N.P. van Wyk Louw 50. Hein Viljoen
Friday, January 17th, 2020
liewe leser, of: lèse-majesté
verby sestig sluip ek g’n
g’n tonnel of donker grot binne
langs geen donker steeg of straat af
ek staan gewoon in dowwerige lig
die son al onder die dag grouerig bewolk
aand aan die daal of val of iets
maar miskien kan ek jou saamvat
(meevoer waarskynlik nie) dalk oorreed
om ’n kort reis (verslete metafoor)
saam met my aan te pak jou skoene
by wyse van spreke skeefgetrap jou hemp
vaal gebak in die son bruin verkleur in die nek
die brabandjie geskif op die skouer
die oë al moeg opgeslaan na berge of kafees
selfs die kierie al stomp gestap
(jy sal weet wat ek bedoel)
nugter dinge op pad gesien deur geen bos
benoud van simbole strompel maar by klaar-
ligte dag straat af loop werk toe ry
deur deure gaan trappe op en plaasneem voor die skoop
’n wêreldskoop van 18″ wyd en kyk wat daar te sien is
waar geen vreemde diere afgly met liane
en jou met blou oë betrag of geel of swart
motte met vlerkoë vlug gaan sit
en jou die skrik op die lyf jaag
of taai maaiers teen jou arms afklouter
ligweg in die lig loop
“die lig dryf op die duister soos ’n veer”
by buisligte boeke lees of klein klein kolletjies kleur
in lig geverf
of selfs by hierdie nugter dinge die vrees woon?
’n botteltjie pikswart ink omgeval
’n pluimpie swart in die helder poel
wat die rivier inneem die baai verswart
die see tot aan die horison
taai en loom swart verkleur
swart alles alles swart en swart
by nugter lig dan die wêreld betrag of blou
in drome hul pers vitrioel van die
verbeelding of dalk dink besink
die droesem in die glas rus
stilte donkerte soos rooi wyn
dalk is jy tog gereed gedonkerbril
om saam te gaan
kom, vat my hand
© Hein Viljoen /2020