Posts Tagged ‘Joan Sutherland’

Philip de Vos. Hoe om op ‘n mooi manier wraak te neem

Wednesday, February 9th, 2011
(illustrasie: Cora Coetzee)
 
Oor al die menige dekades wat ek leef en beef, was ek nog altyd bekend vir my vriendelikheid en vir my goeie maniere. En dit was alles aan my ma te danke – amper sê ek dit was haar skuld – want om te ordentlik te wees, is nie altyd die beste ding op aarde nie.
 
Dit help tog alte deeglik om so nou en dan vies te word: Barbie Dolls se koppe af te breek en teen jou bure se voordeur te skop.

Maar – ek is ordentlik grootgemaak: Ek kan nou nog al die boeke van die Ou Testament opsê en ek weet steeds wat die voornaam is van Moses se vrou en selfs die naam van sy suster. En so ordentlik is ek grootgemaak, dat my ma in die Cricketstraatdae in Bloemfontein selfs my naels elke oggend geborsel het en vol Johnson’s Babapoeier gestrooi het vir die oggend se naelsinspeksie van die Sub B-klas – en ja, my naels was áltyd die mooiste en my maniere ook tot daardie dag in 1983 toe ek my vir ——- vervies het.

En daardie verviesery het toe gelukkig deel van my tweede boek geword en dit was op die ou end veel goedkoper as wat dit sou wees as om na ’n psigiater toe te moes gaan en te sê: “Ek het my vir ’n vroumens vervies!

En wat kry mens in ruil? ’n Rekening vir R700 en ’n voorskrif vir Valium.

Hoe ek vir ——- ontmoet het, weet ek nou nog nie. Ek was destyds ’n operasanger en sy was, óf ’n groot operaliehebber, óf dalk het sy self op ’n keer in die plaaslike operakoor gesing. Ek kan glad nie meer onthou nie.

Maar hoe dit ook al sy – daar beland ek toe om een of ander rede by haar Sondagmiddag soirees.

In haar netjiese woonstel in een van Kaapstad se voorstede het sy haar gereelde byeenkomste gehad. Of sy self so in haar skik was, met haar woonadres, kan ek nie meer so goed onthou nie, maar ek onthou tog so vaagweeg dat sy ’n CA-nommerplaat vir haar kar gehad het, in plaas van CY – die voorstad waar sy gewoon het. Wat dit ookal sou beteken?

En as jy aankom in daardie netjiese woonstel waar jy selfs van die vloere af kon eet – so skoon was dit, was jy dadelik bewus van die vars blommerangskikkings en sagte Richard Clayderman-musiek diskreet op die agtergrond. En al met die vier mure langs is stoele op ’n ry gerangskik en op elke stoel ’n netjiese persoon met skoon vingernaels. Dit was mans, mans, mans net waar jy kyk. En van die sagte bedeesde gesprekke afgelei was hulle een en almal net so operabesot as sy, en was dit ’n sagte gefluister van die groot name: Renata Tebaldi en Joan Sutherland, en die grootste van hulle almal: Maria Callas – La Divina!

En êrens in die middel, soos ’n groot termietkoningin het  ——- gesit – geklee in ’n tabberd wat een van haar volgelinge vir haar ontwerp het. En groot is die regte woord, want ——- was GROOT, selfs groter as party van haar akoliete mansvriende.

En as hulle klaar gepraat het oor opera, was dit ballet se beurt en nou was die gesprek oor Margot Fonteyn en Rudolf Nureyev met daardie mooi kuite van hom.

Toe om een of ander rede het ek kontak met ——- verloor, maar tog êrens verneem dat daar nou ’n regte man in haar lewe gekom het – ’n wewenaar – en nie lank daarna nie was hy en ——- man en vrou.

En toe op ’n oggend, kry ek ’n telefoonoproep van ——- en herken ek haar onmiddellik aan haar sonore diep altstem: “Wil jy nie Sondagaand by my en my man kom eet nie? Christine Basson van Egoli-faam is een van ons geëerde gaste …” En daarna rits sy nog ‘n paar belangrike name af, onder andere die naam van ’n plaaslike operasangeres.

Vir ’n oomblik was ek ietwat verbaas, want ek het nie eens geweet sy ken ander vroumense nie. Toe ek egter vra: “Mag ek vir Peter ook saambring?” kom die teenvraag: “Wie is Peter?” en my onmiddellike antwoord: “Ons woon al die afgelope drie jaar saam.”

Vir ’n paar oomblikke was daar ’n ysige stilte, toe daal ——- se altstem ’n oktaaf laer en sê sy haar finale sê: “Liewers nie!” en ploeps! sit sy die telefoon daar anderkant in Bellville neer, terwyl ek hier in Fresnaye, Kaapstad ietwat verdwaas staan.

Hoe nou gemaak, want ek was nog altyd baie, baie ordentlik.

Dus gaan ek maar na die Kaapstadse stadsbiblioteek toe en doen ek vir die heel eerste keer in my lewe ietsie onordentlik.

Dit was in die dae voor rekenaars en plaas daarvan om net ’n knoppie te druk om inligting te verkry, gaan staan ek voor een van die biblioteek se bruin kaste met klein laaitjies vol kaartjies waar boeke volgens die Dewey-sisteem gerangskik is,  en soek ek die woordjie etiket en met ’n pen in die hand het ek elke boektitel wat oor hierdie onderwerp in die Wes Kaap beskikbaar was neergeskryf.

En met die lysie in my sak is ek terug huis toe en het voor my tikmasjien gaan sit en begin tik:

Vir onthaaldoeleindes is die onderstaande lys boeke onontbeerlik. Om opsporing daarvan in ’n biblioteek te vergemaklik, het ek die kodenommer van elke boek tussen hakies aangedui.

  

  

Nooit het ek weer vir ——- gesien of van haar gehoor nie, maar vergeet het ek beslis nie. En waarom sy nooit my brief beantwoord het nie, weet ek ook nie, miskien is dit die feit dat ek die Engelse woord Etiquette verkeerd gespel het met 2 t’s in plaas van een – en sy was immers ’n vrou wat haar nie eintlik met analfabete opgehou het nie.

In 1985 het ek oor ’n naweek ’n kinderstorie geskryf. Wolfgang Amadeus Muis oor ’n aaklige pretensieuse meisiekind van agt wat alle muise gehaat het en op die ou end by die jaarlikse eisteddfod deur muise oorval word net voor sy Chopin se Ballade no 3 in A-mol majeur, Opus 47 vir die gehoor kon speel. En ek moes natuurlik ’n naam vir hierdie meisiekind bedink. Toe gee ek maar vir haar die naam van my gewese vriendin.

“Dis toe dat ——- besluit om te kyk wat met die binneste van haar klavier verkeerd is. Die gehoor in die stadsaal sien hoe die krulkopdogtertjie van die klavierstoeltjie afklim. Toe sien hulle hoe sy buk om die onderste klap van die klavier oop te maak. Toe sien hulle hoe 278 muisgaste – plus Wolfgang Amadeus, natuurlik en sy ma en sy pa en sy boeties en sy sussies: Anna en Bettie en Chris en Danie en Emma en Frans en Gert en Hendrik en Ina – by die klavier uitpeul en bo-oor haar stroom.

“MUISE!” gil ——-.

En was daar muise! Daar was grotes. Daar was kleintjies. Daar was oues. Daar was jonges. Daar was vettes. Daar was maeres. Daar was muise tussen haar vingers. Daar was muise op haar neus. Daar was muise agter haar ore. Daar was muise in haar skoene. Daar was muise in haar hare. Daar was muise onder haar rok. Daar was muise, muise, muise, net waar jy kyk …”

Ja, ek mag miskien destyds toe ek in Sub B was die mooiste en skoonste naels in die hele skool gehad het en die ordentlikste maniere op aarde, maar nou – soveel jare later – as iemand my so nou en dan vies maak, is ek ek nie meer so ’n nice persoon nie en hulle word naam en al, net soos dié van ——- ’n karakter in een van my boeke …

 

 

 

 

Philip de Vos. Skrywersblok op ‘n skrywersblog

Saturday, December 11th, 2010

 

Sommerso op ’n dag kom ek vandeesweek agter dat die Muse verdwyn het. Die hoekoms en waaroms is ’n bietjie onduidelik, maar dit het sweerlik iets te doen met die feit dat ek twee weke gelede met my R5000 kamera in ’n swembad in Tulbagh beland het.
 

 

 

Ek het al wel gehoor van water op die knie soos met die storie van die arme mev. Fourie wat deur vreemde vrese oorval is:

 

’n Sekere Kaatjie Fourie

het water gekry op die knie.

     Sy raak toe bevrees

     en skree haar skoon hees,

want sy ly mos aan hi-dro-fo-bie

 

Maar ek is doodseker daar bestaan ook iets soos water op die brein wat my skielik tot skrywersstomheid dwing en ek het g’n idee wat ek vandag op hierdie blog moet skryf nie.

Dit was op 26 November toe en Peter vir die naweek in omgewing Tulbagh gaan ontspan het.

Vir twee dae was ek gefassineer met die spel van kleure in die water. Die oord se swembad was rooi geverf en ek het gedurig geklik en met my digitale kamera kon ek onmiddellik die resultaat sien.

 Vergete is die dae toe mens twee kameras moes hê: een vir swart-wit foto’s en ’n ander een vir kleur. En as jy ’n filmspoeletjie koop was dit òf vir 24 òf vir 36 foto’s en teen die tyd dat jy die knoppie 36 keer gedruk het, het ses maande of selfs ’n jaar al verbygegaan. Nou druk jy daardie knoppie sommer 382 keer binne ’n paar minute en hoop jy iets is darem bruikbaar en dan deur nog ’n druk van ’n knoppie in Photoshop word selfs die simpelste foto skielik ’n meesterstuk en lyk dit soos ’n waterverfskildery of sepia of word dit geretikuleer. Nee, dinge het te maklik geword en nou dwaal ek al klaar af voor ek by my uiteindelike skande uitkom.

Ja, om onverwags in water te beland, kom al van ver af. En nou praat ek van Bloemfontein se Cricketstraat-dae toe ek skaars 8 jaar oud was:

My suster Rea was pas twee jaar tevore gebore – op 8 Mei  1945  – presies 2 minute na die Vredeverklaring na die Tweede Wêreldoorlog.

Ek onthou goed dat die badkamer buite die huis was en dan moes daar nog met hout vuur in die geyser gemaak word om die water uiteindelik warm genoeg te kry om in te kan bad.

Om hierdie omslagtigheid te vermy, het my ma vir Rea snags in ’n bababadjie gebad wat sy langs die dubbelbed staan gemaak het. En nadat Rea gebad en gepoeier was en terug in die baba-bedjie gesit is, was dit tyd vir slaaptyd. Op sulke wintersaande het ek dan sommer tussen my ma en my pa ingekruip. Maar met Rea in haar bedjie was dit eers tyd vir my ma om saggies te bid, en omdat daar nie veel spasie tussen die bad en die bed was waar sy kon kniel nie, het sy sommer kiertsregop daar op die bed langs ons gekniel en dan was ek bewus van ’n sagte gemompel, maar kon g’n enkele woord van haar gebed uitmaak nie.

En toe gebeur dit – na ’n dag van harde werk – want sy het bedags nog vir my pa by sy markagentskap gehelp, raak sy een aand vas aan die slaap gedurende die gebed en val sy bo van die bed af, reg in die bababadjie dat die water so spat.

Gelukkig tog was dit my ma wat ondergedompel is en nie Rea wat uit haar bababed geval het nie, anders kon dinge dalk erger verloop het soos met ’n ander baba van wie ek gelees het:

 

’n Bybie van Bloekombosdal

het doems in ’n pie-pot geval.

     Toe sê sy ma glo:

     “Dit was net H20

en dít was genadiglik al…”

 

Maar, om deesdae te bad, lank na daardie Cricketstraatdae is nou veel makliker. Jy draai die kraan oop en met jou bad-olies of ’n skuimbad met yslike wit borrels wat jou skaamte bedek, kan jy maar daar in die warm water lê en luier totdat jou tone en vingers later soos wit rosyntjies lyk.

Maar nou dwaal ek alweer af.

In die laat sestigerjare het ek in Tamboerskloof in Kaapstad gewoon en in die woonstel bokant my was twee oujongnooi-susters wat gekla het elke keer as ek my musiek te hard speel. Dan moes ek maar die volume sagter draai, maar dit was glad niks in vergelyking met die geluide wat snags uit hulle woonstel, of liewers hulle badkamer gekom het nie.

En was hulle lief vir bad? Ja, elke liewe aand – albei van hulle. En omdat die plumbing nie van die modernste was nie, kon ek elke aand duidelik hoor as die waterkraan oopgedraai word, en die bad vol water geloop het. Die stilte wanneer die kraan toedraai word, en dan skielik, elke liewe aand: vreemde gorrel-dreungeluide van hulle woonstel bokant my tot reg onderkant hier by my, waar ek in die bed lees oor die dieper dinge van die lewe.

Ja, elke liewe aand, soos ’n ander antie van wie ek gelees het:

 

’n Antie van Leeudoringstad

het winde gelos in die bad.

     ’n Magtige dreuning

     geuiter met mening

het water laat borrel en spat.

 

So loop die lewe en twee weke gelede het ek en Peter besluit om vir ’n naweek die Shisa gasteplaas net buite Tulbagh te besoek.

En daar was niks wat my gedwing het om enige iets te doen nie. Ek kon maar net daar op die grasperk lê en lees aan ’n efffens dunnerige maar uiters spannende Karel Schoeman-roman waar daar op bladsy 493  ‘n stoel omval.

En so nou en dan wanneer ek nie meer die spanning kon verdra nie, het ek in die swembad se rigting gestap en op ’n veilige afstand met my digitale kamera foto’s van die wisselende waterrefleksies geneem. Ek het die water maar van ver af beskou, want koue water en ek was nog nooit werklik maats nie.

En wat is daar presies in Tulbagh te doen wanneer jy reeds al die kunswinkeltjies bekyk het, en al die gerestoureerde huise bekyk het, en die huispryse in die huisagent se vensters bekyk het, en die Saronsberg-teater van buite bekyk het met eers twee weke later ’n uitvoering van Ouboet van Orkney Snork Nie se dae as die ster van die aand? Daarom vir ’n bietjie opwinding moet jy jou maar uiteindelik Shoprite toe haas om die kruideniersware met hulle vrolike kleure op die winkelrakke te bekyk.

Ja, as jy Tulbagh eenkeer gesien het, het jy dit gesien.

En wat maak mens in die aand as jy nie meer waterrefleksies kan afneem nie? Swembaddens het altyd ‘n bekoring behalwe vir blindes miskien wat glad niks kan sien nie en vir die blindes wat nie van koue water hou nie is daar ook nie veel plesier nie, soos oor die arme man van Kwazulu-Natal van wie ek gelees het:

 

’n Blinde van Umbogintwini

het nog nooit ’n bikini gesien nie.

     Pleks van kyk, moet hy voel,

     as hy spring in ’n poel.

Hierdie lot het hy glad nie verdien nie.

 

Ewenwel – Dit was Vrydagaand – en skielik kry ons die nuus:

Daar is vanaand ’n Drag Show in Tulbagh en voor die tyd ’n heerlike pastadis spesiaal vir die gaste. In my jong dae in Bloemfontein het ons so dan en wan Stampmotors gehad by die plaaslike skougronde. En ek het êrens in Die Burger se motorbylaag gelees dat Drag Racing deesdae so ’n populêre sport geword het. En dit is baie grênder as stampmotors. Renjaers jaag teen ’n geweldige spoed en van begin tot eindpunt duur dit partykeer slegs ’n paar sekondes.

Toe ons dus vroeg-aand by die huis/restaurant aankom vir die Drag Show was ek aan die begin ’n bietjie onkant gevang. Die gaste was, soos te verstane almal jong mans, met so hier en daar ’n dame tussen-in. En dit het my nogal verbaas hoe gesofistikeerd die Tulbagh Drag racing manne is. Ek het gedink almal sou boepe hê en hulle sou rondstaan en winde opbreek elkeen met ’n Castle of ’n Black Label of ’n glas Dop en Dam in die hand.

Maar ek is gou verkeerd bewys en het besef ‘n mens moenie sommer die gevolgtrekking maak dat die manne hier in Tulbagh agtervelders is nie. Die manne wat daar rondgestaan het, het almal langsteel wynglase vasgehou en dit was net designer outfits en goue kettings waar jy kyk. Dit was Nike en Adidas en Gucci en Calvin Klein en ek met my Mr. Price verbleikte blou jeans en t-hemp het ’n bietjie uit gevoel. Maar miskien het my R5000 kamera wat om my nek gehang het my tog ’n bietjie grênder laat lyk. En in plaas van mekaar aanspreek as Broe of ou Bees het ek my verbeel ek het so nou en dan die woord Darling gehoor, maar dit was maar seker my gehoor, want deesdae, op my hoë ouderdom hoor ek tog so nou en dan allerhande verkeerde goed.

Eenkant was daar ’n soort verhogie met kantgordyne wat vol sequins uitgeborduur was en oor ’n stoel op die verhoog is ’n jakkalsvel-stola gedrapeer, maar die jakkals het ietwat verrineweer gelyk en die een glasoog het seker al jare gelede reeds uitgeval. Toe reken ek dit is seker maar ’n jakkals wat destyds hier in die omgewing deur een van die Drag Racing manne geskiet is.

Die pasta wat in die kombuis bedien is, was glad nie sleg nie, en ek het op ’n plastiekstoel langs die swembad gesit en die weerkaatsings in die water dopgehou, want met die naderende skemer en na ’n paar glase wyn het die ligrefleksies op die swembad se water al hoe interessanter begin word.

Ek sou met een van die jong mans wou praat, maar wat sou dit my in elk geval help – ek weet absoluut niks omtrent motorkarre nie en ’n Uno en ’n BMW lyk vir my maar min of meer dieselfde – dus het ek maar met my kamera op die weerkaatsings gekonsentreer en so nou en dan ’n foto geneem.

My kamera het ongelukkig glad g’n niemand van die jongelinge beïndruk nie. Ek dink hulle het veel laer gekyk en net die Mr. Price jeans raakgesien.

Tog het iemand agter my my op die skouer getik en gevra waarom ek so gefassineerd was met die water. En toe ek omdraai sien ek twee jong dames wat baie wyslik in hierdie warm Wes-Kaapse weer hulle hare taamlik kortgeknip hou. En daar begin ’n onmiddellike vriendskap en ek gesels land en sand oor myself en wys die wonderlike water-foto’s wat ek dié dag geneem het.

Maar terwyl ek nog so foto’s op die digitale skermpie wys, hoor ek ’n gemoduleerde stem van die verhogie se kant af: “Ladies! The Drag Show is about to commence.”

Dit is eers toe dat dit my byval dat daar nie veel plek is vir motors om verby te jaag nie en moes ons almal seker buite na die straat se kant toe om te sien hoe die motormaniake alle Guinness Book of World Records in Tulbagh se strate probeer verbeter.

Maar pleks daarvan dat almal buite toe storm, begin musiek skielik van iewers oorverdowend deur die luidsprekers te blêr. Blêr is seker die verkeerde woord, want dit was sweerlik Joan Sutherland se Casta Diva, maar pleks van ’n jong Sutherland met ’n woeste bos rooi hare en ’n kakebeen soos Tobie Cronjé kom daar ’n  onwulpse, lelike, vet en uiters middeljarige vrou op die verhoog en sy sing en sy sing terwyl die sequin-blinkertjies van haar rok my byna verblind. En soos baie middeljarige dames het hierdie een ook met die jare ’n uiters ongewenste harige bolip begin ontwikkel.

En toe ek omdraai om beter te kan sien, verloor ek my ewewig. Dit was ook nie heeltemal my skuld dat daar nie veel meer as ’n halwe meter spasie tussen my en my nuwe vriende en die swembad was nie.

Ja, dit was die laaste sien van my en my R5000 digitale kamera. Ek het daardie koue water ingeplons met kamera en met my Mr. Price outfit en al.

Joan Sutherland is die verhoog af en nadat iemand my uit die waterdieptes gered het, het ’n jong man my op die rand van die swembad uitgehelp en sommer daar op die plek gewys hoe ordentlik ons jong mense nog kan wees. Hy het sy designer T-shirt uitgetrek en dit aangebied sodat ek my my ’n bietjie kon droogmaak en ’n bietjie waardigheid kon herwin. En terwyl hy my sy hemp aanbied kon ek alleen maar dankie-sê terwyl hy met al sy pragtige tatoeëermerke langs ’n ander jong man gaan plaasneem terwyl ek in die kombuis gaan sit, natter as nat met selfs die water in my skoene wat sjoes-sjoes maak terwyl ek gaan kyk of ek kon red wat daar te redde was.

Om die storie kort te maak. Dit was die einde van my R5000 digitale kamera, en amper van my selfoon ook, maar dié het gelukkig die volgende dag weer begin werk.

Wat help dit om te huil – ’n kamera is deel van my lewe en ek moes toe op Maandag ’n nuwe een aanskaf. Soos die Engelse sê: It doesn’t help crying over spilt milk en dit kon natuurlik veel erger gewees het.

Die Son-koerant kon dalk berig het: VERSIEMAKER SKRIK HOMSELF WATERNAT BY ’N DRAG SHOW of anders kon my lot dieselfde gewees het van ’n omie van wie ek gelees het:

 

Oom Danie van Duren

duik doems in die water

en toe hul hom kry,

was dit sewe dae later.