Posts Tagged ‘Hennie Aucamp Oopkardoes’

Resensie: Oopkardoes (Hennie Aucamp)

Friday, September 18th, 2020

 

 

 

Oopkardoes. Boertige ryme deur Hennie Aucamp. Versôre deur Johann de Lange. Naledi, 2020.

Resensie: Nini Bennett

 

In 2007 het die skrywer, digter en kabaretskrywer, wyle Hennie Aucamp, ’n handgeskrewe manuskrip getitel Oopkardoes. Boertige ryme aan Johann de Lange oorhandig. Aucamp is in 2014 oorlede. En nou, soveel jare later verskyn die bundel, “versôre” deur Johann de Lange: ’n verrassing, inderdaad; ’n digterlike reïnkarnasie. “Doen daarmee soos jy goeddink,” was die opdrag en Aucamp het self die kunswerk op die omslag gekies, ’n litosnee van Theo Paul Vorster wat met die eerste oogopslag lyk soos ’n superponering van Shakespeare in ’n Janus-agtige gedaante. De Lange het die manuskrip by Naledi laat publiseer omdat hy na al jare die nodige afstand van die teks gekry het. Op die agterflap verskyn daar 6 aanhalings, metatekstuele kommentare wat as’t ware in die agtergond saamgesels. Twee hiervan lui: “As feminis objekteer ek ten seerste teen die flagrante manier waarop die vrou deur Aucamp tot seksobjek gereduseer word” […]. (Lettie ver Loren van Themaat in Fem en fyn, proefuitgawe, Junie 2007). En: “Aucamp doen die gay-lib-beweging oneindig skade aan met sy burgerlike opvattings oor verligtheid” […].  (“Beatrice Blatant ” in die herfsuitgawe (2004) van No exit. Hele oplaag verbied.) Ook die inleidende motto voor in die bundel is deur Aucamp gekies: “Vulgarity is a very important ingredient in life. I’m a great believer in vulgarity – if it’s got vitality. A little bad taste is like a splash of paprika.” – Diana Vreeland.

Die bundel handel onder meer oor die oopskryf van seksuele taboes, en vir die hardebaardleser is daar talle guitige en stuitige ryme om van te kus en te keur. Daniel Hugo beweer in die bloemlesing, Speelse Verse, dat die limeriek hom besig hou met bedenklike sedes: “Sy speelsheid stam dikwels uit ’n spulsheid”. Die bundeltitel is ontleen aan ’n vers, “Fatale osmose” waar die digproses verbeeld word as ’n vleisetende blom, ’n ars poëtikale proses wat ook seksuele wellus impliseer:

 

Soms word die digter plant,

maar vleesetend;

wag oopkardoes op prooi:

muggies, motte, spinnekoppe

en die spikkelbesies van ons Heer

[…]

LitNet, 2009-09-22

 

De Lange het besluit om benewens die ongepubliseerde verse, ook ’n aantal vroeëre gepubliseerde gedigte, wat in dié versameling tuishoort, op te neem. Die bundel bevat epigrammatiese poësie, limerieke, kwatryne, variasies op volkswysies, lirieke, ensomeer. Aucamp bevestig opnuut sy verstegniese vaardighede en vernuf, soos byvoorbeeld in die onderstaande limeriek:

 

’n Boervrou, mejuffrou Van Eeden,

van die erfplaas genaamd Nooittevreden,

word omhels deur ’n slang

wat haar kuikens wou vang

en rus nou, gekis, weltevreden.        (p. 53)

 

Of hierdie kwatryn:

 

Bermudas wou sy dra

en niemand staan verslae,

want boude in Bermudas

is wat die mode vra.         (p. 4)

 

Die onskuldige volksliedjie, “Tant Hessie se witperd” se spitsvondige nadraai en verwerking klink só:

 

Ou Hessie had ’n hoerhuis,

die Witperd-op-die-draai

waar jy na agtien whiskies

verniet kan kattemaai.         (p. 3)

 

Tematies handel die verse oor anonieme seks (of seks in nagklubs), die verhoog- en operawêreld, die plattelandse milieu en die kompleksiteit rondom seksualiteit. Ook knellende kwessies rakende die LGBTQ-gemeenskap kom onder die vergrootglas, byvoorbeeld “Die beenbek het gepraat” (pp. 59-60) herinner aan Aucamp se ikoniese kortverhaal, “Vir vier stemme”, waarin transvestie oopgeskryf word.

Die doel van Oopkardoes is om die leser te vermaak met speelse poësie en gevatte taalspel.

 

Die skone Helena van Troje

word gepla en geteister deur vloje –

van kuiltjie tot wreef,

oor venus en gleuf

beproef hul die bloed van die moje.         (p. 69)

 

’n Geestige, of blatant-banale spel met erotiek is tiperend van kabaret. Of Aucamp se ryme romanties, nostalgies, weemoedig, sardonies, wrang of absurd is – die gees van Verfremdung is deurlopend teenwoordig in óf burleske óf klugtige aanbod. Lirieke en langer, liedagtige verse kenmerk veral die tweede deel van die bundel. In Speelse Verse stel Aucamp dit as vereiste dat ’n liriek onmiddellik toeganklik moet wees vir die hoorder, omdat die gesproke en gesonge woord (anders as die geskrewe of gedrukte) so vervlietend is. “Seepunt-blues” (pp. 89-95) is ‘n besinning oor die smagting na erotiek en liefde, geskryf in ’n mineur-toon en dié lange gedig verwys ook na die Sizzlers-slagting van gay mans in 2003. Van die verse is donkerder getint, in teenstelling met die growwe, satiriese verse.

Oopkardoes is ’n welkome toevoeging tot Aucamp se oeuvre. Die bundel is keurig en sinvol saamgestel en verdeel in tien afdelings. Ja, die digter en bloemleser, Johann de Lange het Aucamp se postume bundel inderdaad mooi versôre.

 

Verwysings

Hugo, D. (red.) 1988. Speelse Verse. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.

https://johanndelange.blogspot.com/2014/04/die-bruin-leers.html?m=1

 

  •