Posts Tagged ‘Gloria Anzaldúa’

Anzaldúa en Krog

Saturday, August 8th, 2009

Anzaldúa en Krog: om te skryf deur vertaling[1]

Letterkundedag 25 Julie 2009, Universiteit Stellenbosch

Franci Vosloo 

Franci Vosloo

Franci Vosloo

 

Franci Vosloo is ‘n vryskutvertaler en -taalversorger en is tans besig met ‘n proefskrif oor Antjie Krog as vertaler en die verband tussen skryf en selfvertaling, by die Universiteit Stellenbosch. Van haar artikels verskyn ook in Stilet (XIX (2), 2007), Current Writing (19 (2), 2007) en Continuum (2009).

 

I

In haar boek ‘n Ander tongval wy Krog ‘n hele afdeling aan vertaling. Hierdie afdeling, “‘n Vertaling”, word aan die leser bekendgestel deur vier intertekste wat almal direk (of indirek) met die konsep vertaling verband hou.[2] Die intertekste dien as moontlike ruimtes van interpretasie – intertekstuele ruimtes van toespeling waar sowel Krog as die leser beweeg, maar waar die leser veral in gesprek tree met Krog as skrywer en spesifiek as vertaler. In hierdie artikel ondersoek ek een van hierdie intertekste, naamlik dié van die Mexikaanse skrywer Gloria Anzaldúa, as verteenwoordigend van sekere elemente van Krog se eie diskoers oor vertaling. Ek ondersoek hoe die teoretiese aannames wat deur die interteks geïmpliseer word, in ‘n Ander tongval realiseer.

Krog se skryfoeuvre strek oor ‘n wye spektrum genre en inhoud van haar vroegste digbundels en outobiografiese werk[3] tot verskeie vertaalprojekte waarmee sy geassosieer word. In die loop van haar loopbaan het Krog verby ‘n poëtiese profiel beweeg deur direk met ander identiteite (d.i. tale) en verskillende vorms van intimiteit (genre, inhoud, ens.) in gesprek te tree, onder andere deur die handeling van vertaling. In 1998 verskyn Country of my skull, ‘n vertaling van ‘n teks wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is, gevolg deur Domein van glas (2000, vertaling van Een mond vol glas deur Henk van Woerden). Krog vertaal ook ‘n versameling van haar eie Afrikaanse gedigte in Engels, wat as Down to my last skin (2000) verskyn, waarna Lang pad na vryheid, Krog se Afrikaanse vertaling van Mandela se outobiografie Long walk to freedom, in 2001 verskyn. In 2002 word Met woorde soos met kerse gepubliseer, Krog se eerste Afrikaanse vertalings van inheemse verse, wat later aangevul sou word met haar Afrikaanse vertalings van /Xam-prosa en -poësie in 2004, naamlik Die sterre sê ‘tsau’ (en die Engelse vertaling hiervan, The stars say ‘tsau’ in dieselfde jaar). Ook Tom Lanoye se drama, Mamma Medea, word deur Krog in Afrikaans vertaal as Mamma Medea: na Apollonios van Rhodos en Euripides (2002). In die daaropvolgende jaar, in 2003, verskyn A change of tongue wat, soos Country of my skull, ‘n vertaling is van ‘n teks wat oorspronklik in Afrikaans verskyn het.[4] Afgesien van die vertalings van die /Xam-tekste wat in 2004 verskyn het, is dit eers in 2006 dat Krog weer twee bundels gelyktydig in Afrikaans en Engels publiseer, naamlik Verweerskrif en Body bereft. Een van Krog se mees onlangse vertaalprojekte, saam met André Brink, is die vertaling in Engels van Ingrid Jonker se gedigte, Black butterflies: Selected poems by Ingrid Jonker (2007).  

In meeste van hierdie projekte het Krog op ‘n bewuste of selfs onderbewuste vlak te doen gekry met objektiewe (of subjektiewe) strukture wat in die skrywers (m.a.w. die oorspronklike outeurs) en haar eie wese beliggaam[5] en geïnternaliseer is (vergelyk Vosloo 2007:72). Wat meer is, in meeste of al bogenoemde vertaalprojekte moes Krog die moeilike oorgang maak van digter-skrywer na vertaler, of selfs van vertaler na digter-skrywer. As selfbewuste skrywer (deeglik bewus van haar kulturele en sosiale posisie) maak Krog gereeld die oorgang na ‘n selfbewuste vertaler. Hierdie oorgang is alles behalwe ‘n sporadiese een; eerder ‘n voortdurende en herhalende proses waar die handelinge van vertaling as metafore optree: metafore vir identiteit, vir die bemagtiging van die self en ander, en vir die skrywende subjek. ‘n Mens sou ook kon beweer dat die skynbare selfbewustheid waarmee skrywers skryf (aldus Arrojo, in Maier 2006:165), neerslag moet vind in die wyse waarop die skrywer buite-tekstuele bronne in sy/haar eie teks ontgin. Volgens Maier (2006:170) wil skrywers hulle werk dikwels binne ‘n internasionale milieu plaas, en hulle span dikwels die proses of handeling van vertaling in as ‘n betekenisvolle medium om vanuit ‘n globale perspektief sin te maak van die menslike bestaan. So ‘n siening is humanitêr van aard, en veralgemenend sover dit individuele vertalers of skrywers aangaan, want presies hoe besin skrywers oor die ooreenkomste tussen vertaling en kreatiewe skryfwerk, en op watter wyse worstel hulle met die uitdagings wat betref die oordrag van omstandighede of konteks, of die daarstel van deurlopendheid en kommunikasie? (Maier 2006:170).

Een manier sou wees om vertaler-protagoniste (soos in ‘n Ander tongval), of skrywer-protagoniste, as medium te gebruik om die manier waarop sy (die skrywer) die mens se posisie in ‘n postmoderne wêreld verstaan, uit te druk. ‘n Ander manier sou wees om intertekstualiteit in te span as element: om déúr skrywers of teoretici te praat, nie slegs om oor breër sosiale of humanitêre kwessies te besin nie, maar ook oor die skryfproses, of vertaalproses, in Krog se geval.  

 

Anzaldúa se aanhaling in ‘n Ander tongval lui:

Until I am free to write bilingually and to switch codes without having always to be translated . . . my tongue will be illegitimate (Krog 2005:291).

Die volledige aanhaling in Borderlands (Anzaldúa 1999:81) lui:

Until I am free to write bilingually and to switch codes without having always to translate, while I still have to speak English or Spanish when I would rather speak Spanglish, and as long as I have to accommodate the English speakers rather than having them accommodate me, my tongue will be illegitimate

 

Anzaldúa maak hierdie stelling in haar boek Borderlands/La Frontera: The new mestiza (hierna Borderlands, 1987/1999), waar sy die toestand van vroue in die Chicano- en Latino-kultuur op die grens tussen die VSA en Mexiko ondersoek. Die boek betrek die leser by dié vroue se lewens, maar veral Anzaldúa se lewe van vervreemding en isolasie as gevangene in die grensgebied tussen kulture.[6] Chicana of Chicano (ekv.) is oor die algemeen ‘n positiewe verwysing na die Latyns-Amerikaanse kultuur van Mexikaanse oorsprong, maar wat gesetel is in die VSA. Dit is egter ook die naam van weerstand in Spaans, volgens Alarcón (in Salvidar-Hull 1999:15), en verwys in feministiese terme na die kulturele en politieke standpunte wat ingeneem word as gevolg van die veelvuldige migrasie en verplasing van vroue van Mexikaanse oorsprong.

Borderlands bestaan uit ‘n kombinasie van essays en digkuns, en is ‘n samevoeging van persoonlike verhale en kwessies oor taal, identiteit en elemente van haat wat hulle oorsprong het in die ambivalente verhouding tussen Mexikane en Amerikaners. Anzaldúa gebruik autohistoria, ‘n genre, visuele verhaal of kritiese diskoers wat wyer strek as die tradisionele selfportret of outobiografie, en waar die skrywer sy of haar persoonlike verhaal met kulturele geskiedenis kombineer (Salvidar-Hull 1999:13). Yarbro-Bejarano (1994:6) verwys weer na Anzaldúa se werk as beliggaamde teorie (embodied theory), wat volgens haar voortstem uit die materiële realiteit van veelvuldige onderdrukking; beliggaamde teorie konseptualiseer dus daardie materialiteit.

My keuse val op Anzaldúa omdat die aanhaling in ‘n Ander tongval opwindende uitgangspunte bied waarmee kwessies oor vertaling benader kan word: outonimiteit, tweetaligheid,[7] vertaling as kodifisering, spraak, legitimiteit, ensovoorts. In ‘n Ander tongval vertel Krog nie slegs van haar eie ervarings van literêre of outobiografiese vertaling in die praktyk nie, sy gebruik terselfdertyd fragmente van haar eie en ander se lewens om die struikelblokke in kommunikasie, asook die verskille en ooreenkomste tussen kulture oor te dra; kortom, die dilemmas wat verband hou met die vertaling van ander en die self. In die res van die artikel deel ek dus enkele voorlopige gedagtes oor die manier waarop Krog se selfbewussyn as skrywer en as vertaler in “‘n Vertaling” neerslag vind. 

‘n Ander tongval, waar Krog haar eie en ander se ervarings van postapartheid Suid-Afrika weergee, het ‘n gefragmenteerde struktuur en bestaan uit ses dele of afdelings wat gekombineer is met liriese stukke of prosagedigte. In die afdeling “‘n Vertaling”  kom kwessies soos taal (veeltaligheid, tweetaligheid) en artikulasie, kulturele afstand en oordrag, ‘om te behoort’, identiteit, en andersheid, onder andere aan bod. Die afdeling word ingelui deur vyf intertekste wat as’t ware as ‘n voorwoord[8] dien, en daarmee die leser onmiddellik betrek by Krog se denke oor die skryfproses en die vertaalproses. Wat Krog as skrywer dus doen, is om die leser psigologies (en teoreties) voor te berei op wat hy of sy in die afdeling gaan lees; om die leser as’t ware met ‘aanwysings’ toe te rus oor hoe om die teks te lees – in watter raamwerk die woorde en idees geplaas en ontvang kan word. Krog daag die leser met ander woorde uit om na te dink oor haar eie vertaalhandelinge of ‘vertalerskap’ in verhouding tot die intertekste.

Afgesien van Anzaldúa se aanhaling, word dié van Nord (“translation is an intentional interaction intending to change an existing state of affairs”), Rushdie (“Having been borne across the world, we are translated men. It is normally supposed that something always gets lost in translation; I cling obstinately to the notion that something can also be gained”), en Anne Sexton (“I use the personal when I am applying a mask to my face”)[9] (Krog 2005:291) ingesluit. Anders as in A change of tongue word Derrida se interteks nie in die afdeling “‘n Vertaling” ingesluit nie, maar aan die begin van die boek geplaas saam met dié van Noam Chomsky. Derrida se woorde lui: “for the notion of translation we would have to substitute the notion of transformation: a regulated transformation of one language by another, of one text by another”. Elk van die tekste belig interessante perspektiewe wat verdere ondersoek noodsaak, maar wat veral belangrik is, is dat die intertekste as ‘n geheel kan dien as ‘n samevatting van, of ‘n refleksie op, Krog se besinning oor vertaling. ‘n Mens sou wel kon vra of die afdeling “‘n Vertaling” as medium – as interteks sigself – optree waardeur Krog nie slegs haar eie tekste en vertalings belig nie, maar ook haar identiteit, haar wese as vertaler en as skrywer.   

Neubert, vertaalteoretikus, het gesê: “a translation is not created from nothing; it is woven from a semantic pattern taken from another text, but the threads – the target language (TL) linguistic forms, structures, syntactic sequences – are new (Neubert in Wallmach 2006:14). Die aanhaling sou herskryf kon word om te lees: ‘n vertaling word nooit uit niks geskep nie; dit is in die meeste gevalle ‘n interteks wat uit ‘n hele netwerk van ander bron- en doeltekste geweef word; die drade – die doeltaalvorme, strukture, sintaksis, kulturele patrone, kulturele raamwerke, sosiokulturele toestande – is nuut, getransformeer, verander. Enige teks – ook ‘n (literêre) vertaling – is met ander woorde nie slegs teks en konteks nie, maar is in wese intertekstualiteit (Tymoczko 1995:12). Wat van Krog? Sy dekonstrueer (om Derrida by te haal) haar eie skryfwerk en vertaalhandelinge deur ander tekste sigbaar te maak en ‘n stem te gee aan daardie outeurs. Wat belangrik is, is dat sy, in teenstelling met sienings van die ‘death of the author’, as skrywer lewendig bly omdat sy ook die vertaler is van haar eie werk.  

 

II

Anzaldúa se ideologiese en persoonlike motief om te skryf kontekstualiseer die aanhaling wat Krog gebruik. Wanneer Anzaldúa sê “[u]ntil I am free to write bilingually” daag sy openlik die tale van onderdrukking uit. Talle lang teksdele in Borderlands is in onvertaalde Spaans geskryf – die taal van die Spaanse koloniseerders, terwyl ander dele in Engels geskryf is. ‘n Interessante aspek van Anzaldúa se skryfproses is dat sy agt tale (twee weergawes van Engels en ses van Spaans) inspan. Sy skep dus ‘n stremmende leeservaring – ‘n leeservaring van frustrasie, as’t ware. Dit is egter hierdie selfde emosies waarmee Anzaldúa haar lewe lank moes worstel, want sy is altyd met taal as ‘n grens gekonfronteer. Dit is amper vanselfsprekend dus, dat taal en die artikulasie van haar mestiza[10] identiteit belangrike elemente van haar skryfwerk vorm. Die mestiza identiteit vind neerslag in Anzaldúa se beweeg tussen verskillende genres, uitgangspunte en tale in die verwesenliking van haar ideaal om ‘grense oor te steek’, en waar skryf ‘n middel word vir persoonlike vryheid en politieke aktivisme. Sy agiteer vir ‘n nuwe bewussyn: ‘n nuwe waardesisteem wat die gaping tussen dit wat as teenoorgesteldes bestempel word, sal verklein (Anzaldúa 1999). Hierdie nuwe bewussyn is heel moontlik simptomaties van die politieke en persoonlike waardesisteem wat Krog deur haar eie skryfwerk probeer vestig. Krog se benadering tot die gebruik van Engels is waarskynlik minder radikaal – sy skryf onder meer in Engels om diegene te bereik wat nie Afrikaans kan lees nie, maar wat sy graag sou wou hê haar boek moet lees. ‘n Mens lees hierin – in Krog se gebruik van Engels – die werking van ‘n ideologiese dryfveer agter die skryfproses.  

Nog ‘n aspek van Anzaldúa se werk is dat sy ‘n skaamtelose en onboetvaardige benadering tot haar digkuns toon – hierdeur bring sy die leser nader aan haar wêreld van vervreemding van elke kultuur waaraan sy moontlik sou kon ‘behoort’ (voices.cla.umn.edu/vg/bios/entries/ anzaldua_gloria.html). Volgens Yarbro-Bejarano (1994:13) is die feit dat Anzaldúa taal- en kultureelgewys nêrens behoort of hoort nie, die gevolg van ‘n veelvuldige identiteit wat haar as’t ware verhoed om heeltemal ‘tuis’ te voel. Anzaldúa skep dus haar eie huis – ‘n nuwe bewussyn – deur skryf: die teks word nou ‘n plek van veelvuldige stemme en uitlatings (Alarcón in Yarbro-Bejarano 1994:13). Om te behoort (enige plek) is ook nie ‘n statiese konsep nie, maar volgens Probyn (in Anderson 2006:131), “a matter of moving between different, though possibly overlapping sites.” Wat Anzaldúa skep, is ‘n ruimte, ‘n “third space”[11] as’t ware, ‘n ruimte waar verskillende dualiteite en teenstrydighede saam kan bestaan. ‘n Mens sou verder kon gaan en aanvoer dat die skep van sodanige ruimte of ‘kontaksone’ in die eerste plek die postkoloniale skrywer, maar in die tweede plek die vertaler met ‘n dubbele rol laat: aan die een kant bring hy/sy vreemde elemente in, manipuleer hy/sy die teks of bewaar hy/sy daardie brontekselemente ten einde ‘n doelteks te skep wat gedronge is, onbekender is, en moeilik is om te lees sodat die doelteksleser – wat die magshebber is in postkoloniale terme – worstel om die magtelose of die ‘gekoloniseerde’ te bereik. Die vertaler bied egter terselfdertyd ‘n ruimte vir die stem van minderheidskulture en hulle gedomineerde stilte (Wallace 2002: 71).

Vanuit die perspektief van die inheemse taal – byvoorbeeld Afrikaans in verhouding tot Engels, Xhosa tot Afrikaans, Sotho tot Engels – word vertaling ‘n vorm van respek teenoor die vreemde (inheemse) kultuur as ‘n ‘ander’ (Hokenson & Munson 2007:144). Dit sluit aan by Goethe se beskrywing van vertaling as “an act of opening out onto the world in order to distinguish foreign and non-foreign in oneself” (Hokenson & Munson 2007:141). Hierdie erkenning wat aan die vreemde sowel as die bekende gegee word, blyk waar te wees vir Krog met betrekking tot haar digkuns, maar ook haar aanvanklike toenadering tot vertaalprojekte waar sy die leser na hierdie gaping neem sodat hy/sy, in Humboldt se woorde, ‘n “coloring of strangeness” kan ervaar:

 a translation should have a certain coloring of strangeness over it … As long as one feels the foreign, but not the strangeness, the translation has reached the highest goal; but where strangeness appears as such, [and thus] probably obscures the foreign, the translator betrays that he is not up to his original (Humboldt in Berman 1984:154).

 

Volgens Salvidar-Hull (1999:4) is Anzaldúa se tweetalige strategie (as ‘n vorm van weerstand) ‘n manifestasie van die taal van feministiese opstand – opstand teen ‘n patriargale samelewing, teen mens(mans)gemaakte reëls en teen oorheersing. In die konteks van vertaalteorie, is feministiese teorie hoofsaaklik gemoeid met die geslagtelikheid (genderedness) van lesers, skrywers, vertalers en ander akteurs in die veld van kulturele produksie (Wallace 2002:66). Louise von Flotow (1997:12) sien vroue egter as vertalings self – as vertalings wat met veelvuldige diskoerse in gesprek tree. Sy sê: “Translation has long served as a trope to discover what women do when they enter the public sphere: they translate their private language: their specifically female forms of discourse … into some form of the dominant patriarchal code.” Volgens Wallace (2002:69) is die feministiese invloed op vertaalstudies sigbaarder in die metatekste, naamlik in die voetnote, voorwoorde, inleidings, kommentare, en die intertekstuele verwysings. Hierdie metatekste verteenwoordig ‘n opsetlike skuif weg van onsigbaarheid,[12] weg van onderdanigheid/onderwerping[13] aan die oorspronklike, in die rigting van die vertaler se sigbaarheid. Tweetaligheid blyk in meer as een sfeer verstaan te word: die sfeer van vroulikheid waar taal ‘n feministiese ‘wapen’ word, en die algemene kulturele sfeer van weerstand teen onderdrukking (deur taal). Krog gaan in ‘n sekere sin anders te werk as Anzaldúa wat haar benadering tot tweetaligheid betref. In feministiese terme sou ‘n mens wel kon aanvoer dat Krog reeds die openbare sfeer deur haar digkuns en prosa betree het, en dat sy, in die proses van die vertaling van haar eie en ander se werk, haar private taal steeds verder uitbrei. Deur vertaling beweeg Krog dus tussen verskíllende sfere: tussen die sfere van die digkuns, prosa, outobiografie en biografie. Ten einde Krog se beskouing van tweetaligheid ten volle te kontekstualiseer, is dit egter nodig om na die tweede deel van Anzaldúa se aanhaling te kyk.  

Anzaldúa kwalifiseer haar eerste uitspraak met die woorde “…and to switch codes[14] without having always to be translated[.]” Met hierdie woorde, soos dit in ‘n Ander tongval weergegee word, artikuleer (en suggereer) Anzaldúa die behoefte aan linguistiese outonimiteit – om vrylik in die taal van haar keuse (op ‘n gegewe moment) te skryf sonder om altyd (deur ander) ontsyfer, vertolk, vertaal hoef te word. In die formulering in Borderlands val die klem grotendeels op Anzaldúa se eie handelinge van vertaling, wanneer sy sê “without having always to translate”. In laasgenoemde voorbeeld maak sy beswaar teen die verwagting van ‘n leserspubliek (of uitgewer) dat alles vertaal moet word ter wille van toeganklikheid. In ‘n sekere sin teken Anzaldúa protes aan teen vertaling, maar in dieselfde asem erken sy (hoewel implisiet) linguistiese diversiteit; sy wil die veelvuldige Mestiza-tale vir haarself toe-eien (Salvidar-Hull 1999:8). Die implikasie van Anzaldúa se uitspraak is dat die veeltalige (onvertaalde) teks, met ander woorde waarin Engels en Spaans uitruilbaar gebruik word, amper nooit daardie leser toelaat wat nie ten volle met die linguistiese vereistes van Anzaldúa se ‘grenstale’ in gesprek kan tree nie. Maar bowenal breek die grenstale alle dualismes af: in haar boek sê Anzaldúa: “I will no longer be made to feel ashamed of existing. I will have my voice: Indian, Spanish, white. […] my woman’s voice, my sexual voice, my poet’s voice. I will overcome the tradition of silence” (Anzaldúa 1999:81). Die klem val hier weer eens op die breër kulturele kritiek op oorheersing deur taal.  

 In die laaste deel van die aanhaling sê Anzaldúa dat indien sy nie in baie tale gelyk kan skryf nie, en indien sy aanhoudend vertaal moet word om verstaan te word, “her tongue will [remain] illegitimate”. In Borderlands (Anzaldúa 1999:81) is die formulering anders, met die ek-verteller voorop: “my tongue will be illegitimate.” Met hierdie aanhaling(s) suggereer Anzaldúa dat sy nie sal kan praat, nie sal kan skryf, as sy nie in meer as een taal gelyk kan skryf nie. In “How to tame a wild tongue,” ‘n essay oor veelvuldige Chicana-tale in Borderlands, skryf Anzaldúa oor haar verwerping van stilte (sy sê o.a. die ‘wilde tong’ kan nie makgemaak word nie, slegs verwyder word), en oor die wyses waarop haar eie taal as verkeerd beskou word volgens dominante nie-Chicana norme (Anzaldúa 1999:77).[15]

Anzaldúa se gebruik van die tong as metafoor vir identiteit (onder andere), hou verband met Krog se gebruik van die woorde “tong” en “tongue” in ‘n Ander tongval en A change of tongue onderskeidelik. Die verband tussen Anzaldúa se tong-metafoor en dié van Krog is meer as net toevallig, in ag genome die feit dat Borderlands reeds in 1987 verskyn het, en Krog in 1998 (in Country of my skull) die eerste maal van die tong-metafoor gebruik gemaak het.

 

III

Sowel Anzaldúa as Krog konstrueer hulle werk en artikuleer hulle denke en oortuigings op verskillende maniere, hoewel daar ooreenkomste is in die manier waarop liriese prosa en poësie in kombinasie met outobiografie en fiksie (meer by Krog) in die teks neerslag vind. Volgens Felman kom outobiografie en teorie soms in een teks byeen, en wanneer dit gebeur, tree elk van die elemente op as ‘n vorm van weerstand teen die ander; in die proses word die aanspraak op die geldigheid van elkeen dus versteur (Felman in Anderson 2006:121). Maar wat eintlik interessant is, is dat dit die moontlikheid laat vir ‘n teks waar teorie (fiksie) en self-representasie (feit) in een teks saam bestaan.

Dat Krog teorie (dink aan Anzaldúa se beliggaamde teorie), outobiografie (feit) en fiksie in ‘n Ander tongval kombineer is belangrik in die konteks van vertaling. Deur die narratiewe verhaal van die vertaalproses van Long walk to freedom van Mandela en haar gesprekke met Christina,[16] die fiktiewe Sweedse vertaler wat Krog skep, beliggaam sy (Krog) vertaalteorie op ‘n linguistiese vlak; hierdie vertellings word aangevul deur ‘n selfs meer persoonlike brief aan haar kinders oor die besoek aan Nederland en die wortels van identiteit en ‘behoort’. Sy skryf: “In die diepste grein en pit van my wese gee ek en […] Cherfontaine nog dieselfde vibrasies af, herken ons en vertaal ons mekaar” (Krog 2005:294). In nog ‘n relaas vertel sy van ‘n argument met swart vriende oor identiteit, ras, kollektiewe skuld, die verandering van perspektief, van woorde, van lyftaal; die vertelling eindig met Krog wat sê: “Maar ek wil… / ‘Behoort’ is die woord wat ek wil sê, maar nie sê nie…” (Krog 2005:301). Hierdie verlange om te behoort eggo Anzaldúa s’n, en ‘n mens sien duidelik hoe vertaling ‘n metafoor word vir verandering en die deel van identiteit. In nog ‘n kort vertelling beskryf Krog ‘n toneel by die huis waar sy (Krog, in die derde persoon) haar ma as instrument of medium gebruik om die moontlikheid van verandering of transformasie uit te beeld. Wanneer haar pa oor die vaal kos kla, sê haar ma: “As jy meer kleurryke kos wil hê, dan doen ek dit” (Krog 2005:303). Die teks in A change of tongue is meer eksplisiet oor die idee van transformasie: “If you want more colourful food, I can transform it” (Krog 2003:276)  

Krog se weergawe van haar betrokkenheid by die vertaling van Mandela se outobiografie word as ‘n deurlopende vertaalmotief gebruik wat as metakommentaar in die teks dien. Krog haal byvoorbeeld vir Mandela aan, wat sê: “‘n Mens se taal behoort nooit ‘n doodloopstraat te wees nie, […] Dit is hoekom ek in vertaling glo: om ons in staat te stel om met mekaar te leef” (Krog 2005:292). Hier gebruik Krog as vertaler ‘n ander se (invloedryke) stem om haar eie oortuiging te artikuleer. Mandela se oortuiging stem ook ooreen met dié van die Sweedse vertaler, Christina, wat in die konteks van postkoloniale vertaling en die persepsie van andersheid, sê: “Vertaling is noodsaaklik as ons wil leer om op hierdie planeet saam te leef. Ons moet begin om mekaar te vertaal” (Krog 2005:296). Wanneer Anzaldúa se verwerping van vertaling in heroënskou geneem word, blyk daar ‘n moontlike strydigheid te wees in Krog se gebruik van intertekstualiteit. Dalk verwys Krog bloot na Anzaldúa se sinspeling op die wisseling van kodes (taal) as voorvereiste vir legitimiteit in terme van taal en identiteit? Miskien sinspeel hierdie wisseling van kodes in ‘n vertaalkonteks op die magtelose tale wat vroeër vasgevang was in hibriede ruimtes of strukture en wat nou ‘n stem gegee word, wat nou ‘terug skryf’, as’t ware, volgens Krog  2005:297).   

In hierdie redelike lang onderafdeling oor die vertaling van Mandela se boek gebruik Krog die derde persoon om die karakter (Krog) se grondredes vir vertaling weer te gee. Met die sin, “Tydens die vlug terug dink sy aan die hele idee van vertaling”, betrek Krog die leser om saam met haar na te dink. Wat volg is ‘n sterk betoog vir vertaling in maar ook uit swakker tale, soos die geval is in Suid-Afrika met elf amptelike tale waarvan tien grootliks op vertaling moet staat maak vir oorlewing. In dieselfde afdeling word Gerrit Komrij aangehaal wat sê ‘n mens se taal moet inklusief wees en ontvanklik vir vertaling van werke uit wêreldliteratuur ten einde ‘n ontvanklike gemeenskap te skep – een waarbinne die tale lenig en soepel gehou kan word (Krog 2005:294). ‘n Mens sou weer eens die klem wat hier in die teks geplaas word op die belang van vertaling vir die behoud van identiteit en die verryking van ‘n taal as strydig kon interpreteer met Anzaldúa se beleid van nie-vertaling. Krog, Komrij en die karakter Christina se siening stem egter wel ooreen met Rushdie[17] se aanname dat vertaling inherent ook ‘n verrykende ervaring kan wees, en op ‘n metaforiese vlak met Derrida se siening van vertaling as transformasie (Krog 2005:291).[18]  

In die Suid-Afrikaanse konteks is Engels egter tot ‘n groot mate die dominante literêre taal, en Krog wys tereg daarop dat goeie of briljante Afrikaans of Xhosa of Sepedi skrywers gebuk gaan onder nie-erkenning in sodanige literêre veld, en dat hierdie skrywers net sowel nie hoef te bestaan as hulle nie in Engels skryf of daarin vertaal word nie (Krog 2005:295). En as hulle nie bestaan nie, word hulle tonge ‘onwettig’, as’t ware. Maar Krog wil wettig wees, sy wil bestaan, en sy worstel gevolglik tussen die begeerte om in Engels gelees te word, want “Engels het die deur na die Vader geword” (Krog 2005:295), en die vrees dat sy haar gekoloniseerde, Afrikaanse wortels sal verraai of uitverkoop. Die ‘Vader’ verwys hier na ‘n teenwoordigheid en erkenning in die Engelse literêre sisteem in Suid-Afrika en internasionaal. Hierdie vrees wat Krog artikuleer hou verband met die konseptuele gaping tussen die ‘inheemse’ en die ‘uitheemse’ as monolinguistiese pole, wat sigself ‘n simptoom is van wat Lefèvere (1981:76) beskryf as “the Romantic stress on the mother tongue as the primary material for literary creation.” Hoewel hierdie standpunt vir lank die manier waarop vertaling en vertaalprodukte ontvang is gedomineer het, het vertaling sedertdien ‘n middel geword wat die mens in staat stel om die ruimte van die ander volledig te betree, aldus Schlegel (in Robinson 1997:218-219).

Krog se vrees of verleenthied kan in verband gebring word met die wesenlike literêre probleem van wanneer ‘n skrywer weier om een of die ander taal te kies, naamlik Afrikaans of Engels, want haar selfvertaling tussen tale, asook die spesifieke wyses waarop sy ‘n teks in ‘n tweede taal herskep en dit aanpas by ‘n nuwe betekenissisteem, wyk af van literêre norme. Hokenson en Munson (2007:160) skryf hierdie verskynsel toe aan die feit dat, in die geval van selfvertaling, die vertaler ook die skrywer is, die vertaling ook die oorspronklike, die vreemde ook die bekende, en vice versa.

Dalk behels ‘’n ander tongval’ in ‘n vertaalkonteks om te besluit wat die outeur, byvoorbeeld Mandela, vir sy lesers wil sê, vir sy Afrikaanse lesers. Volgens Krog se fiktiewe karakter Christina, beïnvloed dit die vertaler se besluite oor styl[19] en taal (Krog 2005:302). Wanneer ‘n mens dink aan Anzaldúa se veeltalige strategie ten opsigte van die tipe taal wat sy as feministiese en verpolitiseerde skrywer gebruik om die onderdrukkers van daardie taal te ondermyn of aan te spreek, dan word Krog se bespreking van Afrikaans in hierdie afdeling in ‘n nuwe perspektief geplaas. Krog sê: “Afrikaans is en was nog altyd ‘n hoogs gepolitiseerde taal … [die dialekte] dit alles dui nie net die soort taalgebruik aan nie, maar impliseer ook ‘n onuitgesproke politieke standpunt-inname. Dit sê nie net wie jy is nie, maar waar jy vandaan kom en by wie jy jou eens geskaar het” (Krog 2005:302). In haar vertaling van Long walk to freedom gebruik Krog dus verskillende registers van Afrikaans ten einde verskillende ‘grense’ of ‘ruimtes’ te akkommodeer, maar veral om “die taal van apartheid te omskep in ‘n taal van bymekaarkoms, om dit te bevry van die woordeskat van mag en vergelding” (Krog 2005:306). Hier, soos elders in die afdeling gebruik Krog Mandela se outobiografiese persona as medium om haar eie dryfveer eie ideologie van vertaling oor te dra.

 

IV

In hierdie bespreking van Krog se gebruik van intertekstualiteit in ‘n Ander tongval word die ooreenkomste tussen die teoretiese grondslag van Anzaldúa en dié van Krog belig. Met verwysing na Anzaldúa se toepassing van beliggaamde teorie, sou ‘n mens voorlopig kon beweer dat Krog oor die algemeen dieselfde tipe benadering tot die skryfproses – veral die outobiografiese-fiktiewe skryfproses – volg. Volgens Klopper (2004) het die subjek wat nie in staat is om hom-/haarself uit te druk nie, ook geen bestaan nie; vertaling gaan derhalwe daaroor om taal in een kode in ‘n ander kode te omskep … om die sprekende subjek te vertolk, om die noodsaaklikheid van taal buite sy funksie as ‘n oordragmiddel vir inligting te sien, nie net om die vertaalbaarheid van taal nie, maar ook van die self, daardeur te bevestig. Let op die ooreenkoms tussen Klopper se gebruik van kode en Anzaldúa se gebruik daarvan. Dit is dus nie toevallig nie dat Krog aan die begin van ‘n Ander tongval Chomsky se konsep transformational grammar aanhaal, want hierdeur lui sy vertaling in as metafoor vir transformasie.

In die prosastuk tussen die afdelings “‘n Vertaling” en “‘n Reis”, kom die vertaalbaarheid van die self aan bod. In hierdie teksgedeelte tree die verteller in stil gesprek met wat heel moontlik as ‘n metaforiese rivier gesien kan word. Die rivier word aanvanklik as “jy” (die linguistiese teenpool van “ek”) aangespreek, en op ‘n sekere plek in die teks beweeg die vertelling oor in die derde persoon wanneer die “ek” ingebring word: “Ek kan nie die aarde sonder jou verduur nie, en daarom bly ek nie stil nie. Ek praat met jou. Die ‘jy’ roep noodwendig die ‘ek'” (Krog 2005:308). Wat opmerklik is in hierdie teksgedeelte is dat Krog ‘n persoonlike diskoers inbring – ‘n psigoanalitiese model as’t ware – wat diep in die onderbewuste gevorm word en uitkring na sosiale en metafisiese diskoerse (Hokenson & Munson 2007:148). Dit is die aangebore ‘ek’ en sy oneindige vermoë van selfvertaling in taal, waarna Krog hier verwys. Dit, volgens Hokenson en Munson (2007:148), is die “native language as sole verbal mode of expression of the self and of representation of the world.”

Verder af in die teks sê die verteller: “Hoe praat ek met jou? Jy met jou velwarm bowater en koue ondertone? Het ek ‘n spesiale taal nodig? ‘n Nuwe tong? Hoe?” (Krog 2005:308). Wat gaan hierdie spesiale taal wees? Hoe gaan die nuwe ‘tongval’ klink? Is die taal of tong ‘n veronderstelde universele taal – ‘n kombinasie van Afrikaans, Engels, en inheemse tale in een teks (soos Anzaldúa met Spaans en Engels doen)? Verteenwoordig ‘n nuwe tong ‘n nuwe identiteit, en hoe lyk hierdie identiteit?

Maar wat van Anzaldúa se begeerte om vrylik tweetalig te skryf? Hoe word hierdie begeerte deur Krog in haar teks geartikuleer? En sien Krog taal noodwendig as ‘n grens? Ondersteun Krog deur haar teks die idee van linguistiese outonimiteit, sonder om vertaal hoef te word? Krog is gewis ten gunste van tweetaligheid, maar sy is terselfdertyd positief oor die noodsaaklikheid van vertaling as ‘n middel vir die oorlewing van minderheidstale. Taal funksioneer hier dus nie as ‘n grens nie, maar as ‘n tussenruimte. Dit is in hierdie ruimte, en deur skryf en vertaal, dat Krog, soos Anzaldúa, ook ‘n middel tot persoonlike vryheid, en politieke aktivisme skep. Bhabha se teorie (1994:38) van ‘n ‘internasionale kultuur’ wat gebaseer is op die hibriditeit van kultuur, beweer dat ‘n persoon (m.a.w. die vertaler) alleenlik bestaan in die tussenruimtes van kulture en tale; hierdie ruimte, sê hy, is die enigste moontlike plek van vertaling. ‘n Mens sou dus kon sê dat Krog, wanneer sy vertaal, haar binne hierdie ruimte posisioneer.

Wat baie duidelik na vore kom in hierdie voorlopige opmerkings oor intertekstualiteit en die verband tussen skryf en selfvertaling in ‘n Ander tongval, is dat die teks nie slegs op die vlak van vertaalstrategie en teksdiskoers funksioneer nie; die afdeling “‘n Vertaling” funksioneer ook op ‘n metavlak in die manier waarop Krog die konsep vertaling gebruik om idees rakende transformasie, verandering, identiteit, en die ineengestrengeldheid van die individuele en die kollektiewe in die skryfproses oor te dra. As ons Krog se teks lees en vertolk met Anzaldúa as die subtiele ‘medeskrywer’ of spookskrywer, word dit ‘n teks waar Krog se stem as vrou, as skrywer-digter, en as vertaler, resoneer.

 

Bronnelys

Anderson, L. 2006. Autobiography and the feminist subject, in E. Rooney (red.), Cambridge Companion to Feminist Literary Theory. Cambridge: CUP. 119-135.

Anzaldúa, G. (1987) 1999. Borderlands/La Frontera (2de uitgawe). San Francisco: Aunt Lute Books.

Artist Biography: Gloria Anzaldúa. [Internet]. Beskikbaar: http://voices.cla.umn.edu/vg/ Bios/ entries/anzaldua_gloria.html [Afgelaai: 14/09/2007].

Berman, A. 1984 (1992). The Experience of the Foreign: Culture and Translation in Romantic Germany. S. Heyvaert (vert.). Albany: State University of New York Press.

Bhabha, H. 1994. The Location of Culture. New York: Routledge.

Courtivron, I. de. 2003. Lives in Translation: Bilingual Writers on Identity and Creativity. New York: Palgrave Macmillan.

Derrida, J. 1982. Margins of philosophy. Alan Bass (vert.). Brighton: Harvester.

Hokenson, J.W. & Munson, M. 2007. The Bilingual Text: History and Theory of Literary Self-Translation. Manchester: St. Jerome.

Jonker, I. 2007. Black Butterflies: Selected Poems by Ingrid Jonker. Kaapstad: Human en Rousseau.

Klopper, D. 2004. The body in biography. Social Dynamics 30(1): 84-94.

Krog, A. 1998. Country of My Skull. Johannesburg: Random House.

– 2000. Down to My Last Skin. Johannesburg: Random Poets.

– 2003. A Change of Tongue. Johannesburg: Random House.

– 2002. Met Woorde soos met Kerse. Kaapstad: Kwela. 

– 2004. Die Sterre sê ‘tsau’. /Xam-gedigte van Diäkwain, Kweiten-ta-//ken, /A!kúnta, /Han≠kass’o en //Kabbo. Gekies en Versorg deur Antjie Krog. Kaapstad: Kwela.

– 2004. The Stars say ‘tsau’. /Xam poetry of Diäkwain, Kweiten-ta-//ken, /A!kúnta, /Han≠kass’o and //Kabbo. Selected and Adapted by Antjie Krog. Kaapstad: Kwela.

– 2005. ‘n Ander Tongval. Kaapstad: Tafelberg.

– 2006. Verweerskrif. Roggebaai: Umuzi.

– 2006. Body Bereft. Roggebaai: Umuzi.

Lanoye, T. 2002. Mamma Medea: na Apollonios van Rhodos en Euripides. Antjie Krog (vert.). Kaapstad: Queillerie. 

Lefèvere, A. 1981. Translated literature: Towards an integrated theory. Bulletin of the Midwest Modern Language Association, 14(1): 68-78.

Maier, C. 2006. The translator as theôros: Thoughts on cogitation, figuration and current creative writing, in T. Hermans (red.), Translating Others (vol. 1). Manchester: St. Jerome. 162-179.

Mandela, N. 2001. Lang Pad na Vryheid. Antjie Krog (vert.). Florida Hills: Vivlia.

Robinson, D. 1997. Western Translation Theory from Herodotus to Nietzsche. Manchester: St. Jerome.

Rushdie, S. 1983. Shame. Londen: Jonathan Cape.

Rutherford, J. 1990. The third space. Interview with Homi Bhabha, in J. Rutherford (red.), Identity: Community, Culture, Difference. Londen: Lawrence & Wishart. 207-221.

Salvídar-Hull, S. 1999. Introduction, in G. Anzaldúa. Borderlands/La Frontera (2de uitgawe). San Francisco: Aunt Lute Books. 1-18.

Simeoni, D. 1998. The pivotal status of the translator’s habitus. Target, 10(1): 1-39.

Simon, S. 1995. Translation and the will to knowledge: Prefaces and Canadian Literary Politics, in S. Bassnett en A. Lefevere (reds.), Translation, History and Culture. Londen: Cassell. 110-117.

Tymoczko, M. 1995. The metonymics of translating marginalised texts. Comparative Literature, 47(1): 11-24.

Van Woerden, H. 2000. Domein van glas. Antjie Krog (vert.). Kaapstad: Queillerie. 

Venuti, L. 1995. The Translator’s Invisibility: A History of Translation. Londen: Routledge.

Von Flotow, L. 1997. Translation and Gender: Translating in the ‘Era of Feminism.’ Manchester: St. Jerome.

Vosloo, F. 2007. Inhabiting the translator’s habitus: Antjie Krog as translator. Current Writing, 19(2): 72-93.

Wallace, M. 2002. Writing the wrongs of literature: The figure of the feminist and post-colonialist translator. The Journal of the Midwest Modern Language Association, 35(2): 65-74.

Wallmach, K. 2006. Feminist translation strategies: Different or derived? Journal of Literary Studies, 22(1/2). [Internet]. Beskikbaar: http://findarticles.com/p/articles/mi_ hb3050/is_200606/ ai_n18942977

Yarbro-Bejarano, Y. 1994. Gloria Anzaldúa’s Borderlands/La Frontera: Cultural studies, “difference,” and the non-unitary subject. Cultural Critique, 28: 5-28.

 

 

 


[1] Verkorte weergawe van die hoofstuk “Translational intertexts in A change of tongue: Preliminary thoughts”, opgeneem in J. Inggs & L. Meintjes (reds.). 2009. Continuum Studies in Translation. Translation Studies in Africa. Londen: Continuum. 44-63. 

[2] In A change of tongue word vyf intertekste ingespan, naamlik die vier wat in ‘n Ander tongval voorkom, asook ‘n aanhaling van Derrida.

[3] Courtivron (2003) noem hierdie genre “language memoirs”, outobiografiese vertellings van tweetalige mense se ervarings tussen verskillende kulture en tale.

[4] ‘n Ander tongval, wat in 2005 gepubliseer word, kan dus as die ‘oorspronklike’ teks bestempel word. 

[5] Die Duitse Romantikus, Schopenhauer, het die dinamiese verhouding tussen taal en denke beklemtoon, en was oortuig dat vertaling nuwe ruimtes in die individuele, eentalige subjek oopmaak. Die vertaler moet dus die gees van die taal aangryp ten einde die volk wat dit praat, te verstaan: “one has truly internalised a language when one can translate not books but oneself into it, and thus without losing one’s individuality can communicate in it immediately” (in Hokenson & Munson 2007:145).

[6] Vergelyk die webtuiste voices.cla.umn.edu/vg/bios/entries/anzaldua_ gloria.html

[7] Tweetaligheid, veral in die konteks van self-vertalers, het tot dusver min aandag geniet in vertaalstudies as gevolg van konseptuele struikelblokke: ‘n tweetalige teks bestaan gelyktydig in twee taalsisteme, en dit is onduidelik hoe die eentalige kategorieë ‘outeur’ en ‘oorspronklike’ toegepas moet word (Hokenson & Munson 2007:2). Hoewel tweetaligheid as ‘n kulturele verskynsel binne meertalige omstandighede al groter aandag geniet binne postkoloniale vertaalstudies, word daar steeds te min aandag gegee aan literêre tweetaligheid. 

[8] Volgens Simon (1995:110-117) is die vertaler se voorwoord ‘n literêre genre wat diep gewortel is in die sosiale en politieke raamwerk van literêre uitruiling. Enige bewuste refleksie of kommentaar deur ‘n vertaler (en skrywer) behels noodwendig ‘n uitruil van tekste wat buite die onmiddellikheid van die doelteks lê.

[9] As Amerikaanse digter van wat genoem kan word “confessional poetry”, is hierdie aanhaling belangrik vir die manier waarop die leser Krog se werk lees. Wil Krog byvoorbeeld hê dat die leser op dieselfde manier oor haar eie skryfwerk moet dink as Sexton? Is die teks dus ‘n ruimte waar die persoonlike en die kollektiewe, of die private en die openbare verweef is? Dit vra vir ‘n groter ondersoek as in hierdie artikel. Die vraag wat byvoorbeeld ontstaan, is hoe die ‘masker’ toegepas word, en of daar enigsins van ‘n masker gepraat kan word as die skryfproses ‘n ontmaskerde, persoonlike, private handeling is. Aan die ander kant herinner Sexton se woorde die leser daaraan dat die verteller nie noodwendig Krog is nie, hoewel daar genoeg bewyse in die teks self is wat daarop dui dat dit wel Krog self is. Krog sê: “die ‘ek’ is selde ek, my ma en pa nie noodwendig my ouers nie, my familie nie regtig bloedverwante nie, ensovoorts (Krog 2005:407).

[10] Vroue van wit, Mexikaanse en Indiaanse afkoms.

[11] Volgens Bhabha (Rutherford 1990:211) laat die “third space” die moontlikheid vir ander (politieke, kulturele) posisies om na vore te kom, en word dus gekenmerk deur voortdurende hibriditeit en uitkenning.

[12] Vergelyk Venuti (1995) se bespreking van die onsigbaarheid van vertalers teenoor hulle sigbaarheid. Die neiging tot die vertaler se sigbaarheid kan ook gesien word as ‘n postkoloniale tendens, afhangend van die kulturele en linguistiese konteks.

[13] Simeoni (1998) se bespreking van onderdanigheid as ‘n universele element van vertaalgedrag beweer daar is min ruimte vir keuse en veranderlikheid in vertalers se keuses of handelinge.

[14] In Borderlands (Anzaldúa 1999:Voorwoord) verwys die gebruik van verskillende ‘kodes’ (tale) na “the language of the Borderlands. There, at the juncture of cultures, languages cross-pollinate and are revitalized; they die and are born.”

[15] Dit is reeds in die hoofstuk “La herencia de Coatlicue / The Coatlicue State” dat Anzaldúa na die vergete geskiedenisse van vroulike voorvaders en die behoefte aan sigbaarheid verwys:

She has this fear   that she has no names   that she has many names   that she doesn’t know her names   She has this fear   that she’s an image   that comes and goes clearing and darkening   the fear that she’s the dreamwork inside somebody else’s skull (Anzaldúa 1999:65).

Krog se gebruik van die skedel as beeld in Country of my skull blyk ooreen te stem met die simboliek agter Anzaldúa se gebruik daarvan. Anzaldúa het dit reeds in 1978 met die eerste uitgawe van Borderlands gebruik. 

[16] Christina beklemtoon die belangrikheid van vertaling as ‘n kommunikatiewe handeling (Krog 2005:296)

– ‘n benadering wat met funksionalisme geassosieer word; Christina gebruik die Bybel om die belang van kulturele uitruiling en kultuur-spesifieke verskynsels te illustreer (Krog 2005:296); Christiane Nord is ‘n gerekende Bybelvertaler; en Christina raai Krog aan om die doelleser (die funksie van die teks in die doeltaal) in gedagte te hou – “wat dit is wat Mandela uiteindelik wil sê, en wat hy vir Afrikaanssprekendes wil sê (Krog 2005:302).

[17] Die swerwende verteller in Shame (Rushdie 1983:24) sê: “I, too, am a translated man. I have been

borne across.”

[18] Vertaling kan hier ook verwys na die transformasie van iets in ‘n ander vorm, byvoorbeeld om ‘n idee in die realiteit om te sit. Om ‘n kultuur ‘te vertaal’, sou in dieselfde opsig verwys na die handelinge wat gebruik word om sodanige kultuur verstaanbaar te maak vir iemand buite daardie kultuur.  

[19] Genette, Deleuze en ander konsentreer op die individuele skrywer se enkelvoudige gebruik van taal in ‘n teks; die teks word gesien as ‘n eenheid van linguistiese en stilistiese patroonvorming. Styl is “a sustained mode of using standard language, while shaping and unsettling it through individual choices in singular or unique ways” (Hokenson & Munson 2007:167). Genette beweer die skrywer se styl word van teksweergawe tot weergawe oorgedra, en in die proses skep hy of sy verskillende linguistiese beliggamings terwyl die styl steeds uniek bly. In die konteks van selfvertaling sou sy of haar styl as skrywer ook neerslag vind in die vertaling.

  •