Posts Tagged ‘Jelleke Wierenga’

Bloot mens

Tuesday, September 15th, 2009

Bloot mens

Bloot mens

Bloot mens. Jelleke Wierenga. Pretoria: Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-311-9. Prys: R130.

 

 

Met Bloot mens is Jelleke Wierenga, as ek reg getel het, al die sesde van die sestien digdebutante in nuwe stemme 2 (2001) wat met ’n eie solobundel vorendag kom.

Dis ’n gekwelde mens, geneig tot die uiterstes van lewensdrif en depressiwiteit, wat uit die prentjie tree by die lees van dié bundel. Pers en pienk is waarskynlik nie verniet die twee kleure wat die meeste opduik in die bundel nie; ook die swierige kledy van die vrou op die bandfoto (geneem deur Jurgen Doom) word deur hierdie kleure gestempel.

 

Vroulike sensualiteit, tot die swoele toe, en sentimentele gevoeligheid, maar ook pyn en kwesbaarheid, word so vooropgestel.

Die “sy” in die gedig “Argetipies” word byvoorbeeld, in ’n passasie wat plek-plek aan Cloete se uitbeelding van iemand soos Marilyn Monroe herinner, soos volg geteken:

 

Kaalvel koningin sy

in die tuin en beleef

hoe purper in pienk

pas en palm ooplyf:

die minnares-hedonis

 

Onverweer leef sy

teen die lang arm wat al vinniger

deur die sirkel swaai;

die bolip soet gekrul,

die wange weerloos:

sy[.]

 

’n Onvrede met die persoonlike verlede spreek uit die bundel. Dis ’n verlede gekenmerk deur onvervullende verhoudings, ook vanweë eie aandadigheid deur die subjek, soos veral uitgedruk in sekere van die gedigte in die afdeling “Galery van gewese geliefdes”. Daarby kom die besef dat die eie potensiaal nog grootliks onverwerklik is. Teen die einde van die bundel, in die gedig “Rekenskap”, bely die “ek” dat sy “’n lieg gelewe” het, “suutjies en saggies en bietjies”. As sy “eerlik” moet sê (in funksioneel verkapte taal), was sy tot dusver eintlik

 

[…] net pot

pot

potensiaal

 

gemorste mat

mat

materiaal.

 

Soos die titel van die gedig direk voorafgaande aan “Rekenskap” lui, is sy, wat al ouer as vyftig is, eintlik steeds net “op pad” – bowendien, luidens die gedig “Trip” in dieselfde bundelafdeling, onderweg “na wie weet watter onbewoonde / plan”. (Die ruimtevaartbeeld wat “Trip” oorheers, maak dit duidelik dat “plan” ook as “planeet” gelees moet word.)

Die leser kan dus skaars anders as om geraak te voel as Wierenga in “op pad” skryf:

 

[…]

en die lintwurm strek

so lank en so swart

daar’s rooi oë in die nag

 

en ek stop vir koffie by die Shell

een suiker asseblief

en ek is weer op pad

 

en ek draai die venster af

en al die sterre waai

en die maan dreunsing

 

op pad[.]

 

Die onvrede by die “ek” betref egter ook die burgerlike en/of verkommersialiseerde bestaanswyse van vandag (veral uitgedruk in afdeling 5, “Gespook”), asmede die sosiaal-politieke omstandighede in Suid-Afrika (afdeling 4, “Aan- en uitklag”). 

Dié onvredes verskaf die nodige reliëf aan die hoë lewenseise wat die “ek” aan haarself stel. “Vraatsug” is ’n woord wat in die gedig “Geboortedag: 1 Mei 2007” val om dié lewensdrif te kwalifiseer. 1 Mei 2007 was klaarblyklik die dag waarop sy bevry is van ’n versmorende verhouding oor “dekades” heen wat haar “dood en gewoon” laat voel het. Nou wens sy vir haarself:

 

Waag.

Waar.

Wonders.

 

Daarby poësie, waarsonder sy “glad nie lewe [lus] nie”.

Teen hierdie tyd is die verskillende betekenisnuanses van die bundeltitel al duidelik. Dit gaan om ’n blootgestelde, verwondbare mens (nou ook deur middel van die selfopenbarende digbundel!), maar wat ook inténs mens wil wees. Trouens: bloot méns. Vergelyk die stilisties verkapte, derhalwe gestroopte (maar terselfdertyd sensuele) gedig “Kantwerk” uit die selftekenende afdeling “Profiel”:

 

Tuinwerk.

In blou kantbroekie.

Son op die land.

En lyf.

Buurman.

Op soldertrap. 

Sien.

Wat jy sien.

Hier.

Is ek.

Kant.

En kaal.

 

’n Ander treffend gestroopte vers in Bloot mens is “10 September 2007” (oor die dood van ’n suster); miskien ook die slotgedig, “Waarneming”.

Sulke gedigte is egter in die minderheid. In die meeste gevalle word ’n seggingsvernuf eerder uitgestal: enersyds as ’n maskerade teen die eie weerloosheidsgevoel, andersyds as neerslag van die belyde lewens- en uitingsdrang. Daarby kom ’n opvallendmaking van aanhalings, intertekstuele verwysings en toespelings as “bewuste” literêrheid.

Soms, in gedigte soos “vir BB”,  “Epos sonder helde of heldinne” en “Dit kan nie wees”, word dit hoofsaaklik boeiend of funksioneel gedoen (byvoorbeeld met betrekking tot bewussynsontwrigtheid). Meestal lei dit egter tot oordaad, tot onbeheersdheid wat selfs banaliserend kan aandoen.

In laasgenoemde verband staan die alliterasiedrif in soveel gedigte uit. “Profiel”, “Argetipies”,  “Hoe gaan dit nog met jou adiposity?”, “Klaaglied van die kleintjies” en “Dislojale verset” het die twyfelagtige eer dat hulle as “uitstekende” voorbeelde hiervan genoem kan word.

Daar is waarskynlik iets uitdagends, iets aandringend poëties in die wyse waarop Wierenga vreemd- en opvallendmakende middele benut soos die volgende: woordfunksiewisselings (byvoorbeeld die reeds aangehaalde “[k]aalvel koningin sy”) en omgekeerde woordordenings, neologismes en gesogte samestellings (“bottel-bekkend”, “dwarreldaal”, “goorgrond”, ensovoorts, ensovoorts), ellipse, ontkoppelings (“sonder lei of draad”), woord- en klankspel (“poësie … ha-ha, gee ons eerder poesie”!), Loslitafrikaans en woordkontaminasies (“wondernis”), uitbuiting van spreekwoorde en geykte segswyses, herhalingseffekte soos parallelismes, anafore en repetisies, asook retoriese vrae en enumerasies (dikwels in polisindetiese opstapeling van konstruksies met “en”).

Met betrekking tot die satiriserende, sosiaal- en religieus-kritiese verse in afdelings 3, 4 en 5 sou ’n mens nog ’n saak kon uitmaak dat dit ’n speels-ondermynende werking het.

Maar dié stylopvallendhede verteenwoordig ook ’n soort digterlike naaklopery, waardeur die poësie ernstig aan subtiliteit inboet. Dit word helaas alte geforseerd, te “maklik”. Ter illlustrasie enkele passasies uit “Huis ontuis”:

 

[…]

 

Dis bedoel om my & jou

– hallusineer / droom ek –

te wakker na bewus:

no pain, my dear,

no gain:

en dis die kotsbare waarheid.

 

[…]

 

jy pomp seks sy slaaf werk ek god geld hy penis Porsche

[…]

 

ek sel my siel jy spin die Web hy kuber seks sy Second Life

[…]

 

Meermale is die eindproduk banalisering, soos gesê. (Die herhaalde verwysings na en toespelings op Breyten Breytenbach in die bundel verlei my om van Breyten-vir-die-volkse-smaak te praat.)

Let maar op hoe die oppervlakkige vernufspel die morele onthutsing en aanklag in ’n geval soos die volgende ontkrag:

 

Die situasie

 

Sito-sito die situasie

op die snelweg

’n transito-oorloggie

og toggie

 

konsternasie op die stasie

want die fluitjie willie blasie

en die gewere is in die menasie

of geleen deur die nasie

 

maar alle panic op ’n knoppie

die amagents ken die wet

van etiket

en vra polite:

 

“Your money or your life!”

umshini wam bam bam

“Thank you, man!

And greetings to your wife!’

 

Clichés opgestapel saam met oorwerkte truuks.

 ’n Mens kry die indruk dat Wierenga ten alle koste poësie wíl maak (en publiseer). ’n Bietjie soos die blitsbesoek-minnaar in “Epos sonder helde of heldinne” wat aandring: “ek WIL jou NOU ek wil jou GOU”.

Dis jammer, want die klompie knapper gedigte in Bloot mens kom derhalwe te staan in die skadu van oorwoekerende woorduitwasse.

Resensie deur Bernard Odendaal
Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
 
 

 

 

 

Rutger Kopland 75 jaar oud!

Wednesday, August 5th, 2009
Rutger Kopland

Rutger Kopland

Gister het Rutger Kopland (pseudoniem vir Rutger Hendrik van den Hoofdakker), een van die reuse in wêrelddigkuns, sy 75ste verjaarsdag gevier. Kopland het in 1966 gedebuteer met Onder het vee. Daarna het nog vyftien digbundels gevolg, waarvan Toen ik dit zag (2008: Van Oorschot, Amsterdam) die mees onlangse is. In sy loopbaan het hy vele pryse verower, waaronder die VSB Poësieprys (1988) en die PC Hooft-prys (1988). Kopland, wat hom as psigiater bekwaam het, het hom deur die jare heen gevestig as een van Nederland se mees geliefde digters. Die onveranderlike in die mens se doen en late kan as sentrale motief van Kopland se digwerk beskou word. In vers na vers verset hy hom teen dit wat verbygaan, met die besef dat die mens telkens daarheen terugkeer langs ánder weë. Hierdie teenstrydigheid het hy self treffend saamgevat in ‘n aanhaling op Poetry International se webblad: “Everyone finds a lost paradise in my poetry, a longing for it. I don’t long for the past, I long for experience (…) and experience is new, now.” Net so het hy by geleentheid die teenstelling tussen die nostalgiese toon van sy verse en die nie-nostalgiese betekenis daarvan, beskryf as “memories of the unknown”, ’n uitspraak wat uiteindelik as titel vir Kopland se vertaalde gedigte in Engels gebruik sou word. (Lees gerus die inligtingstuk hier.)

Hieronder volg ’n vers uit die pen van hierdie meester, plus ‘n vertaling daarvan deur Daniel Hugo.

Dan is dit vir my besonder aangenaam om ’n nuwe toevoeging tot ons digkuns te verwelkom, naamlik Jelleke Wierenga met haar debuutbundel, Bloot mens” wat pas by Protea Boekhuis verskyn het. By die eerste deurlees is dit veral die emotiewe lading van die verse en die besonderse gebruik van ironie wat ’n mens met ’n voorhamerslag tref. Ek vermoed dat ’n vergelyking met Jeanne Goosen se “Elders aan diens” en Ronelda S. Kamfer se “Noudat slapende honde” nie onvanpas is nie. (Maak seker dat jy ook die onderhoud lees wat met Jelleke gevoer is en hier op die webblad geplaas is.)

Lekker lees aan alles wat nuut is op die webblad.

LE

 

Oude vrouw met geiten

 

Zij komt terug, met een mand vol gras komt ze

op mij af tussen uitbundige bermen

om haar heen huppelen geiten

 

het is avond, in haar rug zijn de weiden nog

wit van de zomerse dag, zij is oud en klein

maar haar schaduw danst ver voor haar uit

 

zij is swart, om haar kousen, haar jurk,

haar hoedje, ligt een dun laagje licht

van de zon, het silhouet van het meisje

 

ja ze komt terug met zomers gras voor de geiten

 

 

© Rutger Kopland (uit: Verzamelde gedichten, Uitgeverij G.A. van Oorschot, Amsterdam.)

 

 

Ou vrou met bokke

 

Sy kom terug, met ‘n mandjie vol gras kom sy

op my af in die plesierige paadjie,

huppelende bokke om haar heen

 

dit is aand, agter haar is die weivelde nog

wit van die somerse dag, sy is oud en klein

maar haar skadu dans ver voor haar uit

 

sy dra swart, om haar kouse, haar rok,

haar hoedjie lê die son se dun

lagie lig, die silhoeët van die meisie

 

ja, sy kom terug met somerse gras vir die bokke

 

(Vertaling: Daniel Hugo) 

Onderhoud: Jelleke Wierenga

Tuesday, August 4th, 2009

Bloot mens is wie ek is

Jelleke Wierenga in gesprek met Louis Esterhuizen

Jelleke Wierenga

Jelleke Wierenga

Jelleke Wierenga woon op Montagu in die Wes-Kaap. Sy het die graad B.A. (Hons.) Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit behaal. Sy is ‘n vryskut-taalpraktisyn en doen onder meer kopieskryfwerk, vertalings, boekredigering en boekuitleg. Sy het voorheen by Beeld, Sarie, Juta en die WNNR gewerk.Sy het ‘n hele klompie Afrikaans-handboeke op haar naam, het ‘n kinderverhaal gepubliseer, asook ‘n kortverhaal wat in verskeie bundels opgeneem is. Van haar gedigte is in Nuwe stemme 2, Karapaks, As die son kom oogknip en Woordreise gepubliseer.

Haar debuutbundel, Bloot mens, het pas verskyn by Protea Boekhuis.

 

 

Jelleke, kan jy dalk ter inleiding iets omtrent jou persoonlike agtergrond vertel? Waar het jy byvoorbeeld grootgeword, en hoe het dit gebeur dat jy jou tans in Montagu bevind?

 

Ai, ek kry altyd so ‘n depressiewe insinking as ek oor my persoonlike agtergrond uitgevra word. Dit vermoei my erg … Dis nou drie dae later. Sug. Hier gaan ons … In my ontliggaamde staat het ek hierdie lewe wat ek op aarde sou lei (ly), lank betrag. Ek was geheel en al nie lus vir die spul nie. Toe skop ‘n ongeduldige engel my onder my ontliggaamde alie van die randjie van wik en weeg af. By die poort na die aardse lewe ruk ek my kop weg toe die afskeidsengel my wou soen, met die gevolg dat die kus van vergetelheid skrams geplant is. Ek onthou dus my ware tuiste goed en vind hierdie onderstebo, agterstevoor en deurmekaar plek genaam die aarde vreemd en onherbergsaam. Uiters raar dat sommige mense dink dis hul enigste tuiste – die engel het hulle seker vol op die mond gesoen.

Ek is op Klerksdorp in Wes-Transvaal gebore (hou dit asb. Wes-Transvaal, ek doen nie mee aan die klug van die Nuwe Suid-Afrika nie). Op Potchefstroom Afrikaans-Nederlands en Kommunikasiekunde geswot. In Johannesburg by Beeld begin werk, in die nagkantoor. Wonderlike en wilde tye.

My eerste trek was in ‘n swartman se taxi. Daai tyd was ‘n taxi ‘n gewone kar, nie ‘n kombi nie. Moenie my vra hoe my boekrak, bokse en tasse ingepas het nie. Ons het ooreengekom op ‘n fooi van R10 vir vervoer van die plek vir plattelandse meisies in Claimstraat, in die middestad van Johannesburg, na High Rise in Berea. My vyftiende trek, van McGregor na Montagu, was met ‘n oop boulorrie van Conradie’s Vervoer, plus ‘n sleepwaentjie vir al my potplante. Die dronk handlangers het die rit in weelde op my statige leerrusbank, ‘n egte ou Chesterfield, agter op die lorrie meegemaak.

Onder die adresse in my veelbewoë persoonlike agtergrond tel die Hotel 224 in Pretoria, Bosduiflaan 82 in Wierdapark en die Muizenberg-woonwapark. Hoe ek op Montagu beland het? Ek weet selwers nie en is eintlik doodverbaas – het maar elke keer beweeg wanneer die drang gekom of die binnestem gepraat of die verhouding in stukke gespat het. Dat ek al agt jaar hier bly, is skokkend … dis my lieflike ou huisie met sy solder, houtvloere en stoeptrap wat my vasgom.

Ek het onder meer vir Beeld, die WNNR, Sarie en Juta gewerk. Ek is al van 1989 af werkloos, ook bekend as vryskut.

 

Hoekom voel jy jou tot die poësie as uitdrukkingsmedium aangetrokke? Was daar bepaalde invloede wat ‘n rol hierin gespeel het?

 

In st. 4 en 5 het ek gediggies oor Meneer Van der Westhuizen, my klasonderwyser, geskryf – “Ou Wessie in sy ondervessie” – maar my pa het gedink dis onbehoorlik. Op universiteit het ek graag deur my Groot Verseboek geblaai en gelees. Ek het ook The Albatross Book of Verse in my eerste jaar ontdek. Die drang het begin roer. Ek het ‘n paar gedigte vir die universiteit se Skrywerskring geskryf en was tydens die bespreking verbaas oor al die “versteekte goed” wat daaruit gelig kon word. Goed waarvan ek glad nie bewus was nie. Dit verstom my steeds: dat ek nie regtig weet wat in my aan die kook is nie totdat ek skryf. Eers met die teruglees, soms jare later, besef ek hoe akkuraat die inskrywings in my joernaal en my gedigte allerlei onbewuste, onderdrukte en halfgevormde aspekte van myself, konflikte – ook die toekomstige verloop van my lewe – weerspieël. In dié opsig is gedigte vir my soos Freud van drome gesê het: die koninklike hoofweg na die onderbewussyn. Dalk ook die hoër bewussyn.

Die geskrewe woord was nog altyd my speelgoed, my skietgoed, my werkgoed, my toorgoed, my manier om die lewe te oorleef. As subredakteur by Beeld onder manne van naam soos Bob van Walsem en Ebbe Dommisse het ek seker die beste taalfondament denkbaar gekry. Dit het natuurlik ook gehelp om uit ‘n arm huis te kom waar die biblioteek – en die munisipale swembad – die hoofbron van vermaak was. As vryskutter het ek baie jare kopie vir onder meer Leserskring se katalogus geskryf – ‘n groot klomp inligting moes in ‘n baie klein spasie ingepas word. Hier het ek geleer om die maksimum uit elke woord te pers. Dit het my styl gestroop – die ideale slyping vir poësie skryf.

Ek het maar so deur die jare gedigte geskryf, nie vreeslik ernstig nie, en nie juis gedigte gelees nie. Ek het in 1994 ‘n klomp gedigte aan Human & Rousseau gestuur – ek was toe net as “Jeanne” bekend. Kerneels Breytenbach het my gedigte in ‘n bedagsame briefie afgekeur, onder meer omdat baie van die gedigte soos prosa klink. Hy het aanbeveel dat ek eerder prosa skryf. ” … met prosa bereik ‘n mens baie meer lesers as met poësie, wat maar steeds die kuns bly van wynige [stet] vir wyniges [stet].” Aldus Kerneels. Dit was ‘n dolk in my poëtiese hart. In 1998 stuur ek meestal dieselfde gedigte aan Tafelberg. Charles Fryer skryf ‘n bemoedigende briefie terug waarin hy sê veral die langer gedigte het ‘n vaart en speelsheid wat verras. Hy reken ek kan gerus meer gedigte oor “vleesdrif” maak en weer stuur.

Steeds is ek nie baie ernstig aan ‘t dig nie. Eers in 2006, ná die verpletterende verbreking van ‘n gedoemde verhouding, word gedigte en gedig skryf my letterlike oorlewing. Sedertdien het ek digters-pes. ‘n Tweede bundel lê al by Protea. En daar’s nog ‘n paar honderd gedigte in my joernale en op my rekenaar. Stapels digbundels lê op my bedtafeltjie. Vreemd hoe hierdie lang gesluimerde hartstog nou eers losbars.

 

Van jou gedigte het ook al elders verskyn, alhoewel Bloot mens ‘n eerste gebundelde publikasie is. Noem vir ons kortliks waar orals van jou gedigte verskyn het?

 

‘n Hele klompie kinder-/jeuggedigte is gepubliseer in die Afrikaans-taalboeke waarby ek betrokke was. In my McGregor-fase het ek ‘n klompie gedigte aan Tafelberg gestuur vir oorweging vir die bundel Nuwe stemme 2. Dit is aanvaar vir publikasie. Sestien nuwe digters het in hierdie bundel – saamgestel deur Petra Müller en Nèlleke de Jager en in 2001 gepubliseer – gedebuteer. Ek het hier en daar ‘n gedig in versamelbundels gepubliseer; maar dis eintlik niks noemenswaardig nie.

 

Die titel van jou bundel is nogal treffend aangesien “bloot” in die onverbuigde vorm aan resonansie wen. Watter suggesties lê alles vir jóú opgesluit in hierdie “blootheid”?

 

Ek het nie juis lank of hard of baie gedink aan ‘n titel vir die bundel nie. Bloot mens het bloot een dag of nag in my kop beland. Ek het geweet dis net reg. ‘n Mens stel jouself baie bloot deur jou gedigte te publiseer, veral as van hulle van ‘n intieme aard is; diep, intense, persoonlike belewenisse. Jy openbaar dele van jouself wat die meeste mense liefs bedek hou. My gedigte toon ook dat ek net mens is, vol allerlei teenstrydighede: bravade en weerloosheid, haat en liefde, wreedheid en teerheid, ‘n intense lewensdrif, maar ook ‘n diep doodsdrang. Ek haat pretensie, voorgee, agteraf. Bloot mens is wie ek is.

 

Jou verse getuig van ‘n besonderse sterk sosiale bewussyn. So is daar verse oor misdaad, sosiale onregte, omgewingsbewaring en allerhande soorte verslawings. Is jy van mening dat die uitpraat téén onregte ‘n bepaalde funksie van die hedendaagse digkuns is (of behoort te wees)?

 

Niemand behoort ooit van ‘n digter te “verwag” om oor sekere goed te skryf nie. Myns insiens behoort die digter uit ‘n opwelling van intensiteit oor wat ook al te dig – enige ding onder die son wat hom of haar diep roer, ontroer, aanraak, plesier verskaf.

Ek voel baie sterk oor baie dinge – dinge wat so verkeerd is (myns insiens) dat dit ten hemele skree, maar dit traak so min mense. Goddank kan ek my intensiteite uit-druk in my gedigte; die plofkrag gebruik om iets nuuts te skep. Dit is vir my uiters vervullend. As ek in die proses mense aanraak of wakker maak, loop my beker oor. Dit is vir my verskriklik dat soveel mense wandelende dooies is, verdof en verdoof. Om die lewe onverdoof te ervaar, is geweldig pynlik en ongemaklik, maar myns insiens die enigste pad na hoër bewussyn. Ek is ook uitgelewer aan verslawings, maar ek stry bewustelik daarteen, want vir my is dit die pad van die dood. Ek was al lang rukke in my lewe dood.

 

Jelleke, met die deurlees van jou verse tref die besonderse manier waarop jy ironie hanteer, ‘n mens. Is dit vir jou ‘n bewustelike tegniek of iets wat natuurlikerwys kom vanweë ‘n bepaalde lewensingesteldheid?

 

Ek is eintlik verbaas dat jy van die ironie in my verse praat. Dis seker so onbewustelik deel van my dat ek nie eens besef dat dit ook sterk in my verse deurslaan nie. Dis natuurlik ‘n manier om seer te slaan en ek span dit outomaties in as ek woedend-verontwaardig voel oor iets.

 

In jou verse is daar dikwels ‘n inspeel op die skryfproses as terapie; iets wat ‘n sterk emosionele lading tot gevolg het, te midde van momente van bykans onhanteerbare teerheid, en veral: verwonding. Gaan jy akkoord, of lees ek dalk die emosionele basis van jou verse verkeerd?

 

Skryf is vir my die verskil tussen lewe en dood, soos in die gedig “Kankerkuur” verwoord word. My verse is dus sterk gelaai. Ek is nie ‘n lou mens nie; ek voel intens, swaai hoog en laag, wat die lewe natuurlik nie baie maklik maak nie. Ek is bly jy sien teerheid in my verse raak … ek was bang hulle hel dalk te veel na die striemende kant oor. Ja, ek is ‘n baie kwesbare mens, ‘n velletjie of twee te min. Ek het bewustelik besluit om my hele self in my verse te ontbloot … van daar ook die titel. Ek het dit oorweeg om die bundel onder ‘n skuilnaam te publiseer, juis oor hierdie ontbloting van my “teer” plekke, maar ná nadenke besluit: Ek is wie ek is – “hier is ek, kant en kaal”. Juis deur die moed te hê om jou kwesbaarheid te wys, toon jy ‘n sekere onkwesbaarheid. Ek het meer respek vir ‘n kwesbare mens wat bewus is van haar/sy kwesbaarheid en dit wys as iemand verpak agter sielkundige skanse/verdowings en dan oorkom as “gebalanseerd” of “normaal”. Ek is onrehabiliteerbaar abnormaal en wens ek het genoeg geld gehad om vir die res van my lewe in sielkundige terapie te wees. By gebrek aan geld skryf ek maar gedigte.

 

Nog ʼn aspek van jou verse wat die leser opval, is die stilistiese verskeidenheid daarvan. Alhoewel die verse deur middel van toon en tema saamgegroepeer word, wissel die aanbod van kriptiese verse (soos “Kantwerk, p.25) tot langer, verhalende verse (soos “Epos sonder helde of heldinne”, p.43). Dit laat ʼn mens wonder: by wie se verse, uit die Afrikaanse digkuns, byvoorbeeld, vind jy die meeste aanklank? Of lees jy merendeels oorsese poësie?

 

Kopieskryfwerk het my gestroop tot kripties. Elke woord moet werk. Met die langer verse kon ek lekker speel met woorde, my geliefkoosde tydverdryf. Ek lees omtrent net Afrikaanse poësie en daar lê ‘n hele klomp nuwe digbundels op my bedtafeltjie. Ek is besig om die drie dele van die nuwe Groot Verseboek deur te lees. Breyten Breytenbach se gedigte, sy hartstog, sy metafore, sy ongeëwenaarde woordspel, slaan my asem weg, letterlik! Van altyd af tot nou. T.T. Cloete is briljant. E.W.S. Hammond het ek onlangs ontdek – ‘n sielsgenoot wat ek ongelukkig nooit in die liggaam ontmoet het nie. Antjie Krog, Ronelda S Kamfer, Gert Vlok Nel, Danie Marais … ek kan nog seker 30 name noem van digters wie se gedigte my diep raak of vermaak.

 

Jelleke, “Bloot mens” is ʼn besonder sterk debuut en ons hou beslis jou loopbaan voortaan met groot belangstelling dop. Sal jy so vriendelik wees om as toegif een van jou persoonlike gunstelinge uit jou bundel hieronder vir ons lesers oor te tik?

 

Dankie vir jou mooi woorde. Nogal al my gedigte is my gunstelinge (!), dus is dit moeilik om te kies. “Epos sonder helde of heldinne” was vir my ‘n geweldige ontlading, maar dis te lank om hier te reproduseer. Ek volstaan met “10 September 2007”:

 

10 SEPTEMBER 2007

 

My sussie Sybokkie,

onthou jy hoe ons perskes gesteel het

by Tannie Agter een aand

by ons spoorweghuis in Wilgehof-Wes

en sy ons geflitsvang het en ons

agterna gegiggelgil het van skaamte?

 

Sussie,

wat het Jesus en/of die engele gesê

toe jy daar kom

en het jy jou lewe in 3-D gesien

en vreeslik spyt gekry

en is die skape al van die bokke geskei?

 

Sussie,

waar sweef jy nou

in jou lang wit nagrok rond

soos jou alkoholiese skoonma

(nou wyle, soos jy weet)

jou gesien het voor jou dood?

 

Sussie,

jy het die kanker gekoester

in jou kop die ondraaglike

pyn teen die ondraagliker pyn

want as kind al

was jy te kaal teen die kil.

 

Sussie,

ons het nou plooie en word grys

en Ma kry hoofpyn nes jy

sy huil maar dis van haar nek

en Pa wankel geraamterig rond

hy werk steeds in die garage.

 

My Syboksussie,

dit is/was

jou verjaardag vandag.

Ek het nie vergeet nie

en wil net sê:

Sussie, ek kom.

  •