Posts Tagged ‘Handspoor Louise Boshoff’

Resensie: “Handspoor” (Louise Boshoff)

Friday, June 10th, 2022

 

 

 

Resensie: “Handspoor” deur Louise Boshoff. Naledi, 2022.

Resensent: Marlies Taljard

 

Louise Boshoff se bundel “Handspoor” het onlangs by Naledi verskyn. Vantevore het van haar verskyn “Handlandskap” (Perskor-Uitgewery, Johannesburg, 1988) en “Witpad” (SA Scientific Publications, 1999).

Die agterbladteks beskryf die bundel “Handspoor” as “eenvoudige verse wat vir die leser toeganklik is”. Dit is inderdaad ʼn bundel wat min eise aan die leser stel.

Die bundel bestaan uit drie genommerde afdelings wat (rofweg gestel) handel oor die digter se persoonlike lewe: die huis, diere, familielede, verhoudings, ensomeer. Die tweede afdeling handel oor die Suid-Afrikaanse landskap en plekke hier plaaslik, terwyl die laaste afdeling van die bundel fokus op reisbeskrywings van plekke buite Suid-Afrika.

Ontstaan, herkoms en historiografie is ʼn belangrike tema in die eerste handvol gedigte – dit situeer as’t ware die spreker binne ʼn groter opset wat veral op die vrou fokus – “Anima” (p. 13) bestaan byvoorbeeld uit ʼn opeenhoping van die name van belangrike vroue met wie die digter haarself identifiseer (die anima is die vroulike aspek van die psige in Jungiaanse psigoanalise), beginnend by Eva. Tog bely die gedig “Eva” (p. 16) die vrou se afhanklikheid van en gebondenheid aan die man in teenstelling met moderne feministiese teorie:

 

Uit sy rib gebik

Slank gevorm uit die beenboog –

Skelet byna gewigloos –

Die vrou is lig gedig,

Die appel van sy droom.

 

Dié gedig sluit aan by die vorige gedig, “Been” (p. 14-15) waarin die ontstaan van die mens se skelet in die baarmoeder beskryf word en wat op sy beurt vooruitwys na “Anubis” (p. 46) (Anubis: die Egiptiese god van die doderyk wat voorgestel word deur ‘n man met ‘n jakkalsgesig) waarin die sirkel voltooi word en die skelet vergaan:

 

langs die pad hurk ek oor

die halfontbinde jakkalskarkas,

tussen pers-pers vygies lê

die bondel been en vel,

blomblare waai sag aan

teen die dowwe pels,

‘n poot strek nog uit na

die vaalgrys teerpad:

‘n trok of gif?

kleintjies iewers?

Hoe dit ookal is,

daar op bruin en gruis

verval die gebeentes asvaal en stil.

(…)

 

Daarna volg etlike gedigte oor (liefdes)verhoudings wat meestal tradisionele sieninge van die liefde verteenwoordig en té dikwels in trivialiteite verval. “Eerste liefde” eindig op ʼn interessante noot:

 

jy het my laat aanstap sonder jou;

dus

dankie vir die afwesige troupand (sic!).

 

Plato se Republiek bevat ʼn eenvoudige narratologie waarin hy onder andere onderskei tussen verskillende vlakke van vertelling – mimesis en diëgesis – wat, eenvoudig gestel, dui op die mate van vertellerbetrokkenheid in ʼn teks. Wayne Booth se bekende terme, “telling” en “showing” is losweg hierop geskoei. Hoewel die onderskeid tussen “telling” en “showing” kompleks en onvas is, kom dit daarop neer dat die leser in die “telling”-modus die indruk kry dat iets tweedehands vertel word, terwyl lesers in die “showing”-modus voel asof ʼn toneel voor hulle afspeel waarmee hulle makliker kan identifiseer. Volgens die Franse Strukturalis, Gérard Genette het die verskil tussen mimesis (“showing”) en diëgesis (“telling”) te make met die afstand van die verteller van sy vertelling: eerstehandse of tweedehandse oordrag van inligting. Plato (ca. 424 VC) skryf dat mimesis by uitstek die modus van poësie is, en ongeag watter kleiner teoretiese onderskeiding daar vandag in die literêre teorie tussen mimesis en diëgesis gemaak word, geld hierdie breë aanname steeds. Dit is my oorwoë mening dat een van die grootste struikelblokke in die skryf van poësie die gebrek aan aanvoeling is wanneer die digter van mimesis (“showing”) gebruik moet maak, asook die onoordeelkundige gebruik van ‘n soort oral-teenwoordige verteller wat sketsmatig, vanuit ‘n hoë uitkykpos, oor gebeure en emosies heengaan. Ongelukkig is daar ook in Handspoor té veel tweedehandse oorvertellings, soos in die gedig “Man” (p. 23):

 

Jy praat al hoe meer

Oor die beslommernis van besit

Die oortolligheid van goeters:

Die ses ou karre op die erf en

Die ewige bekommernis (…)

 

Té veel van die gedigte in die eerste afdeling is niksseggend of veralgemenend (“Affêre”, p. 20; “Somer draai”, p. 27; “Rooi ster”, p. 32; “Kunstefees”, p.33; “Drif”, p. 35, ens.) en moes verkieslik weggelaat wees.

Daar is egter enkele verse in hierdie afdeling wat vanuit ʼn interessante ironiese oogpunt fokus, soos “Kundige” (p. 30), ʼn gedig oor ʼn sielkundige waarin ʼn derdepersoonverteller aan die woord is (Louise Boshoff is ʼn sielkundige van beroep):

 

danksy die wetenskap van verstaan

sien sy wel hoedat haar bankbalans

maandeliks verbeter, sy word stroewer

van onbegrip en ongeloof

in Freud en kie –

understanding is no cure (…)

 

“Kiekie met perd” (p. 24) is ‘n gedig met sterk simboliese betekenis en Jungiaanse konnotasies: die skaduwee wat onbedoeld op die foto val, die skadu-aspek van die psige wat onverhoeds opduik; die swart-op-wit-metafoor wat hier selfs unheimlich aandoen. Hierdie is een van die beste gedigte in die bundel:

 

Kiekie met perd

 

my boetie my sussie en ek

staan opgelyn voor die maer

wit merrie, pas aangekoop,

my bril skeef oor die neus,

maar ek hou die teuels vas,

glimlag wyd oop bek en

hou.

Pa kliek die browny

die son hang agter hom;

sy skaduwee val

swart

oor die wit.

 

Die twee gedigte oor (oorlede) honde, “Canis Africanus” (p. 28) en “Swart hond” (p. 29) is juwele. Ek haal die laaste reëls van die eersgenoemde gedig aan:

 

Zana, per toeval, wou ek dink,

het jy by my op ‘n strand kom sit,

mening was dat ek jou red, my canis-kind

dit blyk toe andersom;

amberoog

hart se kwispelpunt.

 

‘n Interessante simbool wat ek al in gesprekke raakgeloop het, maar nog selde in poësie teëgekom het, is die paradysvlieëvanger as simbool van vertroosting en (emosionele) herstel:

 

op ‘n dag kom sit

voor die ruit ‘n paradysvlieëvanger

in die geelhoutboom

asof hy haar raaksien (…)

 

neem waar hoedat sy

uitrol uit die bed,   skuifelend     stadig

stap-vir-stap herstel,

‘n hele somer lank herstel.

(Uit: “Herstel”, p. 39)

 

In die tweede afdeling van die bundel Handspoor verken die digter (toeriste-)bestemmings in suidelike Afrika: die Tankwa-Karoo (“Tankwa”, p. 43), die Weskus (“Weskusbegraafplaas”, p. 47), die Savuti-natuurreservaat (“Savuti”, p. 49-50), die Otterwandelpad (“Te voet”, p. 51), die Kalahari (“Waterwysers”, p. 53-54), die Madikwe-wildreservaat (“Wind as kat”, p.56), die Sederberge (p. 57) en Bloemfontein (p. 58). Wat hier opval, is die drie versamelings kort verse onder die titels “Savuti” (p. 49-50) wat vier- en vyfreëlige verse onder afsonderlike titels bevat (bv. “vuur”, “nes”, “oos”, ens.), “Te voet” (p. 51) wat drie- en vierreëlige gedigte bevat en “Waterwysers” (p. 53-54) wat verse met drie, vier of vyf reëls bevat – altesaam 29 kort gedigte, meestal fragmentariese indrukke. Strenger seleksie sou myns insiens toegepas moes word en die digter kon haar hand dalk ook aan vaste versvorme, soos die tradisionele tersine, kwatryn en tanka gewaag het. Daar is ‘n paar verdienstelike verse in hierdie versamelings:

 

rivier loop heuning

uit holtes van kloof en krans

oop aar van aarde

(p. 51)

 

Die derde afdeling bevat gedigte wat herinner aan poskaarte van mooi, eksotiese bestemmings, ‘n “ek-was-daar”-fotoboek of Facebook-plasings – tipiese reisgidsfoto’s wat waarskynlik in die smaak van die implisiete lesersgehoor van die teks val, maar waaroor daar in hedendaagse tye ernstig gefrons word. Met inagneming van Foucault se werk oor diskoersanalise en spesifiek magsdiskoers, veroordeel Edward Said in Orientalism die konsep wat hy “kulturele imperialisme” noem – ‘n diskoers waarin die Westerling van buite na die “eksotiese” mens en plek kyk en ‘n Westerse diskoers daarop afdwing. Bill Ashcroft skryf in Post-Colonial Transformations:

 

the imperial gaze defines the identity of the subject [die “eksotiese” landskap en die “eksotiese” mens], objectifies it within the identifying system of power relations and confirms its subalterneity and powerlessness (p. 141).

 

Moderne toerisme kommodifiseer die eksotiese bestemming, toeriste smag na ‘n outentieke ervaring soos gesien vanuit ‘n Eurosentriese perspektief, en dit is presies wat die leser van die laaste afdeling van Handspoor kry – ‘n skeefgetrekte beeld in die retoriek van die toeragentskap, die reisbrosjure en die toergids. Nightengale (2019) beweer:

 

Holiday destinations often evoke an image of idyllic landscapes, inscribed with emotions and feelings; this is a result of imagined geographies of the place caused by the culturally constructed narratives (…) This is a result of advertisements summarising an entire nation’s culture into a set of descriptors (…) In doing so, it plays out a “racist fantasy” in which the “east” is homogenised and given the role of inferior; seen as feminised and backwards in relation to the western world (…)

 

Van hierdie oppervlakkige kyk, die gewaande kennis van selfs die gedagtes van inheemse mense, die fantasie van die toeris, die geloof in die “waarheid” van die reisagent en die reisgids en die implisiete meerderwaardigheid van die besoeker wat waarde vir sy/haar geld wil sien, getuig haas elke gedig in hierdie afdeling. ‘n Keurder moes hier tog halt geroep het …:

 

vanaand waai die wind

kaneel en kardamon

naeltjies en vanielje

oor zanzibar

(p. 62)

 

*

 

hy verkoop yskasmagnete,

gekerfde bakke, ‘n spul bont kangas;

staan ingehaak by toeriste

vir foto na foto na foto.

(…)

hy droom dan van

‘n seboe beestrop

en die een wat lig

vir sy oë is.

(p. 63)

 

*

 

ilang-ilang en wildejasmyn,

die digteres loop hier op swart strande,

porseleinroos, lemoenbloeisel,

sy swem in glaswater.

(p. 66)

 

En: kan mens in een dag ‘n eiland “ontdek”, soos beweer word in “Stoepsit” (p. 72)?

Inderdaad ‘n bul in ‘n porseleinwinkel, hierdie afdeling!

Die enigste teken van ‘n gevoel van vreemdheid op vreemde bodem (LW: nie vervreemding/Verfremdung nie), vind ons in “Nieu-Seeland” (p. 75):

 

van groen groener groenste

kan ek geen beeld maak nie;

skaap skaper skaapagtig

onthou ek die afwesigheid

van raserige voëls en verkeerschaos;

die mak landskap besprinkel met lasuliet

blou mere, woude en sneeupieke

ráák my nie

(…)

 

Nota by Afdeling 3: In Afrikaans skryf mens “Kambodja” en nie “Kambodia” (p. 68) nie; die gravisaksent (bv. “diè”, p. 50) word by herhaling verkeerdelik in die plek van die akuutaksent gebruik (“dié”) om klem aan te dui.

Ten slotte: Hierdie bundel sou gebaat het by ‘n strenger keurder.

Tog: Gesien in die lig van die bedoelde gehoor of implisiete leser (Iser se term) – ‘n lesersgehoor vir wie literêre kwaliteit nie deurslaggewend is nie – behoort hierdie bundel wyd gelees en geniet te word. Dit bevat mooi momente, ‘n handvol goeie gedigte waarin die stipkyk en diepkyk van ‘n ervare sielkundige deurslaan in sterk simbole en metafore, ‘n digter wat die menslike kondisie met deernis en begrip in keurige Afrikaans verwoord. Dit is inderdaad ‘n bundel wat vir gewone mense toeganklik is, soos bedoel!

 

Enkele bronne:

Ashcroft, Bill. 2001. Post-Colonial Transformations. Londen: Routledge.

 

Foucault, M (1998) The History of Sexuality: The Will to Knowledge . Londen: Penguin.

 

Nightengale, John. 2019. Orientalism and the cultural constructions of modern-day mass tourism. Decolonization, Society Culture. Augustus 2019. Besoek op 9 Junie 2022.

https://www.hamptonthink.org/read/orientalism-and-the-cultural-constructions-of-modern-day-mass-tourism

 

Said, E. W. 2016. Orientalism: western conceptions of the Orient, Londen: Penguin.