Posts Tagged ‘I Ching’

Marlies Taljard: Koos Kombuis en die ‘i-Tjieng”

Tuesday, July 22nd, 2014

In sy Poëtika skryf Aristoteles dat die belangrikste eienskap van ʼn digter is om ʼn meester op die gebied van metafoorgebruik te wees. Betekenisgewing deur middel van metafore, vergelykings en simbole word oor die algemeen as kenmerke van poëtiese tekste beskou, benewens verdere aspekte soos klank, ritme, metrum, versbou en herhaling. Hieruit vloei voort dat poëtiese tekste dikwels uiters gelade en betekenis-intensief is. Daarom is dit besonder moeilik om poësie te vertaal. Volgens kenners is die Psalms egter ʼn uitsondering op dié reël, aangesien die estetiese bevrediging dikwels net soveel geleë is in die balans van idees as in die spesifieke taalvorm waarin dit gegiet is.

Een van die vernaamste verskille tussen prosa en poësie is dat prosa meestal daarop gemik is om eenduidig en onomwonde betekenis te genereer deur van logiese argumentstrukture gebruik te maak wat aan lesers bekend is. Daarteenoor is taalgebruik in gedigte dikwels daarop gemik om dubbelsinnig en meerduidig te wees. Hoewel daar natuurlik ook ʼn argumentstruktuur in gedigte voorkom, is dit nie altyd met die eerste oogopslag duidelik sigbaar nie, omdat digters dikwels juis probeer ontsnap aan die logika wat soms verblindend in die pad kan staan van nuwe insigte. Hoewel poësie meestal aan sy vorm herken word, is dit natuurlik nie noodsaaklik dat ʼn gedig in versvorm geskryf moet wees nie. Sommige van die mooiste poëtiese tekste is immers in prosavorm geskryf – soos die meeste Westerse vertalings van die I Ching, hoewel daar wel van tyd tot tyd pogings is om dit in Westerse poëtiese vorm te giet, soos dié vers van Tom Williams:

“Escape the shadow

By giving away your own.

Let the sun see through you.”

 

Hierby moet natuurlik onmiddellik gevoeg word dat daar ʼn oseaan van verskille bestaan tussen tradisionele Oosterse genres en dié wat aan ons bekend is.

So ver ek weet is die eerste poging om die I Ching in Afrikaans uit te gee, Koos Kombuis se i-Tjieng wat in 2013 by Penguin Books verskyn het. Hoewel die teks nie in poëtiese vorm geskryf is nie, is die poëtiese kwaliteite daarvan vir my een van die belangrikste kenmerke van die teks soos dit nou ook in Afrikaans verskyn – veral beskou in die lig van die voorafgaande opsomming van die kenmerke van gedigtekste. Soos die Psalms word ook die I Ching gekenmerk deur ʼn besondere harmonie en balans van gedagtes en insigte. Nog ʼn eienskap wat dit vir my as besonder poëties laat uitstaan, is die feit dat die filosofiese uitleg van die heksagramme ʼn mens in kontak bring met dieperliggende aspekte van die self – onder andere sekerlik weens die spirituele substratum van die werk, maar ook deur middel van die sterk simboliese en metaforiese lading van die teks. Die weglaat van logiese skakels plaas onmiddellik die teks in die domein van die poësie, omdat die leser die logika self moet naspeur en in die proses dikwels verbasende en innoverende denkspronge maak, asook tot kreatiewe en ongewone gevolgtrekkings kom – byvoorbeeld: “Hy skiet ʼn fisant en verloor in die proses sy pyl. Tog word hy geprys en beloon.” (p.147)

Die tipies Suid-Afrikaanse uitleg by die bronmateriaal is Kombuis op sy beste en humoristiese. Ten spyte van verskeie ander vertalings van die I Ching wat op my boekrak staan, het ek die afgelope maande besondere plesier aan die Afrikaanse teks gehad. Daar is iéts aan wat mens laat tuis voel, asof hierdie antieke teks deur baie palimpses heen tot ons spreek in die hedendaagse, eg-voorstedelike Afrikaanse idioom.

Ek plaas hieronder ʼn resensie van Retha Fritz oor Koos Kombuis se i-Tjieng in Afrikaans om die voornemende leser ʼn voorsmaak te gee van hierdie besondere publikasie:

 

I-Tjieng: ‘n GPS vir verdwaalde siele deur Koos Kombuis
Resensent: Retha Fritz – Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit

Die I Ching, ook bekend as die Boek van Veranderinge, is een van die historiese bakentekste van die Sjinese kultuur. Alhoewel die I Ching deesdae meer algemeen bekend is as ʼn divinasiesisteem, was die fokus in antieke Sjina meer op die filosofiese beginsels, wat binne die I Ching uitgelê word, gerig. Die boek wat hier geresenseer word, is Koos Kombuis se eie vertaling van die I Ching (sy sogenaamde i-Tjieng). Hierdie vertaling behou dan ook die hedendaagse gewilde fokus op die I Ching as divinasiesisteem, eerder as lewensfilosofie.

Vertalings van hierdie klassieke werk is niks nuut nie. Inderwaarheid, vir ʼn boek wat een van die oudste klassieke Sjinese tekste is, kan verwag word dat daar vele vertalings behoort te bestaan. Die vraag is egter of nog ʼn vertaling, en dan juis ʼn vertaling in Afrikaans, vir Suid-Afrikaners, werklik nodig is?

In terme van Koos se vorige skryfwerk, is hierdie definitief ʼn nuwe genre wat betree is. Dat Koos nie skroom om in ʼn eiesoortige dialoog met die godheid te tree nie, is alreeds in 2008 bewys met die publikasie van sy The complete secret diaries of God. Alhoewel daar humor in Koos se vertaling van die i-Tjieng voorkom, is dit nie dieselfde satire wat teenwoordig is in  The complete secret diaries of God nie. Die i-Tjieng is ook nie Koos se eie vertelling van ʼn godheidsverhaal nie, maar eerder ʼn manier vir elke persoon om self leiding vanaf ʼn groter en dieper wysheid te vind.

Is dit blote toeval dat ʼn Sjinese inkarnasie van Koos soos ʼn profeet op die voorblad staan? Die illustrasies binne hierdie teks, deur Koos self, is natuurlik nog een van die besondere aspekte van hierdie vertaling. Die illustrasies ondersteun telkens die boodskap uit die toepaslike hoofstuk van die i-Tjieng, waar dit voorkom. Die tekeninge is dan dikwels ook ʼn humoristiese uitbeelding van die boodskap in die spesifieke hoofstuk.

Nog ʼn unieke aspek is die teksverwysings uit die Bybel wat by die i-Tjieng boodskappies ingeweef word. Alhoewel dit uniek is, mag dit sommige lesers aanstoot gee. My persoonlike indruk is dat die teksversies gepas en in pas is met die boodskap van die i-Tjieng self en sou raakpunte vir diegene wat die i-Tjieng nuut betree, kon verskaf. In sy wese is die I Ching egter ʼn filosofiese benadering tot die lewe en nie ʼn godsdienstige werk nie. Wat Koos dus as ʼn ‘GPS vir verdwaalde siele’ voorhou, impliseer meer ʼn alternatiewe wyse van dink, of ʼn nuwe benadering tot problematiese situasies, na aanleiding van die filosofiese inslag van die I Ching.

Wat hierdie vertaling van die I Ching besonders maak, is dat dit die eerste keer is dat die I Ching in toeganklike Afrikaans aan die deursnit Afrikaanse Suid-Afrikaner voorgehou word. Dit alleen behoort hierdie teks in die Afrikaanse literatuur ʼn bakenteks te maak en ʼn plekkie op elke versamelaar se boekrak te verseker – om natuurlik nie te praat van die waarde wat dit vir die soekende man op straat kan bied nie.

Marlies Taljard: Die lewe is ‘n werkwoord

Sunday, May 18th, 2014

Marlies Taljard: Die lewe is ʼn werkwoord

Consciousness is the motive power behind all creation and change, the conductor of the music to which the polar partners of Yin and Yang, Heaven and Earth, male and female dance through the universe. The science of quantum physics has recently verified the decisive role played by consciousness in the transformations of energy and matter, but the I Ching has taught this truth for thousands of years. Its pages provide us with a reliable way to foresee how the intricate interplay between the Three Powers of Heaven, Earth, and Humanity (i.e. energy, matter, and spirit) in a person’s life now give rise to particular results later, and how the tides of change which mold the future may be favorably influenced by timely decisions in the present (Richard Wilhelm).

In sy voorwoord tot die I Ching sê Daniel Reid die lewe is in eerste instansie ʼn werkwoord – dit is die belangrikste beginsel wat dié enigmatiese boek onderlê, die rede waarom dit ook Die Boek van Verandering genoem word. Beweging, aktiwiteit, proses en verandering is die basiese beginsels waarop alles in die heelal funksioneer. Die mens wat dié beginsel van dinamiese balans, Yin-Yang, verstaan, is in staat om op aarde te leef soos in die hemel. Die tweede basiese beginsel wat die I Ching leer, is dat die toekoms bestaan uit ʼn oneindige kombinasie van moontlikhede of toevallighede wat egter op ʼn nie-rasionele vlak deur die deelnemer aan die gebeure beïnvloed word. Reid beweer:

The I Ching offers us a precise view of our present situation, identifies the key currents of change that govern it, and indicates how the situation in question is unfolding, where it’s leading us, and what choices we can make now in order to influence the process of change in a favorable direction.

Die I Ching is een van die oudste tekste op aarde – kenners reken dat dit die gedokumenteerde geskiedenis voorafgaan tot in die mitiese verlede. Volgens Richard Wilhelm, wat die inleiding skryf tot Baynes se vertaling van die I Ching, is dit een van die belangrikste boeke op aarde. Dit werp lig op die werk van Lao Tse en sy dissipels, sowel as op verskeie aksiomas wat in Confucius se werk voorkom. Dit is die enigste belangrike boek wat die boekverbranding onder Ch’in Shih Huang vrygespring het. Die eerste orale weergawes van die I Ching mag moontlik reeds voor 3 000 vC bestaan het. Die oudste manuskrip van die werk dateer uit ongeveer 475-221 vC. Wilhelm skryf oor dié werk:

… a living stream of deep human wisdom was constantly flowing through the channel of this book into everyday life, giving to China’s great civilization that ripeness of wisdom, distilled through the ages, which we wistfully admire in the remnants of this last truly autochthonous culture”

Hoewel die belangrikste kommentare op die boek deur Confucianiste geskryf is, word die I Ching reeds eeue lank deur sowel Taoïste as Confucianiste as etiese en filosofiese teks gebruik. Leke beskou die I Ching gewoonlik slegs as ʼn divinasiesisteem of as ʼn reeks towerspreuke deur middel waarvan die toekoms voorspel kan word, maar Chinese en Japannese filosowe waarsku reeds vroeg teen sodanige onderskatting van die werk. Koning Wên het in 1150 vC die stom heksagramme waaruit die teks tot op daardie datum bestaan het, toegelig met raadgewinge vir die regte gedrag in al die moontlike situasies wat deur die yin- en yang-patrone gesimboliseer word. Dit is veral Confucius se kommentare wat die teks getransformeer het van ʼn divinasiewerk tot ʼn filosofiese teks. Oor die kommentare, wat in ons tyd as integrale deel van die I Ching beskou word, skryf Wilhelm in sy voorwoord:

In its judgments, and in the interpretations attached to it from the time of Confucius on the Book of Changes opens to the reader the richest treasure of Chinese wisdom; at the same time it affords him a comprehensive view of the varieties of human experience, enabling him thereby to shape his life of his own sovereign will into an organic whole and so to direct it that it comes into accord with the ultimate tao lying at the root of all that exists.

Yin-Yang-teken

Yin-Yang-teken

Die I Ching het tallose Chinese filosowe beïnvloed, maar ook Westerse akademici en kunstenaars gebruik dit steeds in uiteenlopende rigtings soos letterkunde, psigoanalise, musiek, dans en drama. Deur bloot die I Ching op enige willekeurige plek oop te maak, behoort dit die leser te tref dat die teks besonder noue ooreenkoms met literêre tekste vertoon, veral weens die gekonsentreerde, simboliese aard van die kommentare. Verder vereis interpretasie van die I Ching besondere insig in die menslike kondisie en die eie psige, asook die vermoë om abstrak te dink en simbole te interpreteer. Dit is daarom nie verbasend dat ook Carl Gustav Jung besondere belangstelling in die I Ching toon om toegang tot wat hy die Onbewuste noem, te verkry nie. Daarom antwoord die I Ching hom waarskynlik op sy vraag: “Wat is u?”: “Ek bevat voedsel vir die siel.” Jung lees in sy vraag aan die orakel verder die antwoord dat ons vandag nie meer die ondersteuning van die wyse orakel geniet nie. Omdat ons nie daarin glo nie, verbeur ons die diepe insig wat uit die teks geput kan word en daarom kan ons onsself nie meer uit die labirint wat die noodlot om ons gespin het en uit die donkerte van ons menslike natuur bevry nie.

Jung wys daarop dat Westerse wetenskap op die beginsel van kousaliteit gebaseer is. Juis daarom is dit vir Westerlinge moeilik om die beginsels wat die I Ching onderlê, te verstaan. Die I Ching aanvaar naamlik nie kousaliteit as aksiomatiese waarheid nie, maar funksioneer volgens die beginsel wat Jung sinchronisiteit noem, met ander woorde die konsep dat aspekte van toevalligheid in gebeure wat in tyd en ruimte plaasvind, meer is as sinnelose toeval, maar dat daar ʼn buitengewone interafhanklikheid bestaan tussen bepaalde objektiewe gebeure en die subjektiewe (psigiese) toestand van die betrokke persoon of persone wat deel is van dié gebeure – ʼn konsep wat ook deur Kant aan die orde gestel word in sy Kritiek van Suiwer Rede. Hierdie beginsel, tesame met ʼn onderbeklemtoning van kousaliteit en chronologie is eweneens belangrike beginsels van modernistiese en postmodernistiese literêre tekste.

Jung wys daarop dat ons in ons verkenning van die onbewuste soms op uiters eienaardige dinge afkom, dinge wat die rasionalis summier verwerp en ontken. Die irrasionele volheid van die lewe het hom as psigoanalis egter geleer om geen moontlikhede uit te sluit nie, selfs nie al weerspreek dit alle voorafgaande teorieë en verwagtinge nie, of al bly dit onverklaarbaar nie. Met hierdie ingesteldheid behoort enige lesing van die I Ching benader te word:

He who has perceived the meaning of change fixes his attention no longer on transitory individual things but on the immutable, eternal law at work in all change. This law is the tao of Lao-tse, the course of things, the principle of the one in the many. That it may become manifest, a decision, a postulate, is necessary. This fundamental postulate is the “great primal beginning” of all that exists … (Richard Wilhelm)