Posts Tagged ‘Jacobus Swart gedig’

Jacobus Swart. naggesprek

Sunday, December 19th, 2021

 

naggesprek

 

groeiend deuraarde steen

deur die blou kaak in die woordstroom geuiter

 

ontleende diskoers

die skyndaad

 

langs pikdraadbome

aftastend

na mikrotonaliteite

drywend in water

 

aan die ruimtevaarder:

sit neer die klip wat jy opgetel het

die maan laat haar nie onder vier oë spreek nie

 

 

© Jacobus Swart, 2021

 

 

 

Jacobus Swart. Johann Joachim Winckelmann

Sunday, December 19th, 2021

 

Johann Joachim Winckelmann

 

die kuisheid van armoede

jeugdige blos op die wang

sober bloed

 

van aangesig tot aangesig

staan jy in die pouslike binnehof

woord en beeld

na mekaar gekeer

in groter juistheid

meer as waarheid

vir mekaar gegee

 

in Trieste

op jou bed

met die mes in jou maag

 

die opening van die mond

weidse liturgie

op klipwande van Egiptiese kelders

 

provenance vir beide

deur Francesco Arcangeli beëdigd verklaar:

 

ek het daardie pris sensuele lippe

tong en wit tande

in die Big Mac laat byt

 

 

© Jacobus Swart, 2021

 

Jacobus Swart. Elisabeth Eybers op ‘n hospitaalbed

Sunday, December 19th, 2021

 

Elisabeth Eybers op ‘n hospitaalbed

 

‘n berig

oor die ekshibisionis Han van Meegeren

vroeër die oggend in die koerant raakgelees

kom vlugtig by jou op

 

pas na middagete

in ‘n bedbaadjie

deur kussings op-gebeur

jou knie ‘n puinhoop

 

uit die bloute

‘n welkome besoeker uit jou binnekring

 

gaaf

uit sy stroop gelig

in spekulatief-belese Noord-Europese lig

 

gee jy vir haar

met n deurwinterende hand

vanaf jou skinkbord

 

in sy kardanusring

‘n halwe perske in ‘n porseleinbakkie

 

van raklewe geen sprake meer nie

onuitstelbaar  subfebriel

die stompsinnige nasny
van ‘n flitsende lepel in omblosde oranje

 

netjies kou sy op haar stoel

geslote lippe gepers

voor sy sluk

 

dit is jou blik

wat in haar afsak

 

spysbry voor die pilorus aangemeld

bekragtigde gildebrief

om met ander se goed

die woord te laat erf

 

© Jacobus Swart, 2021