Posts Tagged ‘Harold Stewart’

Jelleke Wierenga. FAE – dit staan vir iets leliks

Wednesday, July 14th, 2010

“Fuck all editors.” Ekskuus, dis nie ék wat so lelik praat nie. Ek jok, ek praat so lelik, maar in hierdie geval kom die verwensing uit die hart en pen van Gwen Harwood, ’n (uiteindelik) bekende Australiese digter. Die redakteurs (mans) aan wie sy haar gedigte in die 1950’s en 1960’s gestuur het, het haar beskou as ’n voorstedelike huisvroutjie en moeder wat toevalliglik, so tussen die skottelgoed en die stofsuig deur, ook ’n tydjie afknyp om poësie te pen, oftewel versies te versin.

In ’n stadium het sy dit oorweeg om haar gedigte in bottels van die Hobart-brug in Tasmanië af te gooi – mense lees gewoonlik boodskappe in bottels met groot aandag.

Toe ek op die internet Ern Malley, daardie groot, fiktiewe Australiese digter, se spoor vat, kom ek op Gwen Harwood af. Sy is ’n tydgenoot van James McAuley en Harold Stewart, skeppers van Malley. Nes McAuley en Stewart het sy die koerantopskrifte gehaal met ’n letterkundige poets.

Haar konneksie met die twee het ’n ironiese kinkel in die kabel. McAuley en Stewart het destyds Max Harris, redakteur van die avant-garde tydskrif Angry Penguins, in die visier gehad. Nie alleen is die naam Angry Penguins – geneem uit ’n gedig van Harris – genoeg om die meeste mense kwaad te maak nie, maar die modernistiese kuns en gedigte wat die tydskrif gepubliseer het, het die opregte burger teen die fatsoenlike bors gestuit. Watter verregaande bog, gedigte wat nie sin maak of rym nie! Die publiek het hulle verlustig in Harris se vernedering nadat McAuley en Stewart se poets op die lappe gekom het. Een van die tydskrifte wat McAuley en Stewart destyds toegejuig het, is die Bulletin: “Earnest thanks to the diggers who are joint disbunkers of Bosh, Blah and Blather.” Die tydskrif was egter minder geesdriftig toe Gwen Harwood ongeveer twintig jaar later dieselfde poets op hulle bak.

Harwood het uit dure en sure ondervinding tot die slotsom gekom dat vrouedigters nie dieselfde agting en erkenning as mans geniet nie. In een van haar briewe sê sy: “I am gradually getting more confidence in my own work; I didn’t think I ever should, with such a long history of rejections and editorial insults … let me just rehearse the history of ‘Joseph’ written in 1953:

Sent to Meanjin, rejected.
Sent to Southerley, accepted, but returned by mistake.
Sent to Australian Signpost & accepted, but never used.
Sent to Southerly (new Editor) and accepted, but never used.

A perfectly good poem, given the run-around for six years.”

Om haar gedigte so wyd as moontlik gepubliseer te kry, het Harwood ’n hele paar manlike nom de plumes as “editor-baiting” gebruik. Gedigte wat sy onder ’n mansnaam ingestuur het, is baie eerder aanvaar as dié van Mrs. Harwood van Hobart … en is meer betaal. Hulle (die “mans”) het ook baie meer uitnodigings en gunstiger terugvoering ontvang.

In ’n brief aan ’n vriend vertel Harwood hoe sy en haar man, die taalkundige William Harwood, die skuilnaam W.W. Hagendoor uitgedink het – ’n anagram van Gwen Harwood. “That is only a start,” skryf sy. “I will take other names & nationalities from time to time. I have sent McAuley the most recent poems I’ve written to see if he rejects them all or if he might think about the works of HAGENDOOR more kindly than those of HARWOOD.” Die McAuley waarna sy verwys, is die einste James McAuley wat Ern Malley help skep het. McAuley was destyds redakteur van die tydskrif Quadrant. Hy en Harwood het later goeie vriende geword.

Harwood het die Europese uitgewekenes Walter Lehmann en Francis Geyer in 1960 geskep en heelwat gedigte onder hul name gepubliseer gekry. In haar frustrasie met redakteurs wat haar soos ’n onnosel huisvrou behandel, het sy twee “onsinnige” Lehmann-sonnette met verskuilde boodskappe aan die redakteur van die Bulletin, Donald Horne, gestuur. Hy het dit aanvaar en gepubliseer. Harwood het geglo die sonnette is louter twak en enigeen wat dit publiseer, kan nie ’n donkie se agterent van poësie onderskei nie. Die eerste letter van elke versreël van die een sonnet lewer dié boodskap: “So LOng bULLetIN”. In die ander sonnet spel die letters haar gevoelens grafies uit: “Fuck AlL eDiToRs”.

Harwood het ’n appeltjie met Horne te skil gehad omdat hy haar gedigte langs ander van “uiters minderwaardige gehalte” gepubliseer het.

Toe die gewraakte boodskappe in die sonnette aan die lig kom, is die uitgawe van die Bulletin waarin dit verskyn, dadelik onttrek en verpulp. Dit is as uiters skandalig beskou oor die f-woord en veral oor dit uit die pen van ’n “huisvrou” en moeder kom – hoewel dit darem die tydskrif se sirkulasie met die nie onaansienlike getal van 8 000 opgestoot het. Mense wat nie die woord “poetry” kon spel nie, het skielik erg beswaarde poësielesers geword. Die koerant Truth se plakkate het dit in groot swart letters uitbasuin: “TAS. HOUSEWIFE IN HOAX OF YEAR!” Daar was selfs sprake van vervolging weens obseniteit. Hieroor het Harwood ironies opgemerk dat die wet dalk nie van toepassing is op ’n obseniteit wat vertikaal lees nie.

Gwen Harwood op die omslag van die boek oor haar briefwisseling.

Gwen Harwood op die omslag van die boek oor haar briefwisseling.

Harwood se poets, nes dié van McAuley en Stewart, het later geboemerang. Haar hartstogtelike Lehmann-sonnette – “Eloisa to Abelard” en “Abelard to Eloisa” – wat lank as poëtiese onsin beskou is, word nou met nuwe oë bekyk. Een kritikus meen selfs dis “poems of musical mellifluousness, full of words poetically evocative of loss and despair”. ’n Ander praat bewonderend van die “kragtige beelde”.

Die analiste van die menslike psige het intussen ook op die toneel gekom met ontledings van Harwood se “subpersoonlikhede” soos dit in die gedigte van haar onderskeie nom de plumes geopenbaar word. Volgens hulle kon sy deur haar subpersoonlikhede ’n reeks gevoelens verken wat waarskynlik nie vir haar openbare persona aanvaarbaar was nie. Hulle kom tot die slotsom dat sy ’n hoogs intelligente, komplekse, veelsydige wese was.

Harwood self het in onderhoude gesê die persoon met wie die onderhoud gevoer word, is nie dieselfde as die een wat gedigte skryf nie, dat ’n onsigbare glasplaat haar twee selwe skei.

(Ek sou nogal hiermee saamstem. Daar is tog altyd ’n skeiding tussen die openbare en die private persoon. In hierdie dae waar daar van digters verwag word om hulle in openbare verhoogpersoonlikhede te ontpop, is dit des te meer verwagte dat die introverte digter agter ’n persona sal wegkruip.)

Harwood het ook dikwels verwys na die verdelings in haarself, haar verskillende selwe. In een van haar briewe skryf sy: “I wish I had several lives, one for songs, one for poetry, one for being an abandoned alcoholic, one for being a cored and peeled hausfrau, one for beachcombing, one for being an Italian, one for being a native speaker of German, one for being Abbess of the Dames Bernadines, one for poisoning (successfully and without remorse) my enemies, one for playing Mozart, one to spend in museums …”

(Die klomp mense in jou kop … dis iets waarmee ek nogal baie sukkel. Daar’s die introvert wat g’n mens wil sien nie, die ekstrovert wat gedy tussen mense, die vrysinnige boheem wat sonder roetine of dissipline wil lewe, die streng gedissiplineerde wat vyfuur soggens opstaan, die uiters verantwoordelike en die f-die-hele-spul … en dis maar net ’n paar. As die klomp nou maar net wou saamwerk, kon ’n mens nogal baie bereik. Maar dis ’n gedurige gebakleiery en toutrekkery. En om die een of ander rede wen die “persoon” altyd wat besluit my bed sal nie opgemaak word nie, ondanks jarelange intensiewe evangelisasie deur die ordelike “persoon”.)

Maar terug na Gwen Harwood: Ondanks haar frustrasie met die ondergeskikte rol van die vrouedigter het sy ná 1960 verskeie groot poësiepryse gewen. In 1989 het sy ’n Offisier van die Orde van Australië geword. Drie Australiese universiteite het ere-doktorsgrade aan haar toegeken, twee daarvan in 1994, die jaar voor haar dood op 75-jarige ouderdom. Sy word vandag gereken as een van Australië se grootste digters met 386 gepubliseerde gedigte, baie daarvan voorgeskryf in skole en universiteite. Harwood was ook ’n gerekende librettis.

Een van haar bekendste gedigte – gepubliseer in 1961 – is “In The Park”. Dit spreek boekdele oor haar frustrasies met die rol van ma:

In The Park

She sits in the park. Her clothes are out of date.

Two children whine and bicker, tug her skirt.

A third draws aimless patterns in the dirt

Someone she loved once passed by – too late

to feign indifference to that casual nod.

“How nice” et cetera. “Time holds great surprises.”

From his neat head unquestionably rises

a small balloon … ”but for the grace of God …”

They stand a while in flickering light, rehearsing

the children’s names and birthdays. “It’s so sweet

to hear their chatter, watch them grow and thrive,”

she says to his departing smile. Then, nursing

the youngest child, sits staring at her feet.

To the wind she says, “They have eaten me alive.”

“Die lessie?” vra die dominee in sy aangename stem. Slim Sussie steek haar hand op. “Talent, Oom Dominee, en vasbyt is soos die kurkprop wat Pa uit sy wynbottels trek. Oeps! Ek dink ek moes nie van die wyn gesê het nie. Jy kan daai kurkprop onder die water druk soos jy wil, maar hy pop altyd op.”

Hmm, na my nederige mening nogal ’n lessie vir die vele “slagoffers” en slagoffers (sonder aanhalingstekens, spesiaal vir die hoogs ontwikkelde gewete van Annemarié) in ons liewe land.

Bronne geraadpleeg:
Journal of Australian Studies
, January 1, 2002, Atherton, Cassandra
www.encyclopedia.com
A steady storm of correspondence: Selected letters of Gwen Harwood, 1943-1995
, Gwen Harwood, G. C. Kratzmann, University of Queensland Press, 2001
http://books.google.com
• “Suburban sonnets: ‘Mrs Harwood’, Miriam Stone and domestic modernity”, Australian Literary Studies
, October 1, 2007, Sheridan, Susan
http://www.highbeam.com/doc/1G1-175525643.html
• wikipedia
http://en.wikipedia.org/wiki/Gwen_Harwood

Jelleke Wierenga. Wat is die poësie ’n vreemde ding

Friday, July 2nd, 2010

Dit het begin by Oscar en Lucinda. Dit het geëindig by ’n fiktiewe digter wat wêreldbekend geword het. En ek wonder wat poësie nou eintlik is.

Eintlik het dit by ’n reënerige middag begin. Hier op Montagu reën dit nie baie nie, behalwe wanneer dit báie reën. Wanneer die wolke toetrek, die wind die bome rondpluk en die eerste druppels op die sinkdak plons, raak ’n mens baie opgewonde. Jy verklaar dit terstond ’n vakansiedag wat jy in die bed gaan deurbring met ’n boek, by gebrek aan ’n kaggel met ’n knetterende vuur. Maar eers vinnig biblioteek toe – die gedagte aan Isaac Asimov, Ray Bradbury, Kurt Vonnegut of Harlan Ellison saam met my is die bed is hoogs verleidelik.

Een van Vonnegut se stories wat my altyd bybly, is Harrison Bergeron. Alle mense is uiteindelik gelyk. Dié wat bogemiddeld intelligent, atleties of aantreklik is, word ingevolge wetgewing gekniehalter sodat niemand ooit minderwaardig hoef te voel nie. Harrison Bergeron, die hoofkarakter, is buitengewoon begaafd en moet dus buitengewoon swaar belas word … hy dra oorfone wat harde, steurende geluide in sy ore pomp, sleep driehonderd pond se gewigte aan sy lyf saam, dra ’n dik bril wat hom hoofpyn gee, het ’n rooi rubberbal op sy neus, dra swart krone oor sy tande en het geskeerde wenkbroue.

Ek sê niks verder oor die storie nie, ingeval iemand dit dalk wil opspoor en lees.

Terug na die biblioteek. Die menere wat ek so graag in my bed wou hê, blyk deur die swart kolk van die verlede ingesuig te wees – wat ’n teleurstelling om te ontdek hul boeke word nie meer aangehou nie. En wetenskapfiksie het nie meer sy eie rakke nie; als word nou onder “Fantasie” geklassifiseer. Vandag se soort fantasie wat in dik-dik volumes en reekse verskyn, staan my nie aan nie. Ek dwaal verby die rakke met grootdrukboeke en my oog val op Oscar and Lucinda van Peter Carey. Iewers in my agterkop onthou ek hy het die Bookerprys vir dié boek gekry, en dat dit ’n jaar of wat gelede op die kortlys was vir die beste van die Bookers sedert die prys ingestel is. Ag, nou ja, dink ek, dis dalk tyd om by te kom en ’n Bookerpryswenner te lees.

Só ontmoet ek, letterkundige barbaar, uiteindelik vir Peter Carey. Die hardebandboek is vrekswaar oor dit so dik is en nogal moeilik om te lees oor die groot letters – te groot vir my naby-oog en te klein vir my ver-oog. Maar ek is in verrukking oor Carey, sy fenomenale woordgebruik, subtiele humor en buitengewone karakters.

Ná ’n paar dae van aanmekaar lees en geïrriteerde boodskappe op die antwoordmasjien webspoor ek Peter Carey. Wíé is die man wat so fenomenaal skryf? Hy is toe nie so indrukwekkend nie, kom ek agter toe ek ’n video van hom op YouTube bekyk. Is dit N.P. van Wyk Louw wat gewaarsku het ’n mens moenie die mens agter die boek soek nie? Hoe waar – waarom kan ons nie bly by die feestelike vrugte van die skrywer/digter/kunstenaar se verbeelding en die doodgewone skepper met rus laat nie?

In die video oor Carey se boek, My life as a fake, noem die onderhoudvoerder dat dit geïnspireer is deur ’n ware insident: die grootste letterkundige poets van die twintigste eeu waartydens die fiktiewe Australiese digter Ern Malley geskep is. Sy skeppers is lankal dood, maar Malley is fris en gesond en skop steeds stof op.

Van Ern Malley het ek nog nooit gehoor nie, maar ek het my nog nooit geroem oor my uitgebreide letterkundige verwysingsraamwerk nie. Danksy die internet weet ek nou heelwat meer van hom – daar is selfs ’n amptelike www.ernmalley.com

Portret van Ern Malley deur Sidney Nolan

Portret van Ern Malley deur Sidney Nolan

Ernest Lalor Malley en sy gedigte is in 1943 geskep deur twee tradisionele – en volgens sommige bronne, middelmatige – digters, James McAuley en Harold Stewart. Hulle het die modernistiese beweging van hul tyd, wat geassosieer was met anargisme en kommunisme, verafsku. Hul digter Malley sou die modernistiese gedigte ontmasker as pretensieuse bog. McAuley en Stewart se teiken was die jong en briljante Max Harris, redakteur van die linkse avant garde tydskrif Angry Penguins.

Die twee het Malley se onortodokse gedigte blykbaar binne net een geïnspireerde middag geskep, ’n konkoksie van woorde, sinne en idees uit enige boek of teks wat rondgelê het – selfs uit ’n handleiding oor die voorkoming van malaria. Toe het hulle ’n hele geskiedenis vir die fiktiewe Malley uitgedink. Hy het ’n moeilike en tragiese lewe gehad, maar was altyd oortuig van sy genialiteit as digter al het niemand geweet hy skryf gedigte nie. Hy moes natuurlik vroeg sterf – op 25 jaar aan Grave’s Disease (ja, daar bestaan werklik so ’n siekte!) – sodat niemand hom kon kontak nie.

McAuley and Stewart het ook ’n suster, Miss Ethel Malley, gekonfabuleer, wat Malley se gedigte ná sy dood op 23 Julie 1943 “ontdek” het. Sy het aanvanklik twee gedigte aan Max Harris gestuur nadat “iemand” aanbeveel het dat sy dit na hom stuur vir ’n mening. Harris was hoogs beïndruk daarmee. In sy uiters vleiende inleiding by die publikasie van Malley se gedigte in die 1944-herfsuitgawe van Angry Penguins vertel hy van sy reaksie ná ontvangs van die twee gedigte: “At this stage I knew nothing about the author at all, but I was immediately impressed that here was a poet of tremendous power, working through a disciplined and restrained kind of statement into the deepest wells of human experience. A poet, moreover, with cool, strong, sinuous feeling for language.”

Sus Ethel het op Harris se versoek haar broer se hele oeuvre – 16 gedigte met die titel The darkening ecliptic – aan Harris gestuur, asook ’n brief waarin sy haar broer se lewensverhaal vertel.

Harris was geweldig opgetoë met die tragiese en onbekende poeëet se werk en skryf in sy oorsig onder meer: “I am firmly convinced that this unknown mechanic and insurance peddler is one of the most outstanding poets that we have produced here. Yet this is not based on any romantic reaction to the circumstances by which his poetry has come into possession, nor by the great artistic self-possession with which he treated his forthcoming death. It is the perfection and integration of his poetry.

“… Malley approached poetry with a tremendous sense of the imoprt [sic] of what he was doing. In one of his best poems, then, we find such relatively unfamiliar words as apodictic, valency, crenellated, enteric, and bourdon. Yet the poem logically demands these words because of its strict autarchical domestic economy. Language is not master; it is creator!”

Die omslag van die 1944-herfsuitgawe van Angry Penguins met ’n omslagkunswerk deur Sidney Nolan.

Die omslag van die 1944-herfsuitgawe van Angry Penguins met ’n omslag-kunswerk deur Sidney Nolan

Die poetsbakkers was hoogs in hul skik met die sukses van hul grap … ongelukkig verklap Stewart dit toe aan ’n vriendin wat ’n groentjie-verslaggewer is. Die koerantbloedhonde is gou op McAuley and Stewart se spoor, maar hulle weet van geen sout of water nie. Harris word deur akademici in Adelaide daarvan beskuldig dat hy die gedigte as self-satire geskryf het. Hy erken dat Malley fiktief kan wees, maar sê hy staan of val by die letterkundige meriete van die gedigte. Harris verdink op sy beurt weer verskeie kollegas. Vingers word in alle rigtings gewys totdat die Sydney-koerant Fact uiteindelik McAuley en Stewart se erkenning publiseer. Volgens hulle was dit ’n letterkundige eksperiment. Hulle het die verse een Saterdagmiddag in Oktober 1943 aanmekaargeslaan met behulp van ’n lukrake versameling boeke wat op hul lessenaars gelê het … stukkies uit handleidings, woordeboeke, wetenskaplike joernale, aanhalings van dese en gene en vrye assosiasies. Hulle het hul gedigte beskryf as “nonsensical sentences” en “bad verse”, “utterly devoid of literary merit as poetry”. Of dit wel net een middag se pret was, word deur sommige kritici bevraagteken. Hulle meen die gedigte het heelwat meer beplanning en werk geverg as wat McAuley and Stewart bereid was om te erken.

 

Harris is van alle kante afgekraak en verguis; hy moes tot Malley se gedigte in die hof verdedig op aanklagte van onsedelikheid en obseniteite. Hy het egter nooit sy vertroue in die waarde van Ern Malley se gedigte verloor nie. Die tyd het hom reg bewys. Malley het vandag die status van ’n gevestigde, erkende digter. Sy gedigte word in skole en universiteite gelees, bestudeer en bespreek. Talle akademiese geskrifte en selfs doktorstesisse oor hom het die lig gesien. Hy is die muse van skrywers, digters, skilders, komponiste en uitvoerende kunstenaars. In ’n ironiese ommekeer van McAuley en Stewart se grap word hul “onsinnige” gedigte gereken as werke van blywende waarde … hulle is vergete, maar die fiktiewe Malley bly lewe. Sommige kritici meen deurdat McAuley en Stewart hulleself toegelaat het om te “speel”, het hulle hul stilistiese en konvensionele perke deurbreek en iets vars en nuuts uit hul onderbewussyn gepluk.

 

Die verhaal van Ern Malley laat ’n mens wonder wat poësie nou eintlik is. Hoe kan skryfsels wat as onsin bedoel is, wat vinnig en lukraak uit verskillende bronne saamgeflans is, tydlose status as “gerekende poësie” verwerf? Hier is een van Malley se gedigte. Oordeel self:

 

Night Piece

The swung torch scatters seeds
In the umbelliferous dark

And a frog makes guttural comment

On the naked and trespassing

Nymph of the lake.


The symbols were evident,

Though on park-gates

The iron birds looked disapproval

With rusty invidious beaks.


Among the water-lilies

A splash – white foam in the dark!

And you lay sobbing then

Upon my trembling intuitive arm.

 

Ek moet beken dat ek dikwels van magteloosheid wil beswyk wanneer ek skryf of dig … om óór die gekondisioneerde perke en patrone te kom. Om die verharde gedagte-are te ontkalk, soos een van die karakters in daardie briljante kortverhaal Mimsy were the borogroves deur Lewis Padgett dit stel – om soos die jong, ongekondisioneerde kinders in die storie deur speelgoed die onbekende x-dimensie te betree. Drank help nie, dit maak my bloot dof. LSD sou help, maar waar kry ’n mens deesdae die goed?

 

Waarom dan maar nie ’n letterkundige eksperiment à la McAuley en Stewart nie? Hiermee dan ’n gedig uit van die tekste wat op en om my lessenaar rondlê: verskeie woordeboeke, taalhandboeke, digbundels, ’n kortverhaalbundel, koerante, tydskrifte, ’n inkopielys, doenlys, ’n DVS, musiekskywe, ’n kamera, my Hollandspratende selfoon en verskeie blikkies, bottels, sakkies, boksies, flesse en anderlike houers kruideniersware (my studeerkamer is deesdae in die kombuis oor dit die warmste plek in die huis is):

 

Verf sal faal

“It’s pointless,” Paradine complained
In le silence des anges heers
Angs Opties Wissen Antwoorden Bewerken
Butler het die inligting opgevolg
En twee verdagtes in hegtenis geneem
Een skaap is op ’n plaas in die Koo geslag
Honde eet lamgegeurde brokke

Afrikaans my taal
Hy lê daar so stil soos die dood, of
DOODSTIL
Haar hande is so koud soos ys, of

YSKOUD
Bel vir Pa
Stuur geskenkkaarte aan wenners
2 melktertjies

versene teen
die versene teen die prikkels
slaan

prekêr prex bede precarius

Daar is selfhelp, New Age, paganisme
En die okkulte
Nikon neem coolpix
Adaptogene verlig stres
Sweetness lingers longer met Selati
Hart, my hart, jy is so bang

Sojamelk Marmite Gebakte Bone
Gebliksemde vis kies ’n
Gesegde om jou sin te voltooi

Livingstone het die Victoria-waterval …
Oh sisters of mercy oh
Is kleur die allesbepalende faktor
Sal nooit ’n magtige skoonheid kom
Eisj, wat ’n week.

 

Binne ’n halfuur geskryf. Skat dit verklap baie van die malinge in my onderbewussyn.

 

  •