Johannes Prins. Get over yourself
Tuesday, August 26th, 2014get over yourself
Ek weet byna presies wat’s fout met ons. – Toast Coetzer
daar sit
’n rooi sekelmaan
langs my linkeroog
se kornea,
bloed
het deur die nag
uit die hoek uit
gesyfer
my een
onderste molar
is al vir jare lank
’n oopgroefmyn
wat ek met
repair & protect
wegborsel,
wegdink
meer suid,
in my lae rug,
sit ’n haarlynbreuk
ná die lyf
’n vallende
gimnas
van die rekstok
moes red
maar gelukkig
werk
die hydraulics nog,
en die onderstel
hang net
so nou
en dan
uit
(c) Johannes Prins / 2014