H.C. ten Berge – vertaling in Afrikaans
Friday, April 22nd, 2016H.C. ten Berge – vertaal deur Daniel Hugo.
Tyd is
Jy wil die hede betrap
terwyl dit reeds nie meer bestaan nie.
Tyd is ’n deurgang, ’n geslote
loket waar jy steeds te laat kom –
Tyd is die verdelger.
Tyd heel niks nie, maar maak weer
nuwe wonde. Wat opbloei
word deur hom ontbind.
Tyd is diep geaard, hy ruik soos die seisoene.
’n Geur vervlugtig, ’n maand vergly.
Hy nestel in mis en vrugte, ’n roosboom, kastaiingblare.
Tyd gaan tuis in ’n verbygegane somer, seelug en herinnerde meisiehare.
Tyd skuil in babasalf, afgelope liefde, ’n vervalle vel.
Tyd is ’n slak wat ongeremd voortsnel. Vir kinders
verloop hy traag, maar sy vaart word deur niks gestuit nie
totdat jy opgebaar lê aan die rand van bittersoet waters.
***
’n Middagete in Linhó
Die paradys is glo ’n subtiele klank
en nie ’n plek nie.
’n Kleur miskien, die gewelf van die veranda
wat die tafel met die middagete in die skadu hou.
Die wynkaraf afgekoel, die skinkbord
ingelê met blou steentjies.
Die dowwe glans van die vloerteëls is rooi getint,
gedempte stemme agter groen luike
en Martinho, die kanarie, sing in sy koutjie.
Die huisslang tussen die agawe,
die vyeboom teen die muur.
’n Geur van dennehars, die wind
vanaf die berge,
die tinkelende klokkespel van glasstafies
aan ’n tou.
In die oop deur Maria met ’n tafelklokkie.
Zoemende insekte, akkedisse, hier en daar
geritsel van droë blare.
’n Deurskynende naaldekoker hang roerloos bo die vywerriet.
Gestol hierdie beeld, ontsnap uit die vergetelheid:
Dit is al dertig jaar lank twaalfuur.
Gewaste vrugte, steeds vars, raak droog
in ’n vergiet.
Uit: “Sermoen aangaande het paradijs”
Vert. deur Daniel Hugo.