Posts Tagged ‘Heiaanse periode’

Amanda Lourens. Skadu’s, skoonheid, die liefde en die tanka

Tuesday, July 15th, 2014

I

Die Heiaanse periode (794-1185) word algemeen beskou as ’n merkwaardige tyd van rus, vrede en voorspoed in die dikwels bloedige Japannese geskiedenis.  Die stad Kyoto, wat aanvanklik as Heian-kyo bekend gestaan het (wat letterlik beteken die stad van rus en vrede) en waaraan die Heiaanse periode sy naam ontleen, is in hierdie periode opgerig en was die sentrum van ’n lewe wat artistieke verfyning na ongekende hoogtes sou neem.

Toe die geishakultuur eers eeue na die afloop van Heiaanse periode tot stand gekom het, was dit op die gekultiveerde lewenswyse van die Heiaanse adelstand wat die geishas hulle handelsproduk van lewe-as-kuns geskoei het.  In Heian-kyo was elke kimono ’n bestudeerde keuse, elke handgebaar ’n kunsuiting en elke tanka (’n hoogmode-digvorm van die tyd) is oorgeskryf tot perfeksie. Want in die Heiaanse samelewing was (goeie) poësie hoogmode.

Soos wat dikwels die geval is in tye van vrede en welvaart (en met genoeg arbeiders op die rysvelde om die illusie van ’n ewig harmonieuse wêreld in stand te hou), kon die kunste in die Heiaanse periode gedy – tesame met ’n ophemeling van skoonheid en die liefde.  Die adelstand, veral, het hulle tyd verwyl deur die liefde self tot ’n kunsvorm te slyp, en hierin het die poësie het geen geringe rol gespeel nie.  Trouens, die poësie het sekerlik in min ander samelewings deur die geskiedenis dieselfde aandag en status as in die Heiaanse liefdes- en skoonheidskultus geniet.  Lesley Downer sê trouens in haar boek Geisha: The secret history of a vanishing world dat die grootste vrees van ’n lid van die Heiaanse adelstand, naas die begaan van ’n sosiale blaps, eienaarskap van ’n swak gedig was.

Bevoorregte vroue met ’n goeie opvoeding het in hierdie periode die pen opgeneem en gedigte geskryf wat tot vandag toe bekend is – dink maar aan Sei Shōnagon (c.966-1025) wie se werk The Pillow Book onlangs weerklink het in Jannie Malan se bundel In ligte laaie.  Murasaki Shikibu (c. 978- c. 1014 of 1025 – oor haar sterfdatum bestaan heelwat twyfel) is die outeur van die roman Die verhaal van Genji  wat in omstreeks 1 000 geskryf is en ook heelwat uitings in versvorm bevat. Hierdie klassieke werk vertel ons van die gender-ideale wat destyds aan die keiserlike hof (waar Shikibu ’n hofdame was) geheers het – Prins Genji as die ideale man word uitgebeeld as ’n digter, sanger en danser, veel eerder as ’n krygsman.  Naas Shōnagon  en Shikibu was daar talle vroue wat in besonderhede dagboek gehou van hulle gedagtes en ervarings, sodat moderne lesers ’n goeie beeld kan vorm van hoe vroue uit die adelstand se lewens daar uitgesien het.

Alhoewel hierdie vroue volgens die standaarde van die agste tot die twaalfde eeu uiters bevoorregte lewens gelei het, was hulle lewens tog afgesonder van die groter manswêreld buite – ’n besliste eggo van die Westerse feminisme wat in die twintigste eeu tussen die openbare en private domeine onderskei het.  Hulle het hulle lewens merendeels in ’n redelik afgesonderde private vrouewêreld geslyt, merendeels binnenshuis in vensterlose huise waaruit die skemer nooit heeltemal gewyk het nie – veel anders as ons moderne beeld van die Japannese huis as oop en vol lig.  Wanneer mans hulle besoek het, sou dit geskied onder die verskansing van sygordyne of ander duur en sierlike behangsels.  Wanneer hulle dit buitenshuis gewaag het, sou dit altyd agter die gordyne van die rytuig wees.

Wat dus seker voorspelbaar was, was dat hierdie vrouewêreld (iets wat die latere geishawêreld in beginsel ook was, ten spyte van die geishas se ekonomiese afhanklikheid van die manswêreld) sigself in al hoe fyner besonderhede sou definieer.   Skoonheid en modes het ’n al belangriker rol begin speel, en die beplanning en rituele daaraan verbonde het beslis ’n redelike deel van die dag in beslag geneem.  Downer vertel dat ryk vroue tot soveel as twaalf sykimono’s oor mekaar sou dra.  Die kuns was egter om die verskillende lae in perfek berekende korter wordende lengtes te dra, sodat die berekende samespel van al twaalf ontwerpe die draer daarvan in ’n kunswerk sou transformeer. En dit is presies wat die doelstelling was: om jou liggaam en lewe as kuns te hanteer.

Soos in die Europa van die Renaissance, was ’n wasbleek vel ’n belangrike skoonheidsnorm en vroue het geen tyd en moeite ontsien om hierdie voorkoms te verkry nie.  Nagtegaalmis was die vernaamste bestanddeel van ’n gewilde gesigbleikroom.  ’n Wit gesigpoeier met ’n loodbasis is ook soms gebruik, byna in die trant van die witlood (“ceruse”) wat enkele eeue later so gewild in die Weste was. Vir die moderne Westerse oog lyk die res van die modieus gegrimeerde Heiaanse gesig ietwat vreemd: net die middelste deel van die onderlip is helderrooi getint en die wenkbroue is afgeskeer. In die plek van die wenkbroue is twee rokerige grys kolle hoog op die voorkop aangebring. Die rede hiervoor was blykbaar om aan te dui dat jy nie ’n arbeider is nie – wenkbroue hou die sweet uit die oë, maar as jy nooit sweet nie, het jy nie wenkbroue nodig nie. Die Heiaanse mode om die tande swart te kleur met ’n mengsel van verpoeierde galneut en yster wat in asyn of tee opgelos is, is waarskynlik die heel vreemdste vir die moderne oog.  Vir die Japannese fashionistas van die Heiaanse periode was ’n natuurlike gebit die hoogtepunt van onverfyndheid, en jy sou eerder dood as met maklik sigbare tande deur die lewe gaan.

‘n Gebit in skadu gehul

Al hierdie skoonheid was egter nie vir die direkte genieting van potensiële minnaars nie – dít sou jou slegs beskore wees indien jy sekere hofmaakbeginsels nougeset sou navolg.  Gerugte van ’n vrou se skoonheid sou ’n adellike man se ore bereik, waarna hy volgens die sosiale norme van die tyd te werk moes gaan om die skoonheid se aandag te trek.  (Die gerug van modieuse fisieke skoonheid sou in die besonder aangevuur word indien die betrokke skoonheid ook vir haar besonder keurige handskrif bekend was.)   Die man was byna sonder uitsondering altyd getroud, maar omdat die huwelik in hierdie tyd eerder ’n politieke reëling eerder as persoonlike keuse was, was getrouheid in die huwelik ’n bysaak.  Die aangewese roete vir die potensiële Heiaanse minnaar was dan om ’n gedig te skryf, noukeurig te redigeer en in sy beste skrif op gegeurde en gekleurde papier aan te bied. ’n Wilgetakkie of kersiebloeisel sou as afronding dien alvorens ’n boodskapper die gedig aan die potensiële minnares besorg, wat die keurigheid van die aanbod sowel as die gehalte van die gedig sou beoordeel.  Indien dit aan haar standaarde voldoen, sou die skoonheid op haar beurt ’n gedig skryf, wat die edelman dan weer op sy beurt sou beoordeel om te sien of haar handskrif en digterlike vermoëns by sy eie talente en statuur pas.

Na die geslaagde uitruiling van gedigte was die werklike affair eintlik die maklike deel. Die edelman sou gewoon sonder veel omhaal by die minnares se woning opdaag en hom op haar tatami neervly – sonder dat die huishoudsters soveel as ’n oog knip. Die minnaar se vertrek in die oggend was egter byna ’n groter geleentheid as die nag saam met die minnares.  Dit was naamlik die bron van inspirasie vir verdere gedigte – hy sou ’n klaaglied skryf oor die son wat so ’n abrupte einde aan hulle nag van passie gebring het, terwyl sy geliefde hierdie gedig sou beantwoord met haar eie pennevrug.  Dus, sê Downer, was die affair eintlik maar die ekskuus om die minnaars die geleentheid te gee om hulle poëtiese ambisies uit te leef.  Die einde van ’n affair was daarom ook eintlik ’n gulde geleentheid om weer poësie oor ’n gebroke hart te kon skryf.

Natuurlik moes so ’n kultuur tot ’n einde kom, soos ook gebeur het toe bendes afvallige priesters en hulle huurlinge besef het dat die adelstand van Heian-kyo nie in die minste krygsvaardig was nie en dus maklike teikens vir gewapende rooftogte was.  Te midde van al die poësieskryf en romantiese avonture het die stad se mans die swaardkuns heeltemal afgeleer en kon nog minder perdry.  Teen 1156 het vyandelike magte die stad oorgeneem en is die edelmanne se koppe op spiese vertoon as ’n makabere herinnering aan ’n tyd toe kuns die septer geswaai het.

II

Tog is daar talle oorblyfsels van die Heiaanse kultuur wat tot vandag in die Japannese kultuur voortleef en ook die verbeelding van Westerlinge aangegryp het. Die digteres Ono no Komachi (c.825-c.900) word nie net onthou vir die agtien onvergeetlike kort gedigte wat aan haar toegedig word nie.  Sy is ook die Japannese ekwivalent van ’n Nefertiti of ’n Helena van Troje – een van die grootste skoonhede wat ’n kultuur opgelewer het en steeds na verwys as maatstaf vir skoonheid.

Ono no Komachi

Een van die tankas (’n gedig met vyf reëls en onderskeidelik 5,7,5,7 en 7 sillabes in elk) deur Ono no Komachi handel oor die verganklikheid:

The flowers withered

Their colour faded away

While meaninglessly

I spent my days in the world

And the long rains were falling

(Engelse vertaling deur Donald Keene)

En dit is juis die verganklikheid van skoonheid wat die boustof van die legendes oor hierdie digteres was. In die dramas in die sogenaamde Noh-tradisie is Ono no Komachi ’n karakter wat herhalend optree. In een van die weergawes probeer ’n kaptein in die keiserlike wag, Fukakusa no Shi’i no Shosho, haar hart wen. Sy is egter onversetlik: hy moet hom eers bewys deur ’n honderd nagte lank buite in die koue te slaap.  Dan sal sy sy hofmakery oorweeg.  Shi’i no Shosho volhard ’n volle nege-en-negentig nagte lank, maar sterf sodra die honderdste dag breek. As straf verdryf die howelinge vir Ono no Komachi uit hulle midde, maar sy sterf geen genadige vroeë dood wat haar tot ’n ikoon van ewige jeug en skoonheid verhef nie.  Haar tragiese lot is om nog jare lank te leef as ’n onaansienlike ou vrou, geteister deur die geeste van die mans wie se harte sy gebreek het.


Ono no Komachi as ou vrou

In ’n ander weergawe van haar verhaal het sy die vermoë om haar jeugdige skoonheid kortstondig te herwin en mans vanuit die skadu van die dood te beheer. Hierdie weergawe vorm die grondslag van “Sotoba Komachi”, een van die verhale in Yukio Mishima se werk Vyf moderne Noh-dramas (1956).  Dit speel af in ’n voorstedelike park in die 1950’s. ’n Stokou vrou knoop ’n gesprek aan met ’n besope jong digter; sy vertel hom dan van haar jeug en hoe sy deur die jong kaptein Fukakusa begeer is. Ineens bevind die jong digter hom in die beroemde Rokumeikan-saal in Tokio wat in 1883 voltooi is, destyds ’n belangrike simbool van die verwestering in Japan tydens die Meiji-era.

Dansers in die Rokumeikan-saal

Die digter, soos die ander dansendes, is verstom om die skoonheid van die jong vrou aan sy sy te sien.  Hy voel geweldig aangetrokke tot haar en spreek sy bewondering vir haar uit, sonder om te besef dat hy met hierdie woorde sy eie lot verseël – alle mans wat dit waag om vir Ono no Komachi ’n kompliment  te gee, is gedoem om te sterf .  Hy sterf daar in die danssaal en die immer parate Japannese polisie verwyder sy lyk summier.  So heers Ono no Komachi vanuit die skadu’s.

 

 Bronne

Chapter 2. Classical. Ono no Komachi (fl. ca. 850). 2014. Beskikbaar: http://www.washburn.edu/reference/bridge24/Komachi.html. [2014, 10 Julie].

Downer, Lesley. 2000. Geisha: The secret history of a vanishing world.  Londen: Headline Book Publishing.

Would Intelligence and Emotion Go Together? S.j. Beskikbaar: http://rei-saionji.com/would-intelligence-and-emotion-go-together/. [2014, 10 Julie].

 

 

  •