Posts Tagged ‘I wish I’d said Vol. 4 resensie’

Resensie: I wish I’d said Vol. 4 (Johann de Lange & Rethabile Possa-Mogoera, Reds.)

Thursday, October 28th, 2021

 

 

 

I wish I’d said Vol. 4, Johann de Lange & Rethabile Possa-Mogoera, Reds. Naledi, 2021.

Resensent: Marlies Taljard

 

In 2017 is die AVBOB Poetry Project geloods wat ‘n uitlaatklep bied aan digters wat die behoefte voel om hulle emosies rondom die verlies van ‘n geliefde in woorde uit te druk. Sedertdien kan digters in alle amptelike tale van Suid-Afrika jaarliks deelneem aan ‘n kompetisie waarvan die wenners ‘n kontantbedrag ontvang en hulle wengedigte verskyn dan in druk in die “I wish I’d said”-bundels. In 2021 verskyn “I wish I’d said Vol. 4” by Naledi – dus die vierde bundel in die reeks. Die bundel is onberispelik uitgegee met ‘n Pierneef-skildery (“Baobab”, 1952) op die voorblad, gedruk op duursame papier. Meer as 100 gedigte is in die  bundel opgeneem.

In die Inleiding van die bundel skryf Carl van der Riet, hoofbestuurder van AVBOB, dat die gedigte wat in die nuutste bundel verskyn, tydens die Covid 19-pandemie ontstaan het waarin tradisionele begrafnisse en begrafnisrites nie meer kon plaasvind as gevolg van die streng inperkingsmaatreëls nie. In die lig van hierdie abnormale omstandighede skryf hy:

… the AVBOB Poetry Project … includes a belief in ubuntu. We believe that by enabling each person to see and know their own humanity through the humanity of others, we contribute to the healing and restoration of ourselves and our communities (p. xv).

Johann de Lange, hoofredakteur van “I wish I’d said Vol. 4” beklemtoon eweneens die vermoë van gedigte om te troos en verlies uit te druk:

 

Poets record our losses, our suffering, leaving traces in the form of poems. Poems that can heal us as well as others who read them. Through the ages poets have kept a living record of how we deal with death and loss” (p. xiii).

 

Die bundel is in 12 afdelings ingedeel: een vir elke amptelike taal van Suid-Afrika én een vir die Nama-taal. Die eerste 11 afdelings bevat telkens ses gedigte van genooide digters en die drie 2020-wengedigte in die betrokke taal saam met hulle Engelse vertalings in die geval van die 10 ander amptelike tale. Die laaste afdeling bestaan uit vier gedigte van Lynthia Julius in Afrikaans tesame met hulle vertalings in Engels, Nama en !Xun Thali.

Op hierdie stadium lê daar reeds bykans 15 000 gedigte op die AVBOB Poetry-webwerf en is reeds meer as 121 000 inskrywings oor die afgelope vier jaar ontvang. (Sien webwerf by https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjw8eOLBhC1ARIsAOzx5cFgPrUvcQ293T-nEJdixW_iFZVMXNVddkLG5cIq9Ij-D5OZrL_Va88aAuR4EALw_wcB ) Om die minste te sê, is dit imposante syfers, veral inaggenome dat dit gedigte in alle amptelike Suid-Afrikaanse tale tesame met vertalings in Engels behels. Selfs op ‘n internasionale skaal is dit indrukwekkend, en daarvoor moet ‘n mens AVBOB beslis krediet gee! Die gedigte wat op die webwerf lê, tesame met die hardekopieë van die vier bundels wat reeds verskyn het, dra by tot die vestiging van ‘n kanon elegiese verse uit die suide van Afrika waarin verskillende tale en kulture naas mekaar lê en teoreties en wetenskaplik gesproke selfs naas mekaar gestel kan word. As sodanig bied dit tans geleentheid tot interessante vergelykende studies en teoretiese navorsing in verskeie akademiese vakgebiede.

Wat my die afgelope vier jaar by die lees van die “I wish I’d said”-bundels opgeval het, is die verskillende kulturele benaderinge wat dikwels kenmerkend is van gedigte in verskillende tale, asook die verskillende poëtiese vorme waarvan digters gebruik maak. Dit hang ook saam met verskillende kulturele begrafnisrites en prosesse van roubeklag. Sommige digters hou by die tradisionele elegiese vorm waarin oor verlies en die dood, asook oor verlossing en troos gereflekteer word, soms met didaktiese ondertone. Ander digters verkies ‘n meer kompakte poëtiese vorm met meer subtiele verwysings na die bogenoemde temas, en ander vertel bloot ‘n aangrypende verhaal.

In “I wish I’d said Vol 4” is Afrikaanse gedigte van die volgende digters opgeneem: Bernard Odendaal, Eunice Basson, Koos van der Riet, Joan Hambidge, Lina Spies en Nini Bennett. Die wenners van die 2020-AVBOB Poetry kompetisie in die Afrikaanse kategorie, wie se gedigte ook opgeneem is, is Jacques Coetzee (eerste plek), Maretha Maartens, wat verlede jaar die wenner was (tweede plek) en Salvia Ockhuis (derde plek). Al die gedigte in die eerste afdeling (Afrikaanse gedigte) is deur Douglas Reid Skinner in Engels vertaal. Daniel Hugo was die redakteur van hierdie afdeling.

Jacques Coetzee se wengedig, “Doepa vir Allenigheid” is ‘n onthou-jy-nog-gedig waarin die digter ‘n spesifieke aand saam met sy neef in herinnering roep, maar te midde van die onthou, word hy teruggeruk na die werklikheid:

 

Liewe neef, wat sal ek doen

met hierdie verskrikking, die onverstaanbare

geweld waarmee jy hier weg is?

(…)

Ten slotte dan die toewensing:

Nog een, net nog een ding:

ek hoop daar was liefde

en vreugde tussenin die chaos en die vrees

wat soveel van ons erfporsie is

Ek hoop jou oë het al die mooi dinge onthou wat hulle ooit gesien het

voor die einde. (pp. 18-19)

 

Maretha Maartens se gedig, “Die Senotaaf van Emmaus” (p. 22) is gebaseer op een van ‘n reeks skilderye van Caravaggio (1606) getiteld “Aandete te Emmaus” waarin Jesus en twee dissipels aan tafel sit en twee vroue hulle staande bedien. Hierdie gedig het ‘n eksplisiet christelike tema waarin die besoek van die spreker aan die konkrete plek, Emmaus, gejukstaponeer word met die skildery en die opstanding van Jesus, sy verskyning aan dissipels wat op pad was na Emmaus en die aandete waartydens Hy die brood gebreek het. Die slotstrofe met sy meerduidige betekenis lui soos volg:

 

Hoe stil is dit daar by die senotaaf van Emmaus

waar die brood eens vir ons gebreek is.

Sy wat die brood vir haar broer gebring het om te breek

is nie meer daar nie. Sy het opgestaan.

 

Salvia Ockhuis se gedig “Koud” fokus op afwesigheid:

 

jou wegwees

bly yswit

op my hart

se pieke lê. (p. 24)

 

Die laaste afdeling van die bundel word gewy aan die Namataal wat egter nie ‘n amptelike taal in Suid-Afrika is nie. Hierdie afdeling word gewoonlik gewy aan tale wat, benewens die amptelike tale, ook in Suid-Afrika gepraat word. In die vorige bundel (Volume 3) is byvoorbeeld drie ǀXam-gedigte uit die Bleek en Lloyd-versameling geplaas. Hierdie jaar verskyn (soos hierbo genoem) vier van digter Lynthia Julius se gedigte. Dit is kort vierreëlige gedigte wat die taal en idioom van die verre Noord-Kaapse mense weerspieël. Ek haal die tweede gedig hier aan:

 

Autumn was vir ons gebore

Autumn was vir ons gebore

1.5 kg se portuur

Autumn is op ‘n Easter begrawe

in ‘n Blacklabel kis tussen goue blare

 

In die inleidings tot al vier die “I wish I’d said”-bundels wat tot dusver verskyn het, maak die verteenwoordigers van AVBOB dit duidelik dat die doel van die bundels en van die poësiewedstryd waarvan dit die eindproduk is, troos en bemoediging in tye van verlies is. Dit is hulle hoop dat die bundels vir alle mense van Suid-Afrika woorde sal gee om dit wat in swaar tye in ons gemoedere lê, sinvol en troosryk te verwoord. Hierdie bundels gee vir mense wat huldigings aan gestorwenes moet lewer, konkrete woorde wanneer woorde dikwels ontbreek. Dit is bundels wat troos verskaf aan mense wat met verlies gekonfronteer word en waarin woorde van wysheid sin mag gee in tye van droefheid.

Soos sy voorgangers, bied “I wish I’d said Vol. 4” ‘n rykdom van gedigte in 11 tale. Carl van der Riet, hoofbestuurder van AVBOB, het tereg in die 2019-bundel daarop gewys dat wanneer ‘n mens treur, wil jy dit in jou eie taal doen. Dié geleentheid bied die AVBOB-bundels aan die mense van Suid-Afrika. Maar wat meer is – ons verkry toegang tot alle gedigte in die bundel deur die Engelse vertalings van taalkundige spesialiste van die inheemse tale. In die voorwoord tot dié bundel skryf Johann de Lange:

 

Poetry is a church where people can gather, providing you with songs to sing. It is a space where you articulate unuttered thoughts and feelings, where you can speak of what has been left unsaid – “I wish I’d said Vol. 3”, pp. xiii-xiv, Naledi, 2020.

 

 

Inskrywings vir die 2021-AVBOB Poetry Project word nog tot 30 November 2021 ontvang by die volgende skakel:

https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjwlOmLBhCHARIsAGiJg7nlAgJbAEXiQMboQzgYGi0UOqN5jqIRfHwHkO0cWgdNag0EHvE1EzcaAv3FEALw_wcB