl 67 aanhaal: “Dit is al moeilik genoeg om te bepaal wat goed is;  as jy boonop wil onderskei tussen groot en klein beland jy in ʼn erger morele en literêr-teoretiese moeras.”

Ek sluit af met my gunsteling:

WAT MOEDERS WEET VAN LIEFDE –Hennie Aucamp

Die liebe dauert

Oder dauert nicht

Het Bertolt Brecht gesê –

My Moeder met haar wysheid

Kon Bertolt nie weerlê:

 

“Want wie, my kind, sou ons kon sê,

Hoe diep of vlak die liefde lê?

Wat diep is, kan soms vlak lyk:

ʼn bergpoel in die son;

wat vlak is, kan soms diep lyk,

tot jy eers nader kom.

 

“Wat blywend is, my dogter –

En dit moet jy onthou –

Is fantasie oor liefde

En dit moet jy behou.

“ʼn Leeftyd vol winters

Is fantasie jou gloed

Wat wanhoop, en selfs erger,

Verstarring moet verhoed.

 

“Want fantasie oor liefde

Kan méér as liefde bied.

Uit fantasie kom verse;

Uit liefde – skaars ʼn lied.”

 

Die Liebe dauert u.s.w

Hannalie Taute. Dierbaar

Tuesday, January 17th, 2012

Einde laas jaar ontvang ek ʼn geskenk van my dierbare man: NP van Wyk Louw se Raka. Nou ja, ek moet bieg dat ek deur die boek geworstel het net soos ek deur DJ Opperman se Joernaal van Jorik op skool geworstel het. Ek gebruik die term worstel, want die bogenoemde gedigte was te langdradig na my sin- ek persoonlik verkies haiku’s. Kort en kragtig en tot die punt. Meer hieroor in die toekoms.

Onlangs ‘google’ ek gedigte wat die woord renoster bevat, aangesien die dierasies en hul saak deesdae na aan my hart lê. Tussen al die opsies verskyn daar ʼn webblad van Johann Lodewyk Marais wat handel oor niemand anders as onse NP van Wyk Louw en aangesien ek toe pas deur Raka gesloer het, kon ek myself nie keer om ondersoek in te stel nie.

Ek moet erken dat ek nog nie deur alles in die bogenoemde webblad gelees het nie, aangesien my kinders dink mamma is hul gunsteling speelding, en tussendeur maak ek renosters en ander speelgoed uit ou binnebande.

Ek het werklik nog nie die geleentheid gehad nie, behalwe om hier en daar ʼn paragraaf te lees. Al wat ek tot dusver kon wysword is dat die natuur baie na aan NP van Wyk Louw se hart gelê het:

Louw het egter nooit die natuur bloot as “tema” ondersoek nie, maar dit in ’n wyer sosiokulturele en -politieke verband geplaas en so sy vinger op veranderinge in die (Suid-)Afrikaanse samelewing gelê. Hierdie geskakeerde bemoeienis met die natuur kan as bewys dien van hoe belangrik hierdie enigsins verwaarloosde onderwerp in Louw se oeuvre is en waarvoor daar ook in sy daaglikse lewe ruim belangstelling was.”

Nog ʼn paragraaf wat my oog gevang het is:

“Gedurende die 1960’s het Louw ’n aantal tekste gepubliseer wat hom deel gemaak het van ’n wêreldwye beweging om die belangrikheid van die omgewing onder die aandag van beleidmakers, besluitnemers en die publiek te bring. Sy gedigte “Die narwal” en “Svend Foyn het die harpoenkanon bedink” is seminale gedigte in die voortgaande stryd om die wêreld se walvisse (en ander bedreigde spesies) te bewaar, terwyl Berei in die woestyn ’n sterk pleidooi vir die bewaring van Suid-Afrika se kosbare bogrond lewer.”

Was die mens al so lank terug besig om verwoesting te saai? Hier in my onkunde dag ek die stryd vir bewaring is n nuwe tendens.

Ek groet met hierdie gedig wat ek opgespoor het in my soektog – geskryf deur Heilna du Plooy:

 

Die donker binne en die donker buite

 

Met opgetrekte knieë sit die kind

en gril verruk vir elke nuk

van die wonderdiere wat hy uitdink:

 

‘n renoster met vlerke en ‘n vis met vier oë,

‘n waterskilpad met ‘n periskoop

en die stekeltongpadda is ‘n dik dubbeldoor.

 

Vlug van voet, van vlerk of vin,

skerp geklou en sterk gebou, kan almal

vreemd en verskriklik goed sien.

 

Die kind se droom is sonder grense.

Hy maak sy skrik met kreature mak

in ‘n wêreld wat uitdy onder sy wense.

 

Die vader sluit die hek en al die deure,

sit die vensters dig op knip,

daarna die buitelig en die sirene.

 

Van agter die hoekige raam

speur hy strak die tuin deur

vir wat in die skaduwee donkerlik roer:

 

die ene oog sodat sy seun kan speel,

weet hy sy drome het verstar, vereelt,

soos hande wat te veel swaar dinge dra.

 

© Heilna du Plooy. Mei 2009.

Suzanne Bezuidenhout. Wat is jou gunsteling gedig?

Thursday, April 22nd, 2010

“Wat is jou gunsteling gedig?” Dié vraag van ʼn vriend vang my ietwat onkant. Ek het immers ʼn gunsteling fliek, paar skoene, kleur, seisoen en selfs ʼn gunsteling sitplek in my gunsteling koffiekroeg, maar ʼn gedig? Op die vraag of ek net een moet kies, antwoord hy: “Ja, net één.”

Dit is ook ʼn vraag wat ek sélf graag aan studente vra en antwoorde wissel van die afgestompte “Ek lees nie gedigte nie” en die raaiselagtige “Ek kan nie die gedig se naam onthou nie, maar die “ou” skryf oor vlerke en hy was in die tronk” (uiteindelik het die student toe nie Kurt Darren se “Loslappie” as poësie beskou nie, maar wel verwys na Breyten Breytenbach se “Allerliefste, ek stuur vir jou ʼn rooiborsduif”) tot ʼn trotse “My ma sê elke gedig wat ek skryf, is haar gunsteling.”

Op my vriend se vraag kon ek nie dadelik ‘n antwoord gee nie, hy was nie tevrede met my verweer dat ek eenvoudig nie net één gedig kan kies nie, omdat daar te veel gedigte is wat my laat lag, my laat huil, my laat wonder én verwonderd laat. Ek het deur my inventaris van indrukke oor gedigte gegaan om sodoende te (probeer) bepaal watter gedig uitstaan. Sou dit Ina Rousseau se “Sondag op Stellenbosch” wees of Johann de Lange se “Arabiese seun”? Maar dan dink ek weer aan “Brief van hulle vakansie” deur Breytenbach én Antjie Krog se “Pouse” én Hennig Pieterse se “Ou parfuum wat swaar” én die hele Groot Verseboek (al drie van hulle).

Ek het onlangs ʼn e-pos van die bogenoemde vriend ontvang: “Het jy al besluit?” My antwoord was dat ek nog dink. ʼn Mens kies tog nie tussen jou kinders nie, jy het elkeen op ʼn ander manier lief. Dalk werk dit ook so met gedigte, maar is daar nie tog een wat jy wél voortrek nie, die witbroodjie? 

 

Jy’t weggegaan en jy bewoon

 ʼn silwer herberg in die sneeu

jou vensters kyk nog elke nag

met drie blink oë na die plein

 

die plein is boom en wind en boom

en wind en wind

en wintermiddag voer daar iemand

die meeue krummels teen die wind

 

Met die verligting wat sekerlik gepaard gaan met ʼn AA-lid se erkentenis, kan ek dus nou sê: Ek is Suzanne Bezuidenhout en Van Wyk Louw se “Jy’t weggegaan” is my gunsteling gedig. Voorlopig.