Posts Tagged ‘Havana’

Desmond Painter. Sportstories uit Kuba

Tuesday, June 8th, 2010

Gisteroggend het ek geskryf oor my besoek aan die John Lennon Park in Havana. Vir diegene van julle wat gedink het my verwysing na die buurt Vedado as “middelklas” was sommer tong in die kies bedoel, of dalk ‘n stukkie pro-Kubaanse propaganda — en dit sal my nie verbaas as ek hiervan beskuldig word nie: om hardvogtig anti-links te wees is immers deesdae erg modieus, selfs onder digters!! — kyk ‘n bietjie na die drie foto’s wat ek op pad na die parkie geneem het:

Voetgangers in Havana

Voetgangers in Havana

Op pad na die John Lennon Park

Op pad na die John Lennon Park

Hoekhuis en Hond in Havana

Hoekhuis en Hond in Havana

Soos jy kan sien is Havana allesbehalwe ‘n plakkerskamp. Anders gestel, die revolusie probeer tog sorg vir haar kinders. Een van die maniere waarop die revolusie sorg vir haar kinders, is om sport toeganklik te maak — en dit is juis oor sport in Havana waaroor ek vanoggend wil skryf. (Let wel, nie oor sports in Havana nie; dis ‘n storie vir ‘n ander dag…) Kuba blink natuurlik veral uit in boks, bofbal en atletiek, maar basketbal is ook baie gewild. Ek het een middag op pad terug na my B&B verby ‘n kleinerige stadion gestap en ‘n lawaai gehoor. Ek stap toe nader en sien die hekke is oop, jy het nie ‘n toegangskaartjie nodig nie. Binne in die stadion was dit salig koel en ek het my vir ‘n halfuur of wat verkyk aan die atletiese basketbalspelers.

Sportstadion in Havana

Sportstadion in Havana

Basketbalspelers in Havana

Basketbalspelers in Havana

Maar my vreemdste sportervaring in Havana was toe ek een middag, reg langs die see en seker so twee kilometer van die beroemde Hotel Nacional — ‘n Art Deco meesterstuk waarin almal van Hemingway tot Al Capone voor die revolusie vakansie gehou het — op hierdie verlate, seelugverweerde rugbyveld afgekom het:

Pale toe in Havana

Pale toe in Havana

Wat die geskiedenis van rugby in Kuba is, weet ek ongelukkig nie. Ek neem maar aan die revolusie maak bloot seker dat, sou een van haar seuns wou rugby speel, daar darem ‘n plekke sal wees vir hom om sy doelskoppe te oefen. Ek vermoed ook dat Fidel Castro op sy dag ‘n briljante agsteman sou gewees het. Of dalk was dit die Argentyn, Ernesto “Che” Guevara, wat aangedring het op ‘n rugbyveld! Hoe ook al, ek het dit vir ‘n rukkie ernstig oorweeg om Havana toe te verhuis en klubrugby te gaan afrig.

Desmond Painter. Op soek na John Lennon Park

Monday, June 7th, 2010

Dit was my laaste Saterdagoggend in daardie stad, en dit was tog ondenkbaar dat ek sou vertrek sonder om die Lennon Park te besoek. Lennon, ja, soos in John Lennon, die beroemde, bebrilde Beatle. En nee, die stad waarna ek verwys is nie Liverpool, Londen of New York nie. Dit is Havana — die een in Kuba, nie die een in die Vrystaat nie.

Die John Lennon Park is in een van die stiller, minder toeristiese dele van Havana; die middelklasbuurt (ja!) Vedado. (Mense stel skynbaar meer belang in Havana se krotbuurte, soms omdat hulle armoede romantiseer, soms omdat hulle Kuba en veral Castro wil demoniseer…) My Rough Guide to Cuba se kaart van die buurt het die straatuitleg nie baie akkuraat weergegee nie, en ek het knaend verdwaal, maar elke nou en dan het een van die immer vriendelike Kubane my darem weer op die spoor gehelp. 

Kubane is natuurlik oor die algemeen baie ernstig oor musiek, en nie net oor salsa nie. Rock, folk en rap is ook groot, en in John Lennon het beide regime en jeugkultuur iets gevind om te salueer. Die John Lennon Park word so genoem oor die lewensgrootte standbeeld van hierdie sanger wat dag in en dag uit op ‘n bankie in die son sit en waghou oor die revolusie…

John Lenon in Havana

John Lennon in Havana

Op ‘n stadium was Lennon se brilletjie knaend deur toeriste en ander musikale pelgrims gesteel. Gevolglik word die brilletjie deesdae slegs opgesit as jy vra of jy ‘n foto kan neem. ‘n Middeljarige dame, wat die standbeeld gedurende die dag oppas, staan dan op, haal die bril uit haar handsak, en sit dit liefderyk vir John op. Na jy jou foto geneem het, haal sy dit weer af, sit dit veilig terug in haar handsak. Sy glimlag vriendelik en maak maar te graag geselsies in haar gebroke Engels. Ja, sy hou van Lennon se musiek, en as sy toesighouer en brilhouer word sy ‘n staatsalaris betaal…

Ek loop tevrede en lomerig my laaste draaie deur hierdie beeldskone, vervallende stad, terwyl ek neurie: “A working class hero is something to be…”

  •