Posts Tagged ‘Jacques Lacan’

Marlies Taljard: That blessed place wherein the symphonies flow

Friday, December 6th, 2013

Ek dra hierdie blog op aan die nagedagtenis van Nelson Mandela

Die simboliese orde is ‘n begrip wat deur Lacan gebruik word en aan die hand waarvan Kristeva haar siening van die semiotiese staat definieer. Dit is dié toedrag van sake wat as die “normale” kondisie van die samelewing of die sosiale raamwerk waarmee die meeste mense binne die sosiale opset hulleself identifiseer, beskryf kan word. Dit is daardie omgewing waarin die subjek hom bevind wanneer hy/sy van taal en simbole gebruik maak om te kommunikeer, die terrein van strukture, wet en orde. Binne die poësie verteenwoordig die simboliese orde letterlike of woordeboekbetekenis van woorde of taaluitinge. Daarteenoor stel Kristeva die semiotiese poëtiese tipe taalgebruik. Sy wys daarop dat “there is within poetic language (…) a heterogeneousness to meaning and signification” (Kristeva, 1980:133). Hierdie veelvuldigheid en meerduidigheid wat tesame met die letterlike betekenis van ‘n poëtiese teks bestaan, noem Kristeva semiotiese betekenis, na aanleiding van die Grieks sémeion wat die betekenis het van ‘n duidelike merk, spoor, indeks, teken, bewys, gravure of afdruk (Kristeva, 1980:133). Kristeva (1980:134) voer aan dat die semiotiese komponent van betekenisgewing binne poëtiese tekste die simboliese opponeer en oorheers. Tog is die simboliese aspek van signifikasie nooit heeltemal afwesig nie: “However elided, attacked, or corrupted the symbolic function might be in poetic language, due to the impact of the semiotic processes, the symbolic function nonetheless maintains its presence” (Kristeva, 1980:134).

 

Die gedig Apostase is een van die gedigte wat ‘n sterk kodifiserende funksie binne Marius Crous se bundel Vol draadwerk vervul, veral met betrekking tot ondermyning en bevraagtekening van stagnante religieuse praktyke en die Christelike geloof. Ek het in ‘n vorige blog reeds na hierdie gedig verwys. Die kode van afvalligheid en selfs van blasfemie wat in die gedig geartikuleer word, kom ook in die res van die bundel voor. Die klem val op twyfel aan die sinvolheid van ‘n godsdiens wat oënskynlik sy relevansie in die huidige tydsgewrig verloor het deur die gebruik van uitdagende, godslasterlike frases soos “hier om die slagtafel”, “boggelbek-beeldpoetser van die bees” en “ek tiep die kelk / en vreet die liggaam van die silwer skaal”. Hierdie tipe taal word deur Kristeva as semiotiese poëtiese taal bestempel. In hierdie geval omdat dit as “pulveriserend” beskryf kan word: die fondamente van die geloofsisteem word daardeur sodanig ondergrawe dat die struktuur kan begin intuimel. In ooreenstemming met die meerduidigheid van betekenisgewing binne poëtiese taal, soos dit deur Kristeva verstaan word, moet daar egter eweneens rekening gehou word met die Oosterse filosofiese tradisie waarin profanering of ontluistering van heilige dinge daartoe dien om die mens se verstand te suiwer en ‘n totale paradigmaskuif aan die hand te doen.

 

‘n Gedig wat tematies met die bogenoemde gedig verband hou, is Meditasie. In hierdie gedig word die signifikasiemeganismes wat dieper sin aan godsdiensbeoefening gee, bevraagteken deur belangrike simbole van verskillende godsdienssisteme met mekaar te vermeng en sodoende ‘n hibriede teks tot stand te bring – volgens Kristeva nog ‘n eienskap van semiotiese poëtiese taal. Só word die transendentale waarhede wat in dié simbole geleë is, van hulle uitgediende en selfs anachronistiese betekenis, soos dit binne ‘n bepaalde tradisie bestaan, gestroop. Terselfdertyd word dié simbole egter met nuwe betekenis ingeklee deur nuwe assosiasies en verbindinge te lê in ‘n oop, hibriede teks waarin simbole uit verskillende tradisies saam resoneer en mekaar kreatief bevrug:

 

MEDITASIE

 

met wierookstokkies in my hand

sal ek vir altyd rookseine maak

lemniskate eiers maskers

‘n bril

twee oë wat vaal staar van nêrens af

in my kop sal ek die ghongs

die platdrom die tempelhorings

kristalklokkies hoor

die boot met die boekvrag

hoor aandryf na die oorkant

papiere soos meeue oor die water

in my reistas my mariabeeld

‘n rosekrans

op die boeg ‘n vasgespykerde boeddha

wat sal ek die wyses aan wal vra

hul pols oor die vuur in die stuitjie

of die hart se draadwerk

die resep vir die ronddryf

soos ‘n drol om die skuit

die oog van die kool in die ghat

of die son se vingerklap

 

Meditasie (wat in Oosterse tradisies daarop gemik is om ‘n toestand van verligting of satori te bereik) word in hierdie gedig beskryf as ‘n geskakeerde, multidimensionele en ambivalente ervaring waarin verskeie godsdienstige tradisies verteenwoordig is: Oosterse godsdienste deur die brand van wierook, die slag van die ghong en die lui van klokkies; inheemse Amerikaanse tradisies deur rookseine; die Grieks-Romeinse tradisie deur die bootvaart na die “oorkant”; die Rooms-Katolike tradisie deur die Mariabeeld en die rosekrans; Zen Boeddhisme deur die koan in die slotreël …

 

Die vasgespykerde Boeddha is ‘n voorbeeld van ‘n hibriede simbool wat sowel die Christelike as die Boeddhistiese tradisies verteenwoordig en mag dui op die ooreenkomste tussen verskillende geloofstradisies. Nog ‘n meerduidige simbool is Bernouli se lemniskaat (∞) (syfer agt wat op sy sy lê), ook bekend as die oneindigheidsimbool. In spirituele praktyke verwys die lemniskaat na die oneindigheid, die numineuse en na hoër spirituele magte. Dit verwys dus na uiteenlopende spirituele praktyke. Die lemniskus kom dikwels in die Major Arcana van die Tarrot voor as simbool van die eerste kaart, die Magus wat hoër goddelike magte probeer beheer. Binne die paganisme kan die ∞ in verband gebring word met die paganistiese oktagram.

 

‘n Ander interessante verwysing is dié na die verskillende geluide wat gehoor word terwyl die spreker mediteer met “twee oë wat vaal staar”. Maulana Rumi sê oor hierdie geluid: “O God, lead my soul to that blessed place, wherein thy symphonies flow”. Die Nadibind Upanishad sê: “A yogin ought to sit in Sidha Asan (a yogic posture), and adopting Vaishnavi Mudra, should hear within him the “Sound” coming from the right side” (Singh, 2003:136-7). Volgens Kirpal Singh (2003:128) is die hoor van hierdie “musiek” dié element wat alle godsdienste saamsnoer: “All scriptures of the world tell us that Shabd is above the material and efficient cause and All-Controlling Power of the Universe.” Dit staan onder talryke name bekend, onder andere die Logos, die Woord, Shabd en Naam. Singh (2003:128-9) beskryf Shabd soos volg: “The subject of Shabd is such that we cannot do justice to it by discursive reasoning. All that can be said is that ‘Shabd’ implies the Power of God that has created and is sustaining the various grand divisions, divisions, and subdivisions of the vast creation of God”. Dit sluit by die lemniskaat-verwysing aan deur assosiasie met die oneindige: “It is the Causeless Cause, the eternal self-existing life, running endlessly in and out of time. It is the very soul of the Creative Power, all pervading even to the purely spiritual realm – Sat Lok” (Singh, 2003:128). Pythagoras en Sokrates beweer dat dié geluid hulle na hoër spirituele dimensies meevoer. Dit is die geluid wat Plato die “musiek van die sfere” noem. Ook die Bybel, die Gita en die Vedas praat daarvan deur middel van simbole en verskillende name. Madame Blavatski beskryf die geluid as dié van ‘n nagtegaal, dan die lui van silwer simbale, daarna die oseaan, die Vina – die bamboesfluit, trompette en uiteindelik die gerammel van donderweer (Singh, 2003:147). Verwysing na hierdie mistieke tradisie waarin meditasie gebruik word om deur bemiddeling van die transendentale “musiek” hoër spirituele dimensies te bereik, impliseer ‘n spirituele verwysingsraamwerk wat nie gebonde is aan rituele wat slegs met bepaalde godsdienste vereenselwig kan word nie. Verder word die suggestie gelê dat dié spirituele waarhede van ‘n numineuse aard is en buite Lacan simboliese orde van gestruktureerde taaluitinge lê.

 

In die laaste reëls van die gedig word ‘n vloeibare toestand gesuggereer, onder andere deur die gebruik van die woord “ronddryf” – ‘n toestand wat direk in teenstelling staan met die vastigheid (selfs verstardheid) van die simboliese orde. Ontbinding word in die derdelaaste reël geïmpliseer, ‘n reël wat nie noodwendig verstaan moet word in terme van dekadensie en destruksie nie, maar, byvoorbeeld binne Zen-denke, kan ontbinding in verband gebring word met die losmaak van dinge uit hulle gewone verband sodat nuwe betekenis kan ontstaan.

 

Ook die koan-agtige slotreël dui op die bereiking van satori (verligting): Een van die maniere waarop Zen-Boedhiste satori bereik, is deur die stel van ‘n nie-rassionele vraag waarop die intellek geen antwoord kan verskaf nie en waarin die ego dus uitgeskakel word. Ook hierdie proses dui op die dominante rol wat semiotiese prosesse by die interpretasie van die gedig speel ten einde die simboliese orde te ondermyn.

 Bronne:

Kristeva, Julia. 1980. Desire in language: A semiotic approach to literature and art. Vertaal uit die Frans: Thomas Gora, Alice Jardine en Leon S. Roudiez. New York: Columbia University Press.

 Singh, Kirpal. 1960, Sewende uitgawe 2003. Naam or Word. Irvine: Ruhani Satsang. http://www.ruhanisatsangusa.org/pdf/Naam.pdf

 

  •