Posts Tagged ‘In memoriam’

Nini Bennett. In memoriam: Jeanne Goosen (1938-2020)

Wednesday, June 3rd, 2020

Jeanne Goosen

 

Die skrywer, digter en dramaturg, Jeanne Goosen, is verlede nag oorlede nadat sy in ’n koma verval het. Dit is ’n voelbare verlies vir die literêre bedryf aangesien Goosen met sowel haar oeuvre as haar omstrede en dikwels aweregse openbare beeld vir opwinding gesorg het. Met Goosen, soos in die geval van Eugène Marais, was dit moeilik om tussen werklikheid en fiksie te onderskei, alhoewel haar stories en anekdotes daarop ingestel was om mense te vermaak en te amuseer. Die skeppende impetus was immer teenwoordig by dié woordskepper en mens.

Goosen het ’n verskeidenheid beroepe gevolg; sy was onder meer joernalis by Hoofstad, Oggendblad, Tempo en Die Transvaler, waar sy haar skryftalent geslyp het. As opgeleide radiografiste was sy egter rusteloos en ook werksaam as stoorkamerbestuurder, bibliotekaris by die vloot, vertaler, smous, afslaer, smokkelaar en sitrusboer. Goosen het dikwels geswerf en nogal herinner aan vroulike Bukowski. Haar lewe kan beskryf word as een van tragiek en triomf, van arm en ontwrigtende jeugjare tot dié van ’n gevierde en veelbekroonde skrywer. Petrovna Metelerkamp het onlangs Goosen se biografie, ’n Lewe vol sinne by Hemel & See Boeke vrygestel. 2020 was veronderstel om geboekstaaf te word as die Jeanne Goosen-jaar: ook Los gedagtes en Het jy geweet ek kan toor (poësie) deur hierdie nimlike skrywer het vanjaar verskyn. Goosen het in 1971 aandag getrek met haar poësiedebuut, ’n Uil vlieg weg. Sy laat ’n ryke nalatenskap van novelles, romans, eenakters en digbundels na en van haar romans is verfilm. Ons is nie almal so nie (1990) het feitlik oornag legendariese status bereik en die titel het sedert die negentigerjare deel van Afrikaanses se lingua franca geword. Vir laasgenoemde roman is sy bekroon met die CNA-prys, Rapport-prys en die M-Net-prys.

En op ’n meer persoonlike noot: Jeanne Goosen was my peetma. In my standerd 9-jaar,1989, het sy voorgestel dat sy my peetma (of peetpa, my keuse) word. Ek het ingestem, vol blydskap en verwondering – en Jeanne het ’n quart Amstel geknak op ons ooreenkoms. Ons het by die kombuistafel gesit waar sy oudergewoonte my jeugverse opgeskeur het en my in geen onsekere taal vertel het hoe swak dit nou eintlik is nie. Ek onthou ek moes die erdwurms uitgrou terwyl Jeanne visvang by Pelindaba. En as haar rooi Volla ingedraai het by die hek, het sy vir my boeke gebring – en my kennis en verwysingsraamwerk van wêreldletterkunde aansienlik verryk.

Van al die mense wat Jeanne geken het, is ek bevoorreg om te kan noem dat sy ’n groot invloed op die vorming van my jeugdenke gehad het. Ek het haar sagte kant geken.

Haar lewe was een van swaarkry, van die raffle wat sy as kind moes uitloof net om Lenie, haar troetelhoender, te verloor, tot die transformerende krag van kreatiwiteit wat haar later tot groot hoogtes sou voer. Want bó alles, en ten spyte van haar (goed gekamoefleerde) weerloosheid was sy ’n sterk mens.

Sy is by geleentheid ’n anargis, ’n geliefde rebel genoem.  En ek besef ’n huldeblyk soos dié skiet ver tekort om te verwoord wat ’n veelkantige, begaafde en uiters komplekse mens sy was.

Jeanne was 81 toe sy stil-stil oorlede is in haar meenthuis in Melkbosstrand. Sy sou 13 Julie 82 geword het. Haar versorger, Michelle van der Westhuizen en haar hondjie, Fudge, was by haar toe sy dood is. Daar sal na verwagting die naweek ’n diens vir haar gehou word.

 

.

By Corpernicus leen ek ’n slim slypglas

en loer by die luik van die hemel in

Kepler speel met sy spieëls

en baljaar tussen die mane van Uranus

En daar is die Meester ook

met sy boskasie vol skoenlappers

Hy is besig

Hy brou ’n nuwe skepsel

‘n ding—

iets tussen ’n komieklike insek

en ’n wollerige knaagdier

Uit papyrus kry dit twee vlerke

wat hy met spuug aan die krom skouers vasplak

Hy brand ook sy voorletters daarop uit

Want dit is sý eiendom, sý maaksel

Maar wysig God altyd wys?

want kyk:

Hy pas twee OK Bazaarsloffies aan die pootjies

en met haakspelde

speld hy ’n voorskoot aan die lyf vas

God staan terug

peins

sê nadenkend vir sy engel:

Sy sal op kruie wei en ‘n soet reuk versprei

en ek sal haar nie aarde toe stuur nie

maar ’n woning in die hemel gee

Voorts pluis God watte uit die wolk

weef ’n tweevertrek-kokon

en betig wind en weer

om hulle plek ten alle tye te ken

En dan druk God sy skepsel teen sy bors

lig die snaakse gesiggie na hom

en plaas sy mond op hare

God blaas

en die vlerke roer in die bries

Ek huil van vreugde uit die twee riviere van my oë

want op aarde het my ma min gehad

 

Uit: Elders aan diens, 2007

 

 

Huldeblyk: Hennie Aucamp (1934 – 2014)

Sunday, March 23rd, 2014

Huldeblyk deur Joan Hambidge

(Foto: Naomi Bruwer)


“Nogtans sal hy nooit van ons weggaan nie, hy sal deel word van die landskap wat ons liefhet, en mettertyd sal hy meer en meer by ons wees, pleks van minder en minder. Want die lewe word meteens helder na sy dood. Terwyl die mens nog leef, verhinder sy gestalte jou om hom duidelik te sien. Net sodra die liggaam weg is, kom die onvernietigbare gees na vore, en kom staan in alle helderte voor jou. Dan sien jy ook dat ons bestaan, van óns kant af gesien, ‘n ondeurdringbare raaisel is, ‘n newel in party opsigte, wat eers moet weggaan voordat ons tot sien kan kom. Die klein, vodsige bekleedsels van aardse struwel en trawal verdwyn meteens uit die gedagte en net die wesentlike bly oor. Daardie wesentlike maak die agtergeblewene sterk, omdat dit self die krag van ‘n hele lewe bevat.”

– Petra Müller, in ‘n brief aan E. Kotze aangehaal in Slag van die breekbrander

 

I  Enkelvlug


Op 20 Januarie het ek Hennie Aucamp die laaste keer gesien. By On the Rocks. ‘n Heerlike saamkuier en vrolike geskerts met akademiese vriende om sy verjaarsdag te vier. Daarna het ons ‘n paar keer telefonies gesels en my skatpligtigheid aan Aucamp mag ek nie onbetuig laat nie. In Die Burger van 22 Maart maak ek die volgende punte:

 1 Hy is waarskynlik die skrywer met die meeste fasette: kortverhaalskrywer, aforis, bloemleser, digter, dagboekhouer, kabarettis, liriekskrywer, resensent, Boesmankenner, kunskenner, genderteoretikus…

2 Hy het skrywers, veral gay-skrywers, geleer om sonder skroom oor hul ervarings te skryf;

3 In sy kortverhaalhandboek, Die blote storie (1986), leer hy jou veel van die tegnieke van skryf;

4 Die belangrikste raad wat ek ooit van hom ontvang het: jy moet eers ‘n ervaring emosioneel verwerk alvorens dit “werk” as verhaal of gedig;

5 Sy verlies binne ons letterkunde is enorm en Johann de Lange se Vreemder as fiksie (1996) belig hierdie kompleksiteit met die wete dat Prinsloo, Danie Botha et al. nie sou kon doen sonder Aucamp as baken nie;

6 Sy jongste digbundel Skulp het sopas verskyn by Protea.

II  Die lewe is ’n grenshotel

Met sy dood, beleef ons die einde van ‘n belangrike era. Daar is geen gay-skrywer wat nie iets aan Aucamp verskuldig is nie en hierdie belangrike aspek het Johann de Lange alreeds gekarteer in sy kortverhaalbundel Vreemder as fiksie (1996) met ‘n voorblad waar drie gesigte, Aucamp, Prinsloo en De Lange, een word. Aucamp se “Vir vier stemme” – opgeneem in sy bundel Volmink wat in 1982 verskyn het, is ‘n kragtoer. Gebaseer op ‘n werklike verhaal wat die skrywer vanuit vier perspektiewe vertel, word die tragiese dood van ‘n jong man weergegee en die aannames oor seksualiteit aan die kaak gestel. Die blote storie – met die sub-titel – ‘n werkboek vir kortverhaalskrywers gee die mentorkant van Aucamp weer. Hy deel wenke en hy plaas elke keer ‘n bepaalde tegniek binne die wêreldletterkunde. Waarskuwings soos dat die vertelling nooit verby sy slot moet beweeg nie, is bepaald belangrike raad vir elke skrywer.

Skulp (2014: Protea Boekhuis) dra die veelseggende motto:

 

Am I indifferent, then, to my own death?

No, it’s not a matter of indifference, but

rather a kind of distance, a sort of

screen which is very difficult to

describe in words.

– Amos Oz, Late Love

 

Rooi ontploffing

 

Die vrou van die oorkantste balkon

het iets roekeloos gedoen:

twee kleibakke gevul met malvas,

en dood met die lewe versoen.

 

(30)

 

Wenresep

 

Jan Pierewaaier, Jan Pierewiet

hou min konserte en sing één lied.

Hou dit lig, raai hy aan, en dis genoeg:

’n klinkende naam en ’n volbloed-hit.

 

(44)

 

Ek het op my blog oor verskeie aspekte van Aucamp geskryf http://joanhambidge.blogspot.com/search/label/Hennie%20Aucamp

 

Aucamp se belangrike bydrae tot ons digkuns mag veral nie onvermeld gelaat word nie. As behendige beoefenaar van veral die sonnet, moet ons hom huldig. Hittegolf, ‘n hoogtepunt in sy oeuvre, het in 2002 by Homeros verskyn en ek het soos volg oor hierdie bundel geskryf:

Hittegolf (wulpse sonnette met ‘n nawoord) bevat ‘n hele aantal uiters bedrewe sonnette van die skrywer Hennie Aucamp. En oor die struktuur van die sonnet het Ronnie Belcher wel deeglik geskryf en ‘n mens sou ook jouself die vraag kon afvra: waarom vind ons soveel ‘gebreekte sonnette’ by digters uit die tagtigerjare?

Wat my eerder interesseer aan hierdie interessante versameling is die gebruik van die voetnoot/verklaring by elke gedig. Hoekom vind ‘n digter dit nodig om inligting by te sit? In L.S. van Leon Strydom word hierdie tegniek vermaaklik uitgebuit: die gedig word verironiseer deur die voetnoot.

Berlin von damals: nóg ‘n fiksie

Maskeer, soos alle skrywers pleeg te doen,

die I.D. van jou oermodel.

Ook Spender speel dié dobbelspel –

en List se naam word blink geboen

tot Lenz, esteet, in sy roman The Temple,

wat met sy foto’s stilweg stempel

die ganse Weimar-kavalkade

voor Sonnenuntergang – und Schade.

Maar Spender – “great big spender’ –

van name, mense en ‘n tyd –

moet jy jong Leavitt dit verwyt,

hom uitroep tot privaatheid-skender,

as hy jou in sý fiksie plaas?

Waarskynlik, ja. Want negatief, helaas.

Dan lui die voetnoot: ”Die eerste weergawe van David Leavitt se boek, While England Sleeps (1993), is onttrek omdat die skrywer en digter, Stephen Spender, hom te ná gekom gevoel het. Beide Spender en Leavitt gebruik foto’s van die beroemde Herbert List as omslae: Spender vir The Temple (1988); Leavitt (saam met Mark Mitchell) vir die bloemlesing The Penguin Book of Gay Short Stories (1994).

Dosente leer studente dat voetnotas nodig is. Dit is om erkenning te gee of om iets te substansieer wat nie in die hoofargument genoem kan word nie, omdat dit ‘n breuk in die argument kan veroorsaak.

In Johann de Lange se Vreemder as fiksie word verhale ook van voetnotas voorsien. In Koos Prinsloo se Weifeling is daar endnotas…

Dit is dan eintlik ‘n ironiese gedig hierdie, want die ‘in’-leser herken hier ook ‘n persoonlike dilemma: naamlik hoé Aucamp destyds moes gevoel het toe Prinsloo sy privaatheid geskend het in ‘n verhaal ”Portrait of the artist” (in 1993) en een wat De Lange behendig uitbrei in sy weergawe ”A portrait of the artist as a young dog” in die genoemde Vreemder as fiksie (1996). (Dalk het hy nie die ironie besef dat hy ook in verhale oor “bekendes” geskryf het nie?)

Mag ‘n mens oor (h)erkenbare figure skryf? Veral as die name nie blink gepoets word nie? Is alle skrywers nie maar wesentlik besig om oor hul eie lewens en ervarings te skryf nie? Is skrywers nie maar besig met ‘n Madame Tussauds van die woord nie?

Of die dramatis personae Spender/Leavitt, Aucamp/Prinsloo, Aucamp/De Lange is, maak nie saak nie. Die gegewe bly identies. Die toneel van die skrywer.

Die skrywer wat ‘n storie sal vertel ongeag die prys wat dit mag inhou.

Gedigte het ‘n voetnoot of endnoot. Een wat miskien nie altyd bekend is aan buite-lesers nie. Maar die ingeligtes, die twee (liefdes)- of (haat)partye ken dit. Die brose skoonheid van sonnette wat by Petrarca uitval in die oktaaf en sekstet. Verbeelding en werklikheid. Drif en ontnugtering. Alles glo te make dat toe hy Laura op 6 April in 1327 in ‘n kerkie in Avignon gesien het, is hy oorweldig deur die liefde…

Maar as Laura kon praat? Sy wat volgens Norman O. Brown die rede vir die Canzoniere was: die drif agter die gedigte?

Wat sou sy skryf? En dis hierdie intelligente spel wat Aucamp in sy reeks sonnette met die leser speel. Of dit is die agtergrond agter die teks wat hy via ander boeke bekend maak, of dit is ‘n bekende skildery of ets wat langs die sonnet staan gemaak word via ‘n verduideliking of kundige skets.

‘n Gedig soos “Pylvak”(p. 49) vra van die leser navorsing of belesenheid:

Waar begin volwassenheid by ‘n matinee-idool?

As hy ophou om sy hare en brouers te kleur

en jaarliks hom minder aan uitstulpings steur

en meewarig leer kyk na sy stuurse ou voël.

Die rolmodel hier is die filmakteur

wat sy image van vroeër dekonstrueer;

die Fransman Delon – geen spring chicken meer –

speel, wys en ironies, Casanova ontfleur.

Mastroianni is ‘n ander, en Josephson die Sweed,

wat hul ouderdom benut het, en hieruit kon skep

“ronde” karakters, wat jy nooit weer vergeet:

poefters en praalhanse; aftands, verlep;

maar elkeen ‘n mens, en hul oë sein deur,

uit ydel gesigte, ‘n fyn connoisseur.

Anders as die Vlugsout-rubriek en vinnige aforismes op Litnet is hierdie sonnette werklik uitstekend en goed afgewerk. Dit is gedigte wat tot in die fynste vesels afgewerk is en wat tegnies behaag.

Dit bevat ook ‘n kundige nawoord en ‘n flapteks van Johann de Lange wat ons terugneem na Aretino en Brecht se tekste. Aucamp se tekste bevat dikwels insigryke essays wat die leser van onnoembaar belangrike inligting voorsien. En hier is hy bepaald in die kol wanneer hy die skroomvalligheid rondom ruige taalgebruik in die letterkunde bespreek. Tereg wys hy op Krog se boesem-eerlike gedigte; ‘n mens behoort egter ook die baanbrekerswerk van Johann de Lange in Nagsweet te vermeld.

Hier speel Aucamp voortreflik met die struktuur van die Engelse sonnet.

 

III  Allersiele:

Aucamp is ook aforis, skrywer van die kortsneller en die kwatryn. In sy pasverskene bundel Skulp staan daar ‘n paar lieflike kwatryne wat ek graag met my leser deel:

 

Die terugkeer

 

My verse kom skoorvoetend nader,

asof hulle my oproep wantrou;

en ek pleit: Wees geduldig, veral nou,

al ooit gehoor van die Verlore Vader?

 

(7)

 

 

Bliksemsnel

 

Gister, eergister was hy heel en gesond

en stal hom nakend ten toon;

maar toe slaan toe die Groot Onpartydige,

en nou is hy weg, onverskoon.

 

(46)

 

Party is tipies Aucamp snaaks:

 

Transvestiet

 

Sy stoppelbaard prik sy grimering

en daar is swelsels onder sy oë,

maar die liggaamstaal en o! die ring!

bevestig sy alvermoë.

 

 

(38)

 

Hierdie leser sien in hierdie bundel ‘n afskeid aan die lewe. “Moet nooit bitter word nie,” het hy eenkeer gewaarsku, “want bitterheid maak jou onaangenaam vir ander mense, maar veral vir jouself.”

Ons moet nog nadink oor twee afgeskeepte tekste: Kommerkrale: ’n AB-jap vir akoliete (1983) en Pluk die dag: aforismes en ander puntighede (1994).

Toe die digter en regisseur, Stephan Bouwer onverwags oorlede is, het Aucamp geskryf dat ons nog nie sy impak kan bepaal nie. Dieselfde geld Aucamp wat op soveel fronte ons letterkunde verryk het. Dis waarskynlik altyd moeilik om iemand so kort na sy dood “in te skat”, veral as sy oeuvre so groot was. Hy was ‘n ware gewer, op alle vlakke.  Dit is dan my hartseerwals.

 

(c) Joan Hambidge


Endnote:

 

1. My dank aan Johann de Lange wat die Petra Müller-brief aangestuur het.

 

2. Aucamp het die volgende pryse ontvang.

  • 1970 – Tafelbergprys
  • 1974 – W.A. Hofmeyrprys
  • 1980 – ATKV-prys vir Drama
  • 1996 – Recht Malan-prys
  • 1982 – Hertzogprys
  • 1987 – Fleur du Cap-toneelprys
  • 2004 – ATKV-Prestigetoekenning
  • 2004 – Fleur du Cap-teaterprys vir lewenswerk en bydrae tot teater
  • 2004 – Afrikaans Onbeperk Kanna vir Lewensbydrae
  • 2004 – LitNet se Mont du Toit Kelder-wyngedigtekompetisie

2006 – Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap

 

3. Die volgende gerf verse staan op die Versindaba

http://versindaba.co.za/gedigte/hennieaucamp / Besoek 23 Maart 2013

 

Somerdwaasheid

 

Ek sny ‘n dik pampoensteel af

en maak vir my ‘n fluit,

en pluk ‘n groot pampoenblaar

om die somerson te stuit.

 

Teen twaalfuur hang my hoed verlep

en gee my fluit die gees,

maar wat, ek gee nie om nie,

môre sal ek slimmer wees.

 

Môre dra ek Pa se strooihoed

vol gate en al oud,

en sny vir my ‘n nuwe fluit

uit sagte wilgerhout.

 

 

Uit die see in die pan

 

‘n Wit boot soos ‘n huis

sit op die watervlak,

en heeldag vang die bootsman

vet visse wat hy bak.

 

En raak die visse skaarser

soek hy ‘n ander plek,

met swarter, dieper water

waar hy kolosse trek.

 

Só kry ons bootsman op ‘n dag

‘n walvis aan sy hoek –

en boot en bootsman, o genade,

is tot vandag toe soek.

 

© Hennie Aucamp. 2 gedigte, April 2011

 

 

Sterrereën

 

Poësie, wat is dit nou eintlik?

 

‘n Mededeling, ja,

dikwels ontsier deur struktuur –

en gedagtebreuke.

 

‘n Oorgehewelde droom, ja,

snel ervaar

en net halfpad begryp.

 

Maar soms,

danksy Athena en al die muses,

word poësie sublieme kommunie

tussen planete en gelykgestemdes

en sidder en ruis die heelal.

 

 

Maanwyser

 

Vanaand brand soos in vroeër tye

die maan weer soos ‘n lamp:

‘n reisiger hoef hierdie nag

geen voet of toon te stamp,

 

en kry hy dalk ‘n maanligwyser

– dié soort het ook bestaan –

kan blootsoog hy die ure lees

tot nog ‘n nag vergaan.

 

 

Mentor

 

Hy was die albatros om my nek.

 

Nou, in sy goedkoop greinhoutkis,

is hy onverskillig en verwyderd

en kan ek my versadig kyk

aan sy grys broue en hoë jukbene,

sy ingesonke mond,

sy stoppelken,

terwyl ek met my halsketting speel

en afgetrokke voel

hoe onder my vingerpunte glip,

een na die ander,

seevoëls uit elpebeen gekerf

en ingeryg op goud.

 

 

Plaassolder

 

“‘n Plaashuis moet ‘n solder hê,

waar stof soos meel oor alles lê” –

van wie dié reëls, en weet die spreker

dat myte juis in stof belê?

 

Dít daar gelate. Skryf maar op:

één sodawaterbottel, in ‘n korset van ogiesdraad;

één tregtergrammofoon, met ‘n paisleykleed gestop

teen die fanfare op ‘n plaat

 

wat hoeka nie meer speel

nie, sy rewolusies afgeloop;

één afpoot-ottoman, verskiete pruisiesblou,

van glans en plek-plek pluis gestroop.

 

Solders spel verleefde tyd:

‘n argeologie van triestigheid.

 

 

© Hennie Aucamp. Januarie 2010

 

 

Aan Barnie ‘n paar vrae

 

Weerskant van jou haakneus

was jou oë sienersblou:

Kan hulle, waar jy nou is, Barend,

‘n heideveld oorskou?

En groei daar sneeu-op-die-berge

in Saron aan die Anderkant?

En neem suurkanol oor en pypies

in die rante ná ‘n brand?

 

En is daar, soos destyds op Steenwerp,

elke aand die ou ritueel

waar jy, neem ek aan, regstellend,

nou sélf die voetwasser speel?

 

 

Deuskant Skerpioenpoort

 

Skerpioenpoort moet jy deur

op pad na die Doodsvallei,

en dit, op jou eie, sal smoor gaan,

want sê nou jy stommel of gly?

 

My vrees het kwalik meriete:

mens is, soos die spreekwoord ook sê,

net één dood skuldig, en mag dit

die een wees wat almal wil hê:

 

Oornag in jou slaap, aan jou hart,

of opgeneem in jou bloed – Warfarin! –

want só kan jy sonder omhaal

jou tweede lewe begin.

 

© Hennie Aucamp. Oktober 2009

 

 

Die Koorwedstryd

‘n kinderversie

 

Al die paddas in die park

gorrel teen verkoue

met pekelwater en anys:

só bly die stem behoue.

 

Kom die Groot Eisteddfod

ding hulle lustig mee

met ander kore in die buurt

om die Stadsraad se Trofee.

 

Elke koor sing twee maal,

iets vrooms, en dan iets guitigs;

oor een ding is die jutse eens:

hou links verby iets stuitigs.

 

Die Parkspan hop tevrede

terug na hul waterplas

waar bekers onder modder

nog altyd veilig was.

 

© Hennie Aucamp. September 2009

 

 

“Fatima”

 

Haar oë loer oor haar jasjmak,
en is duidelik omlyn met swart;
wag laer af daar ‘n glimlag
wat oopgedoek wil tart? 

 

 

“Boesman – I.D.”

 

Sy handdruk teen ‘n rotswand
wou nooit ‘n grot versier;
bevestig bloot, en oor en oor:
eenmaal was ek lyflik hier. 

 

 

Onder die sand

‘n Nama-oorlewering

 

Die Here had min van sy dinge oor

toe hy die Richtersveld gemaak het;

net sand en klippers

en witgatbome.

 

En toe Hy afkyk in die leegte

wat Hy geskep het,

het Hy baie bedroef geword,

en sy trane

het diep in die sand geval,

die een na die ander:

elkeen ‘n diamant.

 

 

Digterlike remedie

 

Digters het altoos

dwaalbos gerook

en jantwak oor ‘n misvuur

tot tinkture verkook.

 

Beelde gaan kop toe

okkult surreëel:

dis hoe digters en sjamane

bestaansbreuke heel.

 

© Hennie Aucamp. Julie, 2009.

 

 

Die eensame wasgoedpennetjie

 

Dertien wasgoedpennetjies

sit op ‘n wasgoeddraad,

een van die wasgoedpennetjies

is sonder lewensmaat.

 

Hy treur en sug maar skielik

wip ‘n sprinkaan op die draad.

“Ook ek,” sê juffrou Sprinkaan,

“is sonder lewensmaat.

 

“Ek kan nie altyd by jou sit nie,

ek moet tog vlieg en eet,

maar as ek op ‘n toer is,

mag jy my nooit vergeet.”

 

Nou sit die eenkant pennetjie

gelukkig en verloof,

en raai, sy sprinkaan-nooientjie

het hom ‘n blaar beloof.

 

 

Sonnet vir Topsi Venter

 

Die kleureoordaad van ‘n najaar

vind sy weg na haar altaar,

‘n skoon geskropte tafel waarop geel

en knaloranje smeul:

 

‘n mandjie kwepers, ‘n boerpampoen,

en as ‘n skerp aksent, die vermiljoen

van bessies, en bruin, vol klossies aarde,

bospaddastoele, en prei met bleekwit baarde.

 

Uit elke kleur damp reeds ‘n geur,

maar alchemié móét nog gebeur

in pot en pan, bo vlam en vuur,

hoe lank ómtowering ook mag duur.

 

Die priesteres staan stil opsy:

weer is ‘n dis volmaak berei.

 

 

Nature morte

by ‘n akwarel van Jan Voerman [1890]

 

Die ware stillewe

word nie opgestel nie:

dit wag reeds vir sy kunstenaar.

 

Dinge

– blomme, visse, brood –

ontmoet mekaar astraal in die tyd,

word aangeraak deur die ligval

op ‘n bepaalde uur;

ruil energieë uit

en sluit ‘n stil verbond:

en so ontstaan ‘n skildery.

 

Soos díe stillewe:

uit ‘n gemmerpot

– verdigte aarde –

ontspring ‘n bos kappertjies,

put uit díe pot hul geel

en reik uit sy donkerblou glasuur

na hoër lugte

en staan verheerlik teen die lig.

 

Die ware stillewe is ‘n essay:

altyd metafisies, altyd

deurtrokke van sterflikheid.

 

 

Flikker, flakker sterretjie

            ‘n sterfliedjie

 

Flikker, flakker sterretjie

jou lig word aans gedoof:

probeer met elke selletjie

vir laas die Ruimte loof –

 

die groot heelal, die hemeltrans,

met sterre om jou, soms verskans,

wat net soos jy aanhoudend wiel

op soek na ‘n sentrale Siel.

 

Flikker, flakker sterretjie

jou battery is oud;

en straks is jy geskiedenis

en word ons wêreld skielik koud.

  

© Hennie Aucamp. Junie, 2009.

 

 

Drieankerbaai

 

‘n Koue wind het opgesteek

en vul die baai met mis

tot dit jou lyk of meeue

bloot dobbervlokke is.

 

Was hul die aand teenwoordig,

kop onder vlerk gesteek,

toe Ingrid deur die wiere beur

en haar as offer breek?

 

Hoe kon hul weet, met oë toe,

skuimvlokke wat ook meeue is?

Die see stoot slissend oor die sand:

‘n Selfmoord is skoon uitgewis.

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

  •