Posts Tagged ‘Henry Louis Gates Jr.’

Pieter Odendaal. ’n Rap vir die ouer garde – repliek op Heilna du Plooy

Sunday, May 29th, 2011

Professor Du Plooy se gebruik van Mahler se vyfde simfonie as ’n paradigmatiese voorbeeld van die tipe denke wat sy voorstaan spreek boekdele oor haar verstaan van die teenswoordige oomblik. Sy beweer dat daar ’n gebrek is “aan die vermoë om ‘volgehoue’ en gedrae te dink, te wag vir die regte laaste noot, vir die uitgestelde maar absolute voltooiing”. Dit wil voorkom of sy meen dat regte-egte kennisverkryging ’n soort ontginningsproses is waardeur jy stelselmatig dieper delf om sodoende nader aan een of ander geborge diamant-waarheid te beweeg. Hierdie siening van denke as ’n soort skagmynekspedisie is ’n redelik Romantiese een en verraai ook ’n teleologiese verstaan van denke: Ons dink om ’n bestemming te bereik, om ’n absolute waarheid raak te boor.

Hierdie soort epistemologie is nie noodwendig uitgedien nie, maar ek dink tog dat dit broodnodig is om weer te gaan dink oor die bevoorregting van hierdie soort denke bo ’n soort epistemologie van hyperlinking wat danksy die inligtingsontploffing naby die einde van die vorige eeu ontstaan het.

Vir dié van ons wat nooit skooltake aangepak het sonder om die internet te raadpleeg nie, is kennisverkryging van kleins af eerder iets wat soos ’n oopgroefmyn as ’n skagmyn funksioneer: Ons dek ’n veel wyer oppervlak en glo dat jy hierdeur net so baie diamante kan opspoor. Ons sien onsself eerder as wêreldwye handelaars in kennis as outonomiese kontemplatiewe individue. Ons is losgemaak uit ons gelokaliseerde kennis en ons bevind ons in ’n netwerk van veelvoudige kennisse. Ons is ingebed in die wêreldwye eb en vloei van inligting.

Ek is dit eens met Du Plooy dat jongmense die vermoë verloor het om “soos Mahler te dink”, maar dit beteken nie dat ons glad nie meer kan dink nie. Ons omgang met idees verskil bloot radikaal van mense wat ouer is as die internet en hierdie verskil is duidelik sigbaar in kulturele verskynsels soos rap en culture jamming (alhoewel culture jamming, of sogenaamde “guerilla semiotics” reeds voor die kommersialisering van die internet ontstaan het) en internetgebruike soos hyperlinking en gerekenaariseerde kennisenjins soos WolframAlpha. Alhoewel sommige mense dalk dink dat hyperlinking niks meer as ’n blote tydverdryf is nie, dink ek dat dit veel eerder ’n vorm van verkennende denke is. Om te swerf van een webwerf na ’n ander is om ’n kopreis te onderneem. Toegegee, dit kan baie maklik in ’n soort virtuele kontikitoer ontaard, maar hierdie reise het ook dikwels verbysterende ontdekkings tot gevolg.

Ek stem ook nie saam met Du Plooy se siening dat mense deesdae nie toelaat “dat die lewe deur allerlei diepliggende betekenisse (soos dié wat in gedigte versteek word) verswaar of gekompliseer word nie.” Hierdie ingesteldheid teenoor “dieperliggende betekenisse” is glo simptomaties van ons globale verbruikerskultuur en die gepaardgaande gejaag na wind. Ek dink egter dat baie jongmense baie goed verstaan hoe die verbruikerskultuur besig is om met ons koppe te smokkel. Ons verstaan hoe die taal van bemarking werk. Ons is van kleins af al blootgestel aan die feit dat “tekens” ingespan word om hul referent(e) aantrekliker of anders te laat voorkom as wat dit regtig is.

Ek onthou hoe ek as tiener dikwels tydens middagete voor die televisie gesit en infomercials kyk het – nie omdat ek my kop met gemors wou volstop nie, maar omdat dit my gefassineer het hoe mense produkte bemark. Deur infomercials te kyk, leer jy ook hoe die retorika funksioneer; jy sien hoe taal gebruik word om onderliggende begeertes te beïnvloed, om die werklikheid in neon-kleure oor te verf. Ons is goed opgevoed in die kuns van oorreding en om hierdie rede is ons van kindsdag af hiperbewus van taal as ’n kragtige tekensisteem wat voortdurend besig is om ons sensoriese ervaring te beïnvloed.

Ons verstaan baie goed hoe tekens gebruik word om versteekte intensies te insinueer sonder om dit te sê. Showing, not telling, soos die skryfskool-truïsme lui. Beteken dit dan dat advertensies en poësie dieselfde soort handelinge met tekens verrig? Sowel die een as die ander gebruik tog signifiers om sogenaamde “dieper betekenisse” oor te dra, betekenisse wat nie op die oppervlak teenwoordig is nie. Sowel billboards as gedigte probeer om die werklikheid te beskryf/oop te skryf/ toe te skryf. Vir maatskappye gaan dit egter oor winste, terwyl digters (so hoop ek) probeer om dit wat om hulle aangaan, verbysterend te vertaal. Omdat ons van kleins af bewus is van die tekenspel wat die media met ons speel, het ons ook ’n voorliefde vir taalverskynsels soos woordspelings, klankeffekte, herhaling en akrobatiese woordtoertjies.

Hierdie ingesteldheid teenoor taal verklaar deels waarom baie Afrikaanse jongmense mal is oor iemand soos Jack Parow. Parow is duidelik besig om met signifiers te juggle. Sy goëlery sluit nie net verbale verwysings na kultuurobjekte in nie, maar betrek ook visuele tekens soos klere en musiekvideo’s om die huidige kulturele klimaat te beskryf en te satiriseer:

Jy’s ou nuus, ek kom met rou beats
Jy lê en wag, ek gaan soek iets
Jy’s ice tea, ek’s witblits
Jy’s lite bier, ek’s spirits
Jy’s die ou met die new fresh look
Ek’s die ou met die Pep Stores broek
Ek watch jou, jy koekeloer oukes
jy forward nog Vernon Koekemoer jokes
Ek’s fantasties, jy’s spasties
Ek vat aan poppies, jy raak aan klein kids
Jy’s Tim Voster, ek’s Chris Edwards
Jy’s innie bosse, ek rol innie vet shit
Jy’s boring soos liedjies ommie kampvuur
my styl slick sneak suutjies soos ’n vampier
jou styl kak sag soos ’n pink marshmallow
meisies skree vir net “one night in parow”

© Jack Parow. Uittreksel uit “Cooler as ekke”.

Ek dink dat Henry Louis Gates Jr. se bespreking van die term “signifyin(g)” ons kan help om verder sin te maak van wat Jack Parow besig is om te doen. In “The Signifyin(g) Monkey” wys Gates hoe African American taalgebruik juis meer ingestel is op die akoestiese signifier en maniere om dit te manipuleer met behulp van die ritme en kadense van taal. Annel Pieterse skryf in ’n onlangse e-pos die volgende oor wat Gates met “signifyin(g)” bedoel:

Hy wys hoe slawe teenstrydige form gebruik het om content te verdoesel, hoe hulle kodes uit[ge]werk [het] om inligting aan mekaar oor te dra, baie soos wat Achille Mbembe wys dat dieselfde tipe ding in African cultural forms gebeur in sy ‘On the Postcolony’.

As voorbeeld van “signifyin(g)” bespreek Gates die woordspeletjie dozens: “Black people play dozens like white people bly scrabble”. Basies kom dozens daarop neer dat twee spelers kyk wie mekaar die lelikste kan slegsê, kan “uithaal”. Ek vermoed dat Jack Parow se “Cooler as ekke” ’n prototipe van ’n Afrikaanse dozens is en dat ons toenemend meer voorbeelde hiervan in Afrikaans gaan sien. Dozens is ’n manier waarop jou identiteit voortdurend gekontesteer word – jy word voortdurend uitgedaag om jouself te herkonseptualiseer. Hierom dink ek dat mense soos Jack Parow belangrike bydraes maak om ’n kultuur te satiriseer en te herverbeel wat ongemaklik probeer nesskop tussen ’n globale verbruikerskultuur en ’n uitgediende, problematiese Afrikanerkultuur. Die Antwoord, Bittereinder en Olinosterfant speel soortgelyke tekenspeletjies in hul musiek. Die punt wat ek probeer maak, is dat ons jongelinge nie onsensitief teenoor gesofistikeerde aanwendings van taal staan nie, maar dat ons met ’n heel ander ingesteldheid na taal kyk as die generasies voor ons. Hierdie kunstenaars is presies die tipe mense waarna Du Plooy op soek is: jongmense wat deur inligting kan “sif en [dit kan] uitsoek en herrangskik sodat daar ook iets nuuts kan kom, al is dit [“]net[”] ’n kreatiewe rekonfigurasie”.

“Alles, ook mense, is wat jy sien, mense hanteer wat hulle sien,” meen Du Plooy. Baie van die jongmense wat ek ken, verstaan egter (ten minste implisiet) hoe rekenaarkode werk, naamlik dat daar een of ander onsigbare logika aan die werk is wat alle rekenaaraktiwiteit fundeer. Hoewel ons almal nie noodwendig die sintaksis van hierdie taal verstaan nie, weet ons steeds dat daar een of ander vorm van gekoördineerde kommunikasie agter die skerm aangaan: Ons is dus nie volslae onbewus van enigiets buiten die skerm nie. In ’n onlangse blog bespreek Daniel Roux rekenaartaal en die moontlike interaksie tussen die logika van rekenaartaal en die logika van sosialisering, ’n strukturalistiese benadering wat help om sin te maak van ’n sosiale fenomeen soos Facebook. Roux blameer ook die akademie vir die gebrek aan gesofistikeerde navorsing oor die manier waarop inligtingsnetwerke besig is om ons sosiale netwerke te beïnvloed en vice versa.

Ek is nie besig om te beweer dat alles goed en wel is nie. Ons lewe in ’n tyd met verskeie psigoses, iets waarvoor ons seker grootliks laat-kapitalisme kan blameer. My punt is net dat ons darem nie hande in die hare hoef te staan terwyl ons die verbrokkeling van kritiese engagement betreur nie. Ons het met die opkoms van die internet ’n tydruimtelike kopskuif betree en ons het pas begin om sin te maak van die maniere waarop hierdie kopskuif besig is om ons konsepsie van onsself en van die wêreld te verander. Wees ons tog genadig, ons probeer sin maak van ’n erg deurmekaar en komplekse wêreld.

#

My dank aan Annel Pieterse en Marius Swart wat gehelp het met die konseptualisering en redigering van my bloginskrywing.