Posts Tagged ‘Hennie Meyer Winkel van wanklanke’

Resensie: Winkel van wanklanke (Hennie Meyer)

Wednesday, December 16th, 2020

 

 

 

Winkel van wanklanke deur Hennie Meyer. Protea Boekhuis, 2020.

 

Resensie: Ihette Jacobs

 

Winkel van wanklanke is die 2020-debuutbundel van Hennie Meyer. Dié digter het reeds sy merk gemaak in die Afrikaanse digkuns as een van die toonaangewende skeppers van konkrete poësie. Saam met sy debuutbundel skep Meyer ook ʼn gelyknamige webtuiste wat interaktief met die bundel werk. Volgens dié webtuiste neem Hennie Meyer reeds in 2007 deel aan die Sasol Nuwe Handtekeninge-kompetisie met die gedig “Onder die Belt”. Hy het sy eerste uitstalling van konkrete gedigte by die Tina Skukan-galery in 2008. Daarna stal hy ook uit by Woordpoort  en by die Melville Poetry Festival. In 2009 neem hy deel aan die projek “Oor die einders van die bladsy” van die Noordwes-Universiteit en in 2010 is van sy verse gepubliseer in Nuwe Stemme 4 deur Tafelberg Uitgewers.

Winkel van wanklanke is ʼn debuut wat met ʼn bepaalde afwagting ontvang is deur liefhebbers van konkrete poësie. In hierdie opsig stel die bundel nie teleur nie. As daar een woord is wat hierdie bundel opsom, dan is dit spel. Daar word ʼn spel gespeel met die leser, wat gedompel word in ʼn interaktiewe leeservaring waarin klank, vorm, inhoud en verskillende mediums bedryf word. Die ondermyning van tradisie en poësiekonvensies staan ook voorop. Gevestigde Afrikaanse digters word deur ironie en parodie tot die spel betrek en die digter spaar nie eens homself van die selfspot nie.

Die bundel het geen afdelings nie, maar een gedig volg op die ander om die suggestie van ʼn oneindige spel te skep, wat Derrida se konsep van différance oproep. Die leser word uitgedaag om deur middel van braille, morsekode, die ontsyfering van sketse en vingertaal die inhoud van die bundel te ontdek. Gedigte word geskryf op ballonne, skoene, sakdoeke, kwitansiepapier, papiervliegtuie, toiletpapier en so meer. Sommige gedigte gaan gepaard met ʼn QR-kode wat die leser deur middel van ʼn slimfoon neem na die bundel se webtuiste, sodat die gedigte ook visueel en ouditief beleef kan word.

Deurgaans is ʼn goeie skeut humor onderliggend aan die spel wat met die leser gespeel word. So word die gedig “Onder die belt” (41)  juis tong in die kies deur middel van vingertaal uitgebeeld, die gedig lees “op soek na die g-kol”. “Pragtig tot dragtig” (58) vertoon slegs die woord “TINA” op ʼn papiertjie wat uittrek en wanneer die leser dan hierdie aksie uitvoer, staan daar “KONSERTINA” – hiermee voel die leser dan pens en pootjies gedompel in die spel van die konkrete poësie. In “gedig” (27) word Joan Hambidge se gesig afgebeeld op ʼn R30-noot – ʼn noot waarop daar vele voorbeelde van parodie nagespeur kan word. In “Poets” (30) word die intertekstuele verwysings na ikoniese Afrikaanse digters deel van die humoristiese spel, met byvoorbeeld “Yolande / Yolande / wys my jou / tande” en “ʼn beter geil / is in die sotste wyn / ʼn vrolik snaar / op elke trein”. “Poets” vermeng ook parodie met selfspot wanneer daar gestel word “Ek wil u graag / voorstel / aan die / vet man / met die pienk / onderbroek”. Hierdie element word aangevul met ʼn poëtikale uitspraak in byvoorbeeld “Fonetiese oefenfiets” (25) waarin daar staan “ ek sal nie viets / op my fonetiese oefenfiets / verslank met versklank nie / ek sal wel die emmer skop”.

Die dekonstruksie van die tradisionele gedig word in vele opsigte deur die bundel uitgebeeld. Dít is konkrete poësie op sy beste, wanneer die digter byvoorbeeld in “Ontsnapping en ontspanning van egalige gelag” (42) ʼn sigaret rol met die gedig, in “Oorloë en gerugte van oorloë” (46) die bladsy waarop die gedig staan, brand en in “Soos dood” (68) die gedig stelselmatig uitvee. “Joernaal verdwaal” (30) is ʼn reeks waarin kwitansiepapier, handgeskrewe notas en verskillende afdrukke van die gedig, die gedig op interessante wyses uitmekaarhaal en weer aanmekaarsit. Die dekonstruktiewe spel met die leser word tot ʼn uiterse gedryf wanneer die slotgedig in die inhoudsopgawe lui “Yves Klein” (85), maar in die bundel self is bladsy 85 blanko gelaat. Dít kan moontlik sinspeel op Klein se uitstalling “The Void” en dien as ʼn slim kopknik in die rigting van die oplettende leser.

Die bundel bevat ʼn addendum waarin al die konkrete gedigte verklarend uiteengesit word. Myns insiens doen hierdie addendum afbreuk aan die spel wat in die bundel gespeel word en voel die leser wat entoesiasties deelgeneem het aan die ontsyfering dan aan die einde van die bundel dat dit futiel was. Dalk dien dit as ʼn verdere ondermyning van die spel self, maar steeds voel ek die bundel sou beter gewees het sonder die addendum. Dit is immers nie die bundelinhoud wat die leser die bundel laat optel en inspring nie – daarvoor is die inhoud gans te skrams. Hiervoor maak die digter self tong in die kies verskoning in “Verskoning” (77):

 

sal dit nie gedugte gedigte

met metafoor en tema

maar meer gedrogte gedogte

ek het nie woorde om te verklaar

hoe jammer ek is nie

 

Winkel van wanklanke lewer beslis ʼn belangrike bydrae tot die tradisie van konkrete poësie in Afrikaans. Die leser wat nie die poësie te ernstig wil opneem nie, sal die spel en die humor daarvan terdeë geniet. Diegene wat bekend is met die Afrikaanse poësietradisie sal ook die interaksie wat die bundel daarmee aanbied, kan waardeer en die speelse ondermyning daarvan met plesier meeleef. Dit is ʼn bundel vir die 21ste eeu, waar jou slimfoon saam kan deelneem aan die skep en uitbeelding van die poësie. ʼn Bundel waarin die poësie behoorlik loskom van die bladsy en gehoor, gesien, gevoel en beleef kan word.