Posts Tagged ‘I.D. du Plessis’

Hennie Aucamp. Die liefdesvers

Friday, February 5th, 2010

Blogfokus

Die Liefdesvers: ingeboude geheime en beveiligings

 

Talle liefdesgedigte het ‘n ingeboude geheim wat dalk juis bydra tot die hoogspanning van dié subgenre van die poësie.  Die geheim lê hierin dat die en die jy van ‘n liefdesgedig  nie altyd sonder meer identifiseerbaar is nie.  Is dit ‘n man wat met ‘n vrou praat, of omgekeerd?  Of is dit ‘n vrou wat met ‘n vrou praat; ‘n man wat met ‘n man praat?

‘n Gedig soos die Middeleeuse juweel “Egidius, waer bestu bleven?” is ‘n boeiende voorbeeldgeval.  Dié gedig bied hom feitlik aan vir ‘n homoërotiese interpretasie:

Egidius, waer bestu bleven?

Mi lanct na di, gheselle mijn.

Du coors die dood, du liets mi tleven

Dr. Etienne Britz het egter in ‘n deeglik nagevorste artikel op Gay Litnet bewys dat “Egidius” nie ‘n gay gedig is nie.  Dis die roubeklag van ‘n getroude man vir ‘n gestorwe vriend.

En wie is byvoorbeeld die “dark lady” van die Shakespeare-sonnette? Oscar Wilde het vanweë ‘n slordige leesfout aanvaar dat Shakespeare sy liefdesonnette aan ene Mr W.H. opgedra het, en Wilde het ‘n Willie Hughes geskep wat ‘n jong akteur in Shakespeare se geselskap sou gewees het.  Wilde se slim speurtog, via die sonnette, is ‘n Conan Doyle waardig, maar interne getuienis vir sy aanname bestaan natuurlik nie.

Van aannames gepraat, dink maar aan al die gissings wat voeër aan “As ek my vreemde liefde” van I.D. du Plessis gekoppel is.  Geslagte skoolkinders het geleer dat die “vreemde” geliefde ‘n Oosterse prinses was, en in gay kringe is gespekuleer dat die “vreemde liefde” in “As ek my vreemde liefde” na ‘n jong Maleierman verwys.

Toe Hubert du Plessis “As ek my vreemde liefde” getoonset het, het hy I.D. du Plessis reguit gevra wie die “vreemde liefde” was, en I.D. du Plessis het onverstoorbaar geantwoord: “Hugo Naudé”.  Word “As ek my vreemde liefde” nou ‘n mindere gedig omdat ons weet wie die geliefde is? Hoegenaamd nie.  Die gedig bly “oop”, onaangetas deur buitetekstuele inligting.

En wie is die ek en wie is die jy in Leipoldt se smagtende liefdesvers “Wys my die plek”?  Nellie du Toit sing dié lied voortreflik vanuit die voueperspektief in Gideon Joubert se toonsetting daarvan vir volle orkes, maar wie dié gedig lees, sou aan die ek as ‘n man dink, bloot al omdat dit deur  ‘n man geskryf is.

Vertolkers van liefdesliedere skyn hulle in die eerste plek met die sentimente van ‘n liefdeslied te vereenselwig, en ‘n mens neem aan dis wat baie lesers van liefdespoësie ook spontaan doen.  Op dié wyse raak die vraag na wie die ek en die jy in liefdespoësie is eintlik ‘n akademiese aangeleentheid.

Hoofsaak in liefdespoësie is die liefde self, daardie oerenergie wat selfs ná eeue kan ontroer en besiel, soos in die ragfyn “Egidius-lied”.

 

(Hennie Aucamp)

 

Andries Bezuidenhout. ID du Plessis se politieke rol?

Monday, January 25th, 2010

Ek dink vanoggend aan daardie gedig van ID du Plessis oor Katrina van die Bo-Kaap: “Katrina haat die lewe, Katrina vrees die dood, Katrina gaan haar slentergang, verdien haar bitter brood.” Of so iets.

Hierdie naweek ʼn uitstekende artikel deur Wilmot James in die Saturday Star gelees oor die bevolkingsregistrasiewette van die 1950s. Die artikel is geskryf in reaksie op die fliek Skin wat op die lewe van Sandra Laing (in die foto hier bo, saam met haar ouers) gebaseer is. James noem daarin die rol wat die Afrikaanse digter ID du Plessis gespeel het in die “beskerming” van mense wat as “Cape Malays” geklassifiseer is, asook die feit dat mense van die Bo-Kaap (toe Distrik Twee) nie aan gedwonge verskuiwings onderwerp is soos mense van Distrik Ses nie.

Ek kom toe op ʼn artikel af wat die historikus Nigel Worden geskryf het oor hoe mense slawerny in Suid-Afrika onthou. Hy noem ook die rol van ID du Plessis, wat op ʼn stadium die Kommisaris van Kleurlingsake was. Ek haal daaruit aan:

When apartheid was instituted in the 1950s, public awareness of slave heritage was well buried. At the Van Riebeeck Festival of 1952 (the tercentennial of the founding of the Dutch colony and a spectacle celebrating white South Africa), the slave past did not feature at all. Several days after the main pageant, a ‘parallel’ event marking ‘Coloured’ history took place. This event displayed the arrival of Sheikh Yusuf, the Islamic opponent of the Dutch, who had been exiled to the Cape in the 1670s, here portrayed as the founding father of the ‘coloured people’, the ‘coloured Van Riebeeck’. No mention was made of the slave trade, and the retinue of personal slaves that Sheikh Yusuf had brought with him was politely referred to as his ‘servants’. The event, like the rest of the Festival, was boycotted by most ‘non-white’ Capetonians and photographs show rows of empty seats. The Sheikh Yusuf pageant was part of the apartheid state’s support for a distinctive ‘Malay’ identity for Cape Town’s Muslims with Islamic and South-East Asian origins. This had been given a particular boost in the 1940s and 1950s by the state’s Coloured Affairs Department under the Afrikaner academic and poet I. D. du Plessis, who promoted a specific ‘Malay’ culture with competition choir singing, a distinctive cuisine and the demarcation of a specific ‘Malay Quarter’ on the slopes of Signal Hill overlooking the town. Under the Population Registration Act (1950), ‘Cape Malay’ was declared a distinct racial category, while the Malay Quarter was proclaimed an area for Malay segregation under the Group Areas Act of the same year. In this ethnic and cultural construction, little or nothing was said about slavery. The roots of the community lay rather in the exile of Islamic leaders and ‘princes’ whose past was romanticized and glorified.

Hy haal ʼn boek aan wat deur ID du Plessis geskryf is, met die titel The Cape Malays (1944). Nou wonder ek maar net; het iemand al ʼn deeglike stuk navorsing gedoen oor die politieke rol van ID du Plessis?

Aanhaling uit: Nigel Worden. “The Changing Politics of Slave Heritage in the Western Cape, South Africa.” Journal of African History, 50 (2009), pp. 23-40.

Johann Lodewyk Marais. Marthinus Versfeld (3)

Saturday, December 12th, 2009

Aan die Universiteit van Kaapstad was Marthinus Versfeld ‘n gewaardeerde gespreksgenoot van digters soos N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, I.D. du Plessis, Boerneef en D.J. Opperman. Hy het poёsie geskryf, maar net enkele van die gedigte is gepubliseer. In sy skryfwerk toon hy groot waardering vir die poёsie en sluit so by twintigste-eeuse filosowe soos Martin Heidegger en Jacques Derrida aan. Hopelik sal sy bydrae as gespreksgenoot vir van die belangrikste Afrikaanse skrywers nog behoorlik ondersoek word en sy bydrae tot die Afrikaanse essay die erkenning kry wat dit verdien. Ook latere skrywers soos Breyten Breytenbach, André P. Brink, Petra Müller en Marlene van Niekerk het waardering vir sy werk gehad.

Oudstudente wat oor Versfeld se invloed op hulle getuig het, sluit Adam Small, Athol Fugard en Jeremy Cronin in. Cronin het gesê: “[H]e was trying to integrate different dimensions of life, and to think intellectually about that kind of integration, which was very different from what was increasingly becoming the dominant tradition in UCT.” 

W.A. de Klerk, wat baie saam met Versfeld gaan bergklim het, het die volgende gesê: “Marthinus Versfeld is die soort mens wat gesoek word as hulle die dag nie meer daar is nie.” Mag Versfeld in hierdie huldigingsjaar, en hierna, sy regmatige plek in ons denke en samelewing kry.

  •