Posts Tagged ‘getekende kopieë’

Nini Bennett. ’n Getekende kopie, asseblief

Thursday, June 18th, 2020

 

“Ek gaan jou boek bestel, maar dan moet jy dit vir my teken.”

“Sal jy vir my iets voor in die boek skryf en dit teken?”

“Ek soek ’n getekende kopie, asseblief.”

Dít is die versoeke wat ’n skrywer, wat pas ’n boek vrygestel het, aanhoor. Maar wat is die redes – of die dryfvere – agter die teken van ’n boek? Wat maak dit vir die koper so spesiaal, of selfs gesog?

Professionele boekversamelaars, daardie ywerige bibliofiele, ken die waardekategorieë van getekende kopieë. Laasgenoemde behels waar en wanneer die boek geteken was en aan wie die getekende kopie gerig was – en of daar ’n inskripsie voor in die boek is, aldan nie. Die skaarsste, of vraag en aanbod van ’n boek, die ikoniese status van die skrywer of ander historiese gebeure bepaal ook die waarde van so versamelaarskopie. Van die mees gesogte getekende kopieë is byvoorbeeld Where the wild things are (Maurice Sendak, $25 000); To kill a mockingbird (Harper Lee, $25 000), of A farewell to arms (Ernest Hemingway, $17, 500).

Suid-Afrikaanse lesers se oogmerk met getekende kopieë berus waarskynlik meer op die sentimentele as die finansiële waarde van ’n getekende kopie. En nie alle boekkopers is boekversamelaars nie, en die begeerte om getekende boeke te bekom is waarskynlik nader aan die besit van memorabilia. Dit is onthougoed en kosbare bêreboeke; memento’s.

In The strange history of Bonnie and Clyde beweer die skrywer, Treherne, dat getekende kopieë onderliggend dieselfde logika vorm as met relieke. Die woord “relieke” hou verband met die woord “remains”, en kan dui op enige vorm van fisieke oorskot of besittings wat met ’n heilige geassosieer word. Dalk moet “heilige” eerder in ’n figuurlike sin gebruik word, want musiek-, film- of sportsterre se “relieke” is ook uiters waardevol.

Binne die Christendom verwys die begrip reliek onder meer na 2 Konings 13: 20-21, waar ’n Moabietiese man in Elisa se graf begrawe is maar met die aanraking van Elisa se beendere weer lewendig geword het. Nóg so ’n voorbeeld is Handelinge 19: 11-12, waar doeke en voorskote wat in aanraking was met Paulus se vel, op hul beurt weer siekes kon genees by wyse van die bemiddeling van ’n genesende, goddelike krag. Die gebruike van relieke kom steeds volop voor onder aanhangers van charismatiese godsdiens, byvoorbeeld op die televisieprogram, Kruiskerk, word doeke met die palmafdruk van ’n betrokke pastoor (en selfaangestelde geloofsgeneser), verkoop. Dit sê nogal baie van magiese denke – of magiese objekte – en die rol van bygeloof binne geloof.

In Mei 2018 het die aartappelboer en lekeprediker, Angus Buchan, ’n gebedsaamtrek vir reën op Mitchell’s Plain gehou waar hy ’n groep gangsters toegespreek het. Hy het tydens die diens van sy klere ontslae geraak en in slegs ’n T-hemp, denim en sokkies verder gepreek. Sy Bybel, baadjie, hemp, stewels en Stetson het hy aan bendeleiers uitgedeel met die opdrag dat hulle hul gawe van leierskap in diens van die Here moet stel, en nie misdaad nie. Hierdie uitdeel van Buchan se persoonlike klerasie tref mens onmiskenbaar as die oordrag van relieke (al is dit ’n grandiose gebaar). En weer eens voer magiese denke die botoon.

En van die charismatiese na die poëtiese: In Alruin beskryf H.J. Pieterse die erotiese proses as ’n gewyde of spirituele belewenis wat in herinnering geroep word deur relieke:

.

OU PARFUUM WAT SWAAR

.

Ou parfuum wat swaar

in hout intrek.

Jy het uit geel herfsreën

binnegekom.

.

Die rook van jou sigaret

maak marmerpatrone.

Ons buig inmekaar,

gesmelte glas op roosglas.

.

In die nanag sê jy reëls

uit ’n ou vers of gebed

in die swart katedraal

van jou slaap.

.

Later kry ek in my bed

’n haarpatroon, ’n geur;

relieke

van ’n liefdestyd.

 

Bloedrelieke. Wat ’n mooi woord is dit nie! Toe Abraham Lincoln op 15 April 1865 doodgeskiet is in die Ford-teater, sou niemand kon raai hoeveel keer sy doodsklere – bloedrelieke – van hande sou verwissel nie. Hierdie bebloede hemp, jas, broek en das was op ’n kol in die betrokke teater in ’n glaskabinet toegesluit nadat Jan Publiek stukkies bebloede materiaal uit die jas geskeur en dit verder beskadig het. Die klere was op ’n stadium selfs toegesluit in die Greensboro-bankkluis; daar was duidelik angs en verwarring oor wat om met die morbiede nalatenskap te doen. ’n Ander voorbeeld is die berugte bankrowers, Clyde Barrow en Bonnie Parker wat in 1934 doodgeskiet is in ’n polisiehinderlaag in Louisiana. Dié twee rampokkers was baie gewild onder die Depressie-geteisterde inwoners van Texas en het met hulle dood heroïese status bereik. Hulle is weliswaar ver van heiliges…maar ’n skare mense het op die koeëldeurboorde Ford V8, waarin Barrow en Parker se liggame gelê het, toegesak. Daar is letterlik bloedrelieke gemuit van die polisietoneel – sommige verbygangers het glasstukke in die pad opgetel terwyl ander weer met ’n skêr (bebloede) haarlokke uit Parker se haardos geknip het. En dit bring ons by die begrip murderabilia. Dit is, soos mens kan aflei, versamelaars wat artefakte wat aan moordenaars en/of slagoffers behoort het, versamel – dit betrek ook voorwerpe wat gebruik is op misdaadtonele, byvoorbeeld wapens, klerasie, of selfs die kuns wat die moordenaars in die gevangenis gemaak het. Die sielkundige dryfvere agter dié donker en makabere versameldrang is kompleks, maar dui in kort daarop dat dit aan die versamelaar ’n gevoel van mag gee en dat die items op ’n primitiewe vlak ‘trofeë’ in die hande van die besitters word: Die jagter jag nou sélf die jagter deur eienaarskap van laasgenoemde se besittings te neem.

Memorabilia verloor waarde as dit skoongemaak word, byvoorbeeld die af- of uitwas van bloed. Dit moet outentiek, in takt bly; die rugbytrui van ’n rugbyheld wat opgeveil word, moet byvoorbeeld nie gewas word nie (die sweet moet daarin bly).

Treherne het opgemerk dat getekende kopieë as relieke gesien kan word. Relieke dra die spore van die lewe; dis om iets van die rou DNS van iemand te besit, of menslike weefsel, as jy wil, outentiek en onvervals. Getekende kopieë hou ’n bekoring vir boekliefhebbers in. Die outopen-tegniek, waar die skrywer se handtekening in drukkersink verskyn en onderworpe is aan reproduksie, beskik slegs oor kuriowaarde, niks meer nie. Wat is meer persoonlik as die skrywer se outograaf in regte ink, iets van sy identiteit, en wat is meer verteenwoordigend van ’n skrywer as sy skrif self? En ’n inskripsie gerig aan ’n bewonderende leser?

.

Wanneer ’n digter sterf

 

stroom huldeblyke in

oor die enorme verlies en bydrae

van óns stilgemaakte digterlike stem

 

Wanneer ’n digter sterf

staan die literêre lykbesorgers gereed

met oordrewe takserings

oor die kwadratuur van sy sirkel

 

Wanneer ’n digter sterf

is daar onbetaamlike vrae

oor die lewenstyl en selde

of hy ’n rondeel of distigon kon skryf

 

Wanneer ’n digter sterf

word hy stellig, indien onderteken

aangekoop en gou vergeet

tot ’n ander digter kort hierna vertrek

 

Wanneer ’n digter sterf

mag sy gedigte tog ’n ewige leser beërf

 

(Joan Hambidge. Uit: Lot se vrou, Human en Rousseau: 2012)

.

Verwysings

https://www.news24.com/news24/SouthAfrica/News/buchan-gives-his-shirt-boots-and-stetson-to-gangsters-at-prayer-meeting-20180324

https://en.m.wikipedia.org/wiki/Relic

Pieterse, H.J. Alruin. Pretoria: HAUM-Literer, 1989.

Treherne, J. The strange history of Bonnie and Clyde. New York: Cooper Square Press, 2000.

 

 

  •