Posts Tagged ‘Hoofstroomletterkunde’

Daniel Hugo. Haar woordpaljas laat ons steier

Saturday, March 28th, 2020

 

Dit lyk of die Afrikaanse digbedryf ’n waterskeidingsoomblik bereik het. Die voorheen selfgepubliseerde digter Francis Grobler se bundel Nagblind is deur die hoofstroomuitgewery Naledi uitgegee. Dit is haar vierde publikasie in hierdie genre. Die bundel kom vergesel van aanbevelings onder andere deur die bekende skrywers Dana Snyman en Koos Kombuis, asook die sanger en liriekskrywer Richard van der Westhuizen. Op die agterplat staan ’n uitspraak van Antjie Krog: “Daadwerklike talent wat ’n eie interne woordeskat tot stand bring.”

Die enigste onbekende aanbeveler in dié deurlugtige geselskap is Berdéhan Brand wat homself bekendstel as “digter, resensent, vryskut en keurder by hoofstroomuitgewers”. Sy blakerteks word ook as mediavrystelling gebruik deur die uitgewery.

Hier is die teks:

“Francis Grobler skuif die sluier van ’n verskuilde wêreld met ’n afgerigte werklikheid en konformiteite oop met ’n moderne benadering tot digkuns. Die digbundel se outentieke benadering dra by tot ’n skaars, maar nodige kommoditeit in Afrikaanse poësie. Nagblind is ’n kragtige, eiesoortige en eenmalige lesers-ervaring. Die woord word verhelder deur retoriek en metafore wat vonk en word sterk beeldend verwoord. Dit delf in die geestelike dimensie en verfyn en rond die eindproduk tot ’n ‘andersheid’ af wat ver verby die grense van konvensies gaan en aan die geskrewe woord ’n nuwe betekenis gee. Nagblind breek behoorlik die skedels tot nuwe denke.”

Hierdie wartaal (soos metafore wat “beeldend verwoord” word) klop met die troebel segswyse en gedagtegang van die verse self:

            Denke is abstrak

            ’n terminale oomblik van iets wat saakmaak –

            tydelik of terloops

            geen blinde nag haal asem nie.

In ’n resensie op Moerala Media skryf die digter, romanskrywer en taalkundige Hans du Plessis onder meer: “Vir my is Nagblind van Francis Grobler een van die opwindendste debute (sic) van die afgelope tyd, nie net om die pragtige poësie daarin nie, maar ook om die diepte van die dink in die bundel.” Verder herinner die verse hom aan dié van Ingrid Jonker.  As ’n voorbeeld van die voortreflikheid van haar poësie haal Du Plessis onder meer die gedig hier bo aan.

Gewone denke is inderdaad abstrak, soos wat Grobler in die gedig beweer. Digterlike denke daarenteen is meestal konkreet beeldend van aard en hierdie vier reëls bevat inderdaad beeldspraak.

Maar maak dit sin?

Sy omskryf denke as ’n “terminale oomblik”. Dit verdwyn dus net so vinnig as wat dit verskyn. Wat “saakmaak” bestaan dan in ’n oogwink nie meer nie. Denke is dus by implikasie nutteloos. Waarop “tydelik of terloops” moet dui, is glad nie duidelik nie. Die sprong na die “blinde nag” wat nie “asemhaal” nie, bly duister. In elk geval is die personifikasie van ’n nag wat sou kon asemhaal as hy nie blind was nie hopeloos vergesog.

Ek is dus glad nie soos Du Plessis oortuig van die “diepte van dink” by Grobler nie.

Terloops, Du Plessis is nie ’n gereelde resensent van digbundels nie. Dieselfde geld vir Koos Kombuis, Dana Snyman en Richard van der Westhuizen. Om nie eens te praat van Berdéhan Brand nie. Krog en Du Plessis is wel erkende begeleiers van aspirant-skrywers.

Hoe is dit moontlik, vra jy jou af, dat soveel groot name in die literêre wêreld so oorboord kan gaan. Wat het geword van ’n nugter oordeel? Intussen plaas die digter die een video ná die ander op Facebook waarin haar gedigte voorgelees word.

Toe, op Versindaba verskyn ’n oorwoë resensie deur ’n ervare en belese resensent wat self ’n digbundel by Naledi die lig laat sien het: Nini Bennett. Sy wys onder meer op die volgende gebreke van die bundel: “’n Logiese poëtikale verloop ontbreek en botsende metafore vier hoogty.” Sy praat van “amorfe poësie” wat herinner aan – met verwysing na J.C. Kannemeyer se uitspraak in sy literatuurgeskiedenis – die Afrikaanse digkuns van die 1970’s. Sy tipeer die gedigte met die volgende frases: “stilistiese armoede en gebrek aan verstegniese beheer”, “potsierlike sameflansings van woorde” en die “mildelike gebruik van poëtiese clichés en die gesogte woord of beeld.”

Onmiddellik bars ’n storm los. Die digter se ondersteuners sak so hewig op die resensent toe dat die webmeester, Marlies Taljard, verplig voel om van die felste kommentaar te verwyder omdat die resensent persoonlik aangeval en beledig word.

Hier is ’n voorbeeld van so ’n reaksie. Ene Estelle skryf: “Hierdie sg. ‘resensie’ het my sprakeloos gelaat. Ek het nog nooit so ’n wrede, gevoellose en vernederende aanval op ’n digter gelees nie. Was dit nou werklik nodig? Die hele betoog is weersinwekkend en negatief en laat ʼn bitter smaak in jou mond. Hierdie begaafde digter verdien dit nie. Ek stel voor dat dit onmiddellik onttrek word. Dis onaanvaarbaar en gemeen.”

En Alida braak soos volg haar gal: “Aarde sluk dié gekots tog in. Wat op dees aarde het ek sopas gelees? Die enigste ooglopende afleiding wat mens kán maak, is die volgende. Hoofstromers, Ressesente (sic), die hooggeplaasdes (sic) m.a.w., sluk swaar aan die golf van núwe, briljante en geliefde Digters, waarvan hulle nie hou, op húlle uitgediende speelveld waarvan die gras verbleik het, nie.”

Nadat Engela O probeer het om die logika en geldigheid van Bennett se redenasie te ontsenu, kom sy tot die volgende slotsom: “Bennett se resensie is uiters persoonlik en ongegrond. Dit dui op haar persoonlike gevoelens en daar is ’n duidelike gebrek aan insig. Die resensie steun swaar op Kannemeyer se konsepte, en daar is dus ’n ook ’n gebrek aan relevansie en oorspronklikheid. Bennett sluit af met: ‘In Nagblind is daar té veel voetwerk en te min poësie’. Dit is sogenaamde ‘resensies’ soos hierdie wat die beste digters van ons tyd probeer stilmaak en hulle digterlike vryheid wil versmoor.”

Die probleem is dat sosialemediadigters almal deur ’n hoofstroom-uitgewer gepubliseer wil word, maar nie die spelreëls van die gevestigde literatuursisteem wil aanvaar nie. Hulle en hul akoliete verwag louter akklamasie en bewondering.

En dan vra Elmarie Viljoen-Massyn die vraag wat my ook laat wakker lê: “As ’n mens Hans du Plessis se resensie op Maroela Media lees, sou mens nie sê dit is dieselfde bundel wat Nini Bennett onder oë gehad het nie. En as Antjie Krog sê iemand het ‘daadwerklike talent’, wie’s ek om te stry? Dus: Waarom sê Krog en Du Plessis sus en Bennett so?”

Inderdaad. Het die hoofstroom-digters, die gekanoniseerdes, die poëtiese kluts kwytgeraak? Is hulle almal verblind deur Nagblind? Of is Francis Grobler se gedigte wel iets nuuts en opwindends in die Afrikaanse literêre arena?

Die literator Helize van Vuuren dink klaarblyklik so in haar kommentaar. Sy verwys na ’n gedig wat Bennett in haar resensie aanhaal: “’Kopklank’ is vir my ’n skitterende vers. Kyk met ʼn vars oog, gebruik ʼn vars taal, hang nie moeg en verkreukeld aan ou tegnieke soos eindelose rym en ou vorme nie. Strik nie mooi prentjies nie. Slaan ʼn bres in verlepte sienings van die mens en sy maniere van ‘syn’…”

Die enigste erkende digter en literator wat Bennett ondersteun, is Gisela Ullyatt (wat die afgelope tyd uitstekende resensies vir haar debuutbundel, Die waarheid oor duiwe, ontvang het): “Bennett se resensie is uiters relevant, juis omdat sy nié die digter aanval nie, maar uiters professioneel die mankemente in die bundel aan die hand van gestaafde voorbeelde uitwys.”

Boerneef het ’n vers geskryf oor digters wat hy as pretensieus en onverstaanbaar ervaar het: “sy woordpaljas die laat my steier”. Die slotreëls van dié vermaaklike gedig lui só:

            Babel se toring staan hand in die sy

            en skud soos hy lag oor die gektalery.

Ek staan aan die kant van Boerneef, Bennett en Ullyatt op hierdie waterskeidingspunt.

Daniel Hugo

28 Maart 2020

  •