Posts Tagged ‘Heidegger’

Nini Bennett. Die digterlike en wetenskaplike kinematografie van Terrence Malick

Friday, April 15th, 2022

 

Terrence Malick

 

To be a poet in a destitute time means: to attend, singing, to the trace of the fugitive gods, a task that necessitates eschewing any functional role. The song of these singers is neither solicitation nor trade. – Martin Heidegger

 

Die digter van Hollywood. Só word die filmmaker, Terrence Malick beskryf. Met die vervaardiging van poëtiese kunsfilms is sy werk vergelykbaar met die van Michelangelo Antonioni, Andrei Tarkovski, Krzysztof Kieślowski, Yasujiro Ozu, Theodoros Angelopoulus en Abbas Kiarostami. Malick werk met uitgebreide metafore en naas die spirituele ambiance in sy films, maak hy ook gebruik van beginsels uit die wetenskappe, byvoorbeeld ewolusionêre biologie in The tree of life (2011) of die poëtiese dokumentêr oor lewe op die planeet, Voyage of time: Life’s journey (2016). Malick is nie ’n wetenskapkommunikeerder soos David Attenborough of Carl Sagan nie: hy is allereers ’n digterlike kinematograaf wat die lewenswetenskappe rondom die kosmos en lewe deur ’n poëtiese lens beskou.

Hierdie Amerikaanse filmregisseur, vervaardiger en draaiboekskrywer se oeuvre bestaan uit Badlands (1973), Days of heaven (1978), The thin red line (1998), The new world (2005), To the wonder (2012), Knight of cups (2015), Song to song (2017) en A hidden life (2019). Malick is van Siries-Libanese herkoms: tydens sy jeugjare het hy op die olievelde gewerk alvorens hy in die filosofie studeer het, eers aan Harvard-Universiteit en later aan die Universiteit van Oxford. Sy debuut, Badlands word beskou as die grootste debuutfilm sedert die verskyning van Citizen Kane.

 

 

Daar is kritici wat The tree of life as ’n meesterstuk tipeer – en as Malick se grootste prestasie tot op hede beskryf. Die film is geskryf en vervaardig deur Malick self en die rolverdeling bestaan uit bekendes soos Brad Pitt, Sean Penn, Hunter McCracken, Jessica Chastain en Tye Sheridan. Die film het tydens die Cannes Filmfees die Palme d’Or verower. Metacritics het die film se lof verder besing en dit in die nommer een posisie gegradeer. Volgens BBC is laasgenoemde een van die grootste Amerikaanse films ooit. The tree of life is besonder gunstig ontvang, uiteraard nie sonder kritiek van mense wat ’n film volgens die Hollywood-resep verwag het nie.

Malick se filmkuns is afgestem op die fynproewer. Hy doen weg met liniariteit en die aanbod van die narratief beweeg anachronisties. Die elliptiese verhaallyn noop die kyker om in die eerste instansie te fokus op die visuele, wat Malick “moments of truth” noem. Omdat die poëtiese en filosofiese lading van die film so intens is, is dit haas onmoontlik om dit naastenby volledig te beskryf of te analiseer.

Malick se filmografie geskied binne ’n ruimtelike en temporele raamwerk wat pols met die elastisiteit van menslike bewussyn. Die geografiese lokalisering reik uit na die groter heelal, maar ook die ‘ewighede’ wat in minuskule oomblikke opgesluit lê. Die tydskaal tussen tonele of selfs kameraskote is beduidend. In hierdie opsig verruk Malick sy kyker soos wat ’n digter doen: hy kyk met nuwe oë en ’n verhoogde bewussyn na die wêreld om hom en in hierdie verband kan The tree of life vergelyk word met die kuns van Franse New Wave-filmmaker, Jean-Luc Godard.

Die boom van die lewe is ’n metafoor, model en navorsingsinstrument wat gebruik word om die ewolusie van lewe te verstaan en die verhoudings tussen organismes, lewend én uitgesterf, te beskryf, soos wat dit voorkom in Charles Darwin se ikoniese On the origin of species (1859). Die ooreenkomste van lewende wesens wat dieselfde klas verteenwoordig word voorgestel as ’n groot boom. “I believe this simile largely speaks the truth.” – Darwin. Hy het met ander woorde die metafoor van die boom van die lewe gebruik om sy teorie van ewolusie te konseptualiseer. Die groen takkies verteenwoordig die bestaande spesies, maar dit impliseer ook die lang suksessie van uitgestorwe spesies. Gebreekte takke dui op hele ordes, families en genera sonder lewende verteenwoordigers; lewensvorme wat ons slegs ‘ken’ in hulle fossielstaat.

Die teoretiese betekenis van Darwin se metafoor van die boom van die lewe word al vir ’n geruime tyd gebruik deur wetenskaplikes en akademici. Dit lei tot die gevolgtrekking dat dit die argument vir natuurlike seleksie verbeeld; dit illustreer die interkonneksie van die herkoms van spesies – asook hulle sukses of mislukking op oorlewing in hierdie verband. Petter Hellström het beweer dat Darwin die metafoor van die boom van die lewe ontleen het aan die bybelse Boom van die Lewe, wat sy beskouings anker in ’n Christelike tradisie. Ander wetenskaplike navorsers wat ook van die metafoor van die boom(-diagramme) van die lewe gebruik gemaak het, is die Franse priester Augustin Augier, Jean-Baptiste Lamarck, die Amerikaanse geoloog Edward Hitchcock asook Robert Chambers.

Die evokatiewe titel van Terrence Malick se kunsfilm, The tree of life, is dus gelaai met simboliek.

Die film open met ’n aanhaling uit Job 38:4-7: “Where were you when I laid the foundations of the Earth?… When the morning stars sang together, and all the sons of God shouted for joy?” Dit is belangrik om te noem dat Malick nie ’n Christelike bewussyn per se propageer nie, maar eerder ’n metafisiese een. Die verwysing na die gedeelte uit Job dra by tot die poëtika van sy werk, want dit is inderdaad ’n aangrypende teksverwysing. Die simboliese boom van die lewe vra dus implisiet indringende vrae oor die oorsprong en ontwikkeling van lewe: by uitstek ’n eksistensialistiese beskouing en film.

Dit is die vyftiger-, sestigerjare in ’n voorstad van Texas, en meneer O’Brien (gespeel deur Brat Pitt) en mevrou O’Brien (gespeel deur Jessica Chastain) verneem dat hulle 19-jarige seun, R.L. oorlede is. Die gegewe word gesuggereer deur die moeder wat ’n telegram ontvang en ontroosbaar huil. (Die suggestie is dat die seun waarskynlik dood is in die oorlog in Viëtnam). In 2010, en in tandem met hierdie gebeure word die oudste seun, Jack (as volwasse argitek gespeel deur Sean Penn) uitgebeeld – ontnugter deur sy jeug en sy bombastiese en afknouerige vader.

 

 

Malick se werk word gekenmerk deur die misterieuse stemklank van eksterne vertellers wat ’n dromerige en hipnotiese armosfeer aan sy films verleen. In The tree of life is dit onder meer die moeder se stem wat God vra waarom haar seun moes sterf. In wese belig die film die verhouding – of kontras – tussen die weg van die natuur versus die weg van genade: die moeder verteenwoordig genade en hiermee saam vergifnis, liefde, empatie en sensitiwiteit, terwyl meneer O’Brien ’n versinnebeelding van die natuur is. Hy beleef die lewe as mededingend en onregverdig. O’Brien sukkel om sy liefde vir sy seuns met mekaar te versoen en hy het ’n plofbare humeur. Hy worstel met gevoelens van berou omdat hy nie sy musiektalent verder kon ontwikkel nie, en is gefrustreerd met sy werk by ’n aanleg.

In die middel van die film beweeg die narratief na visuele insetsels oor die geboorte van die heelal, opgevolg deur tonele van die skepping van die aarde en die oorsprong van lewe.

 

 

Die jong Jack (as seun) gaan deur die gemoedskommelinge van tienertrauma. Hy begin ly onder sy vader se boeliegedrag en twee van sy vriende sterf onverwant aan mekaar in ongelukke. Jack maak hom skuldig aan vandalisme en dieremishandeling en steel selfs die nagjurk van ’n vrou in die buurt, op wie hy verlief raak. Skuldgevoelens noop hom egter om die jurk in ’n rivier te gooi. Meneer O’Brien verloor sy werk as tegnikus, maar word in stede daarvan ’n minderwaardige pos aangebied: die gesin moet verhuis. Die vader betreur die verloop van sy eie lewe en vra vir Jack om vergifnis vir sy afknouerige gedrag, waarop Jack antwoord dat sy pa soos die natuur is.

In die hede word die volwasse Jack verder verbeeld waar hy in ’n glashysbak opgaan, maar op surrealistiese wyse homself later in ’n klipperige landskap bevind. Hy loop deur houtdeurrame en kry ’n glimp van die verre toekoms waar die son verrys tot ’n rooidwerg wat die aarde verswelg en dan terugkrimp in ’n witdwerg. Dit is hier waar memorie ’n sentrale rol speel: ’n mens onthou nie gebeure lineêr nie, maar in vignette (of figmente) wat as superponering oor mekaar beweeg. Jack se gesin, lewend en dood, verenig is ’n mistieke domein; hy herontmoet die seun wat hy was, asook sy broer wat oorlede is. Daar is ook ander karakters in hierdie Dali-agtige toneel soos twee vroue (en die kyker kan dit interpreteer as engele of hemelwesens). Sy moeder, mevrou O’Brien, kyk op in die lug en sê: “I give him to you. I give you my son.” Nie al Malick se simboliek is op die oog af verstaanbaar nie – hierdie visioenêre deel eindig waar Jack glimlag; ’n sweefbrug verskyn en die film se slot is dieselfde as in die begin: ’n knetterende en misterieuse vlam (kers?) flikker in die duisternis. Kritici beskou die slottoneel as een van die grootste kinematografiese bydraes in die beskouing van eskatologie, die nalewe, of die opstanding uit die dood – ooit. Hierdie is bloot ’n sinopsis van ’n uitdagende draaiboek wat geensins reg laat geskied aan die omvang, detail en kompleksiteit van die film nie.

Oor die poëtiese kwaliteit van The tree of life is Malick se kritici dit eens. Peter Travers in Rolling Stone beweer: “Shot with a poet’s eye, Malick’s film is a groundbreaker, a personal vision that dares to reach for the stars.” Screen Daily bestempel dit as “a cinematic credo about spiritual transcendence which, while often shot through with poetic yearning.”

Die poëtiese inslag in die film korreleer met die werk van Walt Whitman wat bekend was as humanis en waarin transendentalisme én realisme weerspieël word in o.m. Leaves of grass (1855). Maar dit is “Song of myself, 48” waarmee intertekstueel in gesprek getree word in The tree of life. Kykers vind plek-plek omdigtings van laasgenoemde vers in die film terug:

 

Song of Myself, 48

 

I have said that the soul is not more

than the body,

And I have said that the body is not

more than the soul,

And nothing, not God, is greater to one

than one’s self is,

And whoever walks a furlong

without sympathy walks to his own funeral drest

in his shroud,

And I or you pocketless of a dime may

purchase the pick of the earth,

And to glance with an eye or show

a bean in its pod confounds the learning

of all times,

And there is no trade or employment but

the young man following it may become

a hero,

And there is no object so soft but it

makes a hub for the wheel’d universe,

And I say to any man or woman,

Let your soul stand cool and composed

before a million universes.

 

And I say to mankind, Be not curious

about God,

For I who am curious about each am not

curious about God,

(No array of terms can say how much I

am at peace about God and about death.)

 

I hear and behold God in every

object, yet understand God not in the least,

Nor do I understand who there can be

more wonderful than myself.

 

Why should I wish to see God

better than this day?

I see something of God each hour

of the twenty-four, and each moment then,

In the faces of men and women I see

God, and in my own face in the glass,

I find letters from God dropt in the

street, and every one is sign’d by God’s name,

And I leave them where they are, for I

know that wheresoe’er I go,

Others will punctually come for ever

and ever.

 

Alhoewel daar intrinsiek iets poëties aan die lewenswetenskappe – of die beskouings rondom ewolusie is – is die filmaanbod van Malick dat laasgenoemde temas geïntensiviseer en veredel word: dit verleen onmiskenbaar ’n rein kwaliteit aan sy werk. In The tree of life kommunikeer of praat alles: die wind; die aansteek van ’n kers; ’n meteoor wat teen die aardoppervlakte ontplof; die beweging van ’n baba se arms en bene; ’n varsgesnyde grasperk; die lewelose lyf van ’n kind wat verdrink het; en die begin en einde van alle lewe.

Met die skep en verfilming van die wetenskapbeelde, dié wat elemente van die kosmos en die skepping voorstel, het Malick inderdaad innoverend te werk gegaan. Die veronderstelling was om die oorsprong van lewe in al sy kinematografiese gedaantes as groots, selfs grandioos, galakties en epies voor te stel. As dit by spesiale effekte kom, het hierdie span soos alchemiste te werk gegaan: die gebruik van verf, chemikalieë, fluoressente kleurstowwe, rook, fakkels en chiroskopiese tegnieke is ingespan. Malick het selfs navorsers verbonde aan die Universiteit van Illinois genader om werklike data, wat astrofisiese beelde voorstel, in die hande te kry. In die uitbreiding tot sy besonderse kinematografie het die span voorts met NASA onderhandel om foto’s, soos bekom deur NASA se Hubble- ruimteteleskoop, te modifiseer vir The tree of life.

Die dood van die O’Briens se seun is ’n leitmotief in die film. Maar om die dood van ’n jong man te probeer verstaan, moet ’n mens poog om iets te verstaan wat gelei het tot die skepping van die oorledene; en dít begin by die skepping self.

 

 

By tye spoel die kamera terug op die tydlyn en die filmografie sentreer rondom lewe op aarde, miljoene jare gelede. In een so ‘n toneel maak die kyker kennis met ’n Elasmosourus. Hierdie groot dinosourus sien ’n jong dinosourus in ’n rivierbedding lê, weerloos en gewond. As Tarantino bekend staan om die estetika van geweld, kan ’n mens bespiegel oor die emosionele geweld in Malick se werk. Die groot reptiel oorweeg dit om die jong een dood te trap, maar besluit dan daarteen en laat sak sy poot. Waarom? Want dis die jukstaponering van brutaliteit en sensitiwiteit. En Malick maak gebruik van hierdie oerdiere om die kyker attent te maak op empatie. Op ’n aweregse wyse bemiddel hy die konsep “menslikheid” en die dialektiek van die weg van die natuur versus die weg van genade word op sy kop gedraai. Uit die brutale volg die sublieme; ’n ontroerende toneel.

Die film maak voorts ruimskoots gebruik van marienebiologie, oftewel assosiasies met oerlewe in die oseane, eons gelede. Die kyker sien byvoorbeeld jellievisse (baie simplistiese meersellige organismes), en die ontwikkeling van bakterieë. ’n Pienk Axolotl, maar ook ander uitgestorwe seediere herleef op die silwerskerm. Die kwellende vraag na die sin en oorsprong van lewe vleg soos ’n goue draad deur die film.

 

 

Dit het begin in die see, ongeveer 4 biljoen jaar gelede en in die gedaante van ’n eensellige organisme. In die daaropvolgende ontploffing van lewe, wat oor miljoene jare sou strek, het die natuur se eerste meersellige organismes verskyn en vermenigvuldig – en toe het dit geëindig. ’n Massa-uitwissing het feitlik alle spesies van die planeet geveeg. Geleidelik het plante begin groei en insekte se lewensiklusse het begin, net om wéér gedelg te word deur die volgende groot massa-uitsterwing op aarde. Die siklus het herhaal: die groot reptiele het verrys, net om gewis te word. Nadat die laaste dinosourus uitgesterf het, het die eerste blomme verskyn; die skepper, as daar een is, het ’n esteet geword en soos in die geval van die geweld van sy asteroïed sélf weggedoen met die brutaliteit van sy skepsels uit Jura en Kryt. Die epogge het tydperke geword, en die tydperke eras, en uiteindelik het die eras eons gevorm. Die eerste begin was die Ordoviese tydperk; die tweede begin, 440 miljoen jaar gelede, die Devoniese tydperk; en 245 miljoen jaar gelede het die derde begin die Permiese tydperk ingelui; en die vierde begin was 210 miljoen jaar gelede, die Triassiese en Jura-tydperk. Die vyfde begin en massa-uitwissing word geboekmerk 65 miljoen jaar gelede as die Kryt-tydperk. Homo sapiens bevolk die aardbol vir slegs die afgelope 100 000 jaar, ’n oogwink in ewolusionêre tyd. Maar sedert die mens uit sy wieg in Afrika geklim en versprei het, vernietig hy die aarde en haar biodiversiteit. Gaan die mens die sesde groot uitwissing veroorsaak? Ons, die Antroposeen? Kataklismes in die verlede dui op die boliede impak van botsings; op vulkanisme; op vastelandverskuiwings en op klimaatveranderings. Homo sapiens: van die eerste grottekeninge tot die Bybel tot Columbus en Apollo 11. Met ’n wêreldpopulasie van 7.9 biljoen, lewe wat gevonk het in één aanvangsel. Wie, of wat – en waarom – het die sel van lewe ontwaak? Is daar ’n plan, ’n doel of rede met ons bestaan? Sal ons ook verbygaan, in die vergetelheid van die sesde uitwissing verdwyn soos dié wat ons voorgegaan het? Leef ons slegs as sterwende oorgawe aan die elemente wat ons oorskot bly herwin en herwin – as materie en gas?

En uiteraard inspireer die wetenskap en poëtika van The tree of life ook ander poësie.

 

Vulkaanwinter

 

Ons was hier

die dag toe die hemele geval

en die biosfeer gebrand het,

die einde van die Mesosoïkum

se Jura en Kryt

 

ons was hier

met die impak

toe Shiva se toorn ontvlam

en die Chicxub-krater ons Gaia gewond het –

 

toe die laaste dinosourusse

uitsterf, het die eerste

blomme verskyn

 

waarheen het die reptiele, die vluglose voëls verdwyn –

 

ons was hier

met die geboorte

van sterre soos veerlinge

ons het in die uurwagter

se huise vertoef,

’n memorie onthou

wat ons nie geleef het nie

déjà vus se dwaalgeeste wat as

die verlede aanmeld

 

en die ewige geboorte

van die aarde

toe tiridium die grond

versilwer en ons liefde Samsara

uit die as van vulkaanwinters

geblom het

 

© Nini Bennett, 2022

 

Verwysings

 The tree of life. River Road Entertainment. (Rolprent). 2011

https://latimesblogs.latimes.com/movies/2011/08/cosmic-cinema-the-science-of-the-tree-of-life-1.html?fbclid=IwAR1G4GMvzcvkjkirXstyqDJwXdTZJQsSPzBK0p3L6BrMh7Fszcx-a6VF9cE

https://populationmatters.org/campaigns/anthropocene?gclid=Cj0KCQjwgMqSBhDCARIsAIIVN1UWfhd5mtSGniz85TUpdle0uiK05Lt5gMDXQbFC6SJ97hGg7LvGG1IaApy3EALw_wcB&fbclid=IwAR3G75YmFmBXcg-CZjDfsiJ-9tdPb1L53shl5Uwe7ROnaTH5Y0yyUGI68Gw

https://ew.com/gallery/tree-life-deconstruction/?fbclid=IwAR2wTdGMzK6vFG3MHb1vpyCMlEe-b5d412USk6QHFsUDtMGPr9V5UoSJXzg

https://en.wikipedia.org/wiki/The_Tree_of_Life_(film)?fbclid=IwAR3UW4qcSFlCeEO77GLoPg_EGz9ve6Grh-C8dayhv_vgrF6BFm4Wb-pwnXI

https://en.wikipedia.org/wiki/Tree_of_life_(biology)?fbclid=IwAR0DVSl9YbkXgnfkp030IeqdUF5WA656gsEFXQiSOm_zBkpyNbmRDOiJzJg

https://www.popoptiq.com/the-cinematic-poet-terrence-malick/?fbclid=IwAR1IIGGVOhOFuBjpvgtmlWBlvqEU6p5zg5dNTBXv41lHSIJLuiJN3iCX-xA

https://www.poetryfoundation.org/harriet-books/2011/05/terrence-malick-hollywoods-poet-returns?fbclid=IwAR19fVPucq3iYvXDyBa0XouaRNpoZHoW-VT32qIHSaT778-_1h-w4p03iEc