Jacques Roubaud – vertaling in Afrikaans
Tuesday, February 7th, 2012Jacques Roubaud – vertaal deur De Waal Venter
Tussen baie gedigte
Tussen baie gedigte
Was daar een
Wat ek nie meer kon onthou nie
Behalwe dat ek dit aanmekaar gesit het
Eenkeer
Toe ek in hierdie straat afgestap het
Aan die kant met gelyke nommers
In die helder vloeiing van die oggend
‘n Straat met winkeltjies wat vasklou
Tussen die verwonde Seine en die hospitaal
‘n Gedig geskryf met my voete
Soos ek altyd my gedigte aanmekaarsit
In stilte, en in my kop, terwyl ek stap
Maar ek kan niks onthou nie
Behalwe die lig en die toevalligheid
Wat in die gedig laat verskyn het
Die woord “respek”
Wat ek nie gewoonlik laat tril
In die gedagteblaaie van poësie nie
Maar behalwe dit is daar niks
En hierdie woord hierdie onbeweeglike woord wat nie roer nie
Getuie van die straat se einde
Soos ‘n boom vergete in die ruimte
© Parmi beaucoup de poems, Jacques Roubaud (1932); uit die Frans vertaal
deur De Waal Venter
In Swede is Någonting svart gekies as die beste versameling in 2008. Die digter was uiters verbaas want dit is ‘n vertaling van Quelque chose noire wat oorspronklik in 1986 verskyn het. In die bundel druk Roubaud sy smart uit oor die dood van sy vrou, Alix Cléo. Die krag van die gedigte lê in die hoogs uiteenlopende poëtiese benadering tot die geheimenis van die dood. Roubaud is voorturend besig om nuwe vorms te ontwikkel gebaseer op bestaandes wat hy aantref in die liedere van troebadoers, antieke Japanese poësie en meditasie-spreuke. Hy word as een van Frankryk se belangrikste lewende digters beskou. – DWV