Posts Tagged ‘gewilde poësie’

ʼn Plek van genesing en ʼn lewende bewaarplek vir plaaslike tale

Saturday, December 14th, 2019

PERSVRYSTELLING

12 Desember 2019

 Die derde AVBOB Poësiekompetisie:
ʼn Plek van genesing en ʼn lewende bewaarplek vir plaaslike tale

Die derde AVBOB Poësiekompetisie het op ʼn positiewe en dramatiese noot geëindig. Gedurende die laaste week is meer as 7 000 gedigte ingeskryf waarvan 2 224 op die sluitingsdatum, 30 November 2019, ingedien is.

Dit is ʼn merkwaardige prestasie – en ʼn veelseggende syfer: daar is tallose digters in ons land wat miskien onseker is van hul talent, dalk effens huiwerig is om hul binnewêreld op ’n openbare platform bloot te lê, en wat dalk sukkel om die tyd te kry om te skryf in hul dol daaglikse handel en wandel. Wat egter saak maak, is dat ons wel reeds derduisende digters het wat hul stemme ontdek het en wat die duisende diverse waarhede praat waaruit ons beeldskone en betekenisvolle land bestaan.

Die kompetisie se hoofredakteur, Johann de Lange, is van mening dat die Poësieprojek daarin geslaag het om mense, by uitstek jongmense, terug te bring na die skryf – én lees – van poësie. “Die voordele hiervan sal groei en duidelik word in die jare wat kom,” verduidelik hy. “Dit het lewens omskep en sal voortgaan om lewens te omskep.” Aan die einde van die inisiatief se derde bestaansjaar is die AVBOB Poësiekompetisie ʼn onteenseglike bewys van die diep transformerende rol wat digkuns in ons lewens speel en, weer eens, van die waarde daarvan as ʼn toonaangewende sosiale hulpbron en ʼn bron van volkome en verreikende goedheid en welwillendheid.

Baie is reeds geskryf oor die terapeutiese voordele van die digkuns – vir die skepper sowel as die leser daarvan. Daarbenewens het poësie ook ontwikkel van ʼn elite vorm van letterkundige vakgeleerdheid (wat dit moontlik in ʼn mate steeds is) tot ʼn sonderlinge uitdrukkingswyse wat ook toeganklik is vir die gewone man en vrou in die straat.

Poësie voorsien ons van ʼn alternatiewe diskoers wat ons in staat stel om mekaar se bestaansmilieus, verskillende verwysingsraamwerke en ander werklikhede te verken. Dit het die omgangstaal van ons lewens geword, ʼn gedeelde tong – en ʼn brug van uitdrukking wat ons oor die afstande van identiteite, geografie en kulture heen met mekaar verbind.

ʼn Digter wat in isolasie in Stilbaai by ʼn plaaslike internetkafee, of by ʼn gemeenskapsteater in Siyabuswa werk, kan nou vorendag met woorde kom wat oor afstande uitreik en ander se harte aanraak. In hierdie opsig is poësie onbemiddeld, direk, ʼn stemkas, ʼn orkesverhoog, ʼn luidspreker vir ons mense.

Dit is juis hierdie veranderlike, haas geheimsinnige mag van poësie wat vanuit die staanspoor die inspirasie was agter AVBOB-bestuurshoof, Frik Rademan, se visie vir die projek. “Dit het nog altyd gegaan oor die mense, altyd oor ons mense. Ons staan as bewakers by die hek van die universele ritueel van die begrafnis; die finale deurgangsrite. En dit was hierdeur wat ons begin verstaan het wat ons vir ons mense moes skep – ʼn manier waarop hulle hul verlies kon verwoord, ʼn manier om te genees,” verduidelik Rademan. Dit is hierdie baanbrekersvisie wat verwesenlik is deur die bekendstelling van die projek en wat die momentum verskaf agter die volgehoue groei en sosiale gebruikswaarde van die inisiatief.

In die bekendstellingsjaar, 2017, het 20 000 gedigte uit die penne van plaaslike digters ingestroom. Daar was geen beperking op die aantal gedigte wat ingeskryf kon word nie en vir elke gedig wat op die platform gepubliseer is het die digter ʼn gebruiksfooi van R300 ontvang.

 

In die tweede jaar van die kompetisie is ʼn beperking van 30 gedigte per digter gestel in ʼn poging om die redaksionele las te verlig. Desnieteenstaande is bykans 30 000 gedigte op die platform geregistreer; ʼn groei van 50% teenoor die vorige jaar. In die derde jaar is die inskrywings tot 20 gedigte per individuele digter beperk. Tog het die resultaat weer eens die vorige jaar se prestasie oortref. Die totale aantal inskrywings het aan die einde van November op 30 573 te staan gekom, wat ʼn 5% verhoging op verlede jaar se reeds ongelooflike resultate verteenwoordig.

Daar was ʼn merkbare tendens van gesamentlike groei in die aantal gedigte wat op die platform gepubliseer is. Die syfer het vanjaar tot meer as 3 700 gegroei, teenoor die 3 572 van 2018. Om alles te kroon, het AVBOB se aktiewe digtersbasis elke jaar gegroei, wat dui op ʼn enorme onontgonne poel van talentvolle kunstenaars wat net wag om hul stemme te vind en hul inskrywings in te stuur.

 

Jaar 1 (2017) Jaar 2 (2018) Jaar 3 (2019)
Aantal digters (digters wat minstens een gedig vir daardie jaar se kompetisie ingeskryf het)  

3 858

 

4 851

 

5 807

 

Carl van der Riet, AVBOB se inkomende bestuurshoof, is beïndruk met hierdie syfers.
“Die groei in die kompetisie, jaar na jaar, was merkwaardig om te aanskou. Maar die groei dui op meer as net volumes,” sê hy. “As ʼn aktuaris waardeer ek weliswaar hierdie verhogings. Maar wat my eweneens sterk tref, is die groei in die kaliber van die vakgebied self, die groei in die gehalte van die gedigte wat ingeskryf word en, bowenal, die groeiende aantal inskrywings in al ons ampstale. Ons beskou laasgenoemde as ʼn deurslaggewend belangrike mikpunt: om ʼn lewende bewaarplek van en vir plaaslike tale te skep ten einde geletterdheid te bevorder in tale wat vir lank oor die hoof gesien is. Dit is iets wat meneer Rademan vanuit die staanspoor besef het; dat ons ons gesproke en geskrewe tale moet bewaar.”

Verdere bewyse van die groei kom in ander gebiede voor, en die statistiek dui op duidelike en insiggewende tendense:

  • Daar is tans ʼn totaal van 16 690 geregistreerde digters op die stelsel
  • Daar is drie vrouedigters vir elke twee mansdigters
  • Byna 80% van die aktiewe digters is jonger as 40

 

Die wisselwerking met betrekking tot inskrywings in die onderskeie ampstale was insiggewend: alle tale het relatief staties gebly ten opsigte van plaaslike bydraes, met die uitsondering van Xhosa wat gegroei het van 1 129 inskrywings in 2018 tot 1 980 in 2019. Soortgelyke tendense is in die inskrywingstempo bespeur, met ʼn instroming in die finale week, en op die laaste dag:

Ons gemeenskap van digters verwelkom klaarblyklik die druk van ʼn snel naderende spertyd om hul skeppende talente daardie ekstra hupstootjie te gee! Hierdie tendens suggereer egter ook ʼn dieper waarheid wat deur Johann de Lange verwoord word: “Poësie mag dalk verlore raak in die harwar van die lewe, maar ons keer altyd daarna terug.”

Teen hierdie breë en grootse agtergrond, nooi ons AVBOB-digters – en alle Suid-Afrikaners – uit om in 2020 terug te keer na poësie, in afwagting van die bekendstelling van die vierde AVBOB Poësiekompetisie – om die eenvoudige rede dat daar ʼn digter binne-in elkeen van ons is met ʼn storie om te vertel.

Vir meer inligting besoek www.avbobpoetry.co.za

Vir medianavrae, kontak asseblief:

Dirk de Vynck
Senior Skakel- en Kommunikasiebestuurder

Tel: 012 991 7810

Sel: 082 321 1246

E-pos: dirk@etal.co.za

 

  •