Posts Tagged ‘gesigsblindheid’

Nini Bennett. In die appel van my oog

Thursday, April 1st, 2021

 

 

 

Met die uitbraak van Covid-19 het ons geleer om gesigsmaskers te dra; ons is, in ’n sekere sin incognito en gesigte wys weinig, of geen mimiek. Soms sukkel ons om mekaar te herken en moet ons soos mense wat aan gesigsblindheid ly, staatmaak op eksterne leidrade soos liggaamsbou, klerasie, haarstyle, ensovoort. Dit is eintlik verstommend hoe baie inligting mens uit iemand anders se gesig kan lees, byvoorbeeld sosiale interaksie, emosie, persoonlikheidseienskappe en gender, om enkeles te noem. Daarom is dit te verstane dat akademici ’n hernieude belangstelling in die neurologiese versteuring, prosopagnosia (gesigsblindheid) toon. ’n Persoon wat hieraan ly, sukkel om andere se gesigte te herroep, onthou of van mekaar te onderskei. Ongeveer een uit elke vyftig mense word hierdeur geaffekteer, en gesigsblindheid is óf aangebore óf veroorsaak deur breintrauma.

Dr Erez Freud, ’n sielkundige verbonde aan die Centre for Vision Research aan die York-Universiteit, Totonto, het 500 volwassenes genader om ’n eenvoudige aanlyn gesigsgeheuetoets te doen. Die deelnemers het aansienlik swakker gevaar in die herkenning van gesigte met sjirurgiese maskers; dit sluit ook die gesigte van bekendes in. Ongeveer 13% van die totale groep het só swak gevaar en gesukkel, hulle kon net sowel aan gesigsblindheid gely het.

Gesigsherkenning is ’n gesofistikeerde proses wat holisties, in een oogopslag, geskied. Dit is veral waar in die geval van mense wat mekaar goed ken. In soortgelyke situasies is deelnemers se gesigsherkenningsvaardighede getoets deur die gesigte van bekendes onderstebo te draai, of feitlik heeltemal te bedek, met net een gelaatstrek sigbaar. Die deelnemers is ook gekonfronteer met ’n fusie van bekendes se gelaatstrekke, byvoorbeeld George Clooney se mond en Robin Williams se oë, of die superponering van gelaatstrekke. Vroue se gesigsherkenningsvaardighede is beter as hulle manlike eweknieë s’n. Dit is dikwels ook vroue wat die polisie help om forensiese gesigsketse van vermeende misdadigers saam te stel. Die evolusie van polisiesketse, Identikits en sagteware, wat help om die ‘korrekte’ amalgaam van gelaatstrekke byeen te bring, het intussen geëvoleer tot gesigsbiometrie. Mens sien dikwels in ’n film hoe vroue polisiekunstenaars bystaan met die saamstel van gesigsprofiele – en in die werklike lewe is dit ook die geval. (Mens kan natuurlik byvoeg dat vroue inderdaad ook groter slagoffers van misdaad is.) Hoe dit ook al sy – die binêre opposisie van gesigsblindheid sou waarskynlik superieure gesigsherkenningsvaardighede wees – en, soos genoem vaar vroue beter as mens as dit by die onthou van fynere gesigsdetail kom. Vroue “lees” ook inligting uit ander mense se oë beter as mans. Sulke ooggetuies is van onskatbare waarde vir die polisie as dit kom by die saamstel van gesigsprofiele – wat lei tot latere arrestasies.

Daar is verskille in die lees van gesigte: in Westerse Kaukasiese lande dekodeer mense heelwat inligting uit die mond-area, terwyl Oosterse Asiatiese inwoners hulle inligting oorwegend uit die oog-area genereer.

Die langdurige dra van maskers – byvoorbeeld vir jare aaneen – gaan sonder twyfel ’n latere invoed uitoefen op babas en peuters se vermoëns om gesigte holisties te lees – soos een navorser dit gestel het: Dit sal wees soos om ’n tweede taal aan te leer; een met ’n aksent. En net vader tyd sal leer wat se invloed gesigsverperrings op die langtermyn psigologiese ontwikkeling van kinders sal hê.

Ek ontdek nou die dag ’n nuwe toepassing (app), en die bittere ironie daarvan gaan my nie verby nie. MyHeritage het ’n virtuele speelding, Deep Nostalgia bekend gestel, wat via kunsmatige intelligensie ou foto’s van geliefdes tot lewe wek, amper soos met ’n kort video. Die gesig, gestol in sy ewigheidsekonde, begin te beweeg, die kop draai rond, en die gesig glimlag. Die gedagte is waarskynlik om foto’s van gestorwe familie te aktiveer, alhoewel die toep op enige foto van toepassing kan wees. Terwyl die wêreld vasgevang is in ’n makerade van gesigloosheid, verbeter die tegnologie om gesigte te laat herleef.

Een van ons grootste digters, prof TT Cloete, het aan gesigsblindheid gely. Die liefde tussen Theunis Cloete en Anna van Zyl vorm deel van een van die mooiste liefdesnarratiewe in die Afrikaanse digkuns. Na Anna se afsterwe aan nierkanker kon Cloete steeds nie sy vrou se gesig onthou/herroep nie, en het sy hele huis vol foto’s van haar geraam. In die drie jaar ná haar afsterwe het hy net tien nuwe gedigte geskryf; sewe oor Anna. In 2010 is Uit die wit lig van my land gesny gepubliseer, ’n bloemlesing waain alle gedigte oor sy geliefde Anna gebundel is. Want Anna was die digter, die muse ín hom, het Cloete by herhaling bevestig. En sy sielsgenoot het vir hom gesê hy moet aanhou leef; hy moet skrýf. Cloete het in 2014, op 90-jarige ouderdom sy swanesang, die lywige Karnaval en Lent die lig laat sien – ‘n jaar voor sy dood. In Die groot misterie van twee vroue: Briewe aan Anna (Pooka, 2016) noem Hambidge in ’n resensie dat laasgenoemde ’n brieweboek, ’n liefdesboek én ’n letterkundige verslag van ’n literator en digter is waarin hy ook skryf oor sy eie gesigsblindheid (prosopagnosia).

Cloete het in 2002, nadat Anna siek geword het, begin om vir haar briewe te skryf.  Sy is in 2007 oorlede, maar hy het voortgegaan om vir haar te skryf.

 

28 Februarie 2010

 

My liefde vir jou het gelê in jou bestendige aanwesigheid.  As ek my rose gesnoei het, het ek geweet jy is iewers in die huis doenig.  Ek kan enige tyd my snoeiskêr neersmyt en jou iewers in die huis doenig kry. Of ek kan iewers in die tuin vroetel, dan kom jy na my toe, met tee.  As ek my papegaaie vertroetel het, het ek geweet jy is durend daar.  Ek was vir die kleurryke voëls lief omdat ek vir jou saam met my vir hulle lief was.

Jy was en is my stokperdjie.

Soos ek geloop, gestaan, gelê of gewerk het in jou ononderbroke aanwesigheid, loop, lê, werk, slaap ek nou in die holte van jou afwesigheid. Jou leegte. Jou onvervulde holte. Jou nergens. Jou 0. “

 

Hambidge verwys na Cloete se kommunikasie met Anna as ’n bonatuurlike infra- of ultrakommunikasie. In die onderstaande gedig ervaar die leser iets hiervan; óók van ’n visuele versperring, strofes 4-7:

.

Anna

[…]

Ek herken jou voetstap in ʼn besige straat

in ons dorp van baie ver. Die beste het gebly.

Ek hoor jou stem sonder dat jy praat.

.

Kyk ek sonder jou, is daar skille

oor my diep oogkasse, ek

kyk sonder pupille.

.

Ek soek jou omtrek om my getrek,

ek soek jou in die appel van my oog.

.

Kyk ek na die melkweg, in die gras,

in die water, na die boog

van die aarde, altyd iewers is jy ingepas.

 

Uit die wit lig van my land gesny, 2010.

En hierdie vers, strofes 9-10:

.

Gratis 1

[…]

in die soet trekke wat ek op haar afwesige gesig wil pas

om haar afwesige liggaam wil kontoer na my sin

wat ek liefhet vul sy eiesinnig pynlik anders in

.

sy hou haar ver agter in my oë onsigbaar onuitwisbaar vas

.

Heilige nuuskierigheid, 2007

.

Verwysings

 

https://www.nytimes.com/2020/08/31/health/covid-masks-face-blindness.html?fbclid=IwAR2SU7d30HI5jZHgM_uET8dmZjeEtaNlFhHb2wMB9dNT3hVYnffge206dws

https://joanhambidge.blogspot.com/2017/01/tt-cloete-die-groot-misterie-van-twee.html?m=1&fbclid=IwAR2UQVInRueaDqQCcUYiSslgJnhjm1JtPwo3QMJVNfmIs7HqOAhLcvFA47U

https://www.litnet.co.za/tt-cloete-1924/?fbclid=IwAR1iZxjNYPGb-0_WzrXq_2D1hiAk7osqSuw1xX0wsj-R0XQIZRX03pbGM7A

Facebook: T.T. Cloete – Onthou