Posts Tagged ‘Herkanonisering’

Joan Hambidge. Herkanonisering (3)

Saturday, February 19th, 2022

I

In my vorige rubriek is daar verwys na (herkanonisering).

Herkanonisering kan beteken dat ‘n digter se posisie hersien word soos Daniel Hugo dan doen in sy bespreking van De Waal Venter se jongste bundel Vrugbeginsel (Naledi) op Litnet:

Sy slotwoorde lui:

“De Waal Venter se digbundels was te dikwels verwaarloosde boeke in die verskroeiende son van die literatuurkritiek. Lees hom; hy het veel te bied.”

https://www.litnet.co.za/vrugbeginsel-deur-de-waal-venter-n-resensie/ Besoek 18 Februarie 2022

Herkanonisering is ook die proses wanneer digters ‘n “verdwene” digter weer lewend maak. Olga Kirsch is so terug gebring in ons digkuns via Johann de Lange en in Bernard Odendaal se jongste bundel Nootvat. Kwashaal. Stapel (2021): http://joanhambidge.blogspot.com/2021/05/resensie-bernard-odendaal.html Besoek 18 Februarie 2022

So dig De Lange oor haar in sy bundel Duimnaelsketse:

 

Elisabeth Eybers & Olga Kirsch 

 

Kaapstad 1979, ’n laaste besoek

Vriende, én eensame ballings van ’n taal,

het hul ’n laaste keer in die vlees ontmoet

in die Kaap van Storms; oor ’n laaste maal

‘n gedeelde taal gewissel, & gegroet.

 

http://joanhambidge.blogspot.com/2020/09/resensie-die-meeste-sterre-is-lankal.html Besoek 18 Februarie 2022

Ons dink verder aan die terugkeer van Freda Plekker en Elizabeth M. Du Toit, die digter van Towertuin (1968).

Hugo skryf insigryk oor Du Toit:

Toe Elizabeth C.M. du Toit (1925-1964) in 1945 met In die verbygaan gedebuteer het, was sy slegs die derde gebundelde vrouedigter in Afrikaans. Haar voorgangers was Elisabeth Eybers (Belydenis in die skemering,1936) en Olga Kirsch (Die soeklig, 1944).

https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/EJC112031 Besoek 18 Februarie 2022

Hy wys op die onsimpatieke ontvangs van die literatuurkritici, maar het bewondering vir haar hantering van die rondeel en villanelle.

Hy wys op ‘n geslaagde triolet “Werklikheid”:

 

Die wind waai sag; die bome ruis;
die blomme buig en swaai en geur.
Dit is so stil en niks gebeur.
Die wind waai sag, die bome ruis.
Mag hierdie droom my dae kleur
wanneer my hart wild roep en bruis;
die wind waai sag, die bome ruis,
die blomme buig en swaai en geur.

 

Hugo as digter kyk simpatiek na haar gedigte anders as die literatore wat verminderend oor haar werk is en woorde gebruik soos “presieus” en “selftroeteling”. Dekker, Antonissen, Kannemeyer is volgens Hugo vol in die kol met hul negatiewe takserings, maar gee egter krediet aan haar aanwending van moeilike vorme.

Hugo, die digter, kyk dan eerder na tegniek en klankpatrone. Hy wys ook op die gebruik van die Orléans-rondeel (deur die rondele van die hertog Charles d’Orléans (1394 – 1465).

Sy beoefen ook die rondeau, die sg. Derde Vorm van die rondeel met twee rymklanke met versreëls.

Hugo verwys na geslaagde en minder geslaagde vorme van die villanelle in Afrikaans en hy wys tereg daarop dat hierdie ‘n liriese vorm is wat deur te lang versreëls ondermyn word:

Vir ‘n werklik geslaagde villanelle moes die Afrikaanse poësieleser tot 1997 wag, toe Johann Lodewyk Marais se gedig “‘Nonnetjie-eend” in die bloemlesing Ons klein en silwerige planeet verskyn het, voer Hugo verder aan:

 

Donkeraand by die pan hoor ek hom luid
asof uit die niet oor my sip sip siee.
Oor die water weerklink sy helder fluit.

Hy kom van ‘n kleiner pan verder suid
en was ‘n stippel wat teen sterre vlie.
Donkeraand by die pan hoor ek hom luid.

Alleen gaan hy by die ander aansluit
in die palmiet, skuins teen die aandwindjie.
Oor die water weerklink sy helder fluit.

Hy daal om die nag op die pan te slyt
en vou sy vlerke as hy stil inski.
Donkeraand by die pan hoor ek hom luid.

‘n Skadu teen swart swem hy stadig uit:
nou sien niemand waar nie, of wat of wie.
Oor die water weerklink sy helder fluit.

Veilig teen die wakker jagters se kruit
wei hy waar hulle hom nie sal kry nie.
Donkeraand by die pan hoor ek hom luid.
Oor die water weerklink sy helder fluit.

 

Hierdie artikel (in Tydskrif vir letterkunde, 41.1) bewys dat digters wanneer hulle ander digters lees nie klinies-afstandelik lees nie, maar tegniese kwessies kan aanraak wat hulle na aan die hart lê.

Gaan lees ook verder oor die rondeel / rondelet in Literêre terme en teorieë:

https://www.litterm.co.za/index.php/r/1246-rondeau-rondeel-rondel-et Besoek 18 Februarie 2022

(Ek is uiteraard die beoefenaar van die rondelet in Afrikaans.)

A.P. Grové skryf insigryk oor die rondeel, maar ek dink Hugo se binnekyk wys ons daarop dat digters soos sjefs nie opgewarmde kos wil eet nie.

https://www.litterm.co.za/index.php/r/207-rondeel Besoek 18 Februarie 2022

Sy slotopmerking is vol in die kol:

 

Elizabeth C. M. du Toit is nie deur die literêre kritiek genoeg krediet gegee vir haar baanbrekerswerk met die aanwending van ingewikkelde klassieke Franse versvorme in ‘n rymarm taal soos Afrikaans nie.

 

II

Harold Bloom meen in The Anxiety of Influence (1973) dat die digkuns ‘n vorm van “verse criticism” is. Die goeie digter skep sy eie kanoniseringsproses: praat met die dooies en open ‘n nuwe ruimte vir sigself.

Die digter is altyd besig met ‘n gesprek: ‘n selfgesprek of een met ander digters. Die geslaagde digter en die onthoubare een is daardie digter wat ‘n fyn balans handhaaf tussen tegniek en tema.

Hierom is Bloom se lesings van Wallace Stevens so belangrik.

Herkanonisering is altyd tussen hakies.

Bibliografie:

Bloom, Harold (red). 1982. Agon: Towards a theory of revisionism. New York: Oxford University Press.

 

  1.     A map of misreading. New Haven: Yale University Press.
  1.      The anxiety of influence. New Haven: Yale University Press.
  1.     How to read and why. New York: Schribner.

 

Naskrif:

Op ‘n reis deur Frans-Kanada skryf ek hierdie vers vir Freda Plekker. En Kanada is waar Elizabeth M. du Toit woonagtig was …

 

O wat het geword van Freda Plekker?

– ‘n hartseerballade

 

Gesiglose, verwaarloosde Freda Plekker

o waar is jy nou?

Is jy dalk in die diepsee-waters,

saam met skulpfluisteraars

in ‘n klein submarien soekend na die Titanic

se oorblyfsels?

Is jou gesig perdalks

weggevreet deur skulpe,

seewier en klein vissies?

Of is jy miskien by Peggy’s Cove

besig om ‘n grys poskaart te versend?

Of in Halifax

in die skeepskaptein se log-boek opgeskryf:

“hou één kamer oop in jou hart”.

O Freda Plekker,

jy het nie saam met die Titanic gesink;

ek lees jou SOS’e,

dra die “vermoeide bagasie” van jou woorde.

 

L’envoi

 

Party digters sterf salig-salig soos ‘n Piet Snot;

ander sommer-sommer net aan ‘n suurstoftekort.

 

– Joan Hambidge uit Vuurwiel (2009).