Andries Bezuidenhout. Moerdyk en Watson se Plantkundegebou
Monday, August 1st, 2011Die Departement Plantkunde hier by die Universiteit van Pretoria is op die oomblik besig om uit hulle gebou te trek, die een in die foto hier bo. As jy nader stap, kan jy die glasbakstene beter sien:
Glasbakstene is deur Le Corbusier gewild gemaak – spesifiek as vorm van natuurlike lig rondom trappe. Hierdie gebou het sterk Art Deco-elemente, alhoewel ʼn brosjure van die Universiteit dit beskryf as ʼn “besonderse siersteengebou met elemente van die Hollandse Baksteenmodernisme”. ʼn Voormalige kollega, Glenn Adler, saam met wie ek destyds by Wits gewerk het, het hierdie boustyl as “Highveld Municipal Deco” beskryf. Geel klinkerstene, die kleur van mynhope. Hy het spesifiek na die ou openbare swembad in Melville verwys. Daardie gebou is ook nou gesloop en met ʼn verbeeldinglose winkelsentrum vervang.
Op die twee oostelike hoeke van die gebou is daar deesdae massiewe geelhoutbome. Aan die voorkant ʼn geelhout:
En aan die agterkant ʼn Outeniekwageelhout:
Professor B. Engelbrecht van die Departement Plantkunde het in die laat-30s, vroeë-40s aan die ontwerp van die plantkundegebou saam met Gerhard Moerdyk en H. Watson gewerk. Moerdyk het natuurlik ook die Voortrekkermonument, die Ou Merenskybiblioteek op die kampus, asook die Nederduits Gereformeerde Kerkgebou in Cottesloe in Johannesburg ontwerp. Hierdie gebou is egter nie ʼn tipiese Moerdyk nie – deels dalk hoekom ek so daarvan hou. Op 10 April 1940 is die hoeksteen gelê en die bouwerk is in dieselfde jaar nog voltooi. Nou, na sewe dekades, verlaat die Departement dit om na splinternuwe kantore toe te trek.
Ek het maar ʼn paar foto’s kom neem om te boekstaaf hoe die gebou nou lyk. Ek neem aan dit sal deur ʼn proses van vernuwing gaan voor nuwe intrekkers hul plek kom inneem, blykbaar mense van Wiskunde. Dis veral bykomstighede soos kaste, deurknoppe, krane, ens., wat met sulke moderniseringsprojekte in die slag bly. (Ek het reeds vir my kantoor pragtige ou boekrakke gaan red wat iemand anders van wou ontslae raak, seker omdat hulle voel boekrakke van saamgeperste hout is meer modern, of so iets.) In die Plantkundegebou is die badkamers ook reeds oorgedoen. Sommige van die oorspronklike detail het egter behoue gebly. Ek hou veral van die lampkappe vir die ligte aan die gebou se voorkant.
As jy instap kom jy ʼn dramatiese plafon in die ingangsportaal teë. Ek neem aan die oorspronklike lampskerm het reeds verlore gegaan:
Die traprelings is vir my besonder mooi:
So ook die vloere. Darem is dele van die vloer nog nie uitgekap en met een of ander generiese terracotta vervang nie:
Hier kan ʼn mens sien dat die plantkundiges se boeke reeds ingepak is om na die nuwe kantore toe verkeep te word. Agter die boeke loer benoude loodglasvensters uit:
Hier is meer detail van die loodglasvensters. Let op die mooi lampskerm:
Dan, my gunsteling stukkie detail – die glasbakstene van binne, ʼn suil aan die gebou se voorkant wat lig na binne toe verskaf vir die eerste en tweede verdiepings:
As jy sewe dekades lank in ʼn gebou leef, word dit seker te klein. ʼn Mens leef dit ook uit styl uit. Baie van die kantore aan die binnekant is hokkies wat van tydelike mure aanmekaargesit is. As jy ruimte nodig het, breek jy soms ʼn gebou se ruimtes met afskortings. Ek hoop die Universiteit neem die aanvanklike styl van die gebou in ag as hulle dit vir nuwe intrekkers inruim. Duursame hout, groot vensters, reguit lyne, ruim laboratoriums en kantoorruimtes, baie lig.
In neoliberale tye word sulke oorwegings egter nie hoog geag nie.