Joan Hambidge: JC Steyn
Monday, September 6th, 2021
Die heengaan van die digter, romanskrywer, taalkundige en biograaf JC Steyn is ‘n enorme verlies. In my jongste bundel Konfessies, kaarte en konterfeitsels (Imprimatur, 2021) besing ek sy digterskap. Hierdie gedig is ingegee deur die brand in Bloemfontein se stadsaal in 2017. Die Apophrades dan in die sin wat Harold Bloom dit gebruik, te wete die terugkeer van die dooies in The anxiety of influence (1973).
Apophrades
vir JC Steyn
My verse sleep vlerk
by die dooies: daardie digters
in die baldakyne van my taal,
getrippelmaat, getrema én gekodeskrif.
Die vaatwerk van hul verse
só perfek saamgevoeg
met patene en siborieë.
In naberou plaas ek treuselend
my aflaat in ’n muntkissie:
– mea culpa, mea maxima culpa –
oor ’n vorige bestel só boos.
Mag hulle stemme bly ópklink
soos daardie trotse Steinway,
in 1936 uit Duitsland ingevoer.
Wonderskone musiek draal steeds
in die Bloemfonteinse stadsaal:
puin en sinnelose kruistogte ten spyt.
Steyn se bundel Die grammatika van liefhê is een van die belangrikste bundels in Afrikaans waar die liefde taalkundig ondersoek word en die geskiedenis van ons taal digterlik beskou word. Dit het in 1975 verskyn. In ons Honneursjaar het Opperman hoog opgegee oor hierdie bundel en ons moes dit vanuit verskillende invalshoeke bestudeer.
So klink die begin van ‘n gedig in die spel van taal en liefde, die ewige spanning tussen die abstrakte en die onbereikbare liefde ontleed as ‘n Chomskiaanse probleem:
Liefhê is ‘n tangkonstruksie
as eenwoord-samestelling ‘n abstraksie.
Die eenwoordsin-imperatief
is nypend ongrammaties: ”*Hê-lief!”
(So ‘n sterretjies, ontaalkundiges,
lig u toe dat ‘n sin ontaalkundig is.)
Lief-hê (s)kort dus ‘n onderwerp
en hê is – met onderwerp – onderwerp
soos wees, wat is word, aan deklinasie,
ouderwets, maar glo-nodig vir kombinasie.
(…)
https://spreeksel-blog.tumblr.com/post/8912412896/die-grammatika-van-liefh%C3%AA Besoek 6 September 2021
Elke jaar keer ek terug na hierdie verbluffende bundel met sy taalspel. Ek het as jong student ‘n artikel begin skryf oor die Henley-on-Klip-tragedie. Opperman wou meer weet oor waarom die busbestuurder se naam nie vermeld is in die gedig nie! Omdat die naam Koekemoer was en dit sou die gedig banaliseer, was DJO se mening.
Spooroorwegramp by Henley-on-Klip
Henley-on-Klip
stasienaam by Vereeniging:
onwerklike vereniging –
oerengelse samestelling
op Afrikaanse klipbodem.
Henley-on-Klip
skoolbus by spooroorweg
in slaggat gestol
(bloed stol op klip)
’n sneltrein snel voort,
dóód-betyds, dóód
Henley-on-Klip
Hansie-op-gruis
Helena-aan-gras
23 van gras
drié-en-twintig
wat die wolke en die veld,
die sonlig en die weerlig
nooit weer sal belewe nie,
vir wie mamma nooit meer
’n toebroodtjie sal smeer nie,
wat vir pa nie half vererg
oor nuwe wiskunde sal terg nie.
Tussen bleek hande en groen sakdoeke,
honde vol manewales in rooi prenteboeke,
blaaie met aftrek- en deelsomme,
ontlede sinne, aardes, sonne,
en ’n Bybel wat vertel van sonde,
tussen die vlees en die gras
soek ’n seun in bloed en glas…
“Waar’s my sussie, ek dink sy was…”
Wie huil so hartverskeurend
as ’n seun by ’n verskeurde
hals oor kop tot tone?
Of is moeders se trane egter,
of die klein weggedroogde trane
van die laaste oomblikke
angs voor die slag
by Henley-on-Klip
trane-op-klip.
Ledemate-onder-sakke
hande onder allerhande
bewysstukke vir lykskouings,
aanklagte van heinde,
huldigings van verre
(’n monument vir die held Johan
wat gesterf het om drie maats te red).
Langsamerhand verloor
egter trane teen egte klip;
leed raak gou vergeet.
Die nuwe uitwiskunde word gewis
doodgewoon gewoonweg dóód.
II
Vir my is sy biografie oor NP van Wyk Louw – veral Band I – een van die grootste stukke literatuurgeskiedenis in enige taal en ‘n tekening van die lewe en landskap wat die groot digter gevorm het. Dit het in 1998 verskyn.
‘n Tuiste in eie taal – Die behoud en bestaan van Afrikaans (1980) beslaan oor die vyfhonderd bladsye en is eweneens geskryf deur ‘n gedugte navorser en taalkenner. Dit behoort op elke taalstryder se boekrak te staan.
In hoeke Boerseuns ons was (1991) skryf hy oor sy plattelandse lewe en juis weens sy lewe as plattelandse kind kon hy die lewe van die jong Van Wyk Louw reg inskat.
As jong student skryf ek my MA-verhandeling oor die ek-verteller in die belydenisroman onder leiding van Elize Botha (aan UP) en natuurlik is Dagboek van ‘n verraaier (1978) een van die tekste wat ek ondersoek onder die besielende leiding van Botha wat groot respek had vir sy werk.
Deur die jare was daar ‘n paar briewe. Korte n kragtig. Immer van my kant af met waardering en enorme bewondering vir sy harde werk op soveel fronte.
‘n Veelkantige denker en skrywer. ‘n Digter en romanskrywer. ‘n Baken in ons letterkundige lewe.
Joan Hambidge