Posts Tagged ‘Homerus’

Marlies Taljaard. Beeld en Teks 1: Achilles se skild – T.T. Cloete

Monday, April 18th, 2011

 

Voorstelling van Achilles se skild

Voorstelling van Achilles se skild

In T.T. Cloete se nuutste bundel, onversadig (2011) verskyn op p. 82 die gedig “Achilles se skild”. Hierdie gedig vertel die verhaal van Hefaistos, die god van vuur, wat Achilles se skild in sy smidswinkel maak: “vyf lae diep lê hy laag op laag / vir die smee van die reliëfs diep genoeg / vir ruimte om die helfte weg te steek // van die onverklaarbare geheimsinnige mens / en die gebeure, om hulle wesensgetrou te maak”. Die verhaal wat hier in poëtiese vorm weergegee word, kom oorspronklik uit die agttiende en twee-en-twintigste boeke van Homerus se Ilias. Homerus se beskrywing van die smee van Achilles se skild word allerweë beskou as die oudste voorbeeld van ekphrasme en stel die voorbeeld vir latere gebruik van dié tegniek in die Griekse letterkunde. Maar ook in die moderne letterkunde is die ekphrastiese of beeldgedig ‘n bekende poëtiese vorm – dink maar aan Keats se “Ode to a Grecian Urn”.

 

Ekphrasme is ‘n retoriese middel wat behels dat een kunsvorm deur middel van die genrereëls van ‘n ander kunsvorm geïnterpreteer word. Waar dit in die poësie voorkom, behels dit byvoorbeeld dat ‘n visuele kunswerk deur middel van retoriese (stilistiese) middele beskryf (en dus geïnterpreteer) word. Hierdie praktyk is altyd intertekstueel en bevestig die gedurige hersirkulasie en gelaagdheid van tekste (ook visuele, musiek- en ander kunstekste) en stel altyd ten minste twee kunswerke in jukstaposisie teenoor mekaar.

 

Interpretasie van ‘n visuele kunswerk deur van retoriese middele gebruik te maak, veronderstel natuurlik ook dat representasie geskied volgens ‘n nuwe stel reëls, want dit wat deur middel van beeldende kuns gerepresenteer kan word, kan byvoorbeeld nie noodwendig deur middel van die retorika gerepresenteer word nie, en andersom. Die digter wat van ekphrasme gebruik maak, lê dus doelbewus ‘n addisionele betekenislaag bo-oor die oorspronklike teks wat, soos in die geval van Cloete wat hierbo aangehaal word, dikwels ook reeds op ‘n ander teks gebaseer is.

 

Die skild van Achilles speel ‘n belangrike rol in die Ilias omdat die mikrokosmos van Homerus se verhaal, waarvan die Trojaanse Oorlog ‘n belangrike faset uitmaak, daarop uitgebeeld word. Op verskeie plekke in die teks word na die skild verwys. Of die skild egter werklik bestaan het, is vandag nie meer bekend nie. Cloete het vir sy herdigting die verwysings in Boek 18 en Boek 22 uitgesoek.

 

Lê ‘n mens die bronteks en Cloete se teks langs mekaar, lyk dit aanvanklik asof Cloete Homerus se teks redelik getrou omgedig het. Soos Homerus, beskryf hy die proses van vuurmaak, die smelt van die metale koper, tin, goud en silwer en die smee van die skild wat uit vyf lae bestaan. Daarna word die verskillende reliëfs geskep wat in besonderhede beskryf word. Ten slote beskryf hy die stryd tussen Achilles en Hektor uit Boek 22.

 

By ‘n meer diepgaande lees van beide tekste, blyk dit egter dat Cloete se teks op betekenisvolle wyse van die bronteks afwyk. Alhoewel die afwykings gering lyk, plaas dit egter die antieke teks binne ‘n nuwe paradigma deurdat die moderne digter bepaalde dele van die antieke teks beklemtoon, onderbeklemtoon en weglaat, asook deur interpretasie van sekere teksdele.

 

Cloete se gedig begin met ‘n agtergrond wat die Ilias-teks vir die moderne leser binne konteks plaas en wat nie in die bronteks verskyn nie. Die eerste reël verwys na “die hinkende horrelvoet Hefaistos” wat die opdrag ontvang om vir Achilles wapens te maak. Die antieke Griekse leser sou hoogs waarskynlik geweet het dat Hefaistos mank is en daarom word dié aspek van die vuurgod nie deur Homerus beskryf nie. Cloete lê egter doelbewus klem op Hefaistos se gebreklikheid, want hy verwys by herhaling daarna. In die tweede strofe staan daar “die krom kreupele wat die onderdanige is / van die elegante en rats atleet”. Enkele reëls verder word gesê: “hy staan op sy tenger hoepelbene” en wanneer hy vir oulaas die skild bewonder: “Hefaistos tree hinkend ver terug”. Hierdie klemplasing op onvolmaaktheid en gebreklikheid is een van die temas wat by herhaling in Cloete se oeuvre voorkom. Dink byvoorbeeld aan die gedig Eiewysheid uit die bundel Jukstaposisie waarin die skrywende ek sê: “ek groei aarde toe krom ek hel lewendig skuins hoe meer jare ek haal (…) ek moet my vertikaal // handhaaf (…) om koppig uit te hou // en te beweeg krapskeef / en aaphinkende …”

 

Benewens verwysings na Hefaistos, kom in “Achilles se skild” ook ander verwysings voor na die kwesbaarheid en onvolmaaktheid van die mens as sodanig. Wanneer die twee stede wat op die skild uitgebeeld word, beskryf word, staan daar: “dan maak hy / die saamleefplekke vir die weerlose mense / vir hulle wat eensaamheid en alleenheid vrees”. Hierdie interpretering van die kunswerk kom nêrens in die Ilias voor nie, maar vorm die basis van Cloete se interpretasie van die reliëfs op die skild, naamlik dat die mens in sy weerloosheid en in sy gespletenheid daarop uitgebeeld word.

 

Reeds in die tweede strofe van “Achilles se skild” word die teenstelling tussen die kreupel Hefaistos en die elegante en rats atleet aan die orde gestel. Dié teenstelling lê, soos gesê, aan die wortel van Cloete se omdigting van die Ilias-teks. Hoewel Homerus ook dikwels van beskrywende woorde gebruik maak, is die doel daarvan meestal verhelderend van aard. By Cloete is dit egter dikwels daarop gemik om klem te plaas op “ons ontglippende dubbele menslikheid” en op “die onverklaarbare geheimsinnige mens”; die mens wat (soos die skikgodinne bepaal) soms ‘n volmaakte en soms ‘n gebreklike liggaam het; wat soms in vrede saamleef en soms in felle stryd met mekaar gewikkel is; soms oorvloed het en soms gebrek ly. Die rol van die noodlot wat die lewensomstandighede van die individu bepaal, speel ‘n belangrike rol in hoe die mens op aarde gesitueerd is:

 

groter as mensgrootte helder glansend

in die lug bo die stad hang Hefaistos

twee gode, Ares en Pallas Athene

wat kant kies soos die mense dit doen

een vir die plunderaars een vir die verweerders

 

            dit is die groter geveg tussen al die mooi dinge

            op die skild in die tweede kring van die nes

            van konsentriese sirkels wat in mekaar pas

            netjies soos die kringe in ‘n versteurde waterplas”[.]

 

Wat baie interessant is, is dat Cloete die gedeelte uit die Illias weglaat waarin die oorlog tussen die twee stede in grusame besonderhede vertel word. Heel waarskynlik kan dié feit onder andere geïnterpreteer word as deel van die digter se strategie om nie ‘n spesifieke historiese gebeurtenis te beskryf nie, maar om die klem doelbewus te plaas op universele menslike problematiek.

 

Waar Homerus dus die maak van Achilles se skild gefokus beskryf sonder om van die handeling af te wyk en met die doel om aan die leser ‘n lewensgetroue weergawe van die verskillende reliëfs te verskaf wat op die skild voorkom, is dié beskrywing vir die moderne digter slegs ‘n vertrekpunt van waar hy sin probeer maak uit dit wat uitgebeeld word. Vir Cloete is die reliëfs die versinnebeelding van die menslike kondisie en die mens se bestaan op aarde: ‘n bestaan wat gekenmerk word deur verskeurdheid, teenstelling en weerloosheid aan die een kant, en vreugde en blymoedigheid aan die ander kant. Hierdie fasette van menslikheid “pas netjies soos kringe in ‘n versteurde waterplas” inmekaar, soos dit op die skild uitgebeeld word; dit is ingebed in mekaar en word gekenmerk deur gelaagdheid soos ons dit vind in die vyf lae wat Hefaistos maak, waarna in die inleiding verwys word.