Lewies Botha. Dankie Danie M.
Wednesday, April 14th, 2010
Ek het in ‘n vorige blog geskryf oor my gedig Die Akkerboom en my gewroeg oor die skryf daarvan; wat gee my die reg, wat het ek te sê , dit kan nooit eerlik wees nie. Wel om eerlik te wees, eerlikheid lyk my is die deurslaggewende kriteria, sou ek maar nie die moed gehad het om die volgende gedig te skryf as dit nie vir Danie se Essay was nie. Ek hoop die gedig vertel iets van waar ek, ja wit en man en voorheen bevoordeeld en boer en afrikaans en beneuk en apolities en in-die-army-gewees en draadsitterig en veertig en voorstedelik ‘n nawelstaarderige wannabe digter my bevind;
Nav. my gedig, Die Akkerboom
(Gedagtig aan Danie Marais en daardie Essay)
Soos ‘n angstige kleuter met ‘n vetkryt prentjie
mooi tussen die lyne ingekleur
het ek my akkerboom gedig se weergawes dikwels
vir jou gegee om te lees. Dis mos meesterlik.
Hiermee erken ek jou,
gee ek jou ook ‘n gediggie, ‘n plekkie my lief
tussen al die plaas en meerkat
koeie en kalwers verse van my.
Dit is nuwe grond wat ek sny;
My vrou was forced removed
weens die lelike government beleid
dit maak my mos current
en kan ek mos eerlik skryf
ek moet net probeer,
sonder om die woorde; wit of bruin te gebruik
of apartheid of district six,
en hoe vertaal mens multi-racial relationship
sonder dat opportunisme vinger wys
maar uitlos is min, dit is so digterlik on ontgin,
die lofbasuin se stink kan ek al sien blink.
Hoekom wil ek dig oor jou bruingeit nou?
God !, my vrou, wanneer was jy bruin vir my?
Toe ek my ma vertel jy is; “van Indiese afkoms”
om haar, of jou, die verleentheid te spaar
of voor te berei op die Groot ontmoeting.
(wat het ek tog gedink? tog was jy ook besorg)
Wel, sy was okei toe sy uitvind jy is Katoliek
dis darem nie te heidens nie.
Ek het skeefweg eenkeer op straat gehoor; “koelie meid”
maar ek kon myself verbeel het.
Jy het toe gehou van my akkerboom gedig, gesê;
“Dit was net so, ek kan dit proe”
Nes jy ken ek; die vrolike buurt
nes Distrik Ses soos op TV al gesien;
Jazz trompette, Kaapse klopse,
kinders wat speel in strate
‘n hele bedrywigheid, ek weet mos;
soos die fotos in Drum van Sophia Town.
(Ek moet bely ek moet nog Triomf lees)
Ek kan my mos ook verbeel wat dit was om te trek
soos ons destyds Durban toe is met die treklorrie
volgestapel, ek was so hartseer toe ek sien my Pa
het die tropiese vissies op die gras uitgegooi.
Ek het jou nog nie vertel nie, ek het toevallig,
okei, ek krap soms rond tussen jou goed,
jou verhaal van Northend gekry;
“You always say; why don’t you write the stories of Northend?”
Ek is die aangeklaagde stilte in die hof;
skrap “vrolike buurt “ uit gedig.
Ek sal weer moet probeer
die keer met woorde soos;
venyn en pyn, bitter en seer
drank en moleste,
wrang en bang, arm en darem.
Ek is jammer my vrou, skuldig
soos jy sê; wit ongevoelig.