Joan Hambidge. Voete
Wednesday, August 1st, 2012Voete
Vir Andries Gouws
‘n Voet is soos ‘n spreekwoord,
dit kom ver vandaan:
by geboorte gryp die dokter
‘n kind aan sy voete;
in ‘n lykshuis word ‘n kaart
om ‘n toon gehang:
die laaste uitkenningsparade
vir ‘n speurder in sy saamsnoer
van leidrade op ‘n koue blad.
En ‘n familielid
se treur en taks
oor die uitleg
in ‘n klinkklaar kis.
Voete is eiesinnig
nes hande. Dit verraai alles
van die besitter:
jy kan op beskeie voet wees
of jou beste voetjie aweregs
onder anderman se tafel voetval.
Of dalk onder die pote raak.
Dis kaart en transport,
jy kan dalk op jou voete dink
en dit perdalks dwars sit.
Met hierdie gedig wil die digter
dalk op gelyke voet staan
met die skilder se eiendoms beperk
en net voor die leser voet aan wal sit,
die kunswerk op vrye voet stel:
voetjie-vir-voetjie volg ek in die voetstappe
van jou portrette wat aan die keel gryp.
En ek wonder wié was hierdie mense
wat jy so nougeset en sonderling
voor die somber voetligte bring?
Leef hulle nog?
Hou hulle voet by stuk?
Of is hulle volhardend ónbewus
tot ewige lewe gebring,
op ‘n voetstuk geplaas,
deur ‘n kunstenaar
met geen blad voor die voet?
http://andriesgouws.homestead.com/Feet5.html
© Joan Hambidge, 2012