Posts Tagged ‘Jeanne Goosen’

Boekbespreking: Het jy geweet ek kan toor? (Jeanne Goosen)

Tuesday, June 9th, 2020

 

 

 

Boekbespreking: Het jy geweet ek kan toor? deur Jeanne Goosen. Samestellers: Petrovna Metelerkamp en Celesté Fritze, Hemel & See Boeke, 2020.

Bespreking: Nini Bennett

 

Dit is tragies wannneer ’n digbundel se fokus skuif van laatwerk tot nagelate gedigte. Die veelbekroonde en omstrede digter, skrywer, dramaturg en rubriekskrywer, Jeanne Goosen, is op 3 Junie vanjaar oorlede. In die heel laaste vers beskryf Goosen haar eie afsterwe op selfironiserende en selfs lakonieke wyse. Die selfspot vind uitdrukking in “Suster Goosen” (met verwysing na toe sy jare gelede ’n verpleegsuster was), en nie Jeanne Goosen, die ikoniese skrywer nie.

 

Die dorp ruik na vars brood

In die sipresse koer koerr koerrr

die tortels

Die kerkklok lui

dit spoeg twee mossies uit

’n pot sout

’n pot peper

Suster Goosen het

sag heengegaan

Amen

Kom ons sing ’n

psalm saam       (p. 131)

 

Goosen se poësie-oeuvre bestaan uit ’n Uil vlieg weg (1971), Orrelpunte (1975) en Elders aan diens (2007). Haar amorfe poësie en surrealistiese beelding dra die stempel van die sewentigerdigters, en alhoewel ’n Uil vlieg weg ’n gunstige ontvangs gehad het, het A.P. Brink fel kritiek gelewer op Orrelpunte. Die skaal het egter weer opwaarts geswaai met Elders aan diens, wat as hoogtepunt van haar digoeuvre beskou kan word.

“Om te skryf is soos om te droom terwyl jy wakker is. Dit is soos om te toor.” Só lees ons in die bundel onder bespreking se voorwoord. Ook die titel roep die argetipiese Magiër voor die oog wat met die bevryding van die verbeelding en met die onverwagse en soms verruklike(!) gebruik van die metafoor, bly verras. Baie verse is titelloos en herinner aan bewussynstroomtegniek, wat weer raakpunte met vorige temas en kodes in Goosen se ruim oeuvre vorm.

Die gedigte handel tematies breedweg oor die liefde, familie, alledaagse waan(sin), psigiatriese kwessies, musiek, diere, plante en geloof. Goosen se geloofsverse parodieer, of daag op sardoniese wyse geykte gereformeerde dogma uit, byvoorbeeld p. 107:

 

Die Here is my buddy

As ek droogmaak

sal hy dat ek ’n piesangskil raak trap

maar as ek aanhou aalmoese uitdeel

selfs vir die huishulp wat my so besteel

sal ek drie maal terugkry

 

Musikale intertekstualiteit kenmerk ook Goosen se oeuvre; so skakel “Chopin” (p. 95) met die tersaaklike Chopin-tekste in haar novelle, Louoond (1987):

 

Frederich Chopin hoes bloed

Hy staan by die venster

Hy skryf ’n prelude

Buite reën dit

Drie-vierslag gly die druppels af teen die glas

George Sand saal ’n mal perd op

sy jaag al om, al om die eiland.

 

Die vers verwys na die komponis se Reëndruppel-Prelude (Op. 28 nr. 15), en resoneer met Goosen se indrukwekkende musikale geheue.

In “Ek is ’n sterfling sonder geleerdheid” (p. 56) spot die digter met Stellenbosch se intellektuele kultuur: “Ek maak nie meer jokes nie / want julle slimmes daar op Stellenbosch / antwoord my waar dit die seerste maak.” Hierdie snydende, pretensielose straatwysheid is in die meeste verse teenwoordig as ’n afwysende houding jeens die establishment en ander gesagstrukture.

En fantasie: Net Goosen kan so ʼn heerlike minnevers skryf oor ’n skoonmaakmiddel, “Mister Muscle” (pp. 36-37):

 

Mister Muscle

Hy las skeure en skuur stoofplate

– weg, ja weg is die vlekke –

Een twee drie en die vuil hondebakke is skoon

Hy raak aan blomme en die bare steek hulle voelers uit

Hy laat my aan sy biceps voel en grinnik

Eendag, Jean, sal jy ook kan vlieg

en die koninkryk beërwe

(…)

O, welke vriend het ons in Mister Muscle

 

Het jy geweet ek kan toor? omvat ’n tydvak van meer as vyftig jaar; ’n besondere treffende vers, gedateer “Des ’67 Flirtasie van klank tot god” (p. 31) val op – en ’n mens wonder waarom dit nie opgeneem was in ’n Uil vlieg weg nie – waarskynlik weens die laaste twee versreëls binne die Calvinistiese tydgleuf van die Sestigers? (Dat hierdie god humorbestand is, / maak van ironie ’n kolskoot.”)

Mens kan inderdaad heerlik bespiegel oor die Sestigs se invloede op die verse en op Goosen se vroeë poësie in die algemeen – dit was moontlik Breytenbach, Jonker, of Uys Krige se Spaanse vertalings… of dalk Krige se vertalings van Paul Éluard uit die Frans.

Die trefkrag in Goosen se poësie lê meermale in die (pynlike) dualismes wat sy skep, byvoorbeeld die behoefte aan liefde, net om weer weg te skram daarvan (pp. 84, 85); of die banalisering van tradisioneel verhewe of gewyde praktyke soos nagmaal (pp. 70-71; 51).

Onsingedigte word ’n kunsvorm wanneer Goosen dig, soos in “Beter as” (pp. 74-75) word televisieprogramme in die tagtigerjare geskets met ’n dodelike erns te midde van ’n polities onstabiele milieu, en in hierdie vers herinner Goosen aan ’n vroulike Tarantino.

Ook eensaamheid, vervreemding en eksistensiële waan kry gestalte as die alledaagse lewe as absurd beskryf word (pp. 112-121). Die digter ruk die dood se angel eiehandig uit met haar doodsgedigte wat wissel tussen vrees en vreesloos; spottend én weerloos en sy skryf sowel voordoodse verse as enkeles uit die perspektief van die hiernamaals (p. 127).

 

Dood met jou lispeling, soet

sonore stem

omarrm my, koester my

teen jou pragtige hol bors

Hoe lieflik die leegheid

die volheid daarvan     om krysend

die tog mee te maak     seëvierend

na die ver, onbekende planeet

wat roep en roep en roep en roep     (p. 122)

 

Het jy geweet ek kan toor? is ’n unieke en toeganklike bundel. Dit skakel panoramies met verskeie fasette uit Goosen se lewe en werk, sonder om te herhaal of te verveel. In die voorwoord word die oud-uitgewer, Marietjie Coetzee, aangehaal as sy sê dat die opname van die korpus verse iets van die skeppingsproses van die verse self vergestalt. Die bekoring van die Goosen-nalatenskep lê dalk juis in die onvoltooidheid daarvan: strofes wat uit dekades se joernale en kladboeke byeengebring is; verse waarby die leser bly vertoef en wonder. Byvoorbeeld: daar is iets eienaardig profeties omtrent die meervlakkige titelgedig, soos gelees binne die Zeitgeist van Covid-19:

(…)

 

Jy is ’n klein kiem,

vermenigvuldig vermenigvuldig

in die naam van alles wat heilig is,

tot simptoom – tot siekte.

Jy emigreer, word ’n Sjinees

kom terug, word ’n boer.

Jy deurkruis die wêreld in 80 dae.

Siekte – obskure geskiedenis.

(…)

Jy evoleer tot sigbaarheid

tot almal mekaar wantrou

en die polisie inroep en volksleiers sê:

Hierdie euwel is volksvreemd,

Ons sal dit met wortel en tak uitroei.

Niemand kan ons meer help nie en jou red nie.

(…)

Jy is ‘n leë planeet.    (pp. 40-41)

 

De Waal Venter. Hulde aan Jeanne Goosen

Thursday, June 4th, 2020

 

2020.06.04

 

My voete loop

 vir Jeanne Goosen

 

My voete loop op die grond

loop

my voete deur die gras

loop hulle

my voete op die strand

my spore in die sand

loop my voete

oor die klippe

loop

tussen dorings deur

my voete loop

op die teerpad

my voete op die teerpad brand

my voete

loop

langs die see se kant

loop my voete

langs die bosviooltjies

op die waterklippers

van die platberg se stroompies

my voete loop

by die graf verby

by ander grafte

loop my voete verby

my voete

loop

oor vars rooigrond

loop

oor die vaalgras van die winter

in die voetpaadjie

na môreoggend

op die voetpaadjie

loop my voete

kaal

soos ek gebore is

 

 

Nini Bennett. In memoriam: Jeanne Goosen (1938-2020)

Wednesday, June 3rd, 2020

Jeanne Goosen

 

Die skrywer, digter en dramaturg, Jeanne Goosen, is verlede nag oorlede nadat sy in ’n koma verval het. Dit is ’n voelbare verlies vir die literêre bedryf aangesien Goosen met sowel haar oeuvre as haar omstrede en dikwels aweregse openbare beeld vir opwinding gesorg het. Met Goosen, soos in die geval van Eugène Marais, was dit moeilik om tussen werklikheid en fiksie te onderskei, alhoewel haar stories en anekdotes daarop ingestel was om mense te vermaak en te amuseer. Die skeppende impetus was immer teenwoordig by dié woordskepper en mens.

Goosen het ’n verskeidenheid beroepe gevolg; sy was onder meer joernalis by Hoofstad, Oggendblad, Tempo en Die Transvaler, waar sy haar skryftalent geslyp het. As opgeleide radiografiste was sy egter rusteloos en ook werksaam as stoorkamerbestuurder, bibliotekaris by die vloot, vertaler, smous, afslaer, smokkelaar en sitrusboer. Goosen het dikwels geswerf en nogal herinner aan vroulike Bukowski. Haar lewe kan beskryf word as een van tragiek en triomf, van arm en ontwrigtende jeugjare tot dié van ’n gevierde en veelbekroonde skrywer. Petrovna Metelerkamp het onlangs Goosen se biografie, ’n Lewe vol sinne by Hemel & See Boeke vrygestel. 2020 was veronderstel om geboekstaaf te word as die Jeanne Goosen-jaar: ook Los gedagtes en Het jy geweet ek kan toor (poësie) deur hierdie nimlike skrywer het vanjaar verskyn. Goosen het in 1971 aandag getrek met haar poësiedebuut, ’n Uil vlieg weg. Sy laat ’n ryke nalatenskap van novelles, romans, eenakters en digbundels na en van haar romans is verfilm. Ons is nie almal so nie (1990) het feitlik oornag legendariese status bereik en die titel het sedert die negentigerjare deel van Afrikaanses se lingua franca geword. Vir laasgenoemde roman is sy bekroon met die CNA-prys, Rapport-prys en die M-Net-prys.

En op ’n meer persoonlike noot: Jeanne Goosen was my peetma. In my standerd 9-jaar,1989, het sy voorgestel dat sy my peetma (of peetpa, my keuse) word. Ek het ingestem, vol blydskap en verwondering – en Jeanne het ’n quart Amstel geknak op ons ooreenkoms. Ons het by die kombuistafel gesit waar sy oudergewoonte my jeugverse opgeskeur het en my in geen onsekere taal vertel het hoe swak dit nou eintlik is nie. Ek onthou ek moes die erdwurms uitgrou terwyl Jeanne visvang by Pelindaba. En as haar rooi Volla ingedraai het by die hek, het sy vir my boeke gebring – en my kennis en verwysingsraamwerk van wêreldletterkunde aansienlik verryk.

Van al die mense wat Jeanne geken het, is ek bevoorreg om te kan noem dat sy ’n groot invloed op die vorming van my jeugdenke gehad het. Ek het haar sagte kant geken.

Haar lewe was een van swaarkry, van die raffle wat sy as kind moes uitloof net om Lenie, haar troetelhoender, te verloor, tot die transformerende krag van kreatiwiteit wat haar later tot groot hoogtes sou voer. Want bó alles, en ten spyte van haar (goed gekamoefleerde) weerloosheid was sy ’n sterk mens.

Sy is by geleentheid ’n anargis, ’n geliefde rebel genoem.  En ek besef ’n huldeblyk soos dié skiet ver tekort om te verwoord wat ’n veelkantige, begaafde en uiters komplekse mens sy was.

Jeanne was 81 toe sy stil-stil oorlede is in haar meenthuis in Melkbosstrand. Sy sou 13 Julie 82 geword het. Haar versorger, Michelle van der Westhuizen en haar hondjie, Fudge, was by haar toe sy dood is. Daar sal na verwagting die naweek ’n diens vir haar gehou word.

 

.

By Corpernicus leen ek ’n slim slypglas

en loer by die luik van die hemel in

Kepler speel met sy spieëls

en baljaar tussen die mane van Uranus

En daar is die Meester ook

met sy boskasie vol skoenlappers

Hy is besig

Hy brou ’n nuwe skepsel

‘n ding—

iets tussen ’n komieklike insek

en ’n wollerige knaagdier

Uit papyrus kry dit twee vlerke

wat hy met spuug aan die krom skouers vasplak

Hy brand ook sy voorletters daarop uit

Want dit is sý eiendom, sý maaksel

Maar wysig God altyd wys?

want kyk:

Hy pas twee OK Bazaarsloffies aan die pootjies

en met haakspelde

speld hy ’n voorskoot aan die lyf vas

God staan terug

peins

sê nadenkend vir sy engel:

Sy sal op kruie wei en ‘n soet reuk versprei

en ek sal haar nie aarde toe stuur nie

maar ’n woning in die hemel gee

Voorts pluis God watte uit die wolk

weef ’n tweevertrek-kokon

en betig wind en weer

om hulle plek ten alle tye te ken

En dan druk God sy skepsel teen sy bors

lig die snaakse gesiggie na hom

en plaas sy mond op hare

God blaas

en die vlerke roer in die bries

Ek huil van vreugde uit die twee riviere van my oë

want op aarde het my ma min gehad

 

Uit: Elders aan diens, 2007

 

 

Nini Bennett. Die muse is ‘n kat

Monday, August 26th, 2019

 

 

 

Honde, katte, hoenders, poue of papegaaie – noem maar op: menige skrywer het ’n wollerige of geveerde literêre agent wat deel is van die lang, eensame skryfproses. En hierdie vierpotige muses is onafskeidbaar van hulle skrywende eienaars; tree op as sosiale kommentators in eie reg, en maak selfs kameevertonings in hulle versorgers se fiksie. Derrida, Foucault en Deleuze het graag met hulle katte geposeer. En as jy besondere elegieë wil lees, lees dan die verse wat digters oor hulle ontslape troeteldiere geskryf het.

Volgens oorlewering het die twintigjarige Lord Byron op ’n dag tydens sy studie aan Trinity College sy hond kampus toe gebring. Uiteraard het die kampusowerheid vir Botswain, ’n Newfoundland, die deur gewys. Maar dit het die jong Byron nie van stryk gebring nie. ’n Mak beer sou hom met die volgende besoek vergesel. In 1807 het hy heel pittig aan ’n vriend die volgende geskryf: I have got a new friend, the finest in the world, a tame bear. When I brought him here, they asked me what to do with him, and my reply was, ‘he should sit for a fellowship’.
Botswain was egter Lord Byron se eerste liefde. Ongelukkig is sy beste maat in sy arms oorlede aan hondsdolheid; en die digter het tydens ’n opeenvolgende psigotiese episode ’n aangrypende elegie oor hom geskryf. Die vers is gegraveer in Botswain se grafsteen, ’n steen wat selfs groter as Byron s’n is. Die graf kan in Newstead Abbey besigtig word.

 

EPITAPH TO A DOG

Near this spot
Are deposited the Remains
Of one
Who possessed Beauty
Without Vanity,
Strength without Insolence,
Courage without Ferocity,
And all the Virtues of Man
Without his Vices.

The Price, which would be unmeaning flattery
If inscribed over Human Ashes,
Is but a just tribute to the Memory of
“Boatswain,” a Dog
Who was born at Newfoundland,
May, 1803,
And died in Newstead Abbey,
Nov. 18th, 1808.

When some proud son of man returns to earth,
Unknown by glory, but upheld by birth,
The sculptor’s art exhausts the pomp of woe,
And stories urns record that rests below.
When all is done, upon the tomb is seen,
Not what he was, but what he should have been.
But the poor dog, in life the firmest friend,
The first to welcome, foremost to defend,
Whose honest heart is still his master’s own,
Who labors, fights, lives, breathes for him alone,
Unhonored falls, unnoticed all his worth,
Denied in heaven the soul he held on earth —
While man, vain insect! hopes to be forgiven,
And claims himself a sole exclusive heaven.

Oh man! thou feeble tenant of an hour,
Debased by slavery, or corrupt by power —
Who knows thee well must quit thee with disgust,
Degraded mass of animated dust!
Thy love is lust, thy friendship all a cheat,
Thy smiles hypocrisy, thy words deceit!
By nature vile, ennoble but by name,
Each kindred brute might bid thee blush for shame.
Ye, who perchance behold this simple urn,
Pass on — it honors none you wish to mourn.
To mark a friend’s remains these stones arise;
I never knew but one — and here he lies.

Ook Charles Dickens was by uitstek ’n diereliefhebber, en het katte, honde, ’n kanarie, ’n ponie, ’n arend, ’n kraanvoël en kraaie aangehou. Die bekendste was seker sy kraai, Grip (en al die opvolgers ná Grip het  ook so geheet). Inteendeel: so lief was hy vir Grip I dat hy na sy dood die voël laat opstop en hom gefiksionaliseer het in Barnaby Rudge. Die jong Edgar Allan Poe het Dickens en Grip ’n paar keer tydens reise raakgeloop, en volgens kenners was Grip Poe se inspirasie – en sneller – om self oor kraaie te skryf.

 

Mark Twain, op sy beurt, het sy kat, Bambino verafgod. Maar toe Bambino eendag nie terugkeer huis toe nie, het Twain ’n advertensie in die New York American geplaas met ’n beloning van $5 vir die een wat sy kat veilig aan hom terugbesorg: Large and intensely black; thick, velvety fur; has a faint fringe of white hair across his chest; not easy to find in ordinary light. ’n Paar dae later het Bambino sy opwagting in die bure se tuin gemaak, maar Twain-bewonderaars het steeds help soek en obskure swart katte na die skrywer se woning aangedra om hom uit sy vermeende verknorsing te red.

Lees mens van John Steinbeck se terugslag, dan is jy dankbaar ons leef in ’n digitale tyd waar skrywers gerugsteunde kopieë van manuskripte kan maak. Diê Nobelpryswenner se klein sethond het die eerste weergawe van Of mice and men opgevreet, met die gevolg dat hy weer van voor af moes begin. Minor tragedy stalked. I don’t know whether I told you. My setter pup, left alone one night, made confetti of about half of my [manuscript] book. Two months work to do over again. It sets me back. There was no other draft. I was pretty mad but the poor little fellow may have been acting critically.

Die macho-man en avonturier, Ernest Hemingway, mag dalk verras met sy voorkeur vir troetelkatte. ’n Skeepskaptein het vir Hemingway ’n kat met ses tone (’n polidaktiel) genaamd Snow White gegee. Die skrywer het uiteindelik 23 katte geherberg en vandag nog is daar ’n paar dosyn sestonige katte te bespeur in Key West, Florida, waar Hemingway se museum-huis is – Snow White se geil nageslag.

 

Maar katte het nie die laaste sê in Hemingway se lewe gehad nie; ’n papegaai het. Skynbaar het die skrywer ’n maat gesoek om hom te vergesel in sy Buick Spider, maar die papegaai, Pedrito, het aan erge bewegingsiekte gely. (Terloops, die frase “as sick as a parrot” is deur Hemingway gemunt ná die voorval). Maar ongelukkig wou hy nie ’n papegaai gehad het wat nie kon reis nie, en arme Pedrito het ’n nuwe tuiste in ’n kroeg, Roma, in Rome gevind. Pedrito het 48 jaar oud geword, 33 jaar ouer as sy voormalige eienaar, en was as swetsende papegaai tussen ’n klomp hardebaard-drinkers vir lank ’n gewilde toeriste-aantreklikheid. Hy is uiteindelik begrawe in die tuin agter die kroeg.

In Suider-Afrikaanse fiksie domineer honde die narratiewe, terwyl katte die voorkeurdier en -onderwerp van digters is. Die kat-mens-verhouding is waarskynlik eerste in Jan F.E. Celliers se vers, “Katjies” beskryf, terwyl die digters Ina Rousseau, Johann de Lange, Marlise Joubert, Lina Spies en Elisabeth Eybers graag oor katte geskryf het. In 1998 het Lina Spies ’n bloemlesing getiteld Majesteit, Die Kat: Verhale En Gedigte Oor Katte die lig laat sien waarin 42 Afrikaanse, Nederlandse, Franse, Spaanse en Engelse skrywers se verhale en gedigte opgeneem is.

Katte speel ook ’n belangrike rol in die lewe en poësie van Marlise Joubert – en was ’n bepalende faktor in die verhouding en latere huwelik met Louis Esterhuizen. In die foto hieronder verskyn Goya, ’n Turkse kat (links) en Tosca (regs).

 

En net ’n digter kan haar katte só liries beskryf:

Goya. Die Vlugsersant van Witgatwortelfontein. Ook kortweg Kaptein Konyn genoem, of Mammie se Wollabol.

En van Tosca sê sy: Ewe statig. Maar sy is ’n vreemde lady. Sy hou nié van vashou nie. Moenie haar optel nie. Skootsit is taboe. Jy kan streel en speel, en borsel, ja. Sy is ’n stalker. Sy loop heeldag agter my aan. Hou my dop, volg my. Sy miaau nooit ooit nie, tensy jy haar per ongeluk raaktrap, dan kla sy met ’n sagte gilletjie. Sy prrr nie. Sy ly aan ’n minderwaardigheidskompleks. Lae selfbeeld, maar sy is lojaal, huisvas, en baie liefdevol.

Die ekstase en onrus van lente word deur die perspektief van ’n kat beskryf in dié besondere gedig, soos dit verskyn in Joubert se jongste bundel, Grondwater (2019):

 

lente

die kat sit op die dak
om die lente op te snuif.
sy loer deur stergroen blare
aan ’n gekromde wingerdstok.

hoog, rankhoog teen die blou. versigtig
tussen takke nou. oor die houtbalke
van die droomprieel. een sprong
tot op vaste grond.

in die geut lê die moeë
skelet van ’n wintervoël.

 

In die Afrikaanse letterkunde tree honde dikwels op as sosiale kommentators (soos reeds genoem); dink byvoorbeeld aan Jeanne Goosen se werk en uitsprake wat feitlik sinoniem met die honde in haar lewe is. Die verhaalwêreld van ’n Pawpaw vir my darling word bevolk met honde wat fokaliseer. Vir Jeanne se verjaardag (2013) het Isa Steynberg heel gepas ’n skildery van Deloris, Blessing en Poppie gemaak.

 

Menige troeteldiereienaar weet dat ’n mens die een of ander tyd bots met die amptenary oor huisdiere se lisensie, naamplaatjie, permit of gedrag. En dit was ook nie anders die geval met die gevierde jeugverhaalskrywer, E.B. White nie. In 1951 het die New York-ASPCA hom aangekla dat hy kwansuis nie hondebelasting betaal het vir sy geliefde worshond, Minnie nie. Getrou aan sy skerpsinnige aard het hy hulle so geantwoord:

12 April 1951

The American Society for the Prevention of Cruelty to Animals
York Avenue and East 92nd Street
New York, 28, NY

Dear Sirs:

I have your letter, undated, saying that I am harboring an unlicensed dog in violation of the law. If by “harboring” you mean getting up two or three times every night to pull Minnie’s blanket up over her, I am harboring a dog all right. The blanket keeps slipping off. I suppose you are wondering by now why I don’t get her a sweater instead. That’s a joke on you. She has a knitted sweater, but she doesn’t like to wear it for sleeping; her legs are so short they work out of a sweater and her toenails get caught in the mesh, and this disturbs her rest. If Minnie doesn’t get her rest, she feels it right away. I do myself, and of course with this night duty of mine, the way the blanket slips and all, I haven’t had any real rest in years. Minnie is twelve.

In spite of what your inspector reported, she has a license. She is licensed in the State of Maine as an unspayed bitch, or what is more commonly called an “unspaded” bitch. She wears her metal license tag but I must say I don’t particularly care for it, as it is in the shape of a hydrant, which seems to me a feeble gag, besides being pointless in the case of a female. It is hard to believe that any state in the Union would circulate a gag like that and make people pay money for it, but Maine is always thinking of something. Maine puts up roadside crosses along the highways to mark the spots where people have lost their lives in motor accidents, so the highways are beginning to take on the appearance of a cemetery, and motoring in Maine has become a solemn experience, when one thinks mostly about death. I was driving along a road near Kittery the other day thinking about death and all of a sudden I heard the spring peepers. That changed me right away and I suddenly thought about life. It was the nicest feeling.

You asked about Minnie’s name, sex, breed, and phone number. She doesn’t answer the phone. She is a dachshund and can’t reach it, but she wouldn’t answer it even if she could, as she has no interest in outside calls. I did have a dachshund once, a male, who was interested in the telephone, and who got a great many calls, but Fred was an exceptional dog (his name was Fred) and I can’t think of anything offhand that he wasn’t interested in. The telephone was only one of a thousand things. He loved life — that is, he loved life if by “life” you mean “trouble,” and of course the phone is almost synonymous with trouble. Minnie loves life, too, but her idea of life is a warm bed, preferably with an electric pad, and a friend in bed with her, and plenty of shut-eye, night and days. She’s almost twelve. I guess I’ve already mentioned that. I got her from Dr. Clarence Little in 1939. He was using dachshunds in his cancer-research experiments (that was before Winchell was running the thing) and he had a couple of extra puppies, so I wheedled Minnie out of him. She later had puppies by her own father, at Dr. Little’s request. What do you think about that for a scandal? I know what Fred thought about it. He was some put out.

Sincerely yours,

E.B. White

My dank en erkenning aan Isa Steynberg vir die grafika van die beeldhouwerk van haar eie twee katte.

 

Verwysings:

 https://poets.org/text/dog-days-poets-pets?fbclid=IwAR0F6mB5vAeQIM1Rmk4mRaqkrmMudVw_Nnn_ug3UJpFH6YmvDWCS7cAHeA8

https://www.brainpickings.org/2019/08/18/lord-byron-epitatph-for-a-dog/?fbclid=IwAR2ZXc8Jf8B74iMFPWiMeLOy3ezzFeDW7EskTsXVdPxoTK8IBy0O93SgaOs

https://www.bustle.com/articles/196658-10-famous-authors-and-the-pets-that-inspired-their-work?fbclid=IwAR2SyZlVJwsv9SrfWjg1PE9K_-eocN_YwWYx9pODprmk3ZnZaBozLJDrtU0

https://www.brainpickings.org/2013/04/29/literary-pets/?fbclid=IwAR3619iEnZu32aRnnAFAGN6wABcldLn_X7BfjHghkWZOnBhZVWL5cbxB4tc

Joubert, M. 2019. Grondwater. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

 

Gisela Ullyatt. “Endlessly obedient citizen”: Die gedig as gestig. Deel 2.

Monday, November 24th, 2014

In Deel 1 van hierdie blog genaamd “Wintermuil: die gedig as gestig”, ondersoek ek die verbintenis tussen digterskap, gemoedsversteuring en selfdood aan die hand van enkele Afrikaanse gedigte wat oor die ervaring in ’n psigiatriese staatshospitaal berig (https://versindaba.co.za/2014/10/28/gisela-ullyatt-wintermuil-die-gedig-as-gestig/). Ek haal ook aan uit Linette Retief se insiggewende artikel, “Vloek van die muse”, waarin sy die moontlikhede tussen selfdood, gemoedsversteuring en artistieke talent aan die hand van voorbeelde soos Johannes Kerkorrel en Barrie Hough eksploreer. Ek fokus veral op die Afrikaanse digterlike verslag van psigiatriese opname. Hiermee verleen digters ’n stem aan meestal stemlose psigiatriese pasiënte (veral in staatshospitale), omdat hulle oor derglike ervaring kon besin en dus kon oopskryf, dikwels met ’n rou eerlikheid maar terselfdertyd met ’n sekere distansiëring wat die digter eers moet vind alvorens ’n gedig publiseerbaar is.

In hierdie blog fokus ek dus op die stem van die digter, alhoewel ander kreatiewe segmente van die kreatiewe samelewing soos kunstenaars en skrywers ook onder die loep geneem sou kon word.

Ter aansluiting by Jeanne Goosen se gedigte wat in Deel 1 verskyn, haal ek ook enkele versreëls aan uit “sarah (1)”  wat in elders aan diens verskyn (24):

dankie vir die hulp

dat julle my toegesluit het

en vol pille gestop het

die gideonbybel en die koek seep in die strafsaal

was fokken goeie terapie

dankie dat julle my brein gesmelt het

met liewe jesus-versies, klei en stukkies tou

dankie vir  my sanity:

maandag is wasdag, dinsdag is strykdag en op ’n woensdag

skrop ek vloere

Goosen se satiriese invalshoek waarmee sy die gestig in hierdie vers verken, word verder versterk deur die sardoniese aanspreek van die ‘julle’. Hiermee word die spreker se woede veral op ‘n briljante wyse geaktiveer en die leser se aandag word gevestig op die dodelike geroetineerde bestaan binne die institusionele ‘masjien’, wat Ken Kesey die ‘Combine’ noem in One Flew Over the Cuckoo’s Nest. David Cooper (gebore in Suid-Afrika), bekende in die anti-psigiatriese beweging, verwys na die reëls en meta-reëls van so ’n institusie in sy opspraakwekkende boek, The Death of the Family (1970). (Selfs in die tweedehandse kopie wat ek besit het een of ander persoon driftige kantaantekeninge gemaak teen Cooper se anti-psigiatriese aannames. Perdalks ‘n psigiater of psigiatrist-in-training?).

Terselfdertyd reflekteer die institusie ook norme van die samelewing: solank die ‘versteurde persoon’ gekondisioneer word om ‘normaal’ op te tree, word hy of sy aanvaar; Cooper noem hierdie verskynsel die “the well-conditioned, endlessly obedient citizen” (11).

In Goosen se gedig word norme duidelik neergelê deur simplistiese maatreëls: “gideonbybel”, “liewe Jesus-versies” en arbeidsterapie wat sommige psigiatriese pasiënte dikwels na as “spoeg-en plak”-aktiwiteite verwys. “Strafsaal” dui op selfs ’n meer sinistere maatreël wat op pasiënte uitgevoer word.

Hierdie dodelike geroetineerde bestaan in ‘n psigiatriese hospitaal word ook in  Karen Kuhn se “Op parool” (7) gekarteer:

In hierdie Crescent Clinic

word ek daagliks geleer

om te weet:

Staan soggens op,

wees betyds,

trek paslik aan,

slaap 8 ure,

eet drie maal.

Bestuur jou lewe

matig en gebalanseerd.

 

Met ontslag, leer

my tog die waansin

in die woorde: Ek wéét.

Die titel suggereer reeds dat so ’n roetine baie gelykstaande aan dit van ’n tronk is. Ongelukkig is dit dan juis ‘matigheid’ en ‘balans’ wat dikwels ontbreek wanneer die digter ’n uiters kreatiewe episode beleef. ‘Parool’ kan ook ironies gelees word omdat daar nooit algehele vryheid van ’n ernstige gemoedsversteuring bestaan nie; afhangende van die individu kan dit dan ook na selfdood lei. Nie almal kan depressie goed bestuur nie. Tog mag die tipping over van die donker hel van depressie na ‘n meer genesende uitkoms  afhang van hoeveel die digter oor sy of haar ervaring kan berig deur die oopskryf daarvan.

Ongelukkig val menige terug in herhalende siklusse van depressie of manie. Sylvia Plath is een so ’n voorbeeld; haar wipwaentjieritte tussen highs en lows is veral opmerklik in haar dagboeke. Ook dat sy deur ’n genadelose ‘innerlike kritikus’ geteister is. Hierdie tipe kritikus is ook wat Boeddhiste die ‘ego’ of monkey mind noem omdat dit aanhoudend tekere gaan soos ’n swaaiende aap en ou negatiewe gedragspatrone afdwing wat in die kinderjare gevorm is.

Karen Kuhn se “My adres” (5) illustreer die allerverskriklikste krag van so ’n kritikus, veral in die laaste reël:

Terug onder kliniese lakens,

tussendeur saalgeluide

en verdoofde denke

is ek mal

daaroor

om letters te skok en te doseer:

myself te sertifiseer.

Die neiging van die psigiatriese pasiënt om homself of haarself te ‘sertifiseer’, word verklaar deur Cooper: die persoon word totaal afgestomp en kan dus nie meer die “sane” ek vind nie; hy/sy is so

estranged from every aspect of one’s own experience, from every spontaneous impulse to action, from every bid of awareness of one’s body for oneself (rather than one’s body as an object for inspection for others in the world), from all the carefully refused possibilities of awakening change, that one might truly, and with metaphorical sleight of hand, regard this normal person as being out of his mind (1970:11).

Die nosie van sertifisering word ook gevind in Aniel Botha se pirouette (2012). Hier word pertinent gestel dat die spreker haarself in ’n psigiatriese staatshospitaal bevind en dat sy verobjektiseer word (‘Stikland’:26):

Gestroop, gevange, gesertifiseer,

sit ek op die smal staatsdiensbed.

Die lakens, geel en gaterig, sê:

Eiendom van die RSA. Diefstal

is ’n kriminele oortreding.

’n Suster roep. Ek maak die bed op,

eet pap, drink Ricoffy, verstik.

Spreek ’n dokter. Staar na my hande:

eiendom van wie?

Die “staar na my hand” versterk die idee dat alles nou “out of hand” is, dat haar hande afgekap is, dat sy haarself nie meer besit nie. Alles in ’n staatshospitaal is goedkoop soos in ’n tronk: ‘pap’; ‘Ricoffy’. Hierdie is geen weelderige privaat-kliniek nie.

Wilhelm Knobel sterf in 1974 aan “massiewe dosisse middels wat toegedien is in ’n poging om ’n hiperakute maniese aanval van bipolêre stoornis te beheer” (Agterplat van As die woorde begin droom). Bipolêre steurnis (veral Bipolêr 1 met hiper-maniese episodes wat afgewissel word met intense periodes van depressie) kan ’n groot bron vir digterlike aktiwiteit wees, maar terselfdertyd kan die digter dan ook tydens die depressie-fase selfdood oorweeg en selfs pleeg omdat die euforiese gevoel en maniese produktiwiteit ontbreek. Knobel berig ook in die volgende gedigte spesifiek oor sy institusionele ervaring (2005:66):

Gedig om ’n pil

Stelazine is jou naam

of liewer

so verkoop hulle jou

 – wat jou herkoms  is of samestelling sal ek vir my broer moet vra.

Vir nou’s dit genoeg dat ek weet:

            na die godsalige dag

            van smeulende son by Clifton

             is jý die koel bries oor my lyf

             in my lyf

             tot in die onderste lae van my gees

             waar die son nooit kom nie

Dáár bevrug jy sonder vertoon

                     (Halopèrydol is daarvoor daar

                       of die naald in die poot van die Taradier)

wat lank  gebroei en gegis het

en eindelik versamel

in druppels van gekoelde wyn

tot gedig

 

Kliniek (66)

 

die vet visse wat onder in die vywer

tussen die slymerige wortels van waterlelies draal

hoor nie die vals gesing in die grys gebou

oor families wat vergeet

en gedokterde tee in die luny [sic] bin

 

Uit die joernaal van ’n sieke

 

hy het so lank geleef

met die weerklank van groot sale

dat die grootheid van sy eie stem

onverwags in ’n klein lokaal

betrap

hom skielik laat besef

             hy’s alleen

Kreatiwiteit word nie as ’n normale aktiwiteit deur die groter gemeenskap beskou nie. Skrywers, digters en kunstenaars word gereeld deur familielede of beterweterige vriende voor stok gekry omdat hulle nie ’n ‘normale’ beroep beoefen nie. Digters veral word nie beloon deur die publikasie-wêreld nie; daar is geen hoop om ’n Deon Meyer van die digkuns te word nie. Die groter publiek lees gewoon nie gedigte nie, ook ’n teken van hoe diep daar gediskrimineer word teen ‘hôgere’ literatuur. Persepsies bly dus vassteek en oorgedra van generasie tot generasie.

Digters word nie hoog aangeslaan in meeste lande nie (alhoewel Nederland en selfs Pole oor ’n veel groter of wyer leserspubliek besit, al is hulle sulke klein landjies. Selfs trokdrywers lees gedigte en luister na opera, iets wat in Suid-Afrika as snobisties-vervelig beskou word).

Digters soos Wilhelm Knobel moes die pot aan die kook hou met verskeie day jobs; hy  was onder andere lektor in Frans. Hy het egter later jare gesukkel om as aaneenlopende werker te funksioneer. Die beat digter Jack Kerouac was byvoorbeeld ’n fire lookout in die woud (dalk nie so ’n slegte werk nie alhoewel die betaling nie watwonders is nie) en Charles Bukowski moes vir jare by die poskantoor werk voordat hy voltyds kon skryf. Die druk om ’n voltydse werk te behou kan egter godsonmoontlik raak vir kreatiewe persone wat aan ’n ernstige gemoedsversteuring lei. Baie verwyt hulleself daaroor.

Meermale word hierdie druk na normaliteit ook deur die familie (David Cooper hoofuitgangspunt) gereflekteer: Wilhelm Knobel was van kindsbeen af uiters sensitief, maar hierdie sensitiwiteit is byna gewelddadig deur sy pa, wat ’n boer was, onderdruk. Die familie-konstellasie as mikro-kosmos staan veral uit wanneer dit kom by vormingsjare en Wilhelm is reeds as kind deur hierdie voorbeeld geleer dat sy kreatiwiteit en sensitiwiteit ook nie deur die makro-kosmos van die samelewing aanvaar gaan word nie.

Die ou debat van nature/nurture word natuurlik ook hier verteenwoordig. Dalk word daar deesdae te groot klem geplaas op bio-neurologiese oorsake wat met psigo-farmakologie begroet word. Vir sommige pasiente is dit ‘n absolute uitkoms, maar ander is weerstandig teen anti-depressante en skokterapie. Wat bly dus oor?

Die blog poog nie om wetenskaplike antwoorde te bied op hierdie terrein nie, maar ‘n moontlikheid of blik te bied op Afrikaanse digters wat oor hulle psigiatriese ervarings besin het. Ook blyk dit uit hierdie die handjievol Afrikaanse gedigte dat digters die ervaring van depressie en bipolêre versteuring reeds oopgeskryf het en dat hierdie ’n terrein is wat ’n lakuna laat vir verdere (inter-dissiplinêre) navorsing. Besondere aandag sou in so ’n blik geplaas kon word na die normaliteit wat van ’n digter verwag word deur die ouerhuis en gemeenskap.

Ek laat die laaste woord aan David Cooper oor (1967:20):

In the mental hospital, society has, with unerring skill, produced a social structure that in many respects reduplicates the maddening peculiarities of the patient’s family. In the mental hospital he finds psychiatrists, administrators, nurses, who are his veritable parents, brothers, and sisters, who play an interpersonal game which only too often resembles in the intricacies of its rules the game he failed in at home.

 

Bibliografie

Botha, A. 2012. pirouette. Kaapstad: Queillerie.

Cooper, D. 1967. Psychiatry and Anti-Psychiatry, Londen: Tavistock Publications.

Cooper, D. 1970. The Death of the Family.  New York: Vintage Books.

De Lange, J (ed.). 2011. As die woorde begin droom. ’n Keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel. Kaapstad: Bel Monté Uitgewers.

Goosen, J. 2007. elders aan diens. Parklands: Genugtig! Uitgewers.

Knobel, D. (ed.). 2005. Wilhelm Knobel: die ongewapende man. Van kindertyd tot sterwenstyd. Kaapstad: Bel Monté Uitgewers.

Kuhn, K. 2012. Ingeboek. Kaapstad: Griffel.

’n Insiggewende en roerende DVD wat lesers beslis moet oorweeg om aan te skaf: Living with Bipolar Disorder. (2009). Medihelp.

 

Gisela Ullyatt. ‘Wintermuil’: Die gedig as gestig.

Tuesday, October 28th, 2014

 

Foto: Christopher Payne

’n Ruk terug delf ek diep in oer-uitgawes van De Kat en Insig (dié wat genadelose seleksie oorleef het deur die jare). Onthou die ou De Kat? Die De Kat van hope resensies, kortverhaalwedstryde (waarvan Koos Prinsloo byvoorbeeld die eerste prys aan toegeken is vir Die wond) en literêre onderhoude? Let wel: onderhoudende onderhoude. Waar sou ’n mens deesdae tog sulke onderhoude in die gedrukte media aantref? Met wonderbaarlike droë humor wat deursypel in vrae aan skrywers soos Ingrid Winterbach (toe nog Lettie Viljoen). Selfs haar lang stiltes op sommige vrae word tussendeur gedokumenteer. Ongelukkig sou meer as die helfte van so ’n onderhoud se spasie deesdae kortgeknip en aan ene Madame L’Oreal afgestaan moes word.

Onthou Insig? Die kortstondige Boeke-Insig? Albei ook lankal tot vergetelheid gekis deur ‘n populistiese mark wat eerder nuwe selfone en duur viertrekvoertuie verkies. Die enigste merkers van hulle bestaan is artikels soos “Vloek van die muse” deur Linette Retief waarin sy die verband tussen kunstenaarskap, skrywerskap (veral digterskap), gemoedsversteuring en selfdood ondersoek. Ter illustrasie verwys sy na Barrie Hough, Ingrid Jonker en Johannes Kerkorrel. Daar is ook foto’s van Sylvia Plath en Ernest Hemingway.

’n Aanhaling uit hierdie artikel wat steeds na al die jare by my bly spook is, lui as volg: “’n Jaar voor sy selfmoord het Johannes Kerkorrel vir sy hartsvriendin Amanda Strydom gesê: ‘Miss Mandy, die dokter sê ek kan vir ewig lewe, maar hoe lank moet ons nog so aankarring?’” (2004:37). Self het Amanda natuurlik ook die bitterste heuning van die lewe as bipolêr-lyer leer proe. Deesdae word daar natuurlik eerder van ‘vegters’ as ‘lyers’ gepraat. Die catch-22 van depressie is egter dat die individu daarteen wil ‘veg’ maar vir lang tye nie oor die broodnodige emosionele en fisiese krag besit nie, maar steeds ongenadiglik deur kennisse en familie gepols word om hulleself spoedig reg te ruk. Stapel die verlies aan kreatiwiteit op saam met werksdruk asook enorme druk tot ‘normale’ sosiale verkeer en dit word ’n resep vir selfdood vir die kreatiewe ‘lyer’ wat aanhoudend moet ‘veg’ maar nie meer kan nie. Word daar soveel onsimpatieke reaksies op ‘normale’ siekte (byvoorbeeld kanker) gegenereer? Word pasiënte aanhoudend gemaan om nie ‘lui’ te wees nie? Word hulle tot verantwoording geroep vir hul eie siekte? Dit sou tog verregaande wees.

In haar Insig-artikel som Retief ook navorsing op (helaas nou al tien jaar oud, maar steeds aangrypend) wat suggereer dat die kreatiewe groep wat die ergste onder selfdood en gemoedsversteuring gebuk gaan, digters is.

Bestaan daar dus ’n direkte verband tussen digterskap, gemoedsversteuring en selfdood? Indringende navorsing word steeds benodig, maar dalk lê die ironie juis in die moontlikheid dat die vraag nooit opgelos behoort te word nie, omdat die digkuns juis armer sal wees aan briljante gedigte wat hieroor handel en ’n blik aan die oningeligte leser verskaf. Miskien is die titaniese Jakob-en-die-engel rofstoei met depressie juis wat gedigte laat ontknoop? Ek dink die vraag is uiters debatteerbaar, maar ongelukkig is die oplosbaarheid daarvan meer op die vlak van ’n Zen koan.

Ter illustrasie haal ek haal ’n paar Afrikaanse digters aan wat spesifiek oor ervarings in psigiatriese eenhede gedig het, veral in staatshospitale.

In die tagtigerjare het Koos Kombuis opgang as digter gemaak onder die naam André le Roux du Toit (hy beklemtoon dat hy die naam gekies het om die literêre establishment se pretensie uit te wys en dat die letters daarvan eintlik bedoel was om ‘toilet’ te spel.) In Seks & drugs & boeremusiek. die memoires van ’n volksverraaier (2000) beskryf Kombuis sy tyd in die ‘malhuis’ (Weskoppies) as skisofreen. Dit blyk dat hy aspris die vorms verkeerd ingevul het en dat hy nooit werklik stemme in sy kop gehoor het nie. Hy is wel opgeneem en het skokbehandeling (in die Astrid-kliniek) ontvang gedurende 1977 (104-105):

Skokbehandeling is ’n redelike uitgediende vorm van sielkundige behandeling. In die ou tyd is dit sonder narkose toegedien, en was dit volgens oorlewering nogal pynlik. Daar is ’n baie bekende scene in die fliek One Flew Over The Cuckoo’s Nest, waar skokbehandeling toegedien word op ’n pasiënt, gespeel deur Jack Nicolson, en waarná hy ’n zombie uitdraai. Ek moet erken dat daardie toneel is ietwat buite verband geruk. ’n Mens moet ’n geweldige oordosis skokbehandeling kry voor jy ’n zombie word […] In my geval is ek tien skokke toegedien, die een na die ander op agtereenvolgende dae. Ook weliswaar ’n oordosis, maar nie genoeg van ’n oordosis om my ’n zombie te maak nie.

Nota bene: Ongelukkig pleeg Koos hier ’n feite-fout: In One Flew Over The Cuckoo’s Nest, ontvang die protagonis Randle McMurphy skokbehandeling. Net daarna gee hy voor dat hy ’n zombie is (weliswaar vir ’n baie kort rukkie), tot die ontsteltenis van almal. Dit is egter nie die skokbehandeling wat hom katatonies gemaak het nie. Wat Kombuis eintlik na verwys is die eindtoneel: McMurphy word ‘gestraf’ deur die psigiatriese establishment omdat hy daarteen gerebelleer en dus homself as ‘moeilikheidmaker’ gevestig het (veral omdat hy Big Nurse se onleefbare roetines omverwerp). Sy ‘straf’ en ‘regstelling’ word in die vorm van ’n lobotomie uitgevoer: die konneksies tussen die pre-frontale korteks en die talamus word permanent afgesny en dus verbreek. Ken Kesey, die skrywer van die gelyknamige boek, lewer dus uitstekende sosiale kommentaar oor die lobotomie via die McMurphy-karakter, ’n uiters omstrede asook wreedaardige metode wat deur Dr. Walter Jackson Freeman ‘vervolmaak’ is: binne vier dekades het hy meer as drieduisend lobotomies uitgevoer, meeste van hulle met ’n yspik. Wat ek uiters ontstellend en skrikwekkend vind is dat hy (en ander) geglo het dat pasiënte se lewens daadwerklik daardeur verbeter is. Ongelukkig is meeste in afgestomptheid gedompel of selfs, soos McMurphy, in hulpelose katatone omskep.

Terug na Kombuis aka Le Roux du Toit: hy  debuteer in Brekfis met vier (1980) en sy gedig “Ek Dood” (7) verhaal sy ‘skisofreniese’ ervaring lank voor sy memoires:

ek dood

ek kom by die hemelse poorte

ek klop aan relings

ek sien petrus vroetel met bos sleutels

ek vra

meneer god tuis?

petrus mompel

ek geloofsoortuigings?

invul op pienk vorm drievoud […]

 

ek na weskoppies

ek skisofreen

ek roomskatoliek anglikaan […]

Kombuis se taal is weliswaar nie dié van ’n hebefreniese skisofreen nie (dit sou meestal net ’n onherkenbare gebrabbel wees; onleesbaar dus); maar die feit dat hy grammatikaal die gedig manipuleer deur sommige werkwoorde uit te haal en op ’n strukturele vlak daarmee  te speel, dra by tot die gevoel van skisofrenies taalgebruik. In Black Sun. Depression and Melancholia (1989), beskryf Julia Kristeva Marguerite Duras se werk as ‘An Aesthetic of Awkwardness’ (225): “[…] the distorted speech sounds strange, unexpected, and above all painful”. Miskien is hierdie ”awkwardness” ook op toepassing van hierdie gedig?

‘n Afrikaanse digter wat die institusionele ervaring uiters geslaagd satiriseer, maar ook op ‘n roerende wyse karteer, is Jeanne Goosen.  Skreiende ironie slaan deur in  ‘gedigte vir die mond’ (’n Uil vlieg weg:35) waarin Goosen die psigiatriese hospitaal voorstel soos die Suid-Afrika gedurende apartheidsjare:

i

in hierdie saal haal die mense asem soos groente

die verpleegster buig hulle lywe reguit lit vir lit

elke ras ruik anders

die malles na muwwe voëls, soos ’n nasie op hulle eie

ek ontrafel soos ’n ou wasrok

[…]

Ook konformering en onderwerping van die individu deur middel van institusionele regulasies word in haar verse geëggo; die self word as’t ware geoblitereer (‘Brief’:35):

In die gestig gaan die lewe sy gewone gang

en word elke malle toegelaat

om normaalweg voort te gaan

Dis buite waar die dae versplinter lê

en die son in sy eie strale verstrik.

Hier is die water koud

en daar is geen seep nie

ek het my onderklere verbrand …

(U weet tog self ek het nie ’n strik vir my hare nie.)

Die suster is wit en internasionaal

soos ’n teepot

Sy klee ons eenders

In hierdie jurk

is dit maklik om jou enigiets te verbeel

Die laaste versreël van hierdie gedig reïtereer die idee dat gesondwording siklies van aard is soos die ironiese teenoormekaarstelling van “afstomp” en “herstel”: “Geleidelik sal ek afstomp tot algehele herstel”. Afstomping en vervlakking is sekerlik die grootste vrees vir enige digter; hier is die vrees wesentlik as gevolg van die psigiatriese ervaring wat stimulasie uitsluit veral as medikasie ter sprake is.

In “Ontslag uit die gestig” (36) (Orrelpunte:1975) wys Goosen die leser op die ervaring van die ontslaande psigiatriese pasiënt. Meestal aanvaar die gemeenskap dat die persoon nou wonderbaarlik genees is, maar meestal is dit maar net die beginpunt van die herstel-en-regressie siklus:

[…]

Die bediende vryf die vloere

en ek ruik nie meer dat ek weg was nie

Sy was die skottelgoed

en ek hoor ek is terug

Sy was die reuk van die malhuis uit my trui.

[…]

In die derde deel van hierdie gedig (36) word die verraderlikheid van so ’n  herstelproses selfs verder beklemtoon deur die skryfproses in te sluit. Let op na  ongewone metafore soos ‘my tikmasjien is ’n wintermuil’:

iii

die vetplante verdof, winter is hier

die kaktus se dagsêkwas slaap in skubbe

alles is ingekeer onder wol, sonder sap

ek leer die droefheid ken soos vreugde

oplaas is daar versoening

tussen die mond en die breinspons, maar tydelik

tydelik en verradelik

my tikmasjien is ’n wintermuil

dit trek my deur die triestigheid van leë planete

ek word neergeskryf – passief en sonder mond

atonaal: hierdie is nie ’n gedig nie

hierdie is ’n vlugtige dood

Deel twee van hierdie blog stel die leser aan verdere Afrikaanse digters bekend wat die verband tussen gemoedsversteuring, kreatiwiteit, selfdood en die institusionele ervaring oopskryf. Hou dus Versindaba dop.

 

Bibliografie

 

Brekfis met vier. 2005. Kaapstad: Human & Rousseau.

Goosen, J. 1971. ’n Uil vlieg weg. Kaapstad: Tafelberg.

Goosen, J. 1975. Orrelpunte. Johannesburg: Perskor.

Kombuis, A.K. 2000. Seks & drugs & boeremusiek. die memoires van ’n volksverraaier. Kaapstad: Human & Rousseau.  

Philip de Vos. My Hond (deel twee)

Tuesday, October 26th, 2010

 

Asof die skryf van ’n blog nie alreeds genoeg dinkwerk verg nie.
Twee dae gelede kom ek vir Danie Botha by ’n herdenking van Wilhelm Knobel se 75ste by sy broer Deon se huis teë en tussen die tafel met die yslike versuikerde aarbeie en die sjokolade-tert sê hy ewe beskuldigend:
Ek het nou net jou blog-inskrywing My Hond (deel een) gelees en merk dat al die hondeversies in Engels is. Ek neem aan deel twee gaan dié in Afrikaans hê, want daar is natuurlik hope, beginnende sommer by C.J. Langenhoven. Om darem nie te dom te klink nie, skud ek my kop op so ’n manier dat dit òf ja òf nee kon beteken, want met ’n mond vol melktert is daar nie veel kans om iets tussen die gemompel uit te maak nie.
En van gemompel gepraat, by die Wilhelm Knobel-funksie, het Deon van Wilhelm se verse voorgedra en Jeanne Goosen het ’n storie voorgelees oor een van haar nagwandelinge saam met Wilhelm destyds in Pretoria. Maar dié kon sy eers lees nadat sy aangekondig het dat sy haar bril by die huis vergeet het, en kon iemand miskien ’n keffie-bril vir haar leen?
Toe was dit later Phil du Plessis se beurt om ’n gedig voor te lees, maar hierdie keer was dit erger, want hy het sy tande by die huis vergeet, en hy het al mompelend verduidelik dat hy dit die vorige aand uitgehoes het. Toe vertel hy ook sommer hoe dat Uys Krige elke dag by Onrus gaan swem het, en met al die geswemmery het sy valstande glo die branders in verdwyn en toe het hy sommer maar by die naaste lykshuis in Hermanus vir hom ’n ekstra paar gaan uitsoek.
Ewenwel, wat ek eintlik wou sê, is dat ek vir Danie Botha eintlik moes gesê het dat die enigste Afrikaanse hondevers waarvan ek bewus was dié een van Jan F.E. Celliers is:
 

Ek is hier en Ma is hier

Ons twee lê op pa se baadjie.

Wie is jy? Kom loop verby

Anders word ons knor ’n daadjie.

 

Terloops daardie daadjie klink my so ’n bietjie na dwangrym, maar nou ja, in die dae toe Celliers dié versie geskryf het, was daar seker minder Afrikaans rymwoorde as deesdae.

  

 

 

Ek is toe terug huis toe en Sondagaand het ek met die yslike Groot Verseboek 2000 wat seker ’n Statebybel se grootte ewenaar voor my by die tafel gesit, want wie op aarde kan so ’n yslike gedoente in die bed regophou? Gee my veel liewers Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte want dié is darem nog hanteerbaar en is dit veel makliker om so ’n juweeltjie soos Die Durbanse poepwedstryd wat wegkruip tussen G.A. Watermeyer en Flooi du Plessis, op te spoor, al het dit niks met honde uit te waai nie.

Ewenwel, daar blaai ek toe deur Groot Verseboek en waar is die hondeverse? Daar is wel verse vir sekretarisvoëls en ietermagôs en perde en vlermuise en torras van torrevedras, maar vir die arme hond kon ek met yslike deurlees van bladsy 1 tot bladsy 942, alleen dié enkele vers van Hewitt Visser uiteindelik op bladsy 716 opspoor:

 

HOND VAN GOD

 

geen jaghond nie

net ’n troeteldier

wat heeldag op die aarde

om sy voete speel

met tussenin spronge

en albei voorpote op sy skoot

om die kalm hand op die hoof te voel

saans uitgeput die rus

op ’n bidmatjie voor die stoel.

 

Ek kon dus seker maar vir Danie Botha gesê het dit is veel makliker om slim te klink en Engelse hondegedigte aan te haal, want ál wat jy moet doen is om die woorde dog poems te Google en daar klink jy sommer allergeleerd en is dit dus net ’n kwessie van cut en paste en hoef jy nie dwarsdeur onse eie Afrikaanse Statebybel te lees om daardie enkele hondeversie op te spoor nie.

Honde (en katte ook , moet ek so half onwillig toegee) is ongelukkig nie vir altyd nie, en op een of ander tyd besef jy die einde is aan die kom.

So gebeur dit ongeveer drie jaar gelede dat ek en Piet Grobler en Niki Daly by ’n Insig-boeke geleentheid was, waar ons oor ons werk moes praat en ek van my versies moes voorlees.

By my aan tafel was ’n dame wat ek nog nooit voorheen ontmoet het nie, en sy vra my hoe dit met my Staffie Winnie gaan. En toe sy ’n uitknipsel van my artikel Winnie uithaal wat in 1995 in Rapport gepubliseer is (sien my vorige bloginskrywing) bars ek in trane voor daardie wildvreemde vrou uit, want toe al het ek besef, dat ek sou moes besluit wanneer dit Winnie se tyd was om te gaan, want toe alreeds het haar pootjies wankelrig begin word; sy kon my nie meer hoor nie en die groeisel aan haar nek het al hoe groter begin word.

Maar dit kon ek glad nie vir die vreemdeling vertel nie. Dit was net daardie stukkie papier wat my skielik laat huil het en die arme vrou verwar het.

Maar ek is sekerlik nie die enigste persoon wat deur ’n hond se oudword en naderende dood geraak is nie.

 

EPITATH FOR A DOG

Near this spot
Are deposited the Remains of one
Who possessed Beauty
Without Vanity,
Strength without Insolence,
Courage without Ferocity,
And all the Virtues of Man
Without his Vices.
This Praise, which would be unmeaning flattery
If inscribed over Human Ashes,
Is but a just tribute to the Memory of
“Boatswain,” a Dog
Who was born at Newfoundland, May, 1803,
And died at Newstead Abbey Nov. 18, 1808.

Lord Byron

 

Hier is nog ’n gedig wat ek deur Google ontdek het:

  

YOUR DOG DIES 

it gets run over by a van.
you find it at the side of the road
and bury it.
you feel bad about it.
you feel bad personally,
but you feel bad for your daughter
because it was her pet,
and she loved it so.
she used to croon to it
and let it sleep in her bed.
you write a poem about it.
you call it a poem for your daughter,
about the dog getting run over by a van
and how you looked after it,
took it out into the woods
and buried it deep, deep,
and that poem turns out so good
you’re almost glad the little dog
was run over, or else you’d never
have written that good poem.
then you sit down to write
a poem about writing a poem
about the death of that dog,
but while you’re writing you
hear a woman scream
your name, your first name,
both syllables,
and your heart stops.
after a minute, you continue writing.
she screams again.
you wonder how long this can go on.

Raymond Carver

 

En dan, nog ’n versie, maar hierdie keer op ’n ligter trant:

 

THE LITTLE DOG’S DAY

 All in the town were still asleep,
When the sun came up with a shout and a leap.
In the lonely streets unseen by man,
A little dog danced. And the day began.

All his life he’d been good, as far as he could,
And the poor little beast had done all that he should.
But this morning he swore, by Odin and Thor
And the Canine Valhalla—he’d stand it no more!

So his prayer he got granted—to do just what he wanted,
Prevented by none, for the space of one day.
“Jam incipiebo, sedere facebo,”
In dog-Latin he quoth, “Euge! sophos! hurray!”

He fought with the he-dogs, and winked at the she-dogs,
A thing that had never been heard of before.
“For the stigma of gluttony, I care not a button!” he
Cried, and ate all he could swallow—and more.

He took sinewy lumps from the shins of old frumps,
And mangled the errand-boys—when he could get ’em.
He shammed furious rabies, and bit all the babies,
And followed the cats up the trees, and then ate ’em!”

They thought ’twas the devil was holding a revel,
And sent for the parson to drive him away;
For the town never knew such a hullabaloo
As that little dog raised—till the end of that day.

When the blood-red sun had gone burning down,
And the lights were lit in the little town,
Outside, in the gloom of the twilight grey,
The little dog died when he’d had his day.

Rupert Brooke

 

’n Jaar na Winnie se dood, het ek weer ’n artikel oor haar geskrywe. Maar hierdie keer was dit 15 jaar na die eerste een, en wys iemand dalk hierdie knipsel oor ’n paar jaar vir my sal my reaksie dalk dieselfde wees as toe die wildvreemde vrou die vergeelde artikel by die Boeke-Insig byeenkoms voor my neergeplak het;

 

 
WINNIE (Rapport 17 Mei 2009)
 
 
 
 

 

 

Winnie het in my lewe gekom op ‘n warm Desemberdag in 1993 – ‘n klein pikswart Staffie wat bo-oor al haar broers en susters geklim het toe ek by die hondeteler ‘n hondjie gaan soek het, en sy so te sê aangekondig het: “Wel, hier is ek en van nou af gaan ek deel van jou lewe wees”.

En toe 15 jaar later, op ‘n Novemberdag het ons tot siens gesê. Ek was langs Winnie waar sy op die vloer lê en slaap het. En vir oulaas, vir ‘n hele halfuur lank, het ek my arms om haar warm lyfie gevou, want ek het geweet die veearts sou nou enige tyd die deurklokkie lui met ‘n inspuitnaald in sy sak.

Toe ek haar gekry het, was sy so klein dat ek haar in my rugsak kon dra. Maar twee jaar later toe ek een middag met haar gaan stap het, het ‘n glasstuk haar pootjie gesny en het ek agtergekom hoe swaar dit is om 20kg huis toe te dra.

In haar jongmeisie dae het sy gedoen wat alle hondekinders doen. As jou tandvleise jeuk, dan móét jy kou en ek het agterkom dat honde ook maar hulle eie smaak het. Vir Karel Schoeman-boeke het sy egter g’n smaak gehad nie, want Na die Geliefde Land het sy net so effens om die randjies gekou.

En een aand moes ‘n kuiergas hinkepink terug na sy motor toe stap minus een van sy duur Italiaanse skoene terwyl Winnie ewe vroom onder die eetkamertafel gelê en nog steeds aan ‘n stukkie Italiaanse leer geknabbel het. Maar hoe kon ‘n grênd gas so kommin wees om sy duur skoene uit te skop terwyl hy by jou kuier?

Daarna was dit die potty-training-dae. Een oggend toe ek besef sy is besig om haar druk te druk, moes ek daardie swart lyfie gryp maar dit was reeds te laat en het haar hondedrolletjies een een met ‘n streep vloer toe geval het terwyl ek met haar tot by die grasperk hardloop.

Waar moet honde slaap? Buitekant natuurlik, want hoe anders gaan die hond jou beskerm teen gevare van die nag? Winnie het vir presies vir ‘n week in ‘n skattige houthuisie gewoon, maar saans was sy so allenig daar buitekant, dat ek besef het ‘n hond se plek is binne-in die huis, want vandag se inbrekers klim sommer dwarsdeur jou diefwering, en wie is dan daar om jou binne in die huis teen die gevare van die nag te beskerm?

Winnie het haar eie bedjie reg langs die dubbelbed gekry. As ek party aande teruggekom het by die huis, het Winnie kamstig in haar bedjie lê en slaap maar ek het tog gewonder waarom daar dan ‘n klein duikie op die dubbelbed se duvet was en hoekom dit nog steeds so effens warm voel? Haar bedjie was nie vir baie lank haar lêplek nie en soos almal weet – ‘n hond se slaapplek is eintlik bo-op jou bed. En saans as ons so saam-saam slaap, was ek altyd bewus van Winnie wat haar lyfie so warm teen myne aandruk.

Destyds kon sy sommer woerts op die bed beland, maar wat het dan gebeur? ‘n Paar jaar gelede merk ek hoe sy sukkel-sukkel om op die bed te kom, dus het ek maar die dubbelbed se pote afgeskroef en was die bed baie nader aan die vloer. Toe vind sy dit makliker, maar ‘n jaar of wat daarna was dit skielik my beurt om haar op te tel om bo-op die bed te kom.

Maar – voor daardie dae, was daar die wonderlike dae van Walkies. En sy het my behoorlik bult-af gesleep as ek haar aan die leiriem het, en wildvreemdes het skielik met my op straat begin gesels. Sou mens minus ‘n hond met ‘n vreemdeling gesels, word jy straks van seksuele teistering aangekla, maar met Winnie aan die leiriem was alles skielik anders.

Met die loop van jare het haar lyfie minder swart geword met wit haartjies om die snoet en soms was ek bewus van ‘n melkerigheid in haar oë.

Elke keer as daar ‘n polisiemotor met loeiende sirene verbyjaag, het Winnie soos haar Wolwe-voorsate met kop omhoog gehuil totdat die sirene in die verte verdwyn, maar later het motors met hulle sirenes verbygejaag en Winnie het maar net daar op die dubbelbed bly lê met haar grys snoet warm onder haar rooi kombersie ingevou en nou was dit nog net skielike harde klapgeluide wat haar kon laat skrik.

Winnie was altyd ‘n party-girl. As ek eenkeer ‘n jaar partytjie hou, het Winnie soos ‘n mal ding voordeur toe gejaag elke keer as die voordeurklokkie lui, want sy het geweet dit beteken elkeen van die wonderlike besoekers gaan haar allerhande soetigheidjies voer. Wat maak dit dan saak as sy die volgende paar dae gaan olik voel, want koekies is mos altyd maar lekker.

Maar – op ‘n dag kon die voordeurklokkie maar lui, want dié kon sy glad nie meer hoor nie en toe was selfs soetigheidjies nie meer so lekker nie en het sy soms maar net na haar kos gesit en staar en dan later na haar rooi kombersie toe teruggesukkel. Toe was daar skielik ‘n groeisel aan haar nek wat by die maand al groter geword het. En ek besef: een van die dae sal ek moet besluit wat die regte ding is om te doen.

‘n Paar weke voor haar verjaarsdag word sy in die middel van die nag wakker, en in plaas van deur haar eie hondedeurtjie na die tuin toe te gaan, begin sy rondtol. Die huis en die tuin het skielik ‘n vreemde plek geword, waar sy saans en selfs in die middel van die dag teen meubels en plante in die tuin begin vasloop.

Op die Woensdag het die veearts gesê hy sal Maandag na ons huis toe kom. En ek besef toe vir haar is daar nog net vyf dae oor. Vyf dae, word vier, vier word drie, en later was daar net ‘n paar uur oor. In daardie laaste vyf dae het ek haar elke dag na die groen gras op Groenpunt-meent geneem en hier kon sy op haar manier nog tussen die graspolle rondsnuffel, en daardie laaste dae was dae van biefstuk en biltong en lekker koekies.

Vir ‘n hele halfuur voor die koms van die veearts, het ek ek langs haar daar op die vloermatjie gelê met my arms om haar warm lyfie. Om eenuur het die voordeurklokkie gelui en om twee-uur het ek en my vriend Peter, haar graffie in die tuin langs die visdammetjie gegrawe en haar later in haar rooi kombersie toegevou.

Nou lê sy daar met twee meerminne van Nieu-Bethesda se Uilhuis wat oor haar waghou. En die solar-lampie langs haar graffie, brand tot laataand nog – en dan onthou ek dat Winnie vir 15 wonderlike jare deel was van my lewe.

 

  

 

 

Andries Bezuidenhout. Om nie oor liefde te skryf nie

Monday, February 15th, 2010

Self kon ek nog nooit ʼn liefdesgedig of -lied skryf nie. Gaan dit oor die feit dat dit so maklik soetsappig klink in Afrikaans? Miskien is ek net nie ʼn ware digter nie. Die stomme Aphrodite se ruggraat het in elk geval lankal geknak onder die gewig van elke tweede (of dalk eerder elke) wannabe popster wat haar opsaal en laat rym met “you”, “blue”, “true”, “do” en “doobee doobee dooohooo”. In Afrikaans is dit “jaai”, “blaai”, “baai”, “maai” (“jy”, “bly”, “by”,  “my”, maar dis nie hoe sangers dit deesdae uitspreek nie; die “s” word ook as “sh” uitgespreek).

Soos met populêre lirieke, is die liefde seker die onderwerp waaroor die meeste gedigte geskryf is. Dis waarskynlik ook die onderwerp waaroor die meeste swak gedigte geskryf is. Dit is dus juis ʼn onderwerp waarvoor ek besonders lugtig is, deels omdat daar reeds so tussen al die suiker en pienk blommetjies deur sulke mooi liefdespoësie geskryf is.

Ek lees op die oomblik terug. Sondag was Abjater wat so lag se dag. Dis seker nie die tipe boek wat ʼn mens op Valentynsdag moet lees nie. Pluk later ewe lukraak bundels van die rak af, blaai rond.

Een van die eerstes wat ek raakvat is Jeanne Goosen se bundel, ʼn Uil vlieg weg. Natuurlik blaai ʼn mens eerste na “ons huil nooit nie/ ons twee huil nooit nie…” tot by “snags lê ons lywe inmekaar/ en ons vra nie vrae nie/ ons is mekaar se droefnis”. In Elders aan diens is daar ʼn lieflike, dubbelsinnige gedig wat Jeanne Goosen aan die waitress wat een aand vir haar kabeljou gebraai het in Stellenbosch skryf:

Sweetness
kom bly by my vannag
dan leer ek jou die rumba
die Charleston en die samba
Ek leer jou die jitterbug
die hush hush en die cha cha cha
en dan
daarna?
Dan croon ons tot dagbreek
Only the lonely

Hoe kan ʼn mens dan ook nie Die huis van die dowe raakvat nie? Veral die eerste afdeling; “Eet my woorde, trooswoorde”. Ag, hoe kry Breyten Breytenbach dit net so reg?

In teenstelling met Breytenbach se volmaakte liefdesgedigte staan Gert Vlok Nel s’n op krukke op ʼn perron iewers in die Karoo. Maar dis ewe mooi. Kan ʼn mens dit gedigte oor die liefde noem? Ek praat nou nie van die een met die lang titel waarin daar onder andere na “hart” en “smart” verwys word nie. Of sy tannie Rita, met haar “3 kinders en i treindrywerman met i wrok” en geloof, hoop en liefde wat oorbly, “maar die grootste hiervan was die hoop”. Of “nee nee nie dit nie, nie noodwendig dít nie”:

dertig die dag toe hy laaste uit die kerk kom.
vaag in die wete en volop in vermoedens soos die confetti.
hoekom so? vra sy vrou, hoekom so donkerder in jou oë.
is my rok dan nie wit nie? en sy lag die vraag die mense in.
mens kan nooit van mense werklik weet nie.
wát weet nie? of hulle groei-of-nut-het-of-goed-is nie?
nee nee nie dit nie, nie noodwendig dít nie

Dalk is dit anti-liefdesgedigte. Selfs in “die koms van Ligia” is sy “donker & lig & lieg ineen”. Maar dit praat met ʼn mens op ʼn sekere vlak. Ek weet nie. Dalk is dit maar na Abjater wat so lag dat ek ʼn behoefte gehad het om weer Gert Vlok Nel te lees.

Gepraat van geloof, hoop, liefde en Gert Vlok Nel. Daar is natuurlik Raymond Carver se gedig “Hope”. Sjoe! Dalk kan ʼn mens dit ʼn haatgedig noem. Heel aan die einde van sy lewe kon hy darem skryf:

And did you get what
you wanted from this life, even so?
I did.
And what did you want?
To call myself beloved, to feel myself
beloved on the earth.

Ek weet die idee is vir ons om oor een gedig te skryf. Ek kan nie kies nie. Daar is te veel en elke week voel ek anders daaroor. Dalk moet ek maar afsluit met Leonard Cohen, die digter-musikant wat skynbaar nog nooit Die Liefde kon vind nie, maar op so ʼn onthutsende manier oor liefde en woorde kan skryf:

I heard of a man
who says words so beautifully
that if he only speaks their name
women give themselves to him.

If I am dumb beside your body
while silence blossoms like tumours on our lips
it is because I hear a man climb the stairs
and clear his throat outside our door.

Van een ding is ek seker: Daardie man op die trap is nie ek nie.

  •