Posts Tagged ‘Johann Lodewyk Marais gedig’

Johann Lodewyk Marais. Greta Thunberg

Tuesday, May 3rd, 2022

 

            GRETA THUNBERG

 

Die kind is nie stil nie,

die kind sit met ’n plakkaat

SKOLSTREJK FÖR KLIMATET

voor die Sweedse Parlement

 vir die Aarde en lewe.

 

Die kind verhef haar stem

teen die leiers van die wêreld

in die optog van die kinders

deur die strate vir geregtigheid

en die bloed van die spesies.

Die kind is nie stil nie:

 

nóg in Stockholm, nóg in Nairobi,

nóg in New York, nóg in São Paulo,

nóg in Kampala, nóg in Glasgow

waar die kinders uitskreeu.

 

Die kind is die skadu van die heersers

op dreef met fabrieke, damme, kragstasies,

slagplase, snelweë, vliegtuie wat die lug deurkruis;

die kind is teenwoordig by vergaderings en konferensies;

die kind kyk in by die gierige agendas.

 

Sonder ’n jeug.

 

© Johann Lodewyk Marais, 2022

 

Johann Lodewyk Marais. Karkas

Friday, April 22nd, 2022

 

Karkas

Sonnet

 

Nek

Skof

Borsstuk

Kruis

 

Dikrib

Platrib

Primarib

Voorrib

 

Filet

Lende

Binneboud

 

Diklies

Skenkel

Stertstuk

 

© Johann Lodewyk Marais, 2022

 

Johann Lodewyk Marais. Bloedreuk

Friday, April 22nd, 2022

 

Bloedreuk

 

Rustig, Opperman,

op dié vragmotor

wat nie terugdraai

weiveld toe nie.

 

Beweeg stadig af

en volg die gang

met die kurwe –

nou op jou eie.

 

Die propgeweer se slag

sal gou verby wees,

jy buite weste

as die haak jou ophys.

 

Ná die flits van ’n lem

gaan jy leegbloei

voor ons jou stukke

vlymskerp opsny.

 

© Johann Lodewyk Marais, 2022

 

Johann Lodewyk Marais. Slangdans

Tuesday, April 19th, 2022

 

Slangdans

 

Kom, neem my saam na die Fundudzimeer,

omgewe deur die Thuthe Vondowoud

en gevoed deur die Mutalerivier.

 

Neem my na waar die groot, wit krokodil,

die reuseslang, die god van vrugbaarheid,

en die weerlig van die vuurvoël hou.

 

Kom, neem my saam na die Fundudzimeer

met al sy geheimenisse en dans

verruk vir my die domba van die slang.

 

Neem my in hierdie maanverligte nag

wanneer die ngoma tot die ligdag dreun –

breek uit die kronkels tot in my arms.

 

Kom, neem my saam na die Fundudzimeer,

want liefde vir jou is my bestemming

en die misterie van hierdie lewe.

 

© Johann Lodewyk Marais, 2022

 

Johann Lodewyk Marais. Wladimir Poetin

Wednesday, March 23rd, 2022

 

Wladimir Poetin

1952–

 

Die man in die woude van die Ooste

waar vulkane gloei en missiele val,

ry kaalbolyf op ’n Kamchatka-beer;

en in Sochi laat hy sy Labrador

inkom en soos ’n donker skaduwee

die Afgaanse mat oorsteek en soekend

snuffel aan Angela Merkel in swart,

stadig omdraai en doodluiters gaan lê.

Om hulle swerm die joernaliste saam

en kry al hoe meer hond se gedagtes.

 

(2007)

 

Johann Lodewyk Marais. Daphne en Apollo

Wednesday, March 16th, 2022

 

Daphne en Apollo

 

’n Pyl vanaf Platberg het hom getref

en langs die Wilgerivier het ’n nimf

met lang, blonde hare hom meegevoer;

waar die wind die klere teen haar vaswaai

en sy in die lowerruigte versmelt

tot blare, takke en gewortel staan

in die aarde waar hy ’n boom omhels.

 

© Johann Lodewyk Marais, 2022

 

Johann Lodewyk Marais. Klaarfontein

Wednesday, March 9th, 2022

 

Klaarfontein

 

Waar die maan snags op die Wilgerivier

se kronkels en panne blink en denne

in die oostewind suis, kom soek ek jou.

Met ʼn uitsig op Rensburgskop, Nelson’s Kop

en Tandjiesberg hoor ek jou akkoorde,

die klavier bespeel en saam ʼn lied sing.

Op die parketvloer het jy uitgestap

vir een aand in die perdeboer se huis

waar saals en tooms hang, soet geruik

en ons in die loom musiek gewieg het.

Maar nou ontmoet ek jou in die vleiland

langs die rivier, in die koppe en berge –

vlinderwit tussen vergeet-my-nietjies,

in papiersonnetjies van sewejaartjies

in ons geestelike eskarp in die berge

waar jou sielsteenwoordigheid tuis is.

 

            © Johann Lodewyk Marais, 2022

 

Johann Lodewyk Marais. AK-47

Thursday, March 3rd, 2022

 

AK-47

 

Michael Kalashnikov was ’n digter

en in die Groot Patriotiese Oorlog

is hy by die Slag van Brjansk Oblast

in die regterskouer raakgeskiet.

Ná die mopper van gewondes se lot

het hy in sý bed ’n gasgedrewe

aanvalsgeweer bedink wat ligter is.

Van dié uitvindsel bestaan miljoene

oor die wye en droewe wêreld heen –

lig genoeg vir ’n kind om te kan dra

en kragtig genoeg om olifante,

renosters en hope wilde diere

net soos menselewens neer te maai.

Maar die skuld vir die bloed wat vergiet is

en ’n klad op nagedagtenis laat:

Kan ’n digter se verse dit uitwis?

 

© Johann Lodewyk Marais, 2022