Posts Tagged ‘Janien Linde resensie’

Resensie: By die dag (Eunice Basson)

Tuesday, August 4th, 2020

 

 

By die dag  deur Eunice Basson. Graffiti, 2020

Resensie: Janien Linde

 

Nostalgiese poësie oor die skoonheid en verskriklikheid van die alledaagse

 

Eunice Basson se tweede digbundel, By die dag (2020), bevat verse waarin die begrip “dag” ʼn beeld word waarmee tydsverloop, alledaagsheid en weerloosheid op liriese wyse verbeeld word. Die gedigte kan beskryf word as sketse; beeldende fragmente van (klein) alledaaglikse oomblikke. In hierdie opsig is spesifiek die dood ʼn deurlopende tema aangesien die ontstellende alledaagsheid van die dood herhaaldelik in die gedigte na vore kom. Die mens is uitgelewer aan die verloop van tyd, en die onvermydelikheid van die dood. Dit beteken egter nie dat dae nie ook gekenmerk kan word deur skoonheid nie; beide die skoonheid van die natuur en mensgemaakte skoonheid. As kunsgeskiedkundige is Eunice Basson se gedigte deurspek met verwysings na die beeldende kunste en die bydraes van kunstenaars tot die artistieke bewussyn van die mensdom.

Die motto van die bundel is die Britse digter, Philip Larkin se woorde “Days are where we live” (2001). In hierdie gedig vra Larkin die volgende vrae: “What are days for?” en “Where can we live but days?” Dié motto plaas ʼn sterk tydruimtelike aspek op die voorgrond. Dae verteenwoordig tyd, maar ook ruimte. Die belewenis van ʼn dag is ʼn manier om ʼn mens se lewenstyd te meet, maar ook om jou ruimte af te baken. Dae glip vinnig een na die ander verby, maar dit is binne-in dae waar die lewe plaasvind. Hierdie sensitiwiteit vir die vervlegdheid van tyd en ruimte spreek reeds uit die titel van die aanvangsgedig, “Domicilium Citandi” (p.9), asook in ander titels in die eerste afdeling van die bundel soos “Vlietend” (p15), “Werf” (p.17), “Verloop”(p.19), en “Oestyd”(p.23).

Die bundel is in vier titellose dele verdeel wat elk op verskillende maniere voortbou op bogenoemde deurlopende tema. Die verse in die eerste afdeling is oorwegend natuurgedigte waarin die klein lewens van diere in fyn detail beskryf word. Die simboliese betekeniswaarde van voëls word spesifiek ryklik ontgin. Die naasmekaarbestaan van mens en dier word op subtiele wyse verbeeld, en die intieme ruimtes van tuine word die verhoog waarop die alledaagsheid van menslike en dierlike bestaan uitgevoer word. Die eerste afdeling maak ook voorbrand vir die fokus op hoe drasties mense se lewensomstandighede van mekaar kan verskil wat in die derde afdeling aan bod kom.

Die pragtige verse in die tweede afdeling kan beskryf word as ʼn viering van kuns en kunstenaarskap. Die gedigte “Blou” (p.30), “Rooi” (p.31) en “Geel” (p.32) is gelyktydig interessante odes aan die primêre kleure wat skilders tot hulle beskikking het, en vieringe van die verskeidenheid waardeur kuns gekenmerk word: van die aangrypende diepblou in die altaarkuns van Duccio di Buoninsegna, die kenmerkende rooi van Caravaggio se skilderye, tot die dowwe oker van rotstekeninge. Suid-Afrikaanse kuns word spesifiek in ʼn aantal gedigte gevier. “Heildronk” (p.33) is ʼn viering van die begeesterde aanpak van die kunstenaar Nel Erasmus se “die dwingende dagtaak” deur te verwys na haar eie skildery “The Toast”. Pierneef se geplaastheid in en fokus op die Suid-Afrikaanse ruimte word vertellend weergegee in die gedig “Pontdrif, Limpopo, Junie 1956”.  Van bekende en gevierde kunstenaars verskuif die fokus in die afdeling dan stelselmatig na die klein “kunswerke” van gewone mense se lewens. Die verskriklike alledaagsheid (in ʼn Suid-Afrikaanse konteks) van die digter Tom Gouws se dood word geplaas naas die skoonheid van ʼn leiklipwerker se sekure vakmanskap. Die onvermydelikheid van die verloop van tyd, oudword en die dood kom in hierdie afdeling al hoe sterker na vore. Die mens se weerloosheid ten opsigte hiervan word belig in aangrypende gedigte soos “Almanak”(p.39), “Ek neem my ma se hand” (p.41), “Saalrondte” (p.45) en “Amper sand”(p.46).

Soos reeds genoem plaas die gedigte in die derde afdeling die fokus op hoe uiteenlopend die lot van verskillende Suid-Afrikaners is. Verhale van, onder andere, ʼn getroue sekretaresse se ondankbare lewe (“Voorslag”, p.49), ou vrouens wat hul klein lewens in die stede uitleef met ʼn trekwaentjie agterna (“In klein maat”, p.50), en ʼn boer se besoek aan sy soldaatseun se graf (“Die boer”, p.60) word gejukstaponeer met die tragiese lotgevalle van ʼn geldwabestuurder (“Sirene”, p.51), ʼn arm gesin wat sterf nadat hulle per ongeluk giftige sampioene geëet het (“Duiwelsbrood”, p.62) en ʼn slagoffer van die onmenslikheid van die Life Esidimini-skandaal (p.63). Die skreiendheid van die invloed van geld op mense se bestaan word ook onder die vergrootglas geplaas in die onthutsende gedig “Plakker” (p.61):

 

Kuddekultuur op agterruite van motors –

voorstedelike piktogramme geestig geanimeer:

man met ’n gholfsak, tenger vrou vervaard;

twee sportiewe kinders, met hond loom teen die ruit.

Hy sien hulle uit die motor klim:

’n onsigbare lapswaaier wat hoop dat

’n paar munte dalk na sy kant sal kom

vir melk en brood later,

onder struik en verweerde karton.

 

Vanaf die partikuliere en die lokale, brei die gedigte in die vierde afdeling dan uit na lewens en swaarkry in ander wêrelddele. In die gedig “Per abuis hier” (p.69) word die toevalligheid daarvan om op ʼn spesifieke tyd op ʼn spesifieke plek te wees ondersoek aan die hand van die verhaal van die wesel wat per ongeluk in die deeltjieversneller, die “Large Hadron Collider”, in Europa beland en wetenskaplikes se voortvarendheid vir ʼn kort tydjie omvergewerp het. Daarteenoor word die noodwendigheid van geplaastheid in spesifieke tydruimtelikhede bepeins in gedigte soos “Die honde van Delhi” (p.67) en “By die see” (p.72). In laasgenoemde word die tragiese verdrinking van die Siriese kleuter Alan Kurdi in die Middellandse see opgeroep. Hierdie afdeling het ʼn sterk fokus op die weerloosheid van vroue en kinders in gewelddadige omstandighede. Die uitgelewerdheid van vroue en kinders word beklemtoon in gedigte soos “Aleppo” (p.70), “Duiwe oor Herat” (p.73) wat opgedra is aan die digter Nadia Anjuman  van Afghanistan wat as gevolg van haar artistieke interaksie met die “wêreld” deur haar man vermoor is, en “Poppekis” (p.76), wat handel oor die kleuter Poppie van der Merwe wat deur haar ma en stiefpa mishandel en doodgemaak is.

Die laaste vier gedigte in die bundel bring hulde aan geliefdes wat oorlede is, en beklemtoon die onverwagsheid van die dood (vgl. “Uit die bloute”, p.78). Op hierdie manier word die dood beide uitgebeeld as verskriklik en hartverskeurend, maar ook as deel van die menslike kondisie en selfs ʼn geleentheid om bevry te word van die swaarkry van leef (sien “vry”, p.79). In die introspektiewe slotgedig van die bundel skryf die digterspreker oor haar eie proses van oudword. Dit is ʼn tere en nostalgiese gedig wat spreek van die weerloosheid wat met die ouderdom gepaard gaan:

 

Wanneer ek soos ’n blaar lig word

en oor die tuin wegwaai, pluk soos altyd

dan ’n pot vol krismisrose, pienk en blou,

vir die voorportaal, oranjegeel

kappertjies vir geur.

Vir dit wat was. Niks meer nie.

 

Basson se tweede bundel is ʼn bevestiging van haar talent as digter, wat reeds geblyk het uit die feit dat haar eerste bundel Leiboom (2014) in 2015 op die kortlys vir die Ingrid Jonkerprys verskyn het. Die sekure beskrywings waardeur die gedigte gekenmerk word, spreek van die fyn waarnemingsvermoë van ʼn kunskenner, maar ook van ʼn sensitiwiteit vir die menslike kondisie. Basson se gedigte is kort, impakvolle sketse wat met hul nostalgiese beeldrykheid herinner aan die poësie van Mary Oliver en Philip Larkin. By die dag is ʼn stewige en toeganklike bundel met pragtige verse waaraan die leser kan herkou, dag vir dag.

Bronnelys

Larkin, P. 2001. Philip Larkin: Collected poems. New York: Farrar Straus and Giroux.

 

  •