Posts Tagged ‘In Landsbelang’

Desmond Painter. Oor twee Afrikaanse spanningsverhale

Wednesday, July 21st, 2010

Misdaadfiksie toenemend gewild

Dit wil voorkom asof speurverhale, en spanningsverhale in die algemeen, toenemend gewild raak in Afrikaans. Nie dat hierdie genre besonder nuut is in die taal nie. Ek onthou nog goed hoe ek gedurende my hoërskooljare met groot genot gelees het aan I.D. Lamprecht se Hugo Storm en Skip Wessels-boeke, asook soortgelykes deur ander skrywers, dikwels gepubliseer in die gewilde Klub 707-reeks.  

Nogtans het vele Afrikaanssprekende liefhebbers van spanningsverhale jare lank verkies om eerder Engels te lees. Hoe dikwels is ‘n mens nie in die verlede gekonfronteer met skerp vooroordele teenoor veral populêre fiksie in Afrikaans nie? As hierdie soort vooroordele nou tot die verlede behoort, en tot ‘n groot mate dink ek dat dit wel die geval is, moet die verandering in houding dalk veral toegeskryf word aan die ongekende sukses, vir ‘n Afrikaanse skrywer, wat Deon Meyer met sy misdaadromans behaal het.

Hierdie skrywer, wat klaarblyklik net beter raak met elke nuwe boek, het ‘n enorme bydrae gelewer tot die rehabilitasie, as ek dit so mag noem, van Afrikaans as ‘n taal waarin geloofwaardige en internasionaal mededingende spanningsverhale en misdaadfiksie in die besonder geskryf word. Meyer se boeke oortuig met hulle lewensgetroue karakters, grintige uitbeelding van die Suid-Afrikaanse werklikheid, en kompromislose en soms meedoënlose spanningslyne.  

Tans het Meyer myns insiens nog nie werklik ‘n ernstige mededinger in Afrikaans nie, maar daar is tog beduidende tekens van lewe. Dit word toenemend makliker om ernstige, volwasse spanningsverhale in Afrikaans te lese te kry. In hierdie verband moet daar beslis van Piet Steyn kennis geneem word. Hierdie skrywer het sy eerste sg. Pine Pienaar-misterie, Snoeiskêr, onlangs opgevolg met ‘n tweede aflewering, Bottelnek (2009).

Quintus van der Merwe is nog ‘n skrywer wat genoem behoort te word. Van der Merwe se boeiende politieke spanningsverhaal, In Landsbelang, het vroeër vanjaar verskyn. Beide Steyn en Van der Merwe se boeke is deur Tafelberg uitgegee.

Bottelnek

Steyn se Bottelnek herinner nogal aan Deon Meyer se werk. Of daar sprake is van beïnvloeding kan ek egter nie vir seker sê nie. Misdaadverhale, soos dikwels by populêre fiksie die geval is, werk met herkenbare en herhaalbare kodes en gegewens. Dit is deel van hulle aantrekkingskrag. Die goeie misdaadskrywer gee aan die leser wat hy of sy verwag (daarom die gewildheid van reekse met deurlopende karakters), maar kry dit ook reg om die leser genoegsaam aan die raai te hou en te verras. Suksesvolle populêre misdaadverhale werk altyd met die spanning tussen geykte kodes en kreatiewe variasie; tussen die stereotipiese segswyse en die unieke aksent.

Skrywers van misdaadverhale verskil in die mate waartoe hulle die kodes van hulle genres omverwerp of bestendig. Soos dikwels by Meyer en ander (Ian Rankin, om maar een internasionale voorbeeld te noem) kry ons by Piet Steyn ook die hopeloos oorwerkte en oorspanne manlike speurder as hoofkarakter. ‘n Man wat sukkel met die nagevolge van ‘n persoonlike trauma of professionele mislukking van een of ander aard; wat dikwels ‘n alleenloper, ‘n randfiguur en selfs ‘n dwarstrekker is; en wat sy manlikheid as in krisis beleef, maar wat die krisis in die loop van die boek tot meer of mindere mate besweer en dikwels op heldhaftige wyse oorstyg.  

Wat dit betref is Steyn se Pine Pienaar ‘n heel oortuigende speurder-hoofkarakter. Tog kan ek nie help om hom terselftertyd as ietwat geyk te ervaar nie. Is daar nie al te veel van sy soort in ons misdaadfiksie nie? Staan hy in enige opsig uit as unieke karakter, een wat ‘n misdaadreeks voldoende kan dra en energie en charisma daaraan kan verleen?

Die gevaar bestaan beslis dat hierdie soort karakter – die emosioneel belemmerde maar uiteindelik tog viriele man’s man; die sterk maar stil polisieman – voorspelbaar kan word; ‘n alte maklike stereotipe vir die Afrikaanse misdaadskrywer om op terug te val. Wanneer gee ‘n Afrikaanse misdaadskrywer ons ‘n intuïwe dromer soos Fred Vargas se baasspeurder Adamsberg, of P.D. James se digtende speurder Dalgliesh? Of wat van ‘n sterk, intelligente vrou, soos Patricia Cornwell se Kay Scarpetta? Hier is beslis ruimte vir kreatiewe groei in die tradisie van Afrikaanse misdaadfiksie.  

Op meer positiewe noot is daar by Steyn, soos ook by Deon Meyer, ‘n bereidwilligheid om die politieke en maatskaplike werklikhede en teenstrydighede van ‘n vinnig veranderende land as materiaal vir opwindende fiksie te ontgin. In die wêreld van ‘n Pine Pienaar is nie net misdaad en ‘n oorweldigende werkslas aan die orde van die dag nie, maar ook kwessies soos regstellende aksie, politieke inmenging, en kultuur- en genderkwessies by die werk. Bottelnek deins nie terug van hierdie soort dinge nie, wat aan die boek ‘n outentieke, kontemporêr-Suid-Afrikaanse gevoel verleen.

Trouens, hierdie bereidwilligheid om die Suid-Afrikaanse werklikheid trompop te loop en op dikwels hardgebakte, onsentimentele manier te konfronteer, is een van die kenmerke wat misdaadfiksie in Suid-Afrika so ‘n interessant en dinamiese genre maak, en wat boeke soos die van Meyer, Steyn en ander tot openbarende tydsdokumente verhef.  

Suiwer op die storie af is Bottelnek beslis die moeite werd om te lees. Pine Pienaar en sy kollegas is op die spoor van ‘n reeksmoordenaar wat sistematies van mense uit sy verlede ontslae raak. Hoe die verskillende karakters en storielyne by mekaar aansluiting vind word geleidelik onthul, maar Steyn kry dit tog reg om sy leser enduit aan die raai te hou. Die sentrale gegewe, die motief vir die moorde, is dalk ‘n bietjie dun; en die teruggryp na ‘n trauma uit die sg. Bosoorlog straks ook al ‘n bietjie geyk. Steyn bring die gegewens nogtans bevredigend bymekaar en Bottelnek sorg myns insiens vir ‘n lekkerlees aand of twee. Ek sal beslis volgende aflewerings in die Pine Pinaar-reeks lees; en maar geduldig wag vir meer interessante, eksentrieke speurders in Afrikaans om hulle verskyning te maak!

In Landsbelang

Quintus van der Merwe se In Landsbelang is eweneens ‘n genotvolle leeservaring. In Landsbelang is ‘n politieke spanningsverhaal eerder as ‘n gewone speurverhaal, en Van der Merwe ontgin ook die kodes en konvensies van sy genre. Soos in bekende Hollywood-films soos Enemy of the State en The Fugitive werk Van der Merwe se roman met die gegewe van burgerlikes, eerder as formele wetstoepassers, wat hulle om een of ander rede aan die ontvangkant van onregverdige vervolging deur ‘n staat of ander groot instellings soos ‘n korporasie bevind. Hulle word voortvlugtiges en moet hulle onskuld bewys, meestal buite die reg om en teen die heersende openbare opinie in, deur die oorweldigende magte wat teen hulle opgestapel is uit te oorlê.

Anders as dat ‘n speurder as legitieme verteenwoordiger van die orde optree en die misdadige individu aan die pen laat ry, het ons in hierdie soort politieke spanningsverhale dikwels te make met ‘n situasie waar die orde intern bedreig word: deur die staat, die polisiemag, die korporasie ander instellings in die sisteem self. Gewoonlik is hierdie wanorde nie struktureel nie; ‘n staat van uitsondering kom eerder tot stand wat tydelik heers en deur die regverdige enkeling, dikwels amptelik as misdadiger gebrandmerk in ‘n soort wet-en-orde vakuum, herstel kan word. Hulle kan gelees word as gelykenisse van burgerlike verantwoordelikheid, individuele gewetensoptrede en waagmoed, en die delikate balans van wet en orde in ‘n demokratiese bestel.

In Van der Merwe se In Landsbelang word ‘n voormalige diplomaat en ‘n huidige ambassadeur en lid van die amptelike opposisie betrek by ‘n komplot om die Suid-Afrikaanse staatshoof se betrokkenheid by onreëlmatige wapentransaksies en ‘n dreigende seksskandaal te verdoesel. Staatsinstellings word misbruik om joernaliste stil te maak en kritici van die president te vermoor. Die verhaal speel grotendeels af in Parys, en daar is geen tekort aan wilde jaagtogte, skietgevegte en seksuele avonture nie.  

In Landsbelang se sentrale intrige teer dus op herkenbare gebeure uit die onlangse Suid-Afrikaanse verlede. Verder was Van der Merwe self voorheen ‘n diplomaat, en sy uitbeelding van diplomatieke werkswyses en prosedures baat hierby. Tog voel dit by tye asof die skrywer kortpaaie neem, en asof sy samevoeging van stereotipiese elemente uit Hollywood-spanningsverhale en die geverfiksionaliseerde Suid-Afrikaanse politieke intrige darem net te maklik is. Hy kon myns insiens meer gedoen om hierdie fiksionele en kwasi-historiese gegewens sy eie te maak, en die boek sodoende ‘n sterker identiteit en kreatiewe lading gegee het. Ek het ook die ontknoping, wat ek nie hier sal weggee nie, ook as ietwat geforseerd ervaar. Die skrywer kon waarskynlik ‘n meer gekompliseerde, minder gejaagde ontknoping bedink het.

Aan die ander kant is daar geen twyfel by my dat Van der Merwe die nodige talent het om oortuigende politieke spanningsverhale te skryf nie. Ten spyte van genoemde kritiek het ek baie lekker aan hierdie boek gelees. Van der Merwe verstaan sy genre, en hy weet hoe om sy leser se pols vinniger te laat klop. Ek beveel In Landsbelang dus nogtans aan, en ek wag gretig op meer!

  •