Posts Tagged ‘Hans Pienaar Seisoene op parool’

Resensie: Seisoene op parool (Hans Pienaar)

Friday, April 23rd, 2021

 

 

 

Seisoene op parool deur Hans Pienaar. Protea Boekhuis, 2021. ISBN 978-1-4853-1170-6

Resensie: Joan Hambidge

 

van die seisoene, waarin die ou ritmes van die helende hartslag weer begin vonk

Dit is opvallend hoe die natuur en sterre tans in Afrikaanse digbundels na vore kom. Verklap dit iets van die tyd van inperking? Dat mens dalk in hierdie tyd-van-stilstand weer tyd gehad het om dinge ráák te sien? In Hans Pienaar se Seisoene op parool vind ons egter die seisoene op parool, dus voorwaardelik vrygelaat.

Seisoene, Diefwering, Entropie, Hondsegedagte, Prometheus gee die verskillende afdelings weer. Die bundel is Vir my eerste redakteur, Corné. Die digter Corné Coetzee, sy lewensmaat, se bundel nou, hier word in die herinnering geroep met die verruklike Boeddhistiese verse oor die leemte in die kern”  oftewel, śūnyatā, die Sanskrit vir die Boeddhistiese nosie van ‘leegheid’ in haar bundel.

 

In twee endnotas in Pienaar se bundel word belangrike kodes gegee:

 

God en die G-kol van die niet

Roger Penrose, medewenner van die Nobelprys vir fisika in 2020, het probeer uitwerk hoe een wese die heelal soos ons dit ken aan die gang sou kon sit. Die wisselwerking tussen swaartekrag en entropie tydens faseveranderings maak só iets onmoontlik, het hy gepostuleer.

 

Boson

Een van die twee basiese groepe partikels (die ander is fermione). Hulle dien dikwels as draers van elementêre kragte en kan gestapel word sonder einde. Die Higgs-boson is die mees sentrale van almal, en gee massa aan rimpelinge in kwantumvelde. Die bestaan daarvan is eers onlangs ná dekades se worstelinge met monsteragtige, ondergrondse subatomiese botsmasjiene bevestig.  (96)

*

‘n Besinning dus van ‘n ander kant af. Die digter gebruik ook die mitologie om die wêreld te verstaan.

‘n Ander belangrike kode is fraktale en die fraktaalmeetkunde is die meetkunde wat die graad van onreëlmatigheid meet van bepaalde tipes onreëlmatige vorms. Fraktaal van fractus oftewel die oppervlak van ‘n gebreekte steen. Omdat dit onreëlmatig is, lyk dit dieselfde van naby en ver. Tog is daar ‘n patroon in hierdie wanorde …

So gelees, kan ons die patrone in hierdie bundel sáámplaas. Pienaar, as joernalis, het nog altyd insigryke artikels geskryf oor sosiale onreg. Pienaar, die digter, se stem resoneer  sy politieke kwellings:

 

Johannesburg

stad van kwartiere en kamponge, deure

in jaarte en haltes met rye en diep benede

die katakombes van klip sonder beendere

en sonder einde in die ingevalle skeure

stad van stommerds in stoele en tuine

met stukkende grawe en die gestaar

van verydelde ure en ’n honger jaar

oor besoedelde bome se droë kruine

stad van oorloë in die oases van stasies

en die wandelgange om die atriums

met weergalmende skote in stadiums

en afwesige kruise in oopgelate spasies

stad van verwaarloosde standplase

en grafte wat aangroei in die helder

dag met die donder in sy leë kelder,

slae teen die simbale van sinkplate

stad vol dringende sake waar die hede

die verlede hokslaan, eers weer loslaat

as ’n bedelaar van toekomste in ’n straat

wat doodloop: stad van verstote stede   (53)

 

‘n Mens dink onvermydelik hier aan Fanie Olivier se bloemlesing oor Johannesburg Goudaar (Perskor, 1986) en Elisabeth Eybers se verse oor bome van Johannesburg. En jy as leser moet letterlik die “oopgelate spasies” van die gedig via die resepsie-estetika invul.

 

Hoogsomer

Parool kan werk as jy net werk kan

kry, nie as die dae draal en jy hunker

na die tyd wat drywer speel, voet

in die hoek kan sit as dit moet,

soos die wegkomkar se man net

om die draai, met sy bitter gekoude

kougom en vingers op die stuurwiel.

Nie as jy jou daagliks moet aanmeld

en jou gedra al is jy tot barstens

toe vol van opgekropte droogtes,

en die hitte ’n padblokkade oprig,

jou lyf kom aftas, en jy voel jy moet

die reg in eie hande neem, moleste maak,

dat ’n nuwe jaar en ’n nuwe vonnis kom.   (19)

 

In die vyfde afdeling Prometheus neem die digter ons op ‘n staptog deur die mitologie. Hy skryf:

N.a.v. die beeldhouwerk Der gefesselte Prometheus deur Reinhold Begas en muwwe mites en gewigtige gedigte in biblioteke vol boeke deur skrywers soos Aiskulos, Hesiodos, Plato, Goethe, Shelley en veral Kafka.

 

Hierdie afdeling vra pertinente vrae oor impak van die mitologie en die modelleser (in Eco se terme) word op etlike “inferential walks” geneem.

In die gedig “Afgrond” (66) word die bekende gebed gedekonstrueer:

 

Ek slaan my oë af na die afgrond

                   waar sal my hulp vandaan kom?

Die aasvoël is my herder

                   pyn sal my nie ontbreek nie

Gee my my daaglikse wond

                  swaai die afval voor my mond

(…)

 

 Dit  speel in op die soen-gedigte in die tweede afdeling (“Diefwering”) wat die betekenis van die soen (en die liefde) debunk. Die soen by ‘n begrafnis word ‘n begrafnisgedig oor die verlore liefde:

 

dinge soos weerloosheid

wat swik en ontvanklikheid ontbloot (30)

 

Hierdie gedig vra vir ‘n opname in Fanie Olivier se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.

 

Die derde afdeling (“Entropie”) besin oor die digkuns, oor die woord as entropie.

Ons lees o.a.:

 

die son steel sy eie skaduwee

wat verflou en vergrys

soos hare van ’n weduwee (39)

 

Dikwels verras die digter ons met ‘n aweregse beeld soos ‘n das wat vergelyk word met ‘n ruitveër of ‘n teesakkie se onskuld.

Lippe wat soen lyk soos parende slakke.

Entropie versus mitologie. Closed versus Open teks (Umberto Eco). Wanorde in die sisteem. Orde in chaos.

Dis ‘n lywige bundel met opwindende lees- en speurwerk en met ‘n handvol uitstaande verse. Die parool/tronk-beelde word goed verweef. Die idee van parool as voorwaardelike vrylating met streng reëls kan gelees word as die digter se kommentaar op die Afrikaanse kanon. Hy publiseer nou by ‘n gevestigde uitgewershuis. Die taal van voëls (2002) het nie genoegsame erkenning gekry nie. Dalk omdat Pienaar te veelkantig is? Joernalis, romanskrywer en politieke analis? Vir Die derde oorlog teen Mapoch is hy tereg bekroon nes vir sy roman Die Generaal.

Die stem is grinterig, ja selfs aweregs, teen die grein van die “mooi” gedig, met besinnings oor lewe en dood, die liggaam as ‘n tronk en gedigte wat jou in die maag tref soos “Dagboek van ‘n misdaadverslaggewer” (51) en vreesloos ontmasker “Amerika” (56).

Soos die digter ‘n heildronk op die winter skink, lig ek eweneens my glas op!