Posts Tagged ‘Harrismith’

Johann Lodewyk Marais. Die bekendste skrywer op Harrismith

Tuesday, August 25th, 2009

Wie het ooit gesê Harrismith het nie net sulke interessante mense soos dié waaroor iemand soos Jan Spies geskryf het nie?

Leon Strachan tydens ‘n gesprek 

I

Vir baie Harrismitters en oud-Harrismitters het Leon Strachan met sy sketse oor die dorp en die distrik binne enkele jare waarskynlik die bekendste skrywer op die Noordoos-Vrystaatse dorp onder die imposante Platberg langs die N3 geword. Omdat Harrismith bekende Afrikaanse persoonlikhede en skrywers soos Petronella van Heerden, Lina Spies en Klaas Steytler opgelewer het, is dit nie ‘n geringe prestasie nie. Dit is daarom gepas en hoog tyd om iets meer oor hierdie onbekende bekende Harrismithse skrywer en sy werk te vertel.

Ek het Leon nog altyd ‘n terughoudende mens gevind wat nie graag oor homself praat nie en in sy boeke die klem baie selde direk op homself laat val, maar hoe kan ‘n mens anders as om in ‘n artikel soos hierdie jou te laat verlei om oor hom te skryf? Iemand met soveel te vertelle oor so baie interessante Harrismithse karakters moes sekerlik al daarop bedag gewees het dat hy uiteindelik self gekarakteriseer sal word. Bowendien het vandag se leser ‘n meer as gesonde belangstelling in “die ‘mens’ agter die boek”, wat vir N.P. van Wyk Louw liefs buite die gesigsveld moes bly. Daar is immers deesdae lesers wat verkies om eerder óór ‘n skrywer te lees as om die skrywer se boeke te lees.

II 

Leon Strachan is op 5 Januarie 1954 gebore in die “Home” van die legendariese vroedvrou, suster Anne Dugmore. (Die Home was een van die laaste sinkhuise op King’s Hill en was die blyplek van offisiere van die Britse besettingsmag ná die Anglo-Boereoorlog tot in Mei 1913.) Leon se pa was Jacobus Johannes of Kosie Strachan (1927–2005) en sy ma is Mary Iris of Molly (geb. Davie; 1932–). William, die Skotse stamvader van die Strachans, oor wie min bekend is, het in die helfte van die negentiende eeu na Suid-Afrika gekom en hom naby Sannaspos in die Suid-Vrystaat gevestig. Die Strachans het nog in William se leeftyd verafrikaans. Aan die einde van die twintigste en begin van die een en twintigste eeu sou twee neefs, Alexander en Leon Strachan, opmerklike Afrikaanse skrywers word. Hoewel hulle uiteenlopende rigtings in hulle skryfwerk ingeslaan het, sou die bronne vir hulle prosa sekere gemeenskaplike trekke hê.

Leon word saam met sy suster, Linda (1958–), op die familieplaas Killiecrankie, op die Wattlegrove-pad en sowat 24 kilometer suid van Harrismith, in ‘n sterk patriargale gemeenskap groot. Die huis, naby die voetheuwels van die Drakensberge, is in ‘n vallei tussen twee plato’s geleë. Om die plaas is die landskap egter redelik plat. Kenmerkend van die plantegroei in hierdie gebied met sy kwaai winters is die rooigras (Themeda triandra) en tamboekiegras (Hyparrhenia hirta) wat geil teen die hellings groei. Bees- en skaapboerdery is die belangrikste landbou-aktiwiteite, terwyl mielies en wintervoer ook aangeplant word. Aangesien min inheemse bome en struike hier voorkom, vang die bloekoms, denne en swartwattels by die yl verspreide plaasopstalle die oog. In die somer sien ‘n mens groot wit wolke en in die middae rol die mis skouspelagtig oor die Drakensberge van die see se kant af in.

Die agrariese wêreld waarin Leon grootword, is ryk aan stories en hy hang graag aan sy pa se lippe. As kind maak hy aantekeninge oor verhale wat hy by onder andere suster Dugmore en die innemende spekulant Jan Eagar, wat so lief was vir handgemaakte swepe en sweepstokke, gehoor het. Hy doen dit op so ‘n manier dat ek wat “onder oom Jan se oë” grootgeword het duidelik sy maniërismes in “Die groot dors van Collinspas” in Blafboom kan sien en hoor. Op Killiecrankie begin Leon se pa, wat sy lewe lank ‘n passie vir die outyd en ougoed sou hê, ‘n plaasmuseum in ‘n buitegebou waarin hy van oraloor ou kombuis- en plaasgereedskap en -implemente, tuie, skoutrekgoed, ‘n eiehandig gerestoureerde Kaapse kapkar uit 1898 en propagandaplakkate uit die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis uitstal. Die plaasmuseum bestaan vandag nog. Hierdie voorwerpe wakker van vroeg af by Leon ‘n belangstelling in die geskiedenis aan.

Ek en Leon was net ‘n jaar lank saam leerlinge aan die Hoërskool Harrismith – in 1971 toe hy in matriek en ek in standerd 6 was. Ek kan nietemin goed onthou dat hy dié jaar rugby vir die eerste span gespeel het, ‘n sersant in die skoolkadetkorps was en, les bes, opstelle en briewe geskryf het wat hom die ATKB-prys vir Afrikaanse stelwerk besorg het. As ek deur jaarblaaie van die skool (menige aspirantskrywer se eerste publikasiegeleentheid) blaai, merk ek dat daar al in sy standerd 8-jaar van sy Afrikaanse en Engelse opstelle en gedigte opgeneem is. Die eerste een se titel was, byna profeties, “Oupa vertel”! In 1970 verskyn ‘n opstel wat daardie jaar ‘n A-toekenning tydens die kunswedstryd op die dorp verwerf het.

Ná skool het Leon medies aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer, maar in die tweede helfde van die eerste jaar sy studies gestaak. Dit was in die dae toe blanke seuns vanaf sestien jaar dienspligtig was en baie by die stryd op die grens tussen Suidwes-Afrika/Namibië en Angola betrokke geraak het. In 1973 begin Leon dus sy twee jaar militêre diensplig en offisiersopleiding by die Krygskool op Kimberley, waar hy later as ‘n opleidingsoffisier vir kommando-offisiere aangestel is. Daarna word hy ‘n stigterslid van die Berede Sentrum op Potchefstroom en die bevelvoerder van die eerste berede operasionele groep wat op die grens ontplooi word.

Ná die voltooiing van sy diensplig gaan studeer Leon aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en verwerf in 1979 die B.Sc.Agric.-graad met landbou-ekonomie en veekunde as hoofvakke. In sy finale jaar is hy die stigter en redakteur van die halfjaarlikse tydskrif UOVS Landbou, waarin nagraadse studente en dosente oor afgehandelde navorsing kon skryf. Terug op Harrismith gaan boer hy saam met sy pa op die plaas Nesshurst naby die KwaZulu-Natalse grens, wat sy pa vyf jaar vantevore gekoop het. Kort voor lank ontmoet hy op die dorp sy toekomstige vrou, die onderwyseres Elsa (geb. Viljoen). Hulle trou in 1980 en twee seuns, Jakkie en Bossie, word uit die huwelik gebore.

Miskien is daar iets ironies daarin dat Leon sou trou met Elsa, die Engels-onderwyseres. Want Elsa moes die gevreesde en genadelose mev. El Bedford, die jongste suster van die skrywer sir Laurens van der Post en die moeder van die Springbok-agtsteman Tommy Bedford, se plek volstaan. En het Leon nie soos ons almal gely onder die “corrections of corrections” en “corrections of corrections of corrections” nie? Maar so is sy skryfvermoë ook sekerlik geslyp. Dit is egter veral die Afrikaans-onderwyser, mnr. Eben Louw, met die helder omroeperstem by atletiekbyeenkomste, wat Leon se skryftalent raakgesien en aangemoedig het.

As boer raak Leon ‘n tyd lank saam met Hercules de Jager en Jaap de Villiers by die georganiseerde landbou betrokke. Tussen 1982 en 1989 was hy die sekretaris en tussen 1989 en 1992 die voorsitter van die Swinburne-boerevereniging. Daarby dien hy op die Landboukredietraad, wat boere finansieel bystaan. As lid van die Harrismith Kommando met sy ryk geskiedenis beklee hy die rang van kaptein. (In “Dice die administrateur” in Blafboom, en “Die kaal vrou” en “Die polisieman se keps” in Botterbek skryf hy oor kommando-ervarings.) Maar dit is veral danksy die nastergal wat onder besproeiing op Nesshurst met sy allemintige dam verbou en in die plaasfabriek ingemaak word dat Leon en Elsa wyd bekend word. Nastergal (Solanum nigrum) dra bossies klein, ronde bessies wat donkerpers is wanneer hulle ryp is en kom op bewerkte lande voor waar hulle tot een meter hoog groei. (Die “oumense” het natuurlik reeds konfyt gekook van die bessies wat die plaasmeisies in skottels versamel en vir ‘n klompie pennies kom verkoop het.) Jare lank reeds sien ‘n mens, dikwels tot jou verbasing, oral in die land die bekende flessies met nastergal (en tot soveel as twintig ander soorte konfyt) met die twee tarentale op die veelkleurige “Annie’s”-etiket wat van Nesshurst af kom.

Van Leon Strachan het sedert die einde van die 1980’s ‘n aantal publikasies die lig gesien, wat van ‘n diepgaande belangstelling in die geskiedenis en die verhale uit Harrismith en die distrik getuig. In Maart 1988 verskyn Harrismith Kommando: 130 jaar, wat “kapt. Leon Strachan” nagevors en gepubliseer het. Die herdenking van die 130-jarige bestaan van die Harrismith Kommando was ‘n uitvloeisel van die publikasie van dié boek. Daarna skryf en publiseer hy saam met Marí Smit die jubileumuitgawe Kerkenberg 1942–1992: 50 jaar (1992) in opdrag van die NG Kerk Kerkenberg op die dorp waarvan hy toe ‘n lidmaat was. Dit is egter veral met die sketse in Blafboom: Legendes van ‘n dorp (1999) dat hy as skrywer aandag trek en ‘n betekenisvolle aanhang verwerf. Daarna publiseer hy in min of meer dieselfde toonaard Blinkoog: Lieglegendes (2002), wat sy stem en die verhaalmatige sterker laat deurkom. Die derde bundel, Botterbek: Ware wolhaarstories (2004), waarvan die titel met die vorige twee s’n allitereer, sit hierdie patroon voort, sodat ‘n mens op grond van die ruimte waarin die teks afspeel, die soort karakters en die wyse van vertelling sonder veel teenspraak van ‘n drieluik kan praat.

Hoewel Leon met sy boeke so ‘n groot aanhang onder Harrismitters en oud-Harrismitters het dat daar in 2003 van Blafboom ‘n hersiene uitgawe kon verskyn, was daar, anders as wat van ‘n gepubliseerde boek verwag kan word, tot dusver byna geen gepubliseerde resepsie van sy werk nie. Alleen maar in die Harrismith Chronicle en Volksblad het berigte verskyn oor die plaaslike bekendstellings en sukses van sy boeke. Maar dit beteken nie dat sy boeke nie gelees en hy in sy gemeenskap as skrywer waardeer word nie. Daarvan is daar genoeg getuienis vir almal wat maar enigsins ‘n oor op die grond het en Harrismith en sy mense “ken”. Volgens die (oud-)personeel van die plaaslike biblioteek (onder andere mev. Rina Crawley) is sy boeke onder die gewone lesers baie gewild, maak die skrywer hulle van hul eie en die dorp se geskiedenis bewus, en kweek hy terselfdertyd ‘n belangstelling in die dorp se “eie skrywers”.

III

Reeds in die “Inleiding” tot Blafboom (1999) tipeer Leon Strachan sy tekste as “sketse”, wat dan ook die subgenrevorm van die literêre prosa is wat die meeste in sy drie bundels voorkom. Die 1994-HAT se lemma vir die “skets” in die literatuur lui soos volg: “Kort, beskrywende artikel, verwant aan die essay, maar minder formeel en ligter van aanslag” (p. 933). Volgens A.P. Grové en Elize Botha (Handleiding by die studie van die letterkunde, 1975) is dit as ‘n noemer van ‘n soort literêre prosa “‘n ligte vlugtige tekening” en val die klem “op die mees tiperende eienskappe van die landskap of watter onderwerp die kunstenaar dan ook al wil voorstel – die mees tipiese dan, volgens sy interpretasie daarvan” (p. 110). Die skets word dus eintlik met die beeldende kunste geassosieer en oordragtelik vir ‘n subgenre in die prosa gebruik. Nadat hy ‘n aantal uitsprake van kundiges oor die skets aangehaal het, lei M.C.A. Seyffert in T.T. Cloete (red.) (Literêre terme en teorieë, 1992) af dat die skets “gewoonlik ‘n kort prosateks is, dit het nie die verwikkelde strukturele samestelling van ‘n kortverhaal nie; die opeenvolging van gebeure en omstandighede wat verander, kom selde voor; daar is nie veel sprake van karakterisering nie en die storie-elemente is by dié subgenre in ‘n groot mate uitgeskakel” (p. 498).

Leon se drie bundels (iemand het by geleentheid gesê ‘n skrywer met drie boeke het die eerste keer ‘n oeuvre!) bestaan uit kort prosastukke waarvan die langste, in Blafboom, twaalf bladsye beslaan. Blafboom is tewens die bundel waarin die tekste gemiddeld die langste is. In die volgende twee bundels, Blinkoog en Botterbek, is die tekste oorwegend korter en heelparty is net meer as ‘n bladsy lank. Belangrik vir nog ‘n nader tipering (sonder skoolse oogmerke) van hierdie tekste is die subtitels van die bundels, naamlik “Legendes van ‘n dorp”, “Lieglegendes” en “Ware wolhaarstories” (lg. in ‘n bundel met ook ‘n hand vol sketse oor wolboere en -boerdery). Die skrywer vestig uit die staanspoor die leser se aandag op die “legende” en die “storie”, wat as ‘n belangrike rigtingwyser beskou word.

Een van die lemmas oor “legende” in die HAT lui soos volg: “Verhaal van ‘n werklike of denkbeeldige persoon wat nie op die werklikheid berus nie, maar op volksoorlewering en gevolglik soms geloofwaardigheid mis” (p. 611). Met hierdie tipering van die subtitels val die klem op die storie of die fiktiewe in die vertellings oor die uitsonderlike persone en gebeure in die tekste (van wie Annamarie Roberts ‘n aantal akkurate houtskooltekeninge vir Blafboom gemaak het), maar die karakters is nie só legendaries of fiktief dat hulle met verloop van tyd agter ander vertellings “verdwyn”, sodat dit nie seker is of hulle werklik bestaan het nie. (“Caveman Spies” in Blafboom en “Die jakkalsjagter” in Botterbek is moontlik uitsonderings.) Die deurlopende verwysing na feitelike bronne (waaruit sommige figure soos Masottenjan selfs “saamgestel” is) laat min twyfel oor die intieme wisselwerking tussen fiksie en werklikheid.

‘n Voorbeeld van ‘n teks waarin fiksie en werklikheid vermeng word, is “Wie is die vyand van die Boerevolk?” in Blafboom. Die teks handel oor die skending van die Burgermonument voor die stadsaal op Harrismith op 1 Maart 1940, wat gemoedere tussen Nasionaliste en ondersteuners van die Ossewa-Brandwag en genl. J.C. Smuts se Rooilissies laat hoog loop het. Talle Afrikaners het die gebeurtenis as ‘n klap in hulle rigting beskou en geweier dat die skade herstel word. Later is ‘n granietpaneel met die volgende bewoording aangebring: “Hierdie monument is in die nag van 1 Maart 1940 deur die vyand van die Boerevolk geskend”. Aangesien die skuldiges nooit aangekeer is nie, is lank gewonder wie vir die daad verantwoordelik was. Dit is die onderwerp van ‘n skets vol feite en wetenswaardighede (oor onder meer die ontwerp en oprigting van die monument), maar waarin terselfdertyd klaarblyklik denkbeeldige dialoog voorkom waarmee die verteller ‘n fiktiewe dimensie in die teks inbring en (soos ook elders) asem in die historiese gebeure blaas. Hierdie werkwyse in die gees van die historiese roman kom dikwels in die bundels voor.

Die noukeurige weergawe van historiese feite saam met die anekdotiese laat die leser mettertyd ‘n soort “geloofwaardigheid” in die anekdotiese aanvoel. Die skrywer van monografieë oor die Harrismithse Kommando en die NG Kerk Kerkenberg (albei is voorbeelde van streeksgeskiedskrywing) het in sy tekste veral ‘n sterk aanvoeling vir geskiedkundige feite. Baie van die tekste handel oor figure (soos Jan Kriek wat “sy vrou vir ‘n fiets verruil het”; die legendaries-sterke Caveman Spies met sy kontraste; die negentiende-eeuse “groot vegkaptein”, aldus Mosjesj, kmdt. C.J. de Villiers of Masottenjan; suinige Casper Badenhorst wat een van die eerste motorkarre op die dorp gekoop het; die onverskrokke en goedhartige perdeliefhebber Kethlaan Odendaal) sowel as oor gebeure wat in die herinnering voortlewe (soos die Rebellie van 1914 en die episode toe die rebellerende genl. Wessel Wessels te perd in die stadsaal ingery het waar soldate lê en slaap het; die skending van die Burgermonument; Jan Els (met die mooi dogters!) se bykom van ‘n ongewilde stadsklerk).

Maar die tekste kan waarskynlik ten beste as boerestories, kontreisketse en anekdotes getipeer word. Sommige is selfs uitgebreide grappe. Één so ‘n voorbeeld is “Die duur ram” in Botterbek wat handel oor die twee vriende wat van ‘n ramveiling in Bloemfontein af gekom het en toe hulle die nag langs die pad honger word die duur Merino-stoetram in plaas van die goedkoop kudderam vir ‘n stukkie vleis geslag en dit eers die volgende dag agtergekom het. Van hierdie teks, wat as ‘n stoeplegende beskou kan word, bestaan verskillende variante, wat dit ‘n goeie voorbeeld van tipiese volkskuns maak. Deurdat die verteller by geleentheid ‘n sterk selfironiserende ingesteldheid openbaar (soos in “My debietkant” in Blinkoog) en die tekste iets van ‘n boerewysheid openbaar, is die vertellings egter op ‘n hoër vlak as dié soort vertellings wat sterk op die vernuf van die voordraer steun.

Die leser leer ken ‘n wye spektrum van karakters, wat van die negentiende tot die een en twintigste eeu strek. Hulle word op ‘n menslike wyse voorgestel, sonder dat daar ooglopende appeltjies geskil word. Daar is selfs sprake van ‘n vorm van “demokrasie”, want oor ryk en arm, man en vrou, geleerde en selfs ongeskoolde, oor almal word iets vertel. Niks wat gedenkwaardig is, word oorgesien nie. Net soms word die gegewe verdoesel, soos in “Die blikslaer” in Blinkoog en “Die groot ontkenning” in Botterbek, waar die ware identiteit van die karakters verhul en net deur ingewydes agterhaal sal kan word. Temas word ook nie altyd heeltemal uitgewerk nie, en sommige karakters maak meer as een keer hul verskyning.

Wat is Leon se bronne? Volgens die kunstenaar Thelmi Bekker (wie se pragtige veelkleurige omslagontwerpe vir die eerste twee boeke herinner aan Marc Chagall se kleindorpse tonele) is dit Leon se pa wat die stimulus van heelparty van die verhale was. Sy pa het, soos reeds genoem, van kleins af vir hom stories vertel. Daar is ook die lang lyste informante wat in die verskillende boeke erken word met wie hy onderhoude gevoer of van wie hy andersins inligting bekom het, en baasvertellers soos Jan Eagar, Hans Spies en Willem Odendaal wat in die tekste aan die woord kom. Betekenisvol is dat verskillende generasies se perspektiewe verteenwoordig word, sodat die versamelings verhale iets van ‘n kollektiewe geheue word. Die leser word hiervan onder meer bewus uit frases soos “Volgens oorlewering …”, “Die ou boere het gesê …” en “Daar word vertel …” in die tekste.

Daar is ook gepubliseerde bronne. Van die belangrikste is F.A. Steytler se Die geskiedenis van Harrismith (1932) en E.B. Hawkins se The story of Harrismith (1982). (Steytler was inspekteur van skole in die Vrystaat en die vader van die joernalis en skrywer, Klaas Steytler.) Daar is meer (soos dr. Petronella van Heerden se Kerssnuitsels (1962) en Die sestiende koppie (1965)) wat in die bronnelyste (wat op sigself betekenisvol is) aangedui word en daartoe bydra om die historiese en/of feitelike van die tekste te beklemtoon. Daar is ook daardie ryke skat van inligting, naamlik die Harrismith Chronicle, die plaaslike koerant wat weekliks verskyn en reeds sedert Oktober 1903 bestaan.

In die Afrikaanse literatuur het Leon voorgangers wat sover as Gustav S. Preller, M.E.R. en C.G.S. (Con) de Villiers teruggaan. Uit die meer onlangse verlede is daar die werk van Dot Serfontein oor die mense van die Vrystaat, Chris Barnard oor die Laeveld en Hennie Aucamp oor die Stormberge. En is daar nie “op ‘n hoër vlak” selfs elemente van die lughartige boereverhaal in Etienne Leroux se werk nie? Met sy sterk historiese bewussyn, noukeurige optekening van feitelikhede en wetenswaardighede en deernis met mense (in ‘n moralistiese era!) voeg Leon ‘n onderskeibare warm, intieme en persoonlike stem by. Soos baie van sy voorgangers s’n is Leon se verhale lig, met min somberheid, en word die vernames graag kortgevat. Hy het dit verder oor ‘n dorp, Harrismith, en ‘n kontrei, ‘n deel van die Noordoos-Vrystaat, wat nog nie in enige ander skrywer se werk soveel aandag gekry het nie. Dit verteenwoordig ‘n klinkende bydrae tot die Afrikaanse volkskultuur.

Wat is, op die keper beskou, die waarde van Leon Strachan se werk? Met die talle tipiese kenmerke van sy herkenbare en gesuggereerde karakters in ‘n landelike Suid-Afrikaanse gemeenskap, die feitelike en kontroleerbare inkleding van sy tekste en die insluiting van (kultuur)historiese wetenswaardighede gee hy aan die gemeenskap van Harrismith hul geskiedenis en herinneringe in ‘n geskrewe vorm terug. Talle gedeeltes van sy sketse sal mense ontroer, omdat hulle geliefde en legendariere figure en ‘n sekere grootliks verbygegane leefwyse daarin sal herken. Die tekste laat ‘n mens meermale gebeure onthou waarvan jy (gelukkig net voorlopig) heeltemal vergeet het. Op hierdie manier kan van die dinge wat andersins verlore sou raak moontlik minstens in die herinnering behoue bly.

By geleentheid het ek Leon gevra wie hy as die vyf of ses interessantste lewende en/of gestorwe Harrismitters beskou. Dit sou dan mense wees wat hy graag vir ‘n onwaarskynlike ete sou wou uitnooi om ‘n bietjie te gesels. Hy het nie gehuiwer om die eerste drie name te noem nie: “Jan Kriek beslis! Kethlaan Odendaal … Miskien oom Casper Badenhorst … Jan Promise … Genl. Wessel Wessels … Ek sal graag vir die generaal ‘n paar vrae wil vra …” Maar toe het hy ook ander moontlikhede genoem: “Masottenjan, dr. Petronella van Heerden, dr. Frank Reitz …”

Dat Jan Kriek, wat volgens oorlewering sy vrou vir ‘n fiets verruil het en deur die dorpskinders met hulle “krrr krrr krr” gekoggel is en oor wie Leon die eerste verhaal in Blafboom geskryf het, eerste in Leon Strachan se gedagtes opgekom het, spreek boekdele. Maar dit het my nie verbaas nie, want Leon het ware skrywersbloed in sy are. Die historikus en politikus sou sekerlik iemand anders gekies het, maar die skrywer sal met sy besondere sin vir “demokrasie” dalk juis ‘n karakter soos Jan Kriek uitkies.

Johann Lodewyk Marais. In die helfte van ’n sin

Sunday, August 23rd, 2009

Die ou biblioteek in die stadsaal op Harrismith is vir my omtrent net so belangrik soos die Queen Vic in Hillbrow, waar ek gebore is. 

In daardie biblioteek het my groot lees begin. En eendag het ek oom Nic Duursema, burgemeester en eienaar van die VC-kafee, vir Miss Ivy Petty, die bibliotekaresse, hoor sê: “Ek is lief vir boeke. Ek kan tot laat in die nag lees en sommer in die helfte van ‘n sin ophou.” 

Ek was gekweld. Enkele jare daarna by ‘n toespraak oor lees deur die beroemde George Steiner wou ek my hand opsteek en vra of hy miskien weet wat oom Nic bedoel het.

Johann Lodewyk Marais. Dwaalspruit

Tuesday, August 18th, 2009

My vriend Frik Steyn van die plaas Venus naby Mont Pelaan in die distrik Harrismith sê nou eendag:

“Jy weet, Dwaalspruit het die regte naam.”

Die vorige jaar se goeie reën het naamlik daartoe gelei dat hierdie spruit, wat rondom Pelaan ontspring en later in die Meulrivier invloei, sy loop op ‘n hele paar plekke verander het.

Op die plaas Groothoek loop die spruit nou skaars nog onderdeur die bruggie in die grootpad – daar waar hy altyd geloop het. Daar het die spruit nou byna heeltemal toegeslik en oral staan die riet hoër en weelderiger as wat ek dit nog ooit gesien het.

‘n Entjie verder af met die spruit se loop lê ook ‘n groot stuk vlei waar selfs in die winter nog baie water was. Vir watervoëls behoort dit hierdie somer ‘n ideale kuierplek te wees. (Ek het my nou die dag by die bruggie aan ‘n hamerkop verkyk.)

Dat Dwaalspruit vol verrassings kan wees, het ek al geweet toe ek nog op Mont Pelaan op skool was. Moes ons dan nie meer as een keer op ‘n Maandag ‘n draai ry om by die skool uit te kom omdat die spruit oor sy walle geloop het nie? En was die spruit dan nie vol geelvis nadat dit goed gereën het nie?

Dwaalspruit is inderdaad ‘n spruit vol kronkels. Op ‘n topografiese kaart kan hierdie kronkels mooi gesien word. Langs die spruit is daar ook nog heelwat ou lope van die spruit te siene. Of osbogte – daardie mooi woord waarmee die geograwe ‘n ou loop van ‘n rivier of spruit benoem.

Ja, my vriend Frik het Dwaalspruit al goed bekyk. Daarom weet hy dat die spruit se naam so gepas is.

En natuurlik het ook daardie digter dit geweet wat lank, lank gelede aan hierdie onrustige, hebbelike spruit sy naam gegee het.

Johann Lodewyk Marais. Geelvis

Monday, August 17th, 2009

Min dinge maak ‘n hengelaar so opgewonde soos ‘n geelvis. Dus, as dit die jaar goed gereën het en die water “reg” is in die distrik Harrismith, loop “die geles” behoorlik in die riviere en spruite en word die distrik ‘n hengelaarsparadys.

Ek het as ‘t ware langs ‘n spruit grootgeword. Rietspruit was ‘n entjie se ry van die plaas af en my pa het vis gevang vandat ek kan onthou. Natuurlik wou ek altyd saam.

Eers het ek met ‘n riet en ‘n stuk lyn met ‘n gebuigde speld vooraan probeer om die krappe onder die brug te oorreed om te byt – soos ‘n jong reier ook maar sukkel-sukkel leer.

Kort voor lank het my pa vir my ‘n erdwurm aan ‘n hoek geryg en vir my “ingegooi”. Dan moes ek wag. As daar so ‘n pluk-pluk aan die wit-en-rooi dobbertjie op die water is, sit jy gereed. As die dobbertjie onder die water verdwyn of oor die water skiet, moet jy vaskap.

Partykeer het ‘n krap langs jou beland. Ander kere ‘n glibberige baber. Of ‘n platanna. Of ‘n moddervis. Die eerste prys was egter ‘n geelvis. Dié vis was veral gesog omdat hy hom behoorlik teësit as jy hom aan die hoek het en nie sonder weerstand uit die water laat lig nie.

Daarby is ‘n geelvis wat jy op ‘n sonnige dag uittrek een van die mooiste dinge waarvan ek weet. Daardie glans en kleure en lewenskrag kan jy omtrent nie vir iemand beskryf wat dit nog nie self beleef het nie. Vir ‘n oomblik staan die wêreld stil om te kyk.

Ná die tyd stap jy trots met ‘n klompie visse in die sak na die bakkie toe deur die veld wat na wilde kruie ruik, terwyl die kleinwindswaels sirkels om die brug vlieg waar hulle broei en die rooivinke in die riete zik-zik-zik … zeizeizeizeizei.

Ek kan onthou dat daar in die ou museum in die stadsaal op Harrismith ‘n geweldige groot opgestopte geelvis was. (Dié museum het nog tot aan die begin van die sewentigerjare bestaan.)

“Die 37 pond geelvis!” het Ben Rall van die plaas Langrietvlei onmiddellik gesê toe ek een aand daar in hulle groot kliphuis na dié befaamde vis uit die Wilgerivier verwys het.

‘n Geelvis, en bowenal ‘n bielie van ‘n geelvis, vergeet ‘n ware Harrismitter nie maklik nie.

Johann Lodewyk Marais. Die berge se geheue

Saturday, August 8th, 2009

Op 5 Desember 1997 is oom Jan Fourie van die plaas Cecilia naby Skeurklip uit die NG Moedergemeente op Harrismith begrawe. Hy was 80 jaar en sterk, het dominee De Jager gesê, maar daar is nie nog 80 jaar nie. Dit het tyd geword.

Ek het in Pretoria eers om vyfuur die oggend op die dag van sy begrafnis van sy dood gehoor, maar het dadelik besluit om die diens om elfuur op Harrismith te gaan bywoon. Ek het immers onder sy oë grootgeword en by hom baie oor die berge en sy mense geleer.

Oom Jan het “windpompe opgesit” en sy eie grond verhuur. Met sy groen, en later grys, Volkswagen-bakkie het hy die wêreld platgery en ingery waar die meeste mense dit deesdae verkieslik met ‘n 4×4 sal waag. Op dié manier, en omdat hy ‘n paar keer as sensusbeampte opgetree het, het hy die distrik soos die palm van sy hand leer ken.

Boere het hom graag gevra om te kom help om water aan te lê en ander take te verrig. Oom Jan, met sy bruin weermagstewels en groot, growwe hande, was ‘n bekende gesig by ‘n windpomp: besig om met ‘n bobbejaanspenner aan die pype te werk of, vreesloos bo-op die platform, besig om aan die kop te vroetel.

Niemand het oor sy werk gekla nie. Hy was ook ‘n welkome gas, want hy kon lekker gesels. Iemand met ‘n aansteeklike jovialiteit. Ek het graag geluister (en tande getel!) as hy iets vertel en beduie, en kon my as kind verkyk aan die koperarmband wat hy altyd gedra het teen die rumatiek.

Maar ek het hom ook op ‘n ander manier leer ken. Sy kinders het, soos ek, by mnr. Gert Olivier op Mont Pelaan skoolgegaan. Elke week het ons ouers beurte gemaak om ons skool toe te neem, sodat ek gereeld saam met oom Jan gery het.

Hy het geweet wie op watter plaas bly én wie vroeër daar gebly het. Hy kon ook vir jou sê waar Groothoek se eerste winkel gestaan het, en dat daar ‘n ou kerkhof aan die oorkant was.

Hy het geweet waar en wanneer die vliegtuig teen die Witkoppe vasgevlieg het. Wanneer Barry Swarts die laaste bruinhiëna geskiet het. Waar daar ‘n vergete pas in die Drakensberge is. Wanneer die Steyns op Santiago (waar daar voorheen ook ‘n polisiepos was) die laaste keer hulle beroemde appels verkoop het.

Waar jy geelhoutbome kry. Waar die witkruisarende broei. Waaraan ‘n geelvis die graagste byt. Wanneer dit laas behóórlik gekapok het.

Vir my was hy ‘n bron van kennis en wysheid. Sonder hom sou ek kwalik ‘n digbundel soos Palimpses (1987), waarin ek my plaasherinneringe opgeteken het, kon skryf. My gesprekke met hom in later jare is van my kosbaarste herinneringe.

Ek het voorgestel dat die volgende woorde op oom Jan se grafsteen in die Harrismith-begraafplaas moet staan: Hy was die berge se geheue. Dit is daarop aangebring.

Johann Lodewyk Marais. Die vergete dr. Z.J. Pretorius

Friday, August 7th, 2009

Mnr. P. (Boer) Odendaal, my Afrikaans-onderwyser in st. 5 op Harrismith, was ‘n groot man en het die dissipline in sy klas met ‘n ysterhand toegepas. Sy klasse kon egter ook vol pret wees as sy aandag afgelei is en een of twee van die kinders het dit redelik gereeld reggekry. Veral Karen Lotter was ‘n meester om met hom in “gesprek” te tree.

Ek onthou een so ‘n gesprek. Ons sou besoek van die inspektoraat op Bethlehem ontvang en mnr. Odendaal het ons gewaarsku om ons goed voor te berei omdat een van die inspekteurs, dr. Z.J. Pretorius, moontlik ook by ons gaan inloer. Dr. Pretorius, het mnr. Odendaal vertel, het sy doktorsgraad met ‘n proefskrif oor een of ander gedig verwerf.

Karen het opgespring en verbaas gevra: “Meneer, het hy sy doktorsgraad oor één gedig gekry?”

“Ja, één gedig.”

“Kan ‘n mens ‘n doktorsgraad vir een gedig kry?”

“Natuurlik kan ‘n mens ‘n doktorsgraad vir een gedig kry as jy jou proefskrif oor een gedig geskryf het!”

Karen het hom in ongeloof aangekyk en iets in die boekie gekrabbel waarin sy mnr. Odendaal se “sêgoed” opgeteken het. Die volgende dag het sy kom vertel haar ma sê ‘n mens kan nie ‘n doktorsgraad kry as jy oor net een gedig geskryf het nie. ‘n Mens moet véél meer as dit doen. Karen se pa en ma het Havenga’s Boekwinkel op die dorp besit en haar ma het vir Harrismith Chronicle berigte geskryf. Sý moes tog weet. Dat die stilistiek op linguistiese grondslag (ook genoem die “situasionele struktuurleer” en die “fenomenologie van taalgebruik”) inderdaad gedurende die 1950’s proefskrifte soos dié van Merwe Scholtz en Elize Botha opgelewer het waarin enkele ondersoekers telkens net een gedig behandel het, het Karen se ma klaarblyklik nie geweet nie.

Pretorius, het ek later vasgestel, het sy doktorsgraad in 1949 aan die Universiteit van Stellenbosch met ‘n proefskrif oor die werklikheidsbelewing by enkele Afrikaanse digters verwerf. Dit lyk dus nie of hy deur W. Gs. Hellinga en Scholtz se stilistiek op linguistiese grondslag beїnvloed is nie.

Toe ek verlede maand tydens die Volksblad-kunstefees aan dr. J.F. Stemmet, ‘n voormalige Direkteur van Onderwys in die Vrystaat, vra of hy dr. Pretorius onthou, was sy onmiddellike antwoord: “Dr. Zac Pretorius was ‘n knap vakkundige, maar is reeds oorlede.” (Dr. Stemmet se seun, Jan-At, het kort vantevore ‘n briljante en inspirerende rede by die bekendstelling van M.C.E. van Schoor se Marthinus Theunis Steyn: Regsman, staatsman en volksman gelewer.)

Mnr. Odendaal het sedertdien spoorloos verdwyn en dr. Pretorius se bydrae is in die Afrikaanse literatuurgeskiedenisse so te sê vergete (hy was onder meer ‘n redaksielid van Tydskrif vir Letterkunde en van sy letterkundige opstelle lê versprei oor ‘n aantal tydskrifte).

Ek vind dit jammer dat ons letterkunde so vergeetagtig is.

Johann Lodewyk Marais. Wilhelm Knobel van Bethlehem

Saturday, July 18th, 2009

Johann Lodewyk Marais

 

Met Wilhelm Knobel (1935–1974) het ek die eerste keer in koerantberigte oor die Sestigers kennis gemaak toe ek op hoërskool op Harrismith was. In daardie jare was skrywers op grond van hul teenkanting teen apartheid en sensuur baie in die nuus. Dink maar aan Breyten Breytenbach se toespraak in Februarie 1973 by die Sestigerkongres by die Somerskool van die Universiteit van Kaapstad, wat tot groot omstredenheid gelei het. Veral die nuwe, verligte Sondagkoerant, Rapport, het die leser op die hoogte van die woelinge gehou.

 

Tydens die Sestigerkongres is ’n foto van Breytenbach saam met Chris Barnard, John Miles, P.G. du Plessis, Lina Spies, Jan Rabie, Berta Smit, Hennie Aucamp, George Weideman en (byna eenkant) Wilhelm Knobel geneem. Op die foto het Knobel soos tewens byna al die ander mans ’n pak klere en ’n das aan en dra hy ’n sonbril. Dit was ’n era toe skrywers nog ’n “sense of occasion” moes gehad het. Breytenbach en Miles was die enigstes sonder das! Hierdie foto het lank my visuele beeld van Knobel bepaal.

 

In hierdie tyd, waarskynlik in 1973, het Knobel ’n keer in my klas ter sprake gekom. Die skoolhoof, mnr. Johan Steyl, ’n oud-Vrystaatse rugbyspeler, het met die st. 8-klas oor die vorige kwartaal se punte en ons vakkeuses kom praat. Met sy borselkop, staalblou oë en regop houding het Steyl gesag afgedwing en dissipline streng toegepas.

 

Steyl was sterk partydig vir wiskunde. Ter illustrasie het hy verwys na ’n leerling wat op Bethehem, die buurdorp waar hy elf jaar lank wiskundeonderwyser aan die Hoërskool Voortrekker was, hom gevra het waarom jy wiskunde op skool moet neem as jy nie in hierdie rigting gaan studeer nie. Steyl het nie van die vraag gehou nie, waarmee seker nie fout gevind kan word nie, en duidelik onvleiend verwys na een van die Sestigerskrywers en dié se foto wat onlangs in die koerant saam met dié van die ander Sestigers verskyn het. Die Sestigerskrywer waarna Steyl verwys het, was gewis Wilhelm Knobel.

 

Sestigerskrywers was in daardie jare omstrede, selfs op skool. In my Afrikaans-onderwyser, mnr. Cas Steenekamp, se klas was daar iets van ’n openlike stryd teen hierdie skrywers. Behalwe die berigte in die pers het die Broederbond agter die skerms ’n verbete stryd teen die invloed van die Sestigers gevoer, wat tot in die Afrikaans-klaskamer deurgewerk het. (Dit is ’n stuk geskiedenis waaroor ek nog uitvoeriger wil skryf.) Ek volstaan egter deur te sê dat Knobel ’n vae bekende was toe ek van sy onverwagse dood in Januarie 1974 gehoor het.

 

Die eerste bundel wat ek van Knobel besit het, het ek by die lank reeds vergete tak van Perskor in Andriesstraat in Pretoria gekoop. Dit was die Nagelate gedigte wat deur Knobel se jongste broer, Deon Knobel, versorg is en in 1976 deur Perskor gepubliseer is. Veral die biografiese inleiding tot die bundel het my belangstelling in hierdie skrander man geprikkel, terwyl die voorbeelde van sy handskrif my gefassineer het. (Die gedigte was ongelukkig nie op dieselfde peil as dié in die twee bundels wat tydens sy leeftyd verskyn het nie.) Uit die inleiding en die gedigte self kon ’n mens aflei dat Knobel ’n nogal moeilike lewe gehad het en dat veral sy laaste lewensjare nie maklik was nie.

 

As boorling van die Oos-Vrystaat het Knobel my nog altyd geboei, maar tot dusver is geen indringende aandag aan sy werk gegee nie. Selfs sy mede-Sestigers wat oor sy dood getreur en gesê het dat hy ’n betekenisvolle bydrae gelewer het, het min gedoen om sy lewe en werk aan ons bekend te maak nie.

  •