Posts Tagged ‘Hugh Roberton’

Philip de Vos. Wat maak jy hier?

Wednesday, November 24th, 2010
’n Gereelde blogskrywery bring sy eie probleme mee. Hier sit ek al meer as ’n week lank en dink aan watter diep dinge ek oor die poësie kan kwytraak, want die blog het immers die grênd naam Versindaba. En om onsinnige dinge te wil neerkrap, sal dalk sommige lesers en swaarwigtige digters laat kopskud: lesers en digters en oud-bloggers wat weet wat die verskil is tussen surrealisties en surreeël terwyl ek skaars weet wat die verskil tussen alliterasie en ’n metafoor is. 

En hier sit ek , wat in my lese, nog nie veel verder as Leipoldt in daardie gewigtige André P Brink se Groot Verseboek 2000 gevorder het nie.

Met ’n boek van 1900g in jou arms is dit nie eintlik maklik om veel verder te vorder nie, g’n wonder die boek word nou in die nuutste uitgawe in Mazawatteetee-blikkies verpak nie. Maar nou is daar die probleem om daai blikke oop te kry, veral as die deksel halfverroes geraak het van al die klammigheid van die seelug hier in Kaapstad en jy ’n koevoet nodig het om dit oop te kry. En om die 2000 uitgawe te lees, beteken dat jy vir 6 maande by Virgin Active moet gaan oefen, om die ding selfs te kan optel, en met die geld wat jy op die gym spandeer het, kon jy net sowel die blikkies-uitgawe gekoop het, al sukkel jy met die oopkry.

 

 

Maar, nou dwaal ek alweer af. Ek het nou so ver as Leipoldt se Sekretarisvoël op bladsy 62 gevorder en Zandra Bezuidenhout lê eers op bladsy 906 voor. As ek daar uitkom, sal ek dus uiteindelik diep dinge oor die poësie kan kweel.

En van Sekretarisvoël gepraat:

 

Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou penne agter die ore styf,
Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?

Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

 

Ja, wat maak ék presies op ’n literêre blog?

Vandeesweek nooi ek met my vriende, Hugh Roberton en Deon Knobel oor vir ete – en terloops kom ek toe agter dat ons almal bybies van 1939 was – 1939 wat so ’n goeie jaar vir ons Afrikaanse letterkunde was: Eers was daar Lina Spies, en J.G. Kannemeyer en Breyten Breytenbach en Karel Schoeman en ék, alhoewel ek in alle nederigheid moet erken ek sit nie langs dieselfde vuur nie alhoewel ek darem kan spog dat ek langs Karel (destyds Tromp) Schoeman op Universiteit by UOVS gesit het en hy so verveeld was met Afrikaanse letterkunde dat hy, in plaas van luister ,sit en skryf het aan Engelse romans.

Ja, 1939 was die tyd toe ons nog briewe gskryf het, en posseëls gelek het en op koeverte geplak het, en elke liewe Kersfees’n wavrag van 258 Kerskaartjies in die posbus gegooi het.Wie weet vandag nog hoe ’n Suid-Afrikaanse posseël lyk, om nie eens te vra hoeveel een kos nie?

  

In daardie dae was ons almal nog baie ordentlik en ’n adres moes op ’n sekere manier geskryf word: Ons moes weet waar om al die kommas in te vul en alle adresse moes afdraand loop:

 

Cricketstraat 13

   Bloemfontein,

      Oranje Vrystaat,

         18 Desember 1948.

 

Dan was daar nog die ordentlike aanspreekvorme soos Hoogedele, Geagte, Beste en as jy heel familiêr wil raak was dit sommer Liewe, of veel erger Liefste.

En hoe sluit ’n mens ’n brief af: Hoogagtend of Met innige dank

En wat het intussen gebeur? Jong mense weet waarskynlik nie eens wat ’n brief of ’n Kerskaart is nie – om van posseëls nie eens te praat nie.

Nou is dit e-posse en SMSe wat begin met Hi en as jy nog ’n bietjie ordentlikheid het eindig dit met Met vriendelike groete al ken jy die ontvanger van die brief glad en geheel nie en al kan jy hom dalk nie eens verdra nie.

En dan was daar die wonderlike dae van Penvriende: Iemand wat in Engeland woon, of Australië of iets eksoties soos Egipte. Dan land daar wonderlike briewe in jou posbus met koeverte en seëls en die persoon se handskrif en inkkolle wat gelos is deur ’n lekkende vulpen.

Vandag sit almal voor rekenaars en ek twyfel of Marlene van Niekerk en Deon Meyer en natuurlik Karel Schoeman met hulle geskrifte van om en by 800 bladsye selfs weet hoe hulle eie handskrifte lyk.

 

 

En dit is uit die dae van penvriende dat ek my vriend Hugh Roberton se wonderlike storie vertel.

En die beste is – hierdie storie is die reine waarheid en is so wonderlik dat ek verlede week my bandmasjientjie uitgehaal het en dit opgeneem het sodat ek droewige dae kan opkikker met dit wat Hugh in sy kinderdae aangevang het.

Dit was om en by 1949/1950 toe Hugh 10 was en hulle op die kaal haai vlakte op ’n plaas êrens tussen Odendaalsus en Kroonstad gewoon het. Hugh se ouers was beide van Skotland en sy pa het die nabye myne van stene en keramiekteëls voorsien.

Met Skotse ouers, en ’n seun in ’n Afrikaanse omgewing en leerling by die Wessel Marais-skool was daar nie veel kontak met ander Engelse kinders nie en het sy ma (volgens Hugh ’n taamlike ernstige Skotse vrou) besluit haar seun het kontak met die Engelse wêreld nodig om hom te laat besef daar is ander plekke buiten Odendaalsrus. Die gevolg was dat sy ’n tydskrif met ’n penvriend-afdeling gekoop het en nie lank daarna nie skryf Hugh toe gereeld briewe aan ’n meisiekind van sy eie ouderdom genaamd Shirley Valz.

Alhoewel Hugh gefassineerd was met ’n penvriend uit die gesofistikeerde New York was Shirley meer as 10 keer in haar skik met haar penvriend uit Donker Afrika en sommer met die eerste brief reeds wou sy weet of daar leeus en ander gediertes in Hugh se omgewing was. Dit was in die dae van die Tarzan-films. Tarzan wat in die oerwoud rondswaai met sy Jane en sy aap Cheeta. En Johnnie Weissmuller wat die rol vertolk het, was so pragtig en gespierd en soveel mooier as die ander manne van New York.

 

 

 

En Hugh het haar vrae beantwoord:

Ja, die Roberton-huis was naby ’n meer in die oerwoud by Odendaalsrus en dit was eintlik maar gevaarlike gebied met krokodille en seekoeie en ander gediertes wat met hulle oë in die moerasse uitloer.

Sy vervoer na die skool toe was op ’n olfant se rug met die Robertons se mak troetelleeu wat langsaan die olifant draf om die ander wilde leeus van hulle weg te hou. En ja, saam met hom op die olifant se rug was sy mak aap wat sy skoolboeke vasgehou het, presies net soos Tarzan se Cheeta.

 

 

En so begin ’n briefwisseling van byna 6 maande. Die probleem was dat Shirley al hoe nuuskieriger geword het en graag meer foto’s van die mak olifant wou sien. Hugh het tussen sy pa se ou foto’s rondgekrap en ’n sepia-foto opgespoor van ’n olifantjag en ’n olifant wat sy pa destyds in Zambia doodgeskiet het. En gou-gou het Hugh in sy brief verduidelik dat hulle die kiekie geneem het terwyl hulle mak olifant slaap.

 

 

Maar na ’n paar maande het Hugh begin moeg raak vir hierdie speletjie en die feit was dat Shirley nog meer foto’s wou sien. Die enigste uitweg was dat Hugh sy suster Marie gevra het om ’n brief namens hom te skryf. Marie was bewus van die inhoud van die briefwisseling en Hugh moes haar ompraat met ’n belofte dat hy haar sy hele maand se sakgeld sou gee.

Die gevolg was dus ’n brief in Marie se handskrif waarin sy vir Shirley Valz baie, baie slegte nuus meedeel: Hugh was nie meer deel van die Roberton-gesin nie.

’n Paar dae tevore het hulle besluit om ’n piekniek te gaan hou langs die rivier in die oerwoud (die Vaal) en omdat Hugh so lief was vir swem het hy kort daarna in die water rondgeplas. En toe gebeur die verskriklike: Hy is deur ’n krokodil beetgekry en in eenvoudige Engels skryf sy: Our Hughie is no more.

 

 

Ten spyte van klippe wat hulle na die gedierte gegooi het, was alles tevergeefs. Sy ouers was so verskiklik ontsteld oor die hele aaklige voorval, dat hulle skaars kon praat.

Met die woorde op die papier neergepen, het Hugh sy maand se sakgeld van 5 sjielings aan sy suster oorhandig.

Ongelukkig (vir Hugh) was dit glad nie die einde van die storie nie.

Een middag omtrent ‘n maand later het die Robertons op die stoep gesit met hulle tee en scones. Op die Vrystaatse vlaktes êrens tussen Odendaalrus en Kroonstad kon jy glo vir myle ver sien as daar dalk besoekers aankom. En dit is presies wat gebeur het: Besoekers was op pad in ’n toe vragmotortjie.

Die bestuurder het uitgeklim, die agterste deur van die motortjie oopgemaak en die allergrootste blommeruiker met dahlias en rose en lelies uitgehaal en vir mnr. Roberton gevra om te teken.

Toe sy ma uiteindelik die groetekaartjie uit sy koevert haal, was sy heel verward:

 

 

 

From Shirley Valz and the Valz family

to Mr and Mrs Roberton and Marie

with our deepest sympathy

at the loss of Hugh.

 

Hugh se ma wou onmiddellik weet wat aangaan, en volgens wat Hugh my vertel, was sy suster Marie baie maklik geïntimideer en het sy vertel presies wat gebeur het en wat Hugh gevra het sy namens hom moes doen.

Daardie dag het sy ma hom glo gedwing om ’n brief terug te skryf om verskoning te vra vir al sy leuens.

Hugh vertel dat hulle omtrent die hele middag daar gesit het, en sy ma het die een vel na die ander opgeskeur omdat sy woorde en verskonings nie opreg genoeg geklink het nie, totdat hulle uiteindelik klaar was en die brief gepos kon word.

Hulle het gewag, maar tevergeefs. En dit was die einde van Shirley Valz, en hy het nooit ooit weer van haar gehoor nie.

Hugh is toe weg uit Odendaalsrus en omdat hy ’n slim seun was, beland hy uiteindelik by Michaelhouse in Natal en was hy later vir baie jare lank assistent redakteur en politieke redakteur en verteenwoordiger van die Argusgroep by die Verenigde Volkere-organisasie en was vir 4 jaar in Washington DC gestasioneer.

 

 

In New York het hy weer vir Shirley onthou en wou graag na al die jare weer kontak maak, maar daar was glo 6 bladsye van mense met dié van in die telefoongids, en dié sou ’n onmoontlike taak wees.

Hugh kan hierdie storie maar elke keer vir my vertel wanneer hy vir ons kom kuier, want dit bly vir my die mooiste storie van die dae voor balpuntpenne, en rekenaars en e-posse toe ons almal nog geweet het hoe om te spel.

Intussen sal ek maar vir die volgende bloginskrywing my kennis oor die Afrikaanse letterkunde slyp met Leipoldt se grootste gedig

 

Klossies, jul bewe en bibber:

   Is dan die aandlug so koud?

Moet julle so teen die westewind koes?

   Sal hy vir julle die blou en die goud,

          Alles verwoes?

 

Intussen kwel iets my al vir 10 jaar lank: waar is Mabalêl in André P. Brink se Groot Verseboek 2000?

 

 

  •