Posts Tagged ‘Joan Hambidge’

Joan Hambidge. “Ars Poetica”

Monday, December 8th, 2014

Ars poetica

Thy words are like a cloud of winged snakes.

Shelley

 

Daar was ‘n tyd

wat ek sonder slag of stoot

‘n versreël of inval

netjies kon ómtower in ‘n aanklag

of ‘n neulerige neuriesang.

Dit was die tyd van palinodes

en verlore simbole

met matelose selfbedrog.

En digterlike vriendskappe:

laatnag gesprekke oor Neruda

en Sheila Cussons en Opperman

as leermeesters en vir die drif

en óndaad van die digkuns.

Die anatomie van melancholie

met sjirurgiese presisie,

dié kon ek ontleed en ja,

vreesloos daardie donker labirint betree.

Vér en lank gereis in verdraaide raaisels

en telkens voor dooiemansdeur gestaan.

Die mossteppe of toendras

soos ‘n skeeloog mulatto betree.

En kriptonemies op ‘n hondegaloppie

gedraf in die skoene van die Groot Vyf.

One-two cha-cha-cha

kritikasters se parabole gesystap

op pad wég, haha Houdini.

Oor haar, ‘n sy, nes Petrarca,

daardie obsessionele woordvraat,

veelversig gecanzonier.

Nou is dit helaas beurtkrag

met die digterlike proses.

‘n Gedig word onderbreek:

bly broeiend ónafgerond,

nes reptieleiers in ‘n rivierbedding

waar mummelende mulvisse

eens vertoef het néffens muisvalke.

Dié gedwonge beelde stip alreeds

die onmag en woordelose frustrasie aan.

Miskien, miskien sal my beelde

weer eendag helder skyn.

Soos ‘n wolk van gevlerkte slange?

 

 

(c) Joan Hambidge / Desember 2014

 

Resensie: Floriskoop (Nicolette van der Walt)

Thursday, November 6th, 2014

Floriskoop – Nicolette van der Walt. Cordis Trust, ISBN 978-0-9922057-0-6

Resensent: Joan Hambidge

I

omslag

Floriskoop is ‘n lywige debuut wat sopas by Cordis Trust verskyn het. Dit beslaan 80 bladsye. Die verskillende afdelings heet “Blomkyker”, “Vaaslewe”, “Tussen diepblou bome” en “Blomblare”.

Die indruk wat hierdie bundel by die leser laat, is een van ‘n persoon wat belese is.

Daar is verwysings na bekende digters soos Octavio Paz, Pablo Neruda, Breytenbach, Johann Lodewyk Marais, Freda Plekker, en wie nog almal, maar die bundel verval dikwels in mooiskrywery.

Ons verneem – as voorbeeld – dat die vers “Aan ‘n kind gerig” inspeel op Sylvia Plath se “Child”.

 

 

 

Aan ’n kind gerig

(Na Sylvia Plath)

 

Die kring van jou lag is die mooiste mooi.

 

Ek wil dit vol maak met papegaai en lied,

die sirkus van uitbundiges

wie se geskater jy droom –

tamboeryn, sjimpansee,

klein

 

fluit van ’n riet,

blomkelk waarin musiek

groots en helder moet klink.

 

Nie hierdie winterslippe

van ontmoediging, hierdie

gebroke sirkel sonder stem.  (61)

 

*

 

Child

by Sylvia Plath

 

Your clear eye is the one absolutely beautiful thing.

I want to fill it with color and ducks,

The zoo of the new

 

Whose names you meditate —

April snowdrop, Indian pipe,

Little

 

Stalk without wrinkle,

Pool in which images

Should be grand and classical

 

Not this troublous

Wringing of hands, this dark

Ceiling without a star.

Die twee gedigte langs mekaar, wys hoe die aanslag van die Afrikaanse digter verskil van Plath se spaars, gekonsentreerde en skerper beelde. Dieselfde geld ‘n gesprek met Ernst van Heerden waar die digter sterk afsteek by Van Heerden se besondere beeldvermoë, veral in sy operasie-verse (“Maak die tuinhek saggies toe”, 42). Dieselfde beswaar geld wanneer sy in gesprek tree met Yehuda Amichai (“Méthóde champenoise”, 47). “Woordwyn” (51) illustreer dalk ten beste my besware:

 

Woordwyn

 

Miskien sal ek die wingerd prys:

variëteite van woord en wyn

is vooraf, reeds vanaf eerste

steggiedag, aan ’n kultuur van

alliterasie toegewys.

Uit die landgoed van lettere

sal ek woordtrosse oes, korrel

vir korrel elke lettergreep

ontstingel vir veroudering.

Ek sal dit spesery met klank

en muskaat waar berge blou op

klipvoete slaap en wynmakers

net dit wat die natuur begin

het in vate vervolgverhaal.

Vir die fynproewer, vir jou wat

in strofes drink, sal’k die hooglied

van die druif uit my keel ontkurk:

so is die aand dan volgeskink.

*

Sal’k?

Kultuur van alliterasie?

 

Soms word gedigte amper onbedoeld parodies in aanslag:

Bloeiwyse

 

Ek wil vir jou sê die bloeiwyse

van poësie moet wild en sag wees

waar woorde deels blaar

deels blom is

en die klank wat die leë reëls

vol maak net die wind se stem is

getrek deur jou ledemate

soos ’n lied.

(…)  (52)

 

Hierdie werkswyse roep uiteraard vergelykings op waarin hierdie digter telkemale die tweede plek inneem.

Intertekstualiteit moet iets bysit, dit moet verander of verwring – en dis dikwels in die toon van die gedig geleë, soos ons weet uit die beroemde gesprek tussen Anthony Hecht (“Dover Bitch”) en Matthew Arnold se “Dover Beach”, waarin die oorspronklike vers sarkasties verminder én ondermyn word.

‘n Idee in Van der Walt se bundel word bederf deur oorwoekerende beelde, deur ‘n soet aanslag en dikwels prosa-tegnieke. Beelde word verduidelik. Die digter verkies ook die “klingelklank van feëklokkies” (19) in plaas van om die Venesië-beeld (en verwysings na ander digters, soos onder andere Sheila Cussons) uit te werk. In die afdeling Woordverklarings & erkennings word toespelings verduidelik na bekende gedigte en digters. Die erkennings aan ander digters en vertalings, dikwels vry, word eweneens vermeld.

In die volgende liefdesgedig word die verwysing in die teks ingedra:

 

Tot in lengte van soen

Zaluzianskya capensis

 

Ons twee ingebed

in ’n kamer tussen berg en baai,

’n kaggel wat nog smeul

as ’n verfblommetjiegeur deur gordyne waai

en Neruda se Cien Sonetos de Amor oopgelaat

by I will die kissing your crazy old mouth

wat sonder mooiskrywery demonstreer

dat die Kaap en Arkardia met mekaar allitereer.  (6)

 

Ook die titel word vir die leser verklaar, naamlik dat Floriskoop ‘n  blomkyker beteken. Die optiese instrument waarmee blomme geïnspekteer word, is hier helaas nie afstandelik genoeg hanteer nie. Die digter se instrument is taal, is ironie – en afstand.

Die inligting oor blomme is wel wetenswaardig, maar die leser is nie altyd oortuig dat dit van waarde is vir die “oopmaak” van die gedig nie.

Daar is gedigte oor kindermolestering en verkragting (soos oor Flora Jessop). Daar is ook liefdesverse. Die natuur is egter die belangrikste tema van hierdie bundel waarin die digter verskillende blomme besing en lewenswaarhede probeer aflei uit die aard van ‘n bepaalde blom.

Byvoorbeeld: in “Mariposa” (13) word melancholie so beskryf:

 

Ek weet wel

dat verlange die langste winter is.

 

Die spreker weet egter dat sy nie daarop kan aanspraak maak om die “drome van bolplante / te kan uitlê nie”. Die spreker besef dus dat sy telkens iets projekteer op ‘n bepaalde plant.

 

Die soet geur slaan egter te dikwels vir my op.

Dit is dan ‘n eenheidsbundel en nou onlangs het Karen de Wet by die ALV-kongres in Pretoria gewys op die tendens by jonger digters om weer eenheidsbundels te skryf – soos Hennie Nortjé wat ‘n bundel rondom bome skryf (In die skadu van soveel bome).

 

II

 

 

Daar is te veel uitsegging en oordrewenheid soos:

 

wil ek die kleur van my naam ontbloot, die oerkreet

van die natuur in die rooiste tong van taal uitdruk. (9)

 

Blomkoninkryk

 

As ek sê Karoonag sal jy die straatligte

van die ewigheid kan sien,

die hand van God

wat die gordyn van skemer oopskuif

en in die kalligrafie van komete

ook jou naam in die kosmos skryf?  (16)

 

‘n Redakteur sou kon verbeter of voorstel:

 

As ek sê Karoonag, sal jy die straatligte

van die ewigheid kan sien:

die hand van God skuif

 

‘n skemergordyn oop.

In die kalligrafie van komete

ook jou naam in die kosmos geskryf?

*

 

“Gordyn van skemer” verraai dus alreeds ‘n prosa-aanslag.

 

Mooi momente is daar:

 

Township flowers

 

Die wind het dit goedgedink

om al langs die lemmetjiesdraad

plastieksakke aan te plant.   (24)

 

Black dahlia

(Vir Elizabeth Short)

 

’n Blombed was daar nie: net die blare

van jou hare wat rafel in die wind

en op die sypaadjie

die geknakte steel van jou lyf;

niks aan jou was meer heel nie.

Om so primitief te moes poseer

in bloot die snyerskleed van die dood

en jou mond breër in grynslag

as jou bene gevlek;

niks aan jou was meer privaat nie.

Die paparazzi wat soos spookmotte

om jou zoem, het jou uiteindelik

na die blom van die dale vernoem:

ook jy was leeggebloei.

Daar waar jy ontdek is

met jou arms geminotaur

bokant jou kop en ’n sakhorlosie

wat soos Dali s’n die bloudruk

van ’n surrealistiese tableau aftik

en stop,

is jou lewe soos jou naam

geometries verkort.    (38)

 

 

Purperwinde

Ipomoea purpurea

 

Ek kan nie my dors les aan jou

bietjies-bietjies kelkies dou;

 

onder jou blou trompettergeskal

het Jerigo se heinings platgeval.

 

Ek durf my nie aan jou voete gooi

vir momente van eendagmooi,

 

maar hoe sal ek jou ooit uitroei

as jy soos purperwinde oor my groei?  (40)

 

 

 

III

 

 

Die opdrag sê of verklap alreeds wie die teikenlesers is:

 

Vir mý mense

omdat julle die oë is

waardeur ek die blom

van die lewe al mooier, al dieper binnekyk.

 

Daar is moontlikhede in hierdie bundel, maar die soet aanslag bederf dikwels die gang van hierdie eenheidsbundel. Daar is te veel mooiskrywery en met die raad van ‘n strenger redakteurshand kon die verse beslis sterker geword het.

Helaas, helaas net te veel passieblomme van uitroepe. Geplaas langs onlangse uitstekende debute – Loftus Marais, Fourie Botha, Martina Klopper, om enkele name uit te sonder – is hierdie bundel beslis nie sterk genoeg nie.

 

Wat ‘n jammerte.

 

Joan Hambidge

 

Endnote:

 

 

The Dover Bitch (Poem)

The Dover Bitch: A Criticism Of Life

So there stood Matthew Arnold and this girl

With the cliffs of England crumbling away behind them,

And he said to her, ‘Try to be true to me,

And I’ll do the same for you, for things are bad

All over, etc., etc.’

Well now, I knew this girl. It’s true she had read

Sophocles in a fairly good translation

And caught that bitter allusion to the sea,

But all the time he was talking she had in mind

the notion of what his whiskers would feel like

On the back of her neck. She told me later on

That after a while she got to looking out

At the lights across the channel, and really felt sad,

http://anthonyhechtpoem.blogspot.com/2013/01/the-dover-bitch.html Afgetrek 2 November 2014

 

Joan Hambidge. Reisjoernaal: ‘n Sloweense en Kroasiese pelgrimstog (2014)

Monday, September 29th, 2014

Dubrovnik hawe

Reisjoernaal: ‘n Sloweense en Kroasiese pelgrimstog (2014)

The very activity of taking pictures is soothing, and assuages general feelings of disorientation that are likely to be exacerbated by travel. Most tourists feel compelled to put the camera between themselves and whatever is remarkable that they encounter. Unsure of other responses, they take a picture. This gives shape to experience: stop, take a photograph, and move on. The method especially appeals to people handicapped by a ruthless work ethic — Germans, Japanese, and Americans. Using a camera appeases the anxiety which the work-driven feel about not working when they are on vacation and supposed to be having fun. They have something to do that is like a friendly imitation of work: they can take pictures. –  Susan Sontag

 

My reis na Slowenië en Kroasië was ‘n blaaskans. Reis as werklike wegkomkans. ‘n Pouse voor die laaste kwartaal dawerend aanbreek. Ek bederf myself, na ‘n meevaller, op ‘n Lufthansa-besigheidsklas-kaartjie vanaf Johannesburg tot in Frankfurt en dan tot in Slowenië.

Ek verkies egter kleiner vliegtuie. Lufthansa se besigheidsklas is te groot en die diens is stadig. Gee my Turkish Airlines: adret, vinnig, min mense aan boord.

Reis het altyd sy curve balls. Of dit nou die muurprop is wat nie pas by jou rekenaar nie of die frustrasie van foto’s wat nie wil aflaai nie, omdat jou nuwe laptop nie met die ou kameraprogram wil praat nie. Of ‘n jong sekuriteitesbeampte wat jou Zippo wil skaai en eis dat jy dit buite toe moet neem en vernietig, so is die so.

“Benzien, nein. Benzien.” En jy pleit dat jy dit in New York gekoop het en hy oorhandig dit weer terug met ‘n ligte waarskuwing.

Dit is Frankfurt-lughawe waar jy sopas jou Internasionale vlug verlaat het en seweuur in die oggend etlike kilometers moet stap om jou vlug te kry na Ljubljana. Presies 24 uur later is jy in jou eerste stad. Ek word afgehaal by die lughawe en tjekkereer in by die Antiq Palace hotel. Dit is langs die musiekskool geleë en daagliks word jy vergas met die mooiste stemme wat oefen aan bekende en minder bekende arias. So is dit dan met reis – die ewige spanning tussen die bekende en die onbekende.

Die binnetuin van die Antiq Palace hotel

Dag een:

Reis is harde werk. Die eerste dag in Ljubljana moet ek die toergroep om 10 vm ontmoet voor die stadsaal. Van die Antiq Palace is dit ‘n hondegaloppie tot daar. Helaas. Geen groep nie. Ek gaan sit op die trappies en wag. Vra vir ‘n gids of ek tot sy groep behoort, maar hy seg ferm nee. Ek wag. Dis twintig oor tien. Dan besluit ek: die toeristeburo moet my help. Net om daar uit te vind dat dit wel my groep is wat deur die stadsaal stap. Die gawe vrou bel hom op sy sel en ek sluit dan by hulle aan. En so besigtig ons die stad met al sy besienswaardighede. Ek neem foto’s en laatmiddag is daar ‘n bootvaart.

Ljubljana

Die draakbrug – wat mag simboliseer – is een van ons belangrike besoekpunte. In die Griekse mitologie het Jason glo die draak verslaan. Ons sien ook die monument van die digter France Prešeren met die muse wat oor hom die wag hou. Hy het die  Sloweense nasionale epos geskryf. Sy lewe was gekenmerk deur die onvervulde liefde vir sy muse Julija Primic. Hy het volgens die inwoners van die stad ook ‘n liefde vir drank gehad en het tweekeer probeer om sy eie lewe te neem.

Die ou kasteel – waar vele burgerlikes op Saterdae hul troues hou – is ‘n volgende baken. Die kabeltrem tot bo is flink en slegs diegene wat besonder fiks is, sou die trappe tot bo kan waag. Ons groep bestaan uit Amerikaners wat vir die Duitse weermag in Bavarië werk. Op die een man se kuit is daar aanskoulike tatoeërmerk van Afganistan. Orals bulder koerante en TV dat Christine Lagarde in diep moeilikheid is oor die beweerde bedrog rondom ‘n transaksie vir Sarkozy tydens dié se bedenklike regime. Op televisie lyk sy uitgeput en afwerend.

Ek neem foto’s en is amper laat vir die bootvaart. Gelukkig sien die kaptein my en bring die boot terug sodat ek kan opspring.

Op ons bootvaart is daar ‘n New Yorker saam met my op die boot. Ons gesels oor die jongste samesweringsteorie oor 9/11. Dalk was dit nie vliegtuie nie, maar eerder bomme wat die twee Toringblokke afgebring het. Hy verwerp dit. Hy was daardie dag in die nuuskantoor in Manhattan en hy het self die twee vliegtuie gesien.

Ons gids neem ons na ‘n restaurant waar ons peusel aan varkworsies. Dit is egte vark met bietjies spek wat gekook word. Lieflik, lieflik bedien met mosterd.

Slavoj Žižek is immers in 1949 hier gebore. Hy word deur Terry Eagleton beskou as die briljantste filosoof van ons tyd.

In die nag naby die Antiq Palace hotel hoor ek die Dom se slae in die stil nag. Hoe geluidloos, stil is die nag hier.

My obsessie met deure – ‘n simbool van liminaliteit – word bevredig in hierdie stad.

Deur

Verdere dag:

Vroegoggend is ek in die brekfiskamer en hoor Afrikaans. Ek gesels met twee gawe Suid-Afrikaners uit Stellenbosch. Op die oggendnuus wat ek via my rekenaar lees, verneem ek ‘n Stellenbosse student is verkrag. Dié slegte nuus uit Suid-Afrika verdring ek met ‘n dag-uitstappie na Bled en Bohinj. My private gids kom haal my met ’n nuwe Citroën, en orals sien ‘n mens die nuutste modelle van BMW’s en Mini’s. Motors is ‘n statussimbool, verduidelik my gids. Dit reën en die kasteel in Bled – met sy omliggende meer – is vol toeriste. Dan vertrek ons na Bohinj en onderneem ‘n boortvaart. Die eienaars is wel ter tale, bied my Schnapps aan en ons kyk na die visse in die deurskynende water.

Ek vra hom uit oor Slavoj. Hy korrigeer my uitspraak.

“Hy is nie hier so belangrik as elders nie.”

Forel is hier van die beste ter wêreld, word ek vertel. Dit lyk nes Magoebaskloof en skielik onthou ek die heerlike forel van Haenertsburg en omstreke.

Ons vertrek na ‘n restaurant – duur! – waar jy jou eie forel kan kies.  Die vis is uit die boonste rakke. Ek stiek my gids vir ‘n biefstukslaai wat hy opsmul. Ook die wyn is puik.

Ons skuif oor die groen landskap. Die taai moegheid van die afgelope kwartaal begin uit my vloei. My gids babbel onophoudelik en vertel staaltjies oor die politiek van sy stad. Geen motors word in die sentrum van die stad toegelaat nie. Dus is alles veilig vir toeriste. Die locals is egter minder gelukkig hieroor, want hulle moet hulle motors buite die middestad los en inkopies moet dus per voet gedoen word.

Laatmiddag sit ek in die Ljubljanski Dvor. Hulle maak pizzas so groot soos wawiele waaraan ses mense met vreugde smul. Ek dink aan die Sloweense digter se standbeeld met sy muse wat oor hom die wag hou. Ek waag my hand aan ‘n paar puntdigte:

Elisabeth Eybers

Altyd in balans, in ewewig:

afgeweeg simmetries ‘n gedig.

D.J. Opperman

Die swart kategese oor Dertig,

bly steeds leersaam en kragtig.

Sheila Cussons

Deur leed en gas gepuur:

‘n engel red jou uit die vuur.

N.P. van Wyk Louw

Jy speel Ovidius in Amsterdam;

later op die tuisfront nog eensaam.

Johann de Lange

Elke nag weg hoor ek die Dom se slae,

my rooi Mondaine glimmer verlange.

Nog ‘n dag:

Dit stuifreën en ek moet ‘n taxi neem na die Grand Hotel vir my reis na die Postonoja-grotte en Bledjama-kasteel. Die tyd vir oppik is presies om twaalf. Ek wag in die klein Aperitiv-bar, maar geen reisgeselskap nie. Ek vra die hotel om te bel, maar helaas, dit blyk later te wees weens die reën.

Ek drink ‘n espresso en lees e-posse. Waar was ons voor e-posse?, wonder ek. Hoe het ons bestaan sonder smse, selfone, e-posse, ensomeer? Hier sit ek ver van my kantoor, maar ek kan etlike besluite neem oor departementele aangeleenthede; vir studente e-posse met leeswerk aanstuur; met vriende kommunikeer; Die Burger lees;  Litnet; Versindaba. Met moderne tegnologie verlaat jy dus nooit jou huis nie. Jy is met ‘n enkele kliek of konneksie terug in die milieu waar leef. Dalk is die aanhaling van Susan Sontag oor fotografie dan tersaaklik. Hierdie aanhaling – versend deur Johann de Lange na my – plaas die vinger op die pols. Die hardwerkende persoon verlaat nooit regtig haar huis of kantoor nie.

Die dag in die grotte is ‘n belewenis. ‘n Treintjie (so amper van kinderformaat) neem jou deur die grotte met die stalagtiete. Die water drup op ‘n mens se kop en ná die klein treinreis, moet jy vir 40 minute stap agter ‘n gids wat so vinnig wikkel dat jy nie ‘n woord kan hoor nie. Dit is ‘n primordiale ervaring wat my terugneem na my jeug toe ek deur die Kango-grotte moes waad en uiteindelik deur ‘n klein tonneltjie kruip. Hierom besluit ek toe die treintjie stop, om af te klim net vir ingeval ek weer deur so ‘n hellevaart moet gaan.

Hierna is dit na die kasteel waarop ek sweer Disney hulle logo gebaseer het. Asemsnakkend mooi.

Kasteel

Epifanie
 Vir die digter
van die jukstaposisie

Huise uit sandsteen geweef
nes tapyte uit sywurms gegis
soos wyn uit druif gekap,
vir weef, kap of gisting
tot ‘n unieke klein gedig:

immers meer poësie
in ‘n sneeuvlok,
in die huis snags
as die strofe bedags;

meer te wroet
oor die dood
en Marilyn Monroe
as van lewensbrood;

rympatrone gevind
in die ontoelaatbare,
die ongesegde,
met stilte gerinkink.

In die huis van die digkuns
was daar vele wonings:
Huise uit sandsteen gegis
nes tapyte uit sywurms gekap
soos wyn uit druif geweef …

dié digter, ‘n allotroop,
stap jambies
ligvoets
eenkant
onversadig
verby.

Nog ‘n dag: treinrit

Die trein van Ljubljana na Zagreb is net so onder die drie ure. My groot doodskis-reistas word deur ‘n galante jong man wat saam met sy ma op vakansie gaan op die trein gelaai. Ons gesels te lekker oor sy land en sy mense. In ons kompartement sit ‘n ex-Hong Kongolees wat tans in Kanada woon. Sy het Hong Kong verlaat, omdat sy die stad as te benoud ervaar het en Kanada bied vir haar die landskap en natuurskoon wat sy waardeer. Ek kyk na die lieflike Sloweense landskap. Bruisende rivierwaters en by die Kroasiese grens is daar twee polisiemanne wat my paspoort bekyk. Ek kry twee stempels. Een vir Slowenië en een vir Kroasië. Goddank die Duitse Konsulaat in Kaapstad het my gedwing om beide visums te kry! Ek sien hier hoe ek afgesmyt word van die trein en moet terug duimgooi Ljubljana toe na die Antiq Palace-hotel in motreën.

Ek word by die stasie ingewag met ‘n plakkaat: ”Mrs Joan Hambidge” vir my reis van ‘n paar dae deur Kroasië: Kroatian Highlights. Ons moet om 7 nm in die hotel se portaal ontmoet vir ons gesprek oor hoe laat, waar en wanneer. Dan die eerste ete saam met die toergroep, weliswaar kleinerig.

Hierdie soort toere neem jou vinnig en sekuur na die sentrum van alles, die hoogtepunte, met gidse wat jou kan meedeel wat jy behoort te weet. Die downside is uiteraard dat jy vreemde mense moet kan hanteer en gesprekkies moet maak.

“O, reis jy ook alleen?”, vra ‘n vrou meesmuilend. Ek gaan sit dadelik alleen by ‘n ander tafel.

Die volgende oggend na ‘n besoek aan die kerkhof en katedraal hou ek my eenkant. Sit alleen heel agter in die bus en die gids kry die boodskap. Ons het drie ure om die stad te verken en ek doen dit op my eentjie. In ‘n wifi-kafee drink ek koffie. Bekyk die locals.

Katedraal

Kerkhof

Optelvers

‘n Katedraal en ‘n kerkhof

in Zagreb se stuifreën

bekyk op my reisplan.

Aljander aljander

so deur die bos:

zagrabiti bedui glo

om te “scoop”.

‘n Man met ‘n sambreel rooi

loop voor my kamera in:

ongenooid en ongevraag.

Agter my in die Bistro Capuciner

sit ‘n ouvrou alleen

met ‘n bos blomme

gekoop op die markplein

vir haar huis waarheen

sy waarskynlik sal terugkeer

om die sirkelroete van vrouwees

te voltooi nadat sy haar man

afgegee het aan die Aljanderbos,

haar kinders vertrek

het na ‘n vreemde plek

waar haar kleinkinders

die katedraal nou verloën.

Asof sy voel ek skryf oor haar,

verlaat sy hierdie gedig

en stap na die kerkhof.

Alles op reis het te make met tyd,

wagtyd, opruimtyd, vertrektyd …

Geduldig wag ek op die slot

voordat ek uiteindelik uit Zagreb

sal gaan, ‘n aangekomene,

nie vertrekkende.

Dan na die beroemde watervalle. Maar dit reën so erg dat ons nie watervalle en eilandjies kan besoek nie. Ons kyk na ‘n dokkie oor die verskillende eilande. Dit heet die Plitvicka Jezera Nasionale Park wat deur Unesco bewaar word. Vir die meeste toergangers is dit ‘n groot teleurstelling, want dit is waarom hulle hierdie reis aangepak het.

Die aand gaan ons tuis in ‘n hotelletjie: die Hotel Degenija. Die aand het ons ‘n keuse tussen vark en forel. Ek kies die vark wat uit die boonste rakke is. Langs die pad kan ‘n mens telkens sien hoe mense by oop braaiers vark gaarmaak. Die wyn en bier vloei. Ek hou by die bier en vind die Karlovaċko lieflik. Die toergroep is gemoedeliker as aan die begin van die reis. Bruce uit Nieu-Seeland verduidelik alles wat te wete is oor hoe ‘n mens forel vang en dat dit nie net ‘n varswatervis is nie. Hy wys op die verskillende kleure en die vis se vlees moet pienk wees. Anders is dit nie forel nie.

Nog ‘n reisende dag:

Trogir langs die Adriatiese kus. Hierna beweeg ons na Split. Na die stormweer van die afgelope tyd is Split warm. Humied.

Split

Ons land laatmiddag in die Hotel Katarina, gebou in 2009 en dus modern. Ek verkies ouer hotelle op my reise. Selfs al is dit net driester. Hierdie een is vierster: uiters modern, netjies, state of the art. Maar sonder siel. En hier kan ek bely dat ek waarskynlik die slegste kos van my lewe geëet het. ‘n Koue buffet met hoender, tjips, vis en seekosse. En ou slaai. My reisgenote knor ook, maar ek vra dat dit opgewarm moet word. Marginaal beter, maar steeds smaakloos. Met een kelner wat tussen dertig gaste rondhardloop om aan die drankbehoeftes te voorsien. Die ontbyt, helaas, is nie veel beter nie. Koue eier, koue spek, koue worsies en ou brood …

Ek stoot my bord terug. “Cutting corners”, mor die Australiese vrou uit Brisbane. ‘n Goeie hotel, maar weens suinigheid is alles maar raap en skraap.

Orals sien ‘n mens die letsels van die onlangse oorlog op die klein plattelandse dorpies. Ek lees oor die Eerste Wêreldoorlog en oor die komplekse stryd van die sogenaamde Bosniese oorlog. My gids verduidelik. Ek maak aantekeninge – vir verdere navorsing. Later sit ek my notaboek neer en vir etlike dae maak ek geen aantekeninge nie ten einde te rus.

Dan, Dubrovnik:

Dubrovnik

Hierdie hawestad is werklik beeldskoon met sy Romeinse mure wat die stad omsirkel.

Om ‘n uitskotvers oor die landskap van Kroasië te skryf

vir JdL

Met filmmaak beland

daar glo altyd footage

op die vloer

en fotograwe delete, delete, delete,

so weet ons,

tot die volmaakte foto

die oomblik

perfek vasvang.

Met die digkuns eweneens

‘n soeke na balans, na ewewig.

Ook hier land vele woordskaafsels

op die vloer en notaboeke,

sit vol idees, mank metafore,

indrukke wat nooit vers word nie.

In Dubrovnik herken

ek ander landskappe,

dieselfde indrukke,

wat nooit verder as herinnering

gekom het nie, blote inskripsie

in ‘n noteerboek of  opgawe

vir die taksman.

Waar eindig lewe en begin kuns?

“Wat nooit, wat nooit”, hoor ek

jou kritiseer …

“Waar, o waar is die Russiese Roulet?”

Ek probeer weer:

In Dubrovnik op die Adriatiese see,

onthou ek ‘n terloopse inskrywing,

‘n obiter dictum,

op ‘n ander kontinent,

in ‘n vreemde tydsone

met reise wat oophand, gul

beelde uitdeel oor verlore liefdes

en verlore drome. Van Puerto Montt

tot Saigon telkens beelde opgetel …

Nou het die merry-go-round gestop,

en iewers weeklaag

‘n vals viool en trekklavier

op die dorpsplein met mure

om die stad en óm my hart.

Miskien, miskien omdat die vure

geblus geraak het …

Sal ons die lier

langs die paspoort

ophang of doodeenvoudig dig:

In Dubrovnik

nie meer

aan die mag

van die digkuns geglo?

So breek die laaste dag aan. Ek neem ‘n foto vanuit my kamer en voor my lê die wonderskone Dubrovnik, een van die mooiste stede op aarde. Ek swem ‘n uur voor my vertrek in die hotelswembad sodat die lang vlug van 24 uur beter kan trotseer.

Dubrovnik

Swembad

By my terugkeer dink ek oor Sontag na. Dalk vertel foto’s meer as ‘n teks? Word dit ‘n kortpad, som dit op wat woorde nie kan vasvang nie?

(© Joan Hambidge. Hierdie reisverslag verskyn ook op die webblad Woorde wat weeg.)

Wicus Luwes. Arabica Vs Sigorei Vs Sokker-kwotas

Saturday, August 16th, 2014

Met apologie aan Eminem: Laat die regte koffie die lepel asb regop laat staan in die koppie.

 

Ons kuier onlangs by vriende in ‘n poging om weer op te vang met wat in ons lewens aan die gang is en watter beter manier om dit te doen as met ‘n koppie koffie. (Die wyn en Oros was op.) In die kombuis vertel my vriend my dat sy vrou grootgeword het met een sort kitskoffie, maar nou net ‘n ander (duurder) soort verkies. Snaaks wat mense jou vertel oor ‘n koppie koffie. ‘n Ander vriend van my het weer ‘n lening aangegaan om ‘n R5000 koffiemaker vir homself te koop. Die masjien werk met die nuwe kapsule tegnologie en spuit die koffie teen die regte druk en temperatuur in die koppie.

Elkeen het ‘n opinie oor koffie. Steven Spielberg drink nie koffie nie. (Hoe kan ‘n mens iemand vertrou wat nie koffie drink nie?) Die Nederlanders verwys na Café au Lait as ‘Koffie verkeerd’ – seker te veel melk om dit werklk koffie te noem. Party wil die melk eerste ingooi, ander drink nie melk nie. Party mense drink net koffie in die aand en ander drink weer net filter-koffie as hul koffie sou drink. Mocha Java, Wiener Mischung in klein koppies of met bodemlose variasies.

Menigte skryfsels het al in skrywers se grysstof begin roer met ‘n sluk koffie wat in die mond rondrol. Ons ou ‘Kitchen Dutch’-taal het sy oorsprong in die plek waar koffie gemaak word – geen wonder dat dit so lekker op die tong val nie. Die Arabiere het mos begin met die handel in koffie en ek kan dink dat dit goed afgegaan het saam met die bobotie en koffiekoek, maar ek het nie die geskiedenisboeke genader vir daardie een nie. Blykbaar het die eerste koffiewinkel, Kiva Han, sy deure in 1475 in Konstantinopel ge-open. In 1650 het ‘n Lebanese Jood genaamd Jacobs die eerste koffiehuis in Oxford, Engeland op die been gebring. As ek hierdie datums vergelyk, is dit nie onmoontlik dat daar dalk koffie in die eerste koloniale Kaapse kombuise gedrink is nie.

 

Die kombuis as self

deur Joan Hambidge

 

Die pot koffie trek stadig maar seker;

die moer herinner aan ander kombuise,

ander liefdes.

 

Daar was ’n tyd toe ek moes rissies

kap. Toe oë voltyds traan van uie

en verraad. En skinderknoffel

stinkend aan my hande agterbly.

 

Met jou is dit anders. Dit is asof

ek al die vorige messe skerp

mag ophang. Die ou bekers breek

vanself. Mislikhede word stadig

maar seker opgesuig. Voetjie vir

voetjie word ek heel.

 

Die skottelgoedmasjien reinig

aanklagte, verraad, verlies, dwaashede.

Die vloerteëls is witter, ja witter as Jik …

 

Die stoof kook baie nuwe bredies

met die oond ’n knipperende oog.

 

Net soms, net soms sien

ek weer die moer wat sak.

 

Uit Ruggespraak, Protea: 2002.

 

“As jy koffie wil drink, drink jy filter koffie.

 As jy wortel wil drink, drink dan kitskoffie.”

Dit was die woorde van die toergids op ‘n onlangse besoek aan ‘n koffieplaas by Port Edward. Die wortel verwys natuurlik na sigorei.

 

Sigorei word al jare lank met koffie gemeng. Dit het koffie al vervang in moeilike tye – soos tydens hawesluitings of handelsdispute. (Selfs koffie is al geraak deur politiek.) Party wonder of sigorei se blou blom die oorspronklike Blou Blom kon wees wat in Romantiese volksoorlewering toe deure kon oopsluit. Die blou blom simboliseer ook die metafisiese hunkering na die oneindige of onbereikbare.

Of dit deure oop- of toesluit is ek nie seker nie, maar koffie het nog altyd die manier gehad om mense saam te bring. Dit maak jou hande warm in die winter en haal miskien die blou uit situasies uit. Leonard Cohen skryf van blou koffie in sy ‘Book of Longing’, maar wat dit presies is en of daar ‘n direkte verwantskap tussen die blou blom en blou koffie is, is onduidelik vir my.

 

Better

deur Leonard Cohen

better than darkness
is fake darkness
which swindles you
into necking with
your neighbor´s daughter

better than banks
are false banks
where you put
all your rough money
into legal tender

better than coffee
is blue coffee
which you drink
in your last bath
or sometimes waiting
for your shoes
to be dismantled

better than poetry
is my poetry
which refers
to everything
that is beautiful and
dignified, but is
neither of these itself

better than wild
is secretly wild
as when I am in my car
in the darkness of
a parking space
with a new friend

better than art
is repulsive art
which is shunned
by Hashem
and in the ensuing
hullaballoo
I slip
into broadway theaters
and sit undetected
in the Hadassah section

better than greatness
is silly greatness
which stands me
on the shoulders
of my garage
the better to
drop all the eggs
into one basket

better than memory
is tricky memory
which is the juice
of patriotism and
national interest
and the fall of husbands
and all the Sad Show

better than darkness
is darkless
which is inkier, vaster
more profound
and eerily refrigerated –
filled with caves
and blinding tunnels
in which appear
beckoning dead relatives
and other religious
paraphernalia

better than love
is rove
which is the Japanese
more refined
smoother
strangely erotic-
tiny serene people
with huge genitalia
but lighter than thought
comfortably installed
on an eyelash of mist
and living grimly
ever after
cooking, gardening
and raising kids

better than my mother
is your mother
who is still alive
while mine is dead
as a doornail

better than me
are you
kinder than me
are you
sweeter smarter faster
you you you
prettier than me
stronger than me
lonelier than me
I want to get to know you
better and better

 

Uit: The Book of Longing, Penguin: 2006

 

Die toergids op die koffieplaas het ons vertel van die verskil tussen Arabica- en Robusta-bome. Arabica-bome het hul oorsprong in Etihopië / Abessinië, maar word nou wêreldwyd ingespan om ons koppies te vul (of te vervul).  Arabica is die koffie wat die meeste gebruik word op sy eie of as deel van mengsels. Die wêreld eksperimenteer met verskillende smake en hoeveelhede – bitter smake, aardse geure ens. As my liggaam se filters begin protesteer, drink ek ‘n koppie of twee rooibostee om die ewewig te herstel, maar interessant genoeg is daar nou al rooibos espresso ook ontwerp. Selfs ‘n Rooibos-roete by Clanwilliam.

Oom Jan Spies se Cremora-advertensie het lank gelede gesê dat daar net een ding beter is as die eerste beker ‘sawwe lyf’ – en dit is die twee beker ‘sawwe lyf’.  Koffie is daar om gedrink te word, om wakker te maak  of om rustigheid te induseer. (Alhoewel dit energie verskaf.) Of ek swart koffie uit ‘n fles op ‘n lang pad drink en of ek koffie drink omdat dit teetyd by die werk is, maak seker nie saak nie. Of ek dit met suiker of met kondensmelk versoet, soos by my kindertyd kampe, maak ook nie saak nie. As ek dit as inleiding tot ‘n storie of as sleutel tot die slot wil gebruik, sal ek dit geurig  inspan. Die kommunikasie kan in stilte plaasvind met ‘n teelepel wat teen die beker tik om die oomblik aan te kondig.

As jy dan moet praat, praat dan maar oor sokker-kwotas, want anders gaan niemand daaroor praat nie. Elkeen het ‘n (voor)reg tot ‘n opinie en dis vervelig as almal saamstem. Verder is ek ook al moeg om van rugby-kwotas te hoor. As jy baie melk drink, is dit jou keuse. As jy jou koffie sonder melk wil drink, is dit seker ook jou keuse. Te soet koffie is nie goed vir die suikervlakke nie. As jy twee suikers ingooi, roer dan net die boonste een met ‘n knipoog en ‘n pinkie in die lug. Stuur dan die tweede suiker op wanneer die suiker-vlakke laag is en dinge ‘n bietjie geroer moet word. Kwotas en hoeveelhede is selfs vir koffie ‘n moeilike saak, want eers as jy ‘n sluk neem, besef jy somtyds dat die melk suur was. Dit los dan niks op nie, gee jou ‘n slegte na-smaak en los jou met ‘n Suarez-byt op die skouer.

Koffie-kuns na die maal

Ek het nog maar min  van hierdie espresso kuns gesien, maar daar is heelwat mense wat hierdie kunssoort ernstig opneem. Sien foto’s: (http://www.webdesignerdepot.com/2009/07/50-beautifully-delicious-coffee-designs/)

 

Verdere lees- en luisterstof oor koffie:

* Bob Newhart-skets oor die ontdekking van tabak en koffie: https://www.youtube.com/watch?v=kO1nCuVQIeg

* Maak jou eie Latte Kuns: http://www.wikihow.com/Make-Latte-Art

* https://versindaba.co.za/2010/08/19/vier-koppies-koffie-in-die-vreemde/

* https://versindaba.co.za/2010/05/25/drie-koppies-oggendkoffie/

Joan Hambidge. Ballade van die grysland

Wednesday, July 30th, 2014

Ballade van die grysland

 

Vir  DJ Opperman – ‘n pastiche

Die vroegre boere-paradijs

is nou één molshoop, groot en grijs.

Totius (Trekkerswee)

 

I

 

Uit tonnels van die nag tuur ek

oor die landskap van ysterspore,

die vele bundels wat ná u vertrek

 

hul opwagting maak, die nuwe Edms. OnBpk.

met vele digters en diskoerse,

in die Afrikaanse taal se vele bottelnekke.

 

Deesdae kap ons slote op die internet,

FaceBook en ‘n kollektiewe Versindaba;

die digkuns ‘n blote visum by verstek.

 

Hier is dikwels ‘n gezoem om ‘n heuningkoek

oor wié mag parlando of katalekteer;

soms word stilte opgeskort; ander kere opgedoek.

 

Daar is draaisae en gille van polemiek

– sonder om die bundel te lees –

ook herbesoeke met ‘n enkele kliek.

 

Daar word steeds valse syfers neergekrap,

oneerlike resensies uitgekletter,

selfs van ‘n eggenoot oor ‘n bedmaarskalk.

 

 

II

 

Na tuine van die nag, waar neonligte blom,

moes ek dikwels vlug oor ‘n gedig

van ‘n herkenbare minnares, ‘n liefdesbom.

 

Maar die vrees as u, die rekenmeester,

nou moes lees of skerp takseer?

Hoeveel van ons sou by u, o leermeester

 

‘n heilige bees, ‘n strak negester

of ‘n joernaal van Jorik kon prakseer?

“Wees veral versigtig met eendagsterre!”

 

Die nag breek grou: ‘op tafelblad’

links in my smalle kamer

‘staan leë bottels in hul nat’.

 

Ek sukkel steeds om hierdie gedig

in balans met u en Totius tuis te bring.

O my vrees wat die kritiek mag aanrig.

 

III

 

Die laptop is wit-gevlak en koel

soos die dubbelskots deur my vloei …

tot ek die vrees weer lyflik voel.

 

O as u, die rekenmeester kom,

wat sal u maak van hierdie pastiche?

Ek erken my reëls uit u bron

 

in die onthouboek ‘n digterlike dinamika:

die ware digter, so leer u ons,

weet geen snars van metafisika.

 

“En metafiksie?”, wou ek vra?

Die tralies wat hierdie vers omsluit

– huldeblyk gewis en waar, ja –

 

laat my krukkig gryp na ‘n psigoanalies:

Lacan en Žižek, daardie ou spoegbek,

óm en óm … die dun spil van die siel.

 

 

(c) Joan Hambidge / 2014

 

 

 

 

 

 

Joan Hambidge. Ars poetica

Wednesday, July 23rd, 2014

Ars poetica

 

“I will survive”, neurie my moeder

onverwags nes Gloria Gaynor in daardie tyd

lank voor die vlug van Air Malaysia

met ‘n lyk wat land in iemand se kombuis;

twee jongelinge gevind nog met oorfone aan,

‘n horlosie, ‘n speelding, skoene (die gewone)

en in die diep nag YouTube ek vir Gloria

gedagtig aan háár en ons oorlewing:

had ‘n noue ontkoming terug van Hanoi

met Air Malaysia na my moederland

toe ‘n ander vliegtuig soos sonmis verdwyn

en nou is daar ‘n trein met koeltrokke op pad

om die reeds ontbinde lyke terug te neem:

miskien het een van hulle geluister na

“I will survive” en dalk was die toiletdeur

se rooi liggie aan, ‘n waarskuwingsteken

vir die missiel so venynig so dwingend so finaal:

die imperfektum van onthou ‘n fratsongeluk

met my moedertaal sonder ‘n plusquam perfektum

om presies dít wat my moveer by herhaling

op verskillende maniere te iteratief-duratief.

 

© Joan Hambidge / 2014

 

 

 

René Bohnen. Ronkedoor by Noag se Ark

Friday, July 18th, 2014

Party mense sê sinkronisiteit is bloot net die verhoogde bewuswording van prikkels as gevolg van gebeurtenisse in mens se persoonlike lewe. Indien dit die waarheid is, het Versindaba hierdie maand op besondere wyse daarin geslaag om kragte met my onderbewuste te snoer en het die samewerking mooi boeke op my pad gebring.

Ek was onbewus van die bundel Ronkedoor, toe loop ek dit twee keer in een week op die internet raak. Eers in Gisela Ulyatt se mooi blog oor vaders  https://versindaba.co.za/2014/06/02/gisela-ullyatt-vir-n-pa/ en toe op Joan Hambidge se “Woorde wat Weeg”, wat begin met Johann de Lange se vers “Die digter as ronkedoor”. (http://joanhambidge.blogspot.com/2014/07/joan-hambidge-n-klein-nota-by-n.html)

Hou ek impulsief een kristalkoue Johannesburg-oggend stil by Noah’s Ark, ‘n pandjieswinkel in Randburg. Ek weet nie wat ek daar wou soek nie, maar digbundels was nie my verwagting nie! In ‘n ark moet daar egter mos iets van alles wees en ek is verheug met my aankope: 14 bundels vir R60.

Daar is die Ronkedoor!  ‘n Eenkantolifant. Alleenloperbul. (is daar ‘n ronkedoor in Kringe in die Bos?) In die koerant was daar onlangs ʼn foto van ‘n Knysna-olifant soos ‘n skim vasgevang op versteekte kameras. Dit lyk soos die spookfoto’s van my kinderjare, toe deursigtige dogtertjies op armchairs glimlagloos vasgelê is in swart en wit.

                  (foto vanaf: http://maroelamedia.co.za/blog/nuus/olifant-opgemerk-knysna-woud/)

Ek blaai Ronkedoor lukraak oop, lees bladsy 54:

Vloed

Vertak deur oë, hart en nier

vloei ongesiens die Grootrivier,

dryfhout van gety op gety

pak saam, kolk in my

tot die verlossende stroming

wat opdrifsels geruisloos see toe bring;

gereed vir die ontvangenis

voel ek alreeds in díe klein moer

die ronde fetus

van ʼn aarde roer.

Getref deur die aktualiteit van hierdie vers soos gesien in die lig van “ingeplaaste skryf” (vergelyk Susan Smith se artikel http://susansmithdotcom.wordpress.com/2014/07/12/plek-die-digter-mens-die-digter/ ) kan ek ook nie help om herinner te word aan die weerloosheid van alles nie (Lucebert se woorde eggo maar altyd).Die afgelope week se wêreldgebeure skree hierdie weerloosheid uit in koerantopskrifte. Gewone mense is saam met ʼn vliegtuig afgeskiet in die lugruim van die Swartsee-gebied. In my pakkie bundels is ook Bloedsteen van Wilhelm Knobel. Die derde keer hierdie jaar lees ek die Salvatore Quasimodo-aanhaling en vertaling wat voorin verskyn:

“Ognuno sta solo sul cuor della terra

traffitto da un raggio dí sole:

ed è sùbito sera.”

Elkeen staan alleen op die hart van die aarde

deur ʼn straal van die son deurboor:

en skielik is dit aand.

Wat is die Afrikaans vir poignant? Die woorde in my Pharos voel nie reg nie. Ons begin almal dra aan die wonde van die heelal. Of dalk net van die planeet. Of van mekaar.

“Sy wond bloei nou in my

die sweer wil net nie heel

onder die gekraakte rofie

bly dit etterig en geel”

(uit “Wond”, bl.33 in Ronkedoor deur Betsie van Niekerk)

Die ligblou boekie deur M. Buys het ek gekoop omdat ek dit onthou uit ons klein dorpsbiblioteek in my kinderjare. Die Kruistogte  staan daar. Daan Retief Uitgewers.En omdat ek oorlog nou maar eenmaal nie verstaan nie, trek ek my eie verbande waar ek voel emosies soos sirkels sny. Vier seuns in Gaza word doodgeskiet terwyl hulle ‘n bal skop op die strand. Foto’s op facebook. Petisies. Die woorde Israel en Palestyne in die hoofberigte. En mense wat in Afrikaans baklei oor wie reg is en wie verkeerd. Op bladsy 37 van die blou boekie word vertel van die Kinderkruistog van 1212. “Die kinderkruistogte was twee baie droewige kruistogte”. Was daar werklik iemand wat gedink het dit kan enigsens ánders wees, wonder ek. Of word die mens op ʼn spesiale manier verblind deur geloof? Ja, skielik is dit aand. Donkereeue, amper. Daar was seker kinders op die Maleisiese vliegtuig wat afgeskiet is ook.

By Noag se Ark het ek ook ʼn geisja-boek gekoop. Sowaar! Amanda Lourens se heerlike blog (https://versindaba.co.za/2014/07/15/skadus-skoonheid-die-liefde-en-die-tanka/#comment-333216) het my seker opnuut vatbaar gemaak vir dáárdie prikkel. Dit is die verhaal van Murasaki Shikibu, wat in die 11de eeu die roman The Tale of Genji geskryf het. Dit word beskou as een van die vroegste romans in die wêreld. Murasaki se pa het haar die opvoeding gegee wat net seuns van daardie tyd beskore was. Dit het beteken dat sy die Kanji- letters kon skryf. Hier is meer inligting oor haar: http://en.wikipedia.org/wiki/Murasaki_Shikibu

Murasaki Shikibu het een kind gehad – ʼn dogter. Sy het ‘n digter geword.

In The Tale of Murasaki (geskryf deur Liz Dalby, ‘n antropoloog wat blykbaar een van die enigste Westerlinge is wat ‘n geisja geword het) lees ek “the seventh month is known as the Poem-composing month” en aangesien Julie óns sewende maand is, lees ek bietjie oor die waka en ek sien ook hierdie gedig van Murasaki raak:

“In the cove at Iso the crane cries as I cry; who can it be she yearns for?”

The sorrow of human existence, “Mono no aware” word ongveer ‘n duisend keer gebruik in The tale of Genji. Die tema word beskryf as: the fragility of life.

 

Gisela Ullyatt. Vir ’n pa.

Monday, June 2nd, 2014

 

Junie is die maand van pa’s; 15 Junie is Vadersdag. Jaar na jaar word egter dieselfde sotlikhede op winkelrakke en spesiale uitstallings opgestapel om die skuldige gewete aan te spreek: oorsoet sjokoladetjies en geroosterde neute, die ewige knipmes; wintersokkies. Tydskrifte adverteer glansgeskenke soos ’n peperduur biltongsnyer. Bekendes word glansend saam met pappa afgeneem en soetlike goedjies word gesê oor hulle volmaakte dad.

Maar as jou Junie begroting reeds klaaglik misluk het, kan jy natuurlik altyd ’n beker met ’n gedrukte flou grappie/cliché koop (hopelik nie tweedehands nie) en dit opvul met ’n pers Simba-pakkie grondbone-en-rosyntjie mengsel. Of dalk ’n bierbeker gaps by die Oktoberfest vir volgende jaar se Vatertag.

Hoe dit ook al sy: Junie is die maand van daddy. Die vaderfiguur is een van die bitterste beelde in die poësie. Verder is gedigte oor vaders een van die mees oorwoë temas in die digkuns: alle digters het ’n vader of ’n gebrek aan een.

Stanley Kunitz se “The portrait” (1985:296) getuig van die gebrek aan ’n vader-figuur; die gedig is geperforeer deur ’n disfunksionele familie-dinamika. Ironies genoeg dra die absolute fisiese afwesigheid van die pa daartoe by dat hy in elke ander aspek die lewens van sy gesin oorheers. Die ma, deurdrenk van woede, probeer alles om hom vir goed uit hulle lewens te verban, maar spoke laat hulleself nie verban nie. Die feit dat hy wel geleef het, kan dus nie ontken word nie:

 

My mother never forgave my father

for killing himself,

especially at such an awkward time

and in a public park,

that spring

when I was waiting to be born.

She locked his name

in her deepest cabinet

and would not let him out,

though I could hear him thumping.

When I came down from the attic

with the pastel portrait in my hand

of a long-lipped stranger

with a brave moustache

and deep brown level eyes,

she ripped it into shreds

without a single word

and slapped me hard.

In my sixty-fourth year

I can still feel my cheek

burning.

Disfunksie in die familie-eenheid word baie maal vereenselwig met die “sonde van die vaad’re”. R.D. Laing, ghoeroe in die anti-psigiatriese beweging, noem hierdie disfunksie wat oorspoel van generasie na generasie “the transgenerational transference of neuroses”. Die Amerikaanse digter, Charles Olson, som hierdie filosofie onomwonde op in sy gedig oor vaders en seuns:

 

and if I am his son, this man

is from as far a place and time

as yours is, carries with him

the strangeness you and I will carry

for our sons, and for like reason

Hierdie inter-generasionele verwondheid word veral in Johann de Lange se oeuvre aangespreek; bundels soos Snel grys fantoom (1986) en Die algebra van nood (2009) bevat roerende gedigte oor ’n meestal afwesige maar dwelmverslaafde vader. In “Pa” (2010:36) word die pa-figuur opgeroep in messelaar- en- cowboymetaforiek. Die Anne Sexton-motto omsluit die motief van vergifnis wat herhalend in die gedig “Maar ek vergewe jou” gebruik word. Die vyfde strofe staan veral uit vanweë die uitsigloosheid van die pa se dwelmhel juis omdat dit die verskriklike vervreemding en skeur tussen pa en seun  daarstel:

 

Ander aande het jy mandrax gedrink

& vroeg gaan slaap, moeg,

die woonstel onherbergsaam gemaak

met jou hortende asem. Die kroeg,

enklave waar jy kon ophou kwel,

het sy grys vergetelheid geskink.

In “Petidiendroom” (2010:119) wil die pa intimiteit tussen ouer en kind skep met ’n petidien-ampule, iets wat helaas godsonmoontlik is:

 

Ek loop my pa ná jare raak

& hy probeer weer vrede maak.

 

Hy gee vir my ’n smal ampule –

verdowing met ’n streng skedule,

 

& hoop dit sal ons nader bring

soos die naald intiem deur weefsel dring.

 

Ek soek koorsig na ’n plek om te gebruik,

maar orals vind ek oë, & plekke wat na oorskot ruik.

 

Die versugting na versoening, na heelmaak van die verskerfte en versplinterde pa-kind dinamiek word ook gesien in Lucas Malan (16) se “Versoening”:

 

Ag Pa, laat ons nou vrede maak;

jy raas so in jou kis,

jy skaaf so aan ’n kwas

wat lankal reeds vergete is […]

 

en jy’t jou hawer nooit gesaai nie –

net so min het ek miskien geword

wat Pa dalk wou, maar nietemin,

die saad is klaar gestort

 

Wyle George Weideman skryf ’n reeks gedigte oor sy pa onder die hoofopskrif “Homo Faber” (Uit hierdie grys verblyf:1987). Die subtitel – portret van ’n alchemis en sy werkplek” –  is veelseggend en sluit aan by homo faber wat losweg uit die Duits as ‘die mens as produsent’ vertaal kan word. Dit sou interessant wees om te weet of Weideman Max Frisch se roman, Homo Faber, as vertrekpunt geneem het. Weideman se “Homo Faber” is opgedeel in sewe gedigte: (wyding); (interieur); (transmutasie); (feniks); (konjunktief); (sublimasie), en (slot). Ongelukkig is daar nie spasie in hierdie blog om aandag aan elke afsonderlike titel te skenk nie; ’n aparte blog (of eintlik artikel) sal hieraan gewy kon word.

Wat egter duidelik as baken in hierdie gedigte dien, is die vader as skrynwerker of produsent (‘homo faber’), iemand wie se werkspasie ’n “heiligdom” (59) was waar teen “die mankolieke deur” die spreker hom verbeel die volgende woorde opgeplak is: “strictly private. moet asseblief nie steur/ nie. eintritt verboten”.  In (feniks) het die pa “’n duisternis apparaat” en begin die spreker reeds verval in sy pa opmerk: “al krommer /wordend, my monnik-pa aan’t vonke slaan” (62). Die pa se opgaarsels begin dien as simbole teen die ouderdom, verlies en eindelike dood (sublimasie)(64); dit dien ook as afbakening van persoonlike grense; isolasie:

 

wat vergaar kon word teen die ouderdom:

vragte onvoltooide take wat vreug

en frustrasie bring

 

En dan kulmineer die reeks verse in (slot) waar die pa triomfeer, vry word van die oorlaaide opgaarder “homo faber”, gepuur word tot pa-as-feniks en dan simbolies die vlinder in homself vrylaat (65):

 

uit die grys verblyf durf ’n feniks kom:

aanvanklik nog net ’n moontlikheid

daar rond […]  

dan word die lyf

ligweg tussen die vlerke ingeskuif

en vasgeheg. en florissant verskyn

pa, weliswaar gehawender, triomfantlik

uit die hoogoond. Hy laat die vlinder vry.

 

Olga Kirsch skryf ook ’n reeks gedigte oor haar vader, getiteld “Vyf sonnette aan my vader” (1972). Die vyfde sonnet vergestalt die Joodsheid van die pa soos gesien deur vroeë kinderherinneringe aan die sinagoge, God en gebedsjale (1990:375):

 

Toe ek nog klein was het ek aan jou sy

gestaan in die sinagoge en gevolg

terwyl jou vinger langs die letters gly

van woorde wat ek nog nie kon vertolk.

Die kantor hef sy stem op, yl en soet

wierook die lied omhoog. Rooi, geel en blou

slaan vlamme uit die ruit hom tegemoet –

sou die Voorsienigheid Sy guns weerhou

wanneer daar so gesmeek word? En jy vou

jou syige gebedsjaal weg en hou

jou arm om my en ek staan gedruk

vas teen jou knie en bewe van geluk.

Swaar stemme styg in stadige akkoorde –

Oomblikke veertig jare sonder woorde. 

 

Bernard Odendaal skets ’n menslike woordportret van sy pa in “Pa” (24); sy pa was “voorbanker in kerk en senaatsaal./ Ook ’n voorslag in die kooi,/met vyf voluit familievernoemde seuns”. Sy moeilike geaardheid word metafories baie geslaagd uitgedruk: “jy’t haaks gebou;/ontoeskietlik draad gespan;/jou hande lékker skurf”. Dié moeilike oubaas het dalk voor geen mens die knie gebuig nie, maar voor die Groot K het hy nie ’n keuse gehad nie:

 

tot jy in die kliniek moes wees

–       slaphandig, grootogig;

 voete watersugtig dik –

 maande lank moes kankercocktails drink.

 Rúikend na sweet en sere.

 Al minder besoek ontvangend.

 Later net woordeloos net lêend.

 

Betsie van Niekerk dra Ronkedoor aan haar pa op en in “Kruk” (13) aanvaar die spreker dat sy haar pa slegs kan bystaan, maar nie kan genees nie: “Geen elikser, Pa/of panasee/kan ek jou gee”. Uiteindelike verval van die geheue en liggaam vind plaas en word roerend uitgebeeld deur die skoenlose en tandelose pa. Hy het dus die ronkedoor van sy menslike trop geword:

 

Maar ontskoei en sonder tande

trap pa op gewyde grond

radeloos, onmagtig rond.

 

Joan Hambidge se oeuvre is deurspek van gedigte wat aan haar pa opgedra is en sy skryf só oor hierdie tendens in Dad (57), ’n bundel wat spesiaal oor haar pa geskryf is na sy dood:

 

“Reeds vanaf my debuut Hartskrif (1985) skryf ek oor my vader […] My vader as gespreksgenoot, as spieë, as iemand teen wie ek my kon meet. Op sy manier ’n man wat weens sy werk dikwels verplaas is – dit verklaar waarskynlik my obsessie met reis. As kind van die depressie het hy swaar groot geword en daar was dikwels bitterheid oor sy grootvader se hantering van sy vader Frank. Hulle is uit ’n plaas verneuk”.

 

Toevallig lees ek die deel (ook in Dad) waar Joan oor haar pa se familieverbintenis met Maggie Laubser skryf (Hannah Laubser, sy moeder, was Maggie se suster) op dieselfde dag toe ons ’n skilderytjie van Maggie Laubser laat waardeer. Dié waterverf is vergeel in sy broosheid (en brosheid) en is inderwaarheid ’n bladsy uit een van haar sketsboeke. Groot was ons verstomming toe die bladsy uit sy ewe brose raam gelig word en aan die agterkant ’n horde potloodsketse van katte gevind word!

Om dus aan te sluit by hierdie broosheid van die vergeelde Maggie Laubser, haal ek die volgende gedig, “Tien” (50) aan uit Dad, wat nie net in gesprek staan met die internet as interteks nie, maar ook met Maggie Laubser:

 

Die webruimte na jou weier

halsstarrig om oop te gaan.

Op elke soekruimte met google

staan ek voor dooiemansdeur:

www.vader.com is tans onbeskikbaar.

Elke soekenjin wys my af,

gooi my uit voor ’n grys skerm.

Laat ek nou met die deur

in die huis val: die huis van my vader

had soveel kamers.

In jou klein heiligdom

hang foto’s van jou as sportman,

’n kanon met ’n loodkoeël,

’n skildery (wat ons verpes) van die Sakekamer,

en  ’n beeld van ’n klei Bonsmara-bul.

’n Staalkabinet met papiere, agendas,

aktes en wat nog van die sekretaris

van vele komitees. Altyd tweede in bevel

’n Maggie Laubser-skets van jou as seun

wys jou weerloos op. ’n Groen brugtafel

vir Dinsdagaande, elke vierde week, by ons

staan langs ’n weggestoke drankkabinet met KWV.

En ek? Met besoeke slaap ek op die enkelbed

in die kamer waar jy alles opskryf, liasseer, behou.

Jou tweede kind, ’n andersoortige sekretaris,

soekend, wagtend dat die webruimte oopgaan. 

 

Bibliografie

De Lange, J. 2010. Judasoog. ’n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Kaapstad: Human & Rousseau.

Hambidge, J. 2006. Dad. Kaapstad: genugtig!

Malan, L. 1985. Tydspoor. Kaapstad: Tafelberg.

Odendaal. B. 2007. Onbedoelde land. Kaapstad: Tafelberg.

Olson, C. 1960. The distances. New York: Grove.

Opperman, D.J. (ed). 1990. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Poulin, A. (ed). 1985. Contemporary American Poetry. Boston: Houghton Mifflin.

Van Niekerk. 1988. Ronkedoor. Kaapstad: Tafelberg.

Weideman, G. 1987. Uit hierdie grys verblyf. Kaapstad: Tafelberg.

 

 

 

  •