Posts Tagged ‘grond/Santekraam’

Andries Bezuidenhout. Onderhoud met Ronelda S. Kamfer

Tuesday, August 2nd, 2011

Mense van die dorpie Skipskop is in 1985 deur die regering uit hul dorp verskuif – baie na Kassiesbaai by Waenhuiskrans, ander na Bredasdorp en Struisbaai toe – om plek te maak vir Krygkor se missieltoetsgrond by De Hoop. Die dorp se naam kom van die wrak van die Maid of the Thames, wat rondom 1848 in die omgewing gestrand het en waarvan die “kop” vir ʼn lang tyd nog sigbaar was bo die golwe. Volgens die Surplus People Project, wat gedwonge verskuiwings in Suid-Afrika bestudeer het, was die meeste van Skipskop se inwoners nasate van drenkelinge van ʼn skip wat in 1860 in die omgewing op die rotse geloop het. Die kwessie van die verskuiwing het in die 1980s redelik dekking in die pers ontvang en David Kramer het “So long Skipskop” daaroor geskryf. Die lied is o.a. deur Sonja Herold opgeneem en dis te betwyfel of haar deursnit aanhanger besef het dat die hartseer storie oor gedwonge verskuiwings handel.

Nou het Ronelda S. Kamfer haar tweede digbundel gepubliseer – grond/Santekraam – wat met hierdie gegewens werk. Verskillende stemme word gebruik om dit te doen en om te kyk na die afstammelinge van die inwoners van Skipskop, waarvan Ronelda een is. Sy het in die omgewing gaan navorsing doen en met familielede gesels, van die gedigte rondom hul stories gebou. Die bundel sny egter ʼn veel breër tematiek aan; dit werk op vele vlakke – bo en onder die water – en word by tye heel surrealisties. Dis baie moeilik om met Ronelda onderhoude te voer, omdat sy so min weggee – ʼn bietjie soos Bob Dylan of Tom Waits. Die vrae is tipies veel langer as haar antwoorde, wat ook hier die geval is.

Andries: Ronelda, baie geluk met grond/Santekraam. Dit het reeds ʼn paar golwe veroorsaak, ook hier op Versindaba. Eers iets oor die titel. Ek sien uit een van die onderhoude met jou dat die woord “Santekraam”  ʼn Nederlandse woord is wat jou ma ook herken het – dit beteken “die res”. Die bundel se titel sê m.a.w. dat dit hier gaan oor “grond en die res”. Enige opmerkings oor die titel? (En moet ASB. nie net sê “nee” nie!)

Ronelda: Nee… Ek wou nie ʼn boek skryf net oor grond of verskuiwings nie, dis waar die santekraam inkom. Ek was ook besig met my honneurskursus en het baie Nederlandse poësie gelees. Dit was vreemd toe ek my ma vra of sy weet wat santekraam beteken en sy sê, ja sure dis ʼn baie outydse woord.

Andries: Die omslag is werklik treffend. Die illustrasie is deur André en Nathan Trantraal. Dit het my aan “stille waters, diepe grond” laat dink. Dalk iets oor hoe die omslag met die gedigte praat?

Ronelda: Ek haat die vraag Andries.

Andries: Goed, volgende een. Die eerste gedig (“gaan i”) lees amper soos ʼn raaisel – “moet ons gaan” word “gaan ons moet”. Dit lees soos ʼn tipe refrein wat subtiel verander, maar die subtiele verandering gee ʼn hele nuwe betekenis. Hoe kies jy ʼn bundel se eerste gedig?

Ronelda: Met die bundel was dit maklik om ʼn eerste gedig te kies omdat dit ʼn begin en ʼn einde het, dit was die struktuur waarop ek vooraf besluit het. Ek het geweet watter gedigte kom waar nog voordat ek begin skryf het.

Andries: Die woord “Santekraam” het jy uit die verlede gaan opdiep. Ek kry die indruk dat die gedigte die verlede deels deur taal na die oppervlak bring, maar nie ʼn verlede met net een storie nie. Die briefwisseling tussen Jan van Riebeeck en Autshumao lees vir my soos kabaret (met Autshumao wat Eliot quote) – dis skreeusnaaks, maar dit tref jou ter selfde tyd soos ʼn vuishou tussen die oë. Ek is nuuskierig oor die verskillende stemme in die bundel. Daar is historiese karakters, soms mense waarmee jy gesprekke gevoer het, soms is dit jy (of die digter se eie stem, ten minste) – soos as jy oor jou oupa se dood skryf. Lang aanloop, maar my vraag gaan oor die klank van hierdie stemme. Jy gebruik verkillende aksente – van iemand wat met sy “mô” praat, tot Autshumao, wat jy met ʼn eietydse aksent laat praat. As jy sulke gedigte skryf, hoe gaan jy te werk om ʼn stem te ontwikkel, veral in gevalle wanneer jy in karakter dig?

Ronelda: Ek skep karakters wat vir my geloofwaardig is, in my kop lees Autshumao Eliot en Van Riebeeck is ʼn gangster. Beide soort gedigte persoonlik en karakter gebeur op dieselfde manier. Ek dink nie te veel aan hoe ek goed doen nie, dit gebeur net.

Andries: Met die “oorvertel” reeks vertel jy letterlik oor wat ander mense sê – met datums waarop jy gesprekke met hulle gevoer het. Jy bind daarmee as’t ware hulle stemme aan ʼn plek en ʼn datum en gee vir hulle erkenning. Hoe gaan jy te werk om ander mense se woorde in gedigte om te sit?

Ronelda: Ek kom uit ʼn familie/gemeenskap  van storievertellers, my ma kon goed vertel oor haar kinderjare wat my verbeelding dae lank op hol kon sit. Daar is nie ʼn metode of proses van hoe om dit te doen nie, jy volg jou ‘onthou’ en jy haal daaruit die gedig.

Andries: Musiek speel ʼn groot rol in die bundel. Reeds in noudat slapende honde het jy byvoorbeeld met Radiohead en Tupac Shakur gepraat. In grond/Santekraam lees baie van die gedigte soos musiek – refreine, herhaling – daar’s selfs een gedig met rymende koeplette en ʼn vaste metrum. Dan tree jy in gesprek met van Koos du Plessis tot Die Stem. Hoe sien jy die gesprek tussen jou eie werk en musiek? Gaan jy ʼn album opneem, soos byvoorbeeld Breyten Breytenbach?

Ronelda: Musiek is my grootste invloed, ek luister meer musiek as wat ek lees, die musiek in die bundel was heeltemal onbeplan, as jy aan Skipskop dink, dink jy aan David Kramer se song, wanneer ek skryf dink ek aan musiek, meer aan die emosie wat gewek word deur die song. Ek het nie geweet Breytenbach het ʼn album opgeneem nie. Ek sal as die musiek reg is.

Andries: ʼn Vraag oor invloede. Bukowski, die dirty old man, is steeds baie sterk. Maar wie anders lees jou op die oomblik?

Ronelda: Ek lees steeds net Bukowski.

Andries: Laaste vraag: Volgende bundel?

Ronelda: Sodra iets my lank genoeg pla, skryf ek daaroor.

Verwysing:

Laurine Platzky en Cherryl Walker, The Surplus People: Forced Removals in South Africa (Ravan Press, 1985), p. 47.

Louis Esterhuizen. Alfred Schaffer skryf oor Ronelda Kamfer se nuutste bundel

Wednesday, July 20th, 2011

Die afgelope maande tree Alfred Schaffer op as gasblogger vir Tirade. In sy mees onlangse aflewering skryf hy onder andere oor Ronelda Kamfer se nuutste bundel, grond/Santekraam, en omrede daar tans heelwat in die media berig word oor dié besonderse publikasie, hou ek graag enkele aanhalings uit Schaffer se stuk voor.

By wyse van inleiding maak Schaffer die volgende opmerking: “Die (bundel) heet grond/Santekraam, en is een adembenemende, zeer persoonlijke en ook zeer Zuid-Afrikaanse bundel. Maar er staat niets achterop vermeld. Geen foto, geen beschrijving, geen citaten. Terwijl dat makkelijk had gekund: haar debuut Noudat slapende honde (2008) is terecht overladen met lof, hier en buiten Zuid-Afrika. Maar Kamfer is, zoals ook J.M Coetzee, een voorbeeld van een schrijver die wars is van dikdoenerij of geschreeuw.”

Omslag

Omslag

Na ‘n anekdotiese vertelling van die ooievaarstee wat in Seepunt vir Ronelda aangebied was, lewer hy die volgende opsommende kommentaar op die bundel: “De gedichten in grond/Santekraam gaan echt ergens over, zonder prekerig, simplistisch of pamflettistisch te worden. Zoiets is razend knap. Over identiteit, over groepen achtergestelde landgenoten – het lot van de gewone, arme bruine medemens. Er worden personages ten tonele gevoerd die als metafoor dienen voor het onrecht dat veel landgenoten is aangedaan. Mensen die uit hun bestaan werden weggerukt en verplaatst, overgebracht naar een vreemde plek, krijgen hier een stem. […] grond/Santekraam is een verslavende, veelkantige en soms ingewikkelde bundel, vooral vanwege de verwevenheid met andere Zuid-Afrikaanse teksten. “

Inderdaad. Of, soos Danie Marais dit volgens Schaffer in ‘n sms aan hom gestel het: “Mens kan dit eintlik nie eers kuns noem nie. Dis iets ergers.”

Vir jou leesplesier volg die twee aangehaalde gedigte hieronder:

***

 

Jeppe
 
Jeppe wens hy was dood
elke dag
elke oggend
ons het saam taxi gery tot by Medi-Clinic
hy was 35 jaar oud
en ek 25
hy het sommer een oggend besluit
om my sy hele life story te vertel
so
tussen squeal met die taxi guard oor kleingeld
 
sy pa was ‘n alkoholis
dis hoekom hy drink
en sy ma was ‘n moeilike vrou
hy wou nie uitbrei nie
die bottom line het hy elke dag elke oggend
gesê
ek wens ek was dood
elke dag
elke oggend
het ek gesit en luister
 
een oggend vertel ek hom van my lewe
en hoe ek wens ek het nie so dood gevoel nie
en as ek kon
as dit van my afhang
as dit in my hande was
as ek regtig kon sou ek hom doodgemaak het
dan het ons albei se wens waar geword

ná daai oggend het ons nie meer met mekaar gepraat nie

dit vat ‘n kat om ‘n muis te vang
 
ek het my pa gaan soek
eers buitekant
waar mens mos begin
in die tuin tussen sy rankrose
toe in sy motorhuis
waar hy altyd in stilte besig is
laaste het ek binne gaan soek
waar mens mos eindig
drie kloppe
een
twee
drie
op jou merke gereed weg
my hand het sy asem opgehou
al vyf vingers se oë was toe
met die oopdraai van die handvatsel
het die deur gekreun
my vingers het my probeer waarsku
een
twee
drie
op my merke gereed weg
my oë was toe
maar ek kon hom sien
ek kon my pa sien hang
hy hang
en hy hang
en hy hang
sonder my
elke dag sonder om te val
hang hy
hy hang nou nog 

 

© Ronelda S. Kamfer (Uit: grond/Santekraam, 2011: Kwela Uitgewers)