Posts Tagged ‘Jaco van den Heever’

Andries Bezuidenhout. Die oond agter Helen Joseph hospitaal

Monday, March 21st, 2011

Die ATKV se Skilder met Woorde II kan binnekort by die KKNK besigtig word. Beeldende kunstenaars en digters werk hiervoor saam aan ʼn projek. Hier is my bydrae, saam met ʼn aangrypende houtskoolwerk deur Jaco van den Heever. Die tema was “Dis Afrikaans” – vir my nogal ʼn moeilike een. Die gedig gaan oor die dag waarop Jaco in die J.G. Strydom hospitaal gebore is. Ek het navorsing gedoen oor ander gebeurtenisse daardie dag en die gedig daarmee afgeskop. Jaco het die “situation” waarin hy gebore is beskryf as “’n oorlog wat ek nie kan sien nie.” J.G. Strydom hospitaal se naam is later na Helen Joseph toe verander. Ander digters wat aan Skilder met Woorde II deelgeneem het, is onder andere Danie Marais, Loftus Marais, Carina Stander, Bernard Odendaal en Johan Myburg. Meer inligting hier.

 

"4 Augustus 1979", deur Jaco van den Heever

"4 Augustus 1979", deur Jaco van den Heever

 

 

4 AUGUSTUS 1979 

i found myself in a situation
– Wopko Jensma

Op hiérdie dag is ʼn vlieënde piering
in Roseville, Michigan, VSA, gewaar,
het draakberg Etna as geblaas,
knak Jimmy Page by Knebworth
ʼn snaar en ver daarvandaan
– in ʼn plek genaamd Suid-Afrika,
in ʼn oorlog wat ek nie kan sien nie –
snak ek tentatief na asem
in J.G. Strydom hospitaal.

En nou? Sal ek hierdie datum
op my longe se boom
gaan haal om in my keel
te vibreer, my tong en lippe die syfers leer?

Of sal ek dink: Albatros –
dan stilbly, soos die afgekampte oond
wat opgebruikte organe en ander reste
agter Helen Joseph hospitaal verskroei,

sal ek sê jakkals,
sal ek sê elmboog,
sal ek sê sjibbolet?

Of sal ek die vlamme in beur,
uit my buik skree: Feniks.

"4 Augustus 1979" - detail

"4 Augustus 1979" - detail II

 

Andries Bezuidenhout. Johannesburg in houtskool

Thursday, August 5th, 2010

Ek werk op die oomblik aan ʼn projek saam met die beeldende kunstenaar Jaco van den Heever. Hy doen houtskoolsketse, op die oomblik meestal tonele uit Johannesburg – city scapes, soos hulle op Engels sou sê (“stadskappe” werk net nie lekker nie). Sy mees onlangse uitstalling se titel is “Civilized Violence” – lees ʼn resensie daarvan hier.

ʼn Mens doen kunstenaars altyd ʼn onguns aan deur hulle met ander te vergelyk. Laat ek egter waag om te noem dat sy tonele aan William Kentridge herinner, maar dat sy tegniek baie fyner is; dalk iets van Diane Victor. Baie van die tonele uit die uitstalling ken ek goed. Soos Gerhard Moerdyk se kerk by Cottesloe:

Cottesloe is natuurlik bekend oor die verklaring wat daar geskryf is oor die Bybelse grondslag van apartheid (“Niemand wat in Jesus Christus glo, mag uitgesluit word uit enige Kerk op grond van sy kleur of ras nie.”; “Daar is geen Skriftuurlike gronde vir ‘n verbod op gemengde huwelike nie.”). Vir ʼn rare oomblik had die dominees ʼn punt, maar die politici het met mag en mening op hulle toegesak. Anders as Beyers Naudé, kon min van hulle die druk weerstaan; kies toe Verwoerd bo geloof.

Ek dink altyd aan hierdie gebeurtenis in 1960 as ek by die kerk verbyry, alhoewel die verklaring self nie daar geskryf is nie. Net oorkant die pad is die ou “Gas Works”, wat in die volgende skets is:

Johannesburg bly vir my ʼn besonderse stad. Ek pak die bokse by die woonstel met ʼn swaar hart in, luister na Valiant Swart se “Jacaranda”, oor en oor. Ek dink ook die heeltyd aan “Paul van der Zandt”, ʼn lied deur Brixton Barnard, wat saam met my in die Brixton Moord & Roof Orkes speel. Dit vat iets vas van die stad in daardie jare wat ons so in limbo was – 1990 tot 1994:

Paul van der Zandt, suiker het deur jou gebrand –
jy kon net nie stil sit, die boy wat se gat juk
was orals in Johannesburg en omliggende areas berug,
jy het mense ontstig.
Hulle het geweet dat jou kop raas, kon nie wag dat jy uitpass,
of iewers anders op daai motorbike wou gaan roam –
Doors, Alcatraz, Thunderdome.
Jy was bourcers se slaansak, hulle’t gekom met ʼn snotklap
tot jy een aand met ʼn baksteen opstaan – hy retireer,
so het die dinge gebeur.
Op daai eindelose Vrydae, op daai eindelose Vrydae
toe ons almal gemaak het of die son nooit weer sou skyn
oor die ou grys geboue, in jonkwees se kloue
met niks om te doen but onsself te versoen
met die feit dat ons net hier rondkruip;
punks en headbangers, gothic sonskerm,
Luther Lugosi was eintlik Albertus Jan Theron;
ons was almal alright.
Le Club, happy hour, Donderdae duiselig,
Vrydae het white trash vir hul sondes by die werk loop betaal,
al die stories herhaal.
Die boere maak skoonskip, het net in tyd my trip,
my bong in my long my dot op die tong ingesluk;
dagbreek toe druk.
Rudi se wit Ford, somer se lang quarts
Tony Wyomi nie Juffrou Ciccone, my vriend
ons het almal gedroom;
geslaan aan kitare, grunge en lang hare –
die pyn van Cobain, die Cramps se drug train,
pay your dues, nog ʼn amp wat uitfuse,
nog ʼn band met ʼn drommer wat verlief raak op ʼn nommer
en sommer sy stokkies ophang vir die babakakblues,
die babbakakblues…

Paul van der Zandt, ek hoor maar net nie eers koerant,
van jou tragiese einde, in Marketstraat, eintlik
het ek jou ʼn week voor die tyd in Wings Beat Bar gesien;
jy’t gesê jy is all right, jy’t gesê jy is all right,
jy’t gesê dit gaan goed
en Kurt Cobain het gesweer hy’t nie ʼn geweer.

Nou wonder ek: Is dit toelaatbaar om in ʼn band genaamd Brixton Moord & Roof Orkes te wees as jy in Pretoria woon? Aan die ander kant, ek woon lank nie meer in Brixton nie. Toe die Abelarde Sanction sy deure toemaak was die plek nooit weer dieselfde nie.

  •