Posts Tagged ‘Jan Rabie’

Desmond Painter. ’n Wêreld sonder grense? Nagreise na Kreta

Monday, April 11th, 2011
Jan Rabie

Jan Rabie

Jan Rabie het na Kreta, waar hy 30 maande gewoon het, verwys as die “klipwieg” van Europa en die Westerse beskawing. Die Minoïese nalatenskap, oral te sien op die eiland, skep inderdaad die indruk van ‘n byna ondeurgrondbare historiese en kulturele kontinuïteit. Maar Kreta was nog altyd eintlik meer kruispad as vestiging – ‘n gebied van hibriede identiteite nog voor die begrip “hibriditeit” in die postkoloniale teorie modieus geword het; ‘n plek van invallers en vlugtelinge; ‘n sone van besettings, vestigings en hervestigings. 

‘n Mens sal verskoon word as jy dink Kreta se enigste besoekers is die massas toeriste wat jaarliks op haar strande toesak. Die nasionalistiese preokkupasie met die ideologie van een kultuur, een taal en een godsdiens is hier meestal net so vanselfsprekend as elders in Europa, en alledaagse, toeristiese sowel as amptelike voorstellings van Kreta is dat dit eksklusief Grieks was, is, en altyd so sal wees. Tog is daar benewens die jaarlikse kom en gaan van toeriste ‘n ewe aktiewe verkeer van ongedokumenteerde migrante (in die openbare diskoers, ‘onwettige’ migrante), asook politieke vlugtelinge en asielsoekers.

Somige van hierdie hoopvolle ongedokumenteerdes steek die verraderlike Middellandse See oor in bote van Noord-Afrika, op pad na verskillende bestemmings op die Europese vasteland (daar is al na die Middellandse See verwys as die grootste Europese massagraf sedert die Tweede Wêreldoorlog…); ander, en die meeste van diegene vir wie Kreta die bestemming is, kom van plekke soos Albanië, Bulgarye en Sirië – en ander lande op die suid-oostelike periferie van die Europese Unie (EU). 

Sommiges kom met die idee om te bly; ander steek die grens, of meervoudige grense, meermale oor in komplekse, dikwels seisoenale patrone van transnasionale beweging. Die belangrikste rede vir hulle ingewikkelde, dikwels gevaarlike passate – soms op hulle eie, soms georganiseer deur sindikate – is die beskikbaarheid van werk in die toerismebedryf, konstruksie of landbou. Duisende word aangekeer en gedeporteer (die grens word immers geïntensifiseer, eerder as ondermyn, in ‘n multinasionale Europa waar elke deelstaat verantwoordelikheid aanvaar vir elke ander deelstaat se grens), maar ‘n groot groep word nie-amptelik en sonder dokumente deurgelaat.

Eerder as totaal gefortifiseer, volg die grens ‘n differensiële logika wat ‘n fyn aanvoeling toon vir die arbeidsbehoeftes in die onmiddellike omgewing. Ongedokumenteerde migrante bevind hulle dus in ‘n soort skadu-ekonomie wat ‘n goedkoop ooraanbod van arbeid beskikbaar maak aan taverne-eienaars, boere en boukontrakteurs, sonder dat enige maatskaplike voorregte en sekuriteit of kulturele en politieke verteenwoordiging in ruil aangebied word. 

Die amptelike nie-verteenwoordiging of onsigbaarmaking van ongedokumenteerde migrante beteken dat hulle dikwels uitgelewer is aan ander, meer venynige soort voorstellings – byvoorbeeld, die manier waarop die media en politici hulle verbind aan die morele panieke oor georganiseerde misdaad en, deesdae veral, internasionale terrorisme. Hierdie kortsluiting in die politiek van verteenwoordiging kan natuurlik toegeskryf word aan die feit dat politieke verteenwoordiging steeds grootliks binne die parameters van die nasiestaat bedink word.

Selfs welwillende intervensies volg meerendeels ‘n nasionalistiese logika: migrante moet geïntegreer word in die heersende nasionale kultuur. Die probleem is egter dat hierdie soort reaksies nie tred hou met die manier waarop ongedokumenteerde migrasie, soos die gedereguleerde vloei van kapitaal, ‘n outonome, transnasionale proses geword het nie.  Die nasionalistiese raamwerk, of dit nou eksklusief of inklusief is, faal dus as ‘n politieke verbeelding wat ongedokumenteerde migrante, en eintlik ons almal, van voortgesette verteenwoordiging en openbare deelname aan ‘n politieke gemeenskap (eerder as private deelname aan ‘n suiwer ekonomiese gemenebes) in ‘n globaliserende, post-nasionalistiese wêreld kan verseker. 

Kreta, Griekeland

Kreta, Griekeland

Terwyl Europa aan die eenkant deur uitbreiding as geopolitieke streek vergroot, bevestig en gefortifiseer word, word dit aan die anderkant ook juis in die nuwe grensgebiede toenemend gedesentreer en vloeibaar gemaak. En dit is juis die Suid-Ooste, tradisioneel op die periferie van Europa, wat op hierdie manier die middelpunt geword het van transnasionale bewegings en, meer grondliggend, Europese selfdefinisies.

Wat ek hierbo oor Kreta gesê het, geld dus ook Griekeland, Slovenië, Suid-Italië, Turkye en ander, waar die rituele dramas van grensbeheer, nagtelike oorgange, deportasies, vlugtelingkampe, en die informele arbeidsmark plaasvind. Dit is hier, eerder as as in die ekonomiese en ideologiese hart van die EU, waar die betekenis van Europa, grense, burgerskap, en van politieke gemeenskap opnuut bedink kan word. 

Presies hoe ‘n post-nasionale politieke gemeenskap sal lyk, en of begrippe soos “burgerskap”, “internasionale menseregte” of “gemeenskap” nog enige drakrag het, is nie altyd meer duidelik nie. Wat wel duidelik is, is dat migrasie toemenend aangespreek en verhef word tot ‘n strydpunt vir diegene in Europa wat soek na ‘n regverdiger globalisering en die definiëring van ‘n ander politiek. Dit is ook die toetssteen vir pogings om anders (lees: post-nasionaal) te begin dink oor dinge soos minderheidsregte, rassisme en anti-rassisme, burgerskap, politieke gemeenskap en die rol van die media.

Die vraag waarmee ons gelaat word, is dit: Hoe moet ons ons posisioneer in ‘n markfundamentalistiese wêreld waar plek toenemend opgehef, grense noodwendig oorskry en gerelativeer, en die rol van nasionale politiek vereng word tot die bied van polisiëring en militêre eerder as maatskaplike sekuriteit? ‘n Wêreld, met ander woorde, waar nie net wegdoenbare produkte nie, maar ook wegdoenbare gemeenskappe, plekke, omgewings en lewens geskep word.

Johann Lodewyk Marais. Wilhelm Knobel van Bethlehem

Saturday, July 18th, 2009

Johann Lodewyk Marais

 

Met Wilhelm Knobel (1935–1974) het ek die eerste keer in koerantberigte oor die Sestigers kennis gemaak toe ek op hoërskool op Harrismith was. In daardie jare was skrywers op grond van hul teenkanting teen apartheid en sensuur baie in die nuus. Dink maar aan Breyten Breytenbach se toespraak in Februarie 1973 by die Sestigerkongres by die Somerskool van die Universiteit van Kaapstad, wat tot groot omstredenheid gelei het. Veral die nuwe, verligte Sondagkoerant, Rapport, het die leser op die hoogte van die woelinge gehou.

 

Tydens die Sestigerkongres is ’n foto van Breytenbach saam met Chris Barnard, John Miles, P.G. du Plessis, Lina Spies, Jan Rabie, Berta Smit, Hennie Aucamp, George Weideman en (byna eenkant) Wilhelm Knobel geneem. Op die foto het Knobel soos tewens byna al die ander mans ’n pak klere en ’n das aan en dra hy ’n sonbril. Dit was ’n era toe skrywers nog ’n “sense of occasion” moes gehad het. Breytenbach en Miles was die enigstes sonder das! Hierdie foto het lank my visuele beeld van Knobel bepaal.

 

In hierdie tyd, waarskynlik in 1973, het Knobel ’n keer in my klas ter sprake gekom. Die skoolhoof, mnr. Johan Steyl, ’n oud-Vrystaatse rugbyspeler, het met die st. 8-klas oor die vorige kwartaal se punte en ons vakkeuses kom praat. Met sy borselkop, staalblou oë en regop houding het Steyl gesag afgedwing en dissipline streng toegepas.

 

Steyl was sterk partydig vir wiskunde. Ter illustrasie het hy verwys na ’n leerling wat op Bethehem, die buurdorp waar hy elf jaar lank wiskundeonderwyser aan die Hoërskool Voortrekker was, hom gevra het waarom jy wiskunde op skool moet neem as jy nie in hierdie rigting gaan studeer nie. Steyl het nie van die vraag gehou nie, waarmee seker nie fout gevind kan word nie, en duidelik onvleiend verwys na een van die Sestigerskrywers en dié se foto wat onlangs in die koerant saam met dié van die ander Sestigers verskyn het. Die Sestigerskrywer waarna Steyl verwys het, was gewis Wilhelm Knobel.

 

Sestigerskrywers was in daardie jare omstrede, selfs op skool. In my Afrikaans-onderwyser, mnr. Cas Steenekamp, se klas was daar iets van ’n openlike stryd teen hierdie skrywers. Behalwe die berigte in die pers het die Broederbond agter die skerms ’n verbete stryd teen die invloed van die Sestigers gevoer, wat tot in die Afrikaans-klaskamer deurgewerk het. (Dit is ’n stuk geskiedenis waaroor ek nog uitvoeriger wil skryf.) Ek volstaan egter deur te sê dat Knobel ’n vae bekende was toe ek van sy onverwagse dood in Januarie 1974 gehoor het.

 

Die eerste bundel wat ek van Knobel besit het, het ek by die lank reeds vergete tak van Perskor in Andriesstraat in Pretoria gekoop. Dit was die Nagelate gedigte wat deur Knobel se jongste broer, Deon Knobel, versorg is en in 1976 deur Perskor gepubliseer is. Veral die biografiese inleiding tot die bundel het my belangstelling in hierdie skrander man geprikkel, terwyl die voorbeelde van sy handskrif my gefassineer het. (Die gedigte was ongelukkig nie op dieselfde peil as dié in die twee bundels wat tydens sy leeftyd verskyn het nie.) Uit die inleiding en die gedigte self kon ’n mens aflei dat Knobel ’n nogal moeilike lewe gehad het en dat veral sy laaste lewensjare nie maklik was nie.

 

As boorling van die Oos-Vrystaat het Knobel my nog altyd geboei, maar tot dusver is geen indringende aandag aan sy werk gegee nie. Selfs sy mede-Sestigers wat oor sy dood getreur en gesê het dat hy ’n betekenisvolle bydrae gelewer het, het min gedoen om sy lewe en werk aan ons bekend te maak nie.

  •