Hennie Nortjé wen die Ingrid Jonker Prys 2013
Tuesday, October 15th, 2013Hennie Nortjé wen die Ingrid Jonker Prys 2013
Hennie Nortjé wen vanjaar die Ingrid Jonker Prys vir Afrikaanse poësie met sy digdebuut, In die skadu van soveel bome (Queillerie, 2012). Petra Müller, Melt Myburgh en Henning Pieterse was die beoordelaars.
Dié bundel bevat volgens een beoordelaar “talle sterk, afgewerkte gedigte waarin eienskappe van verskeie bome en diere verweef word met menslike emosies, karaktereienskappe en ervarings.” Dieselfde beoordelaar spreek waardering uit vir Nortjé se gebruik van rym en halfrym, asook die manier waarop hy digters soos Barend Toerien, Boerneef, I.L. de Villiers en veral D.J Opperman oproep deur gebruik te maak “van verskeie subtiele trope.”
Nortjé, meen ’n ander beoordelaar, “is ’n begaafde digter wat met ’n volwasse stem konstant stilisties afgeronde verse lewer van uitnemende gehalte. Hy verras die leser telkens met sy vermoë om die potensieel alledaagse te verhef tot verruklike poëtiese ervarings wat die grense van die verbeelding skuif.”
Die beoordelaars het dit duidelik gemaak dat daar vanjaar verskeie sterk aanspraakmakers op die prys was. Groot waardering is uitgespreek vir die ander drie bundels wat die kortlys gehaal het: Die lewe tussen pikkewyne deur Jasper van Zyl, Donkerkamer deur Fourie Botha en Wanpraktyk deur Andries Samuel.
Die Ingrid Jonker Prys word jaarliks beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het.
Nortjé sal op 20 Oktober tydens vanjaar se Melville-poësiefees die Ingrid Jonker Prys in ontvangs neem. Henning Pieterse sal die prys, wat uit ’n medalje en kontantbedrag bestaan, oorhandig en met die digter ’n onderhoud voer. Daarna sal Nortjé uit die wenbundel voorlees.
Danie Marais is die sameroeper van die Ingrid Jonker-komitee. Die ander lede van die komitee is Ronel de Goede, Diana Ferrus, Finuala Dowling en Leon de Kock.