Posts Tagged ‘Helize van Vuuren’

Verslag. Joan Hambidge oor vanjaar se DJ Opperman-gedenklesing

Sunday, September 29th, 2013

(Op die foto verskyn van links na regs: Ingrid Winterbach, Joan Hambidge, Ronel de Goede,

Louise Viljoen, Helize van Vuuren en Marlene Van Niekerk. Foto geneem deur: Mariheca Otto)

*

Donderdagaand, 26 September, het Helize van Vuuren die DJ Opperman-gedenklesing gelewer.  Dit was ‘n inspirerende lesing oor die betekenis van laatwerk en Van Vuuren, ‘n ingeligte en  deurwinterde literator,  het Opperman se “Vuurbees” op ‘n briljante en sinryke wyse ontleed. Van Vuuren het deur die jare veral bekendheid verwerf vir haar speurtogte: verwysings in Tristia, onder meer. 

‘n Paar punte:

Van Vuuren het belangrike aspekte van Celan se ondeurdringbare verse vir die leser “oopgemaak”. Sy het Lacoue-Labarthe en Szondi gebruik om die komplekse leesproses te verduidelik. Sy betrek Said se On late style, Adorno en Clark om laatwerk te verduidelik en Komas uit ‘n bamboesstok vir die toehoorder op ‘n ander manier te bekyk.

By Opperman is die laatwerk egter nie pessimisties nie – hier beweeg hy weg van die pessimisme wat “laatwerk” kenmerk. Daar is egter in Dolosse egter sprake van die katabasis of afbeweeg in die hel. Op ‘n briljante wyse analiseer sy die Hertzog-prys-debakel toe Tristia bó Dolosse bekroon is en die opmerkings van Lindenberg oor lg. Hoe belaglik blyk dit na al die jare om hierdie twee tekste teen mekaar af te speel.

Sy verwys ook na Picasso en die motief van Pompeï en Dionisiese orgies, die teruggaan na neolitiese kunsvorme en die reis deur miljoene jare se geskiedenis van die mensdom  in Opperman se Dolosse.

Ons sien ook ‘n video van Lascaux en Altamira om die grottonele te verduidelik – Van Vuuren op haar beste! Speurder Van Vuuren ontdek in die dokumente-sentrum ‘n artikel wat DJ Opperman gelees het: Loren Eisely wat die “Vuurbees” op ‘n ander manier ontsluit. Ook Jacques Perk se gedigtesiklus oor die grotte van Han betrek sy – ‘n reeks waarvan DJO beslis kennis geneem het. Die gesprek met Blum en natuurlik,  Wilma Stockenström word eweneens onder die loep geneem:

 

Wat ek met berge gemeen het

 

Grot is ek: bewaarder van geslagte

se skreeuende gebeentes en hopies klip.

Grot ek: die berghaan se klankversterker.

Die berghaan draal. Hy sleep skalks

sy klein stompstertskadu deur my,

en met die skaduprent op my tong

 

stamel ek my ganse leegheid.

 

(Uit: (Monsterverse, 1984:32

 

Opperman het inderdaad die grotte van Han besoek. Die Laatfase by Opperman staan egter in die teken van anabasis – ‘n positiewe proses.

Ook het Van Vuuren kommentaar gelewer – n.a.v. ‘n besoek aan die ICLA-kongres aan die Sorbonne – oor die impak van BDE of byna-dood-ervarings.

 *

Die opkoms was uitstekend en met vraetyd het die misverstane debat oor Opperman en die filosofie opnuut aan die orde gekom: Opperman – het ekself en Lina Spies beklemtoon – was nie teen die filosofie nie. Hy het egter as mentor jong studente aangeraai om met hul sintuie te werk: sintuie is werktuie. Gaan lees Kannemeyer se biografie gerus vir die bewys as jy nie die voorreg had om dit in die laboratorium te hoor nie!

Opperman het immers oor etlike filosofiese onderwerpe gedig.

Dit is goed om ‘n uitstekende literator en akademikus aan te hoor by ‘n gesogte lesing.

 

Joan Hambidge / 29.09.2013

 

 

 

Huldeblyke. Barend J. Toerien

Thursday, September 10th, 2009

Barend J Toerien (24.03.21-04.09.09)

Barend J Toerien (24.03.21-04.09.09)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ter ere van die ontslape digter is die volgende huldeblyk ontvang.

HENNIE AUCAMP

Wat ek die duidelikste omtrent Barend Toerien onthou, is sy pragtige oë, die blouste blou denkbaar; seemens-oë.  Ek is bly Breyten het dit ook opgelet; sienersoë is nie volop nie.

En wat hierdie oë nie alles aanskou het nie.  Groot toneelopvoerings en musiekuitvoerings in New York, landskappe die wêreld oor, maar veral die Portervillese veldblommeprag.  Ná ‘n verblyf in die vreemde haal Barend sy hart op aan die veldblomme van die Kaapse blomverkopers, en probeer die volksname vir al dié blomme uitvind.  “Wat noem julle dié een?” vra hy, en beduie na ‘n wit watsonia.  “O”, sê die blomverkoopster rats, “dié een noem ons white sonia, maar daar is ook pienk sonias.”  Barend het dié grappie graag vertel, en dan geëindig met:  “Natuurlik ‘n nooienspypie, maar dit het ek eers later uitgevind.”

Van Barend Toerien se mooiste verse is jeug-evokasies.  Hy dig oor die dinge op Onder-Steenwerp se werf, en ook oor die mense en gebruike van sy kindertyd.  Maar as wêreldburger het hy ‘n wye enigmatiese register gehad.  Hy het byvoorbeeld oor Olie Frank, die vader van Anne Frank, gedig, lank voordat die media die Franks opgeëis het.  Hy het ‘n verruklike gedig oor berkebome geskryf, en hulde aan sy eie voël gebring, maar met so ‘n vanselfsprekenheid dat niemand aanstoot daaraan kon neem nie.

Dis Louise Viljoen wat Barend Toerien vir die poësieleser herwin het, met haar keur uit sy verse, Om te onthou.  Volgens my behoort Barend Toerien by die ewige seuns in die Afrikaanse letterkunde:  By Leipoldt, Boerneef en Uys Krige, digters wat nooit hul aard en aarde verloën het nie.

Barend Toerien was moedswillig, kwaslerig, maar end-uit voluit mens.  En dit kan nie van alle mense gesê word nie.

 

Gaan lees ook toepaslike huldeblyke by die volgende skakels:

 

Willem de Vries (Die Burger, 04/09/09)

Herman Lategan (LitNet, 07/09/09)

Herman Toerien (Die Beeld, 07/09/09)

Helize van Vuuren (Die Burger, 09/09/09)

Helize van Vuuren (LitNet, 10/09/09)