Posts Tagged ‘Joan Hambidge gedigte’

Joan Hambidge. Vers vir Mandela

Monday, December 9th, 2013

Vers vir Mandela 

 

Na ‘n ándersoortige Ceylon

verban verbruik verneder

na ‘n sel

met ‘n naam uitgekerf:

trotseer jy op Robbeneiland

die verblindende son.

 

Vreemdelinge vaar

van heinde en verre

per boot na daardie oord.

 

En jy het gewag

– ‘n vreeslose verbanning -.

Toe na ‘n ander ruimte

verstoot:

 

die Victor Verster

tot die groot V

van Vryheid

 

voor die alsiende oog

van soveel kameras,

 

wég van Verraad

die lang pad na Vergifnis:

‘n vredesteken,

            V

 

soos lydsames,

verdoemdes,

askete voor jou

van insurgent tot held,

skuif verlede oor hede:

 

Nelson Mandela,

Rus in Vrede.

 

© Joan Hambidge / 2013



Joan Hambidge. Huishoudelike oorlog

Saturday, December 7th, 2013

Huishoudelike oorlog

 

Immer aan die einde

van nog ‘n liefdespel

bly stofsuig die allerlaaste opsie:

die klein blou Bosch-krokodil

sluk met onverdrote ywer blindelings

die reste van ‘n verhouding op.

Knersend op sy plastiek-tande,

‘n ekstensie van sy eienares,

rig hy hom op al die hoeke

en draaie van ‘n huishouding

vol matrioska-poppies, maskers

uit Wes-Afrika en ‘n voedoe-figuur

perdalks uit Kuba?

En ja, het hy nie attitude nie!

Onvermoeid sonder slag of stoot

word elke onsigbare stoffie opgesuig.

Na soveel jare ontsluit ek sy pensie

en vind tot my verbasing

verlore versreëls: ‘n ietsie van Eybers,

‘n skeutjie somber Spies,

‘n krieseltjie woedende Krog

en veral ‘n flentertjie eiegoed:

“Jy’t weggegaan

en jy bewoon

‘n stowwerige katakombe

van ‘n blou bedonnerde Bosch-stofsuier

sonder ‘n wakende kat

met twee Russiese munte

op jou blinde oë.”

 

© Joan Hambidge / 2013



Joan Hambidge. Emily D op Facebook

Tuesday, November 19th, 2013

Emily D op Facebook

“I dwell in possibility”.

 

Hoeveel volgelinge

sou jy op Facebook trek?

Oor hoop as die ding met vere

wat woeker in die siel?

Oor jou liedere van eensaamheid

met spaars, afgetelde sillabes?

Sou jy elke dag aanmeld

en ‘n boodskap laat

oor nog ‘n dag sonder voorval

of gebeurlikheid?

Dalk iets vertel van die singende

bome, die klaende huidjie-hu

of die blomme in jou tuin?

Sou jy iemand un-friend

of afweer wat niks begryp

van die hartslag van ‘n aandagstreep?

Hoe sou dit tog alles klop?

Die intens private digter

uitgelewer aan sengende,

sinnelose sinergie?

 

© Joan Hambidge  / 2013

 

 

Joan Hambidge. Vir JdL

Tuesday, October 29th, 2013

“Poësie is verbittering,

hemelse heuning wat vloei

uit ‘n onsigbare heuningkoek

vervaardig in die siel.”

Federico García Lorca

 

Vir JdL

 

Hoe ironies

dat sy wat dink

nes Federico García Lorca

dat poësie hemelse heuning is,

spruitend uit ‘n onsigbare heuningkoek

allergies is vir stiltes.

 

Dat om buite woorde

of sonder woorde te wees

(met jou hoed in jou hand,

kom jy regdeur die land-

skap van ‘n gedig)

haar van jongs af steur?

 

Om die gedagte van afskeid,

die omtes van die hart,

die geweld-van-stilte

woordoordadig te verken

en in die tuin van Emily D.

in Amherst, Mass. ‘n klipgooi

van Sylvia P. se Smith College,

dáárdie zoemende by te hoor:

 

die aandagstreep in ‘n vers

sinkroniseer met die hartslag

van die digter verslaaf

aan swart bytjies op papier

 

al om die wit en apostroof.

 

© Joan Hambidge / 2013

 

 

Joan Hambidge. Freud se sofa

Wednesday, October 16th, 2013

Freud se sofa

Waar id is, sal ego wees.

 

Op hierdie sofa,

ikonies uitgestal in ‘n museum

met totems daarneffens,

het Sigmund Freud die onbewuste

glo ontdek:

om te praat, te droom, grappe te vertel,

deur raaisels veral,

verraai ons glo iets

van ons ware aard.

Om jou tong uit te sny,

jou stil te maak,

iets wat die digter vrees?

Ek lê my neer

op Papa Freud

se beroemde sofa,

virtueel beskikbaar,

die reisende sofa as u wil.

Maar eers die sofa met sy donker kleure,

opgepofte kussings,

tapytbedekking of kelim.

Hier is beswaardes lêgemaak,

aangehoor: ont-vang, ont-knoop,

ont-boesem ten aanhore van die analis,

streng en dogmaties,

soekend na die verdringde redes

wars van religie.

Waak teen identifikasie met die onbewuste

sou sy kroonprins waarsku:

in ‘n soele droom

presies in drie afdelings verdeel

waai die wind twee verse weg,

en later soekend

in die liasseerkabinet van my komputer

is die verse ónopspoorbaar.

In onrus vertrek ek;

nog dieper in die droom in

stap ‘n vrouedigter en haar gewese man

se nou-reeds-oorlede vrou

saam-saam die trappe af

met my as toeskouer.

Nog verder in die droom

– as ek reg onthou –

verskyn Sheila Cussons,

daardie amper-heilige

met ‘n fotokopie

waarop skeef afgedruk staan:

“Freud se sofa”.

 

 

© Joan hambidge / 2013

Joan Hambidge. Besetzung

Thursday, October 10th, 2013

Besetzung

 

Vir lank was jy

in my gemoed

soos ‘n droogte

geteisterde gebied:

 

gebid om die reën

van jou aandag,

leibeurte afgewag,

die stofstorms van jou stilte

gade geslaan.

 

Selfs die Landbank

het die lenings

van jou liefdevolle lyf

ópgeskort.

 

Toe ná ‘n biddag

vir reën

spoel alles weg.

 

Ek verlaat ons kleinhoewe:

uitgeboer en bankrotverklaar,

 

trek weg,

sonder ‘n transport-akte

of hoop op ‘n nuwe staning

onder die sterre met jou.

 

 

 

 © Joan Hambidge/ 2013

 

Joan Hambidge. Onbeantwoorde vraag

Monday, September 16th, 2013

Onbeantwoorde vraag

 

Hoeveel verhoudings had jy?,

vra die reisgenoot direk.

Om die oë te vermy,

skil sy die dop van ‘n eier

en bied ‘n antwoord

in ‘n metaverslag:

 

Die “sy” in Palinodes laat haar dig:

Ter in die

 

As ek jou topografies

moet voorstel

(stip soos die woord eis)

 

dan ‘n Mediterreense stad.

‘n Warm, wolklose dag

word sonder sein

 

winderig, stormagtig.

En onvoorspelbaar

stil. Bewegingloos. 

 

Drie maal per dag

dink ek nou aan jou.

 

Soos dié drie

 

weerstoestande: geluk,

misverstande; maar

veral – onhoudbaar

 

die blywende stilte.

 

Die “sy” in Vuurwiel laat haar skik:

 

Dizain

 

Deesdae wanneer ek ‘n vrou ontmoet

op my hoede, kopsku, wonder nie meer

oor haar sagte mond of ander goed,

en of sy haar oë onderwaters, ensomeer,

oop- of toehou en of sy gil vir meer,

sy haar kop (uiteindelik) finaal verloor.

Nee, ek bêre my bedelaarshoed, uit en oor

en wonder -by voor- en nabaat- stet!:      

watter triek gaan sy uit die hoed toor:  

Hoe my neerlê op waffer Prokrustesbed?   

 

By voorbaat dan,

elke vers in

hierdie donker labirint,

‘n kriptonemie,

‘n onbeantwoorde vraag.

Dalk daar is niks om hieruit te trek,

behalwe dat die “sy” of “jy”

telkens dieselfde wond vergestalt?

So tussen stilte

en stip verlaat sy

stiekem

die museum

van smart.

 

© Joan Hambidge / 2013

 

 

Joan Hambidge. Naam

Tuesday, September 10th, 2013

Naam

 

Ek kon nooit maar nooit jou naam sê

nes jy nooit maar nooit die naam

van ons geheime liefde wou besê.

Jou langsame dubbeldoor-naam

bly te lank in my gemoed draal

soos ‘n swart vergeet-my-nietjie.

Nou het ek oplaas jou naam gesê;

in ‘n klein ritueel suiwer ek my,

vind toevallig vanoggend ‘n amulet:

‘n helende, afwerende dizain.

 

Istanbul 8 September 2013

 

© Joan Hambidge  / 2013

  •