Posts Tagged ‘Gode van papier’

Amanda Lourens. Onsterflike lood.

Saturday, April 7th, 2012

 Die volgende gedig in Cas Vos se Gode van papier (2001) het my spesifiek opgeval, juis omdat die digter daarin werk met die gegewe van Beethoven se doofheid, maar desnieteenstaande, ook sy verstommende skeppingsdrif:

Ludwig van Beethoven

1770-1827             

 

Ludwig van Beethoven se briewe sug diep medelye

met ongehoorde doofheid en sy contessa se liefdeswye.

 

As hulle die Negende Simfonie se klankspel hoor,

slaan die gode hulle hande saam in ’n ander koor.

Die gehoor se sakdoeke wapper vlae van behae

terwyl die komponis in stilte roerloos tob

en applous tevergeefs aan dowemansdeur klop.

 

’n Haarlok wat die Tweede Wêreldoorlog oorleef,

verklap die geheim van Beethoven se skeppingsdrif:

loodversierde porselein stoor sy liggaam vol gif

en om pyn hok te slaan, bind sy brein senupunte af.

Al ly Beethoven aan ’n oordowende kopseeer,

bly hy nog steeds goddelik musiek komponeer.

 

Beeld: 28 Oktober 2000

 

Die gedig se eerste twee strofes handel oor twee welbekende grepe uit Beethoven se lewe, naamlik sy briewe waaruit sy liefdesleed oor sy “onsterflike beminde” sowel as sy kommer oor sy swak gesondheid blyk,  asook die  aangrypende insident in 1824 tydens die première van die Negende Simfonie toe ’n orkeslid die stokdowe komponis se aandag moes trek sodat hy die gehoor se applous kon oplet. 

Die leser moet egter die verwysing nagaan om die derde strofe, en ook die gedig, ten volle te kan begryp.  Die Beeld-artikel (http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2000/10/28/7/3.html) handel dan oor FBI-toetse wat op ’n bewaarde haarlok van die komponis uitgevoer is, waardeur bevind is dat die komponis se swak gesondheid en doofheid waarskynlik deur loodvergiftiging veroorsaak is.  Volgens die Beeld-artikel kon loodversierde porselein of eetgerei die oorsaak wees, of ook die wyn wat waarvoor Beethoven se lief was.  Klaarblyklik is lood destyds gebruik om ’n bitter smaak in wyn te temper. 

Die ander interessante aspek wat die gedig aanraak, is die sogenaamde gate control-teorie (sien ook die Beeld-artikel), waarvolgens die brein die senu-impulse waardeur pyn oorgedra word kan blokkeer deur voor te gee dat die brein besig is en hom nie met die pyn kan ophou nie. 

Eenvoudig gestel beteken gate control-teorie dat daar ’n “hekmeganisme” in die senustelsel is wat geopen en gesluit kan word in respons op verskillende faktore.  Wanneer die “hek” geopen word, kan pynboodskappe na die brein beweeg, terwyl die sluiting van die “hek” die pynboodskappe verhoed om die brein te bereik (Melzack & Wall 1965 in Melzack 1996).  Ouer teorieë oor pyn het nie sielkundige aspekte in berekening gebring nie, en die ervaring van pyn is gesien as proporsioneel verwant aan fisieke patologie.  Aspekte soos die betekenis van die situasie of vorige ervaring is dus geensins in verband gebring met die persoon se belewenis van pyn nie.

Melzack en Casey (1968) het pyn in terme van drie dimensies beskryf: Die sensories-diskriminatiewe (die ervaring van die intensiteit, lokaliteit, kwaliteit en duur van die pyn), die affektief-motiverende (ongemak en drang om daarvan te ontsnap) en die kognitief-evaluerende (waaronder kulturele waardes, aftrek van die aandag en hipnotiese suggestie).  Die outeurs het voorgestel dat die intensiteit van pyn en die ervaring van ongemak (dus die eerste twee dimensies) nie slegs bepaal word deur die intensiteit van die pynlike stimulus nie, maar dat “hoër” kognitiewe aktiwiteite die ervaring van pyn kan beïnvloed.  Derhalwe kan die opwinding of spanning wat byvoorbeeld tydens oorlog of sport ervaar word, die sensories-diskriminatiewe en affektief-motiverende dimensies blokkeer.  Suggestie en plasebo’s, byvoorbeeld, sal die affektief-motiverende dimensie moduleer.  

Die komponis het dus moontlik daarin geslaag om sy liggaamlike ellende “weg te dink” deur sy brein so besig te hou met musiek dat daar letterlik nie kans was om aan sy pyn aandag te skenk nie.    Hierdie vermoë om  bykans volkome in sy binnewêreld in musiek op te gaan en dit as’t ware daar te skep en te hoor, was dan moontlik ook die rede waarom hy kon voortgaan om grootse komposisies te lewer ten spyte van sy doofheid, volgens die kenners wat in die Beeld-artikel genoem word.  Dus letterlik ’n geval van “om pyn hok te slaan, bind sy brein senupunte af”. 

Toe ek na die gedig “Maria Stuart 1542-1587” in dieselfde afdeling in die betrokke bundel kyk, onthou ek dat Maria se aartsvyand, Elizabeth I, ook ’n slagoffer van loodvergiftiging was.  In Elizabeth se geval was dit die loodgebaseerde onderlaag wat destyds so gewild was, wat vir haar stelselmatige vergiftiging verantwoordelik was.  Destyds was ’n spierwit gelaat die skoonheidsideaal, en ’n loodgebaseerde onderlaag (“ceruse”) is gebruik om hierdie gesogte porseleinvoorkoms te verkry. (Sommige vroue het hulle selfs tot bloedlating gewend om die aristokratiese wit porseleinvoorkoms te verkry.) Ongelukkig het die lood in die produk talle vooraanstaande vroue oor tyd heen vergiftig, en het hulle simptome soos haarverlies, spierverlamming, agteruitgang in mentale vermoë en natuurlik velskade ondervind.  Laasgenoemde het ’n bose kringloop tot gevolg gehad: hoe meer skade die persoon gehad het, hoe meer lae van die onderlaag was nodig. 

Die moraal van die storie?  Ek weet nie of daar enige is nie.  Tog staan ek in verwondering as ek na die Negende Simfonie luister, en kan my skaars indink hoe  ’n dowe komponis dit kon geskep het. 

Miskien hierdie gedagte as laaste:  Is dit nie maar evolusionêre kragte, die onverbiddelike drang na oorlewing, wat ons in staat stel om selfs intense pyn te blokkeer nie?  Ek het in die hoërskool ’n Engelse juffrou gehad wat op ’n dag groot op die bord geskryf het:  “Art transecends mortality”.  Juffrou Marie Slabbert, laat weet my as jy hierdie blog dalk sou lees.  Daardie frase het my lewe verander. 

 

Bronne

Jens, F. 2000.  Ludwig se hemel-hel: pragtige 9de en pyn in sy kop [Internet].  Beskikbaar: http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2000/10/28/7/3.html. [2012, 6 April].

  Melzack, R. 1996. Gate control theory: on the evolution of pain concepts. Herdruk uit Pain Forum: Official Journal of the American Pain Society vol. 5 pp 128-138, © 1996  American Pain Society, toestemming van Churchill Livingstone, Elsevier Science (USA) [Internet]. Beskikbaar: http://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S108231749680050X.  [2012, 6 April].

 Melzack R & Casey K. 1968. In: Kenshalo,D.R. (red.)  The skin senses: Sensory, motivational, and central control determinants of pain.  Charles C. Thomas, Springfield, 423–443.