H.F. Nortje. Ficus sycomorus
Saturday, March 5th, 2022
Ficus sycomorus
Elke seisoen se vye
is oneetbaar vol wespes.
Slegs groen papegaaiduiwe
en raserige blou-ape
raak ooit oor sulke
versuurde vrugte gaande.
Boonop is die hout
hopeloos te sag
vir meubelmaak.
En sou mens vuur
hiermee wou stook,
brand jou kole vroegaand
alreeds uit tot as.
Snags loop ek eerder wye draaie
om so ‘n welige blaredos,
want luiperd se kind kan haarself
alte maklik êrens hier bolangs skuilmaak.
En aan die oewers waar jou soort
so graag groenvoet in die water staan,
jag sluwe krokodille gereeld
in die skadu’s langs.
So watter nut dien jy
dan Sycomorus?
Wat anders as om vir ‘n oomblik
teen skemer
koekepanne vol goud
uit die son te myn,
om bloot vir vertoon,
‘n oomblik in die oë
van dromers
t’rug te kaats.
Boonop verbeel jy jou
jy is Atlas van die savannas,
want met magtige takke
hou jy kastig die ganse gewelf
omhoog bo jou gestalte.
Rusbank vir die silwer rondings
van die maan,
hoor ek jou vanaand
hier langs die Sabie
self aan die sterre vroetel –
so hovaardig, hoe verwaand.
Laeveldse vy, wag maar,
eendag kom ry ‘n honger jong man
op sy donkie
ook onder jou verby
en dan …
© H.F. Nortje, 2022