Posts Tagged ‘Johann Lodewyk Marais’

Resensie: “Nomade” (Johann Lodewyk Marais)

Monday, January 26th, 2015

 

Nomade deur Johann Lodewyk Marais

[Cordis Trust, 2014; Prys: R150; Formaat: Sagteband; ISBN: 978-0-9870397-8-1]

Resensent: Tom Gouws

Poëtiese taksidermie op sy beste

 

Omslag

Johann Lodewyk Marais beklee ’n nisposisie in die Afrikaanse poësie. Miskien meer as enige ander digter hier te lande dokumenteer hy sy poëties gefokuste ekobewustheid, en in die proses gee hy gestalte aan baie fasette en gee hy poëties beslag aan ’n dikwels onaangeraakte deel van die sosiaal-kulturele én natuurlike geskiedenis van Afrika. Hy het bepaald “afsprake met ’n kontinent”, soos dit in die gedig ‘Worsboom’ verwoord word .

’n Tydjie gelede het pres. Zuma op die ANC se 103de herdenking uitgevaar dat die probleme met die land begin het met die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap, met die implikasie dat die blankes eintlik die begin van Afrika se probleme was. Nie net adem Marais se digbundel dat die blanke “onloënbaar hier aangeland” het (soos Antjie Krog dit sê) nie, hy beroep hom voorts op ’n gemeenskaplike oorsprong van alle mense in dié wieg van die mensdom:

            Al het ek eenkeer saam met ’n groepie

            uit Afrika weggedros, die landbrug

            na ’n ander kontinent oorgesteek

            en die buiteland diep binnegedring,

            kom ek nou weer tuis by die riviere,

            vleie en heuwels van hierdie moeder

            met die chromosome van lank, lank terug.

Die digter as nomade staan dus hier voorop, sy bundel die optekening van die rykdomme  wat hierdie vasteland spesifiek bied, en die gedigte “rou gedagtes” waarin die digter “versink met die noem van die kontinent”. Hy gedenk en verdig “avonturier, sendeling / en soldaat met stoete vorraaddraers”, se reise elk as ’n ‘daad van geloof’ (soos die titel van die gedig dit benoem), soos ook sy eie:

Met my oog op ’n verweerde aardbol

en ruwe kaarte van groot trekroetes

het alles onherstelbaar begin kwyn.

Marais se verkenning van die “verweerde aardbol”, ook ’n titel van sy 1992-digbundel, is welbekend, en ook in hierdie bundel is daar ’n besorgde digtershand wat aan die verweer (in albei betekenisse van die woord) van die natuur probeer beslag gee. Maar soms is ’n gedig helaas bloot “’n koloniale moment” (‘McMillan Memorial Library’), soos byvoorbeeld die onbevredigende gedigte ‘Kaïro’, ‘F.W. de Klerk’, ‘Haile Selassie’, ‘Cecil John Rhodes’, ‘Victoria’, ‘David Livingstone’ en andere. Dis opvallend dat die huldigingsgedigte of (stand)beeldgedigte dikwels die minder bevredigende tekste in die bundel is. Marais se kensketsing van mense is te veel kere anekdoties of episodies, berus op obskure verwysing, en gaan dikwels mank aan die aandoenlike sensitiwiteit wat sy gedigte oor fauna en flora wel demonstreer. Maar toegegee: die ontroerende huldigingsvillanelle vir Nelson Mandela is egter ’n absolute uitsondering:

Jare lank al weier u om te swig
by Mvezo oorkant die Mbashe.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Hier het u voorvaders ’n kraal gestig
en het u u heel eerste tree gegee.
Jare lank al weier u om te swig.

Bedags het u gedroom van stedelig
terwyl u drentel agter spikkelvee.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Ver hiervandaan was iets duisters in sig
toe u leer van mense se bitter wee.
Jare lank al weier u om te swig.

Hulle – mý mense – het u selfs verplig
om na dié te luister wat op u skree.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Toe u uit die donker kom na die lig
het u met ons nasie ’n band gesmee.
Jare lank al weier u om te swig.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Johann Marais se streng taksering in woorde en strak digterlike lyntekeninge is poëtiese taksidermie op sy beste. Kyk byvoorbeeld na die gedig ‘Arabierperd’:

ARABIERPERD

            Equus caballus

Die oorspronklike bloedlyn gaan stellig

terug na die dae van koning Dawid;

‘n perd geliefd deur Abbas Pasja I,

die graaf Rzewuski en Wilfrid Scawen,

en opgekoop deur die lady Anne Blunt.

Die perde van Ibn Saud van Nejd se stoet

moes net vyftien hande hoog wees, niks meer,

en ‘n korter effense hol rug hê

met die dik kanonne van die skene,

en welgesete lugpyp met strotklep

om akkers woestynwind in te adem.

Die breë kop, smaller af na die neus,

fier asof dit lug drink uit ‘n beker,

met die wakker en gevoelige oë,

en die twee ore, spits soos skerp dorings.

Voor- en agterpote met digte been

asof uit suiwer smeedyster gegiet,

die skoon en snaarstyf gedraaide spiere

en ‘n adrette hoef vir harde grond.

Die kort pels is sag, die maanhare lank,

die stertboog van nature perfek hoog.

Die heersende kleur: kastaiing of grys.

In die Sahara se perdestalle

staan in die oggend die buitelyne

van manne in disjdasjas en keffijes,

met saalkomberse oor hulle diere

ter beskutting teen die son en die wind:

die perd wat jy mag ry en moet versorg

soos deur Mohammed aan jou toegewys.

            Koran XIV: 16:8

Die begrip ‘nomade’ het sterk metaforiese ontginningsmoontlikhede. Hierdie woord verwys na die trekkende, pastorale bestaanswyse van bepaalde volkere of groeperings. Hul beweeg-rede, letterlik en figuurlik, word gerig deur voedselvoorsiening (dikwels die beskikbaarheid van diere om gejag te word), of dikteer deur klimaatsomstandighede en seisoene (vir planting), of die meer moderne nomade, wat vir die lewering van ’n bepaalde diens aan andere noodwendig moet rondtrek. Min hiervan ontgin Marais egter as potensiële onderwerpe – hy verwys hoogstens op die oppervlak daarna. Dis ’n jammerte, want dit sou die eenselwigheid van die digtersaanbod verbreek en vir die bundel groter wins kon bring.

Marais se klem val op enkel gegewens wat hy poëties verdig. Dit is baie soos die lyntekeninge van Lynette ten Krooden wat in die bundel afgedruk is – skerp buitelyne, maar nie altyd met reliëf, diepgang en dimensie nie, dikwels blote vinjette. Die waarneming van die digter val jou op, en die versigtige en sober aanbod, met net af en toe ’n suggestie van meer filosofiese of simboliese diepgang. Die “sinsbedrog van woorde” ontbreek egter grootliks, en dit is asof die meeste gedigte bloot vassteek in óf ’n waarneming, óf ’n doodgewone narratiewe gegewe wat in versreëls oorvertel word, óf die oorsigtelike kensketsing van ’n persoon/gebeurtenis/plek.  ’n Gedig soos  ‘Lamu se katte’ (sien Jack Couffer se boek: The Cats of Lamu), ten spyte van die ryk konteks waaruit die gedig gesprokkel is, bied nét te min uitdaging om as teks te boei:

LAMU SE KATTE

Tydens koningin Hatsjepsoet
van Egipte se kort bewind
het skepe van die Rooi See af
tot by dié argipel gevaar.

Ewebeelde van Bastet: kompleet
met lang bene, spits gesigte,
slanke lywe, van stert tot snoet,
reis op die vroeë vaarte saam.

Die Profeet was lief vir hulle,
katte voor oop deure, in steë,
of die koelte van ’n moskee,
die nakroos van die eerste kat.

Tog bied die digbundel deurlopend ’n tipe kode aan wat dui daarop dat die woorde in die gedig nie soseer net as woorde gesien moet word nie, maar as saad gesien moet word, byvoorbeeld in die gedig ‘Kremetart’

sien ek die ovaal vrugte oopgebreek

en ’n hand vol pitte soos die woorde

van ’n gedig in my kaart toegevou.

Alhoewel “die saad in goeie aarde geval” (‘Wonderboom’) het in die bundel se ryk veengrond, val dit dikwels egter “tussen klippe en dorings” (‘Hypatia’), en vat dit dalk ’n tyd om as gedigte in die leser se dromende denke te ontkiem, en miskien gebeur dit nooit.

In die knap gedig ‘Nelspruit’ word hierdie ars poëtikale siening van die digter dit besonder mooi poëties verwoord:

Al hierdie swoel dae wat ons deurdink,

word soos die pitte van ’n botterklapper

op ’n mrabaraba-bord rondgeskuif

tot één hand alles mooi kan kleinkry.

Dan dwing ons terug na soeter woorde,

dié wat spruit uit wyshede en ontroer.

Maar die hoop beskaam nie, want die digter se vertroue is in die saadwaarde van die woorde:

Deur al die eons heen het baie tyd

verlore geraak (’n rare begrip!)

en dimensies van bestaan het verdwyn.

Maar die stoflike neerslag duur.

Water en ’n sirkel sal nie weet nie

en die vrugbaarste sade het geheel

en al onopgemerk begin ontkiem.

’n Interessante kenmerk van die digbundel is ’n klompie gedigte wat aanvly tot Islam, miskien noodwendig omdat dié godsdiens en ideologie ’n bepalende stem in Afrika is. Dit verruim op sigself ’n tematiese register van Afrikaans wat erg afgeskeep word, en is ’n welkome toevoeging tot ons geskakeerde digkuns.

Die oeuvre van Johann Lodewyk Marais as literêre nomade bied veel stof tot interessante navorsing. Lees opnuut sy oeuvre byvoorbeeld in die lig van Katharine N. Harrington se uitspraak: “nomadism also implies a new perspective with regards to borders, both real and imaginary. In fact, nomadism, as a postmodern style of thinking, encourages individuals to reconsider rigid definitions of borders.” (in Writing the Nomadic Experience in Contemporary Francophone Literature, p. 4). Daar is steeds ook verkennende navorsing nodig rondom die neerslag van die filosoof J.H. van den Berg se kensketsing van metabletika, soos ek indertyd in my resensie van sy 1989-bundel ‘By die dinge’ genoem het.

En dan: die N.P. van Wyk Louw- en D.J. Opperman-spore wat Marais naloop in hierdie bundel, veral die inspeel op laasgenoemde se ongepubliseerde laaste bundel: Sonklong oor Afrika (wat egter wel as faksimilee-uitgawe verskyn het), is ’n ondersoek werd. Soms is die verwysings te ooglopend eksplisiet en effe pretensieus (soos met “Dr. Opperman, neem ek aan?”), maar dikwels is dit vernuftig verhul, soos in ‘Hamerkop by Dunga’ en in die manjifieke sluitgedig van die bundel, ‘’n Lewe’, waar die amper terloopse verwysing na dennebolle ’n hele Opperman-leefwêreld aktiveer. Op sy beste gee Marais beslag aan die palimses-konsep van intertekstualiteit op ’n besonder vindingryke wyse, met ’n duidelike natrap op Derrida se idee van spore.

Ten slotte: Wat ’n lieflike bundel om in die hand te hou! Cordis Trust het met die verloop van net ’n paar jaar met puik publikasies ’n sterk meesprekende stem in die Afrikaanse letterkundesisteem geword. Die kwaliteit van hierdie bundel, ook die pragtige drieluik debuutbundels van Mellet Moll wat pas deur Cordis Trust gepubliseer is, is ’n ryk en welkome toevoeging tot ons literatuur.

(c) Tom Gouws / Januarie 2015

 

Onderhoud met Johann Lodewyk Marais

Sunday, December 7th, 2014

“Oh, my word!”

en die magiese tyd van die gedig

Christa Morrison in gesprek met Johann Lodewyk Marais

***

CM: Johann, dankie dat ek met jou ’n gesprek mag voer oor jou nuutste en negende digbundel, Nomade (2014). Geluk met ’n pragboek wat goed gestalte gee aan die kort tree tussen lewe en dood – en die grootte en grootsheid van Afrika.

Ek het jou drie jaar gelede op Facebook begin raaklees. Jou naam was vir my bekend, het ’n klokkie gelui dat jy ’n “wetenskapdigter” is. Te danke aan sosiale media kon ek meer van jou werk onder oë neem voordat ek die bundels fisies in my hande kon kry. Nadat ek nou al jou bundels noukeurig gelees het, het ek egter besluit jy is ’n “ondersoekende digter”. Jy doen tot ’n groot mate wat ondersoekende joernaliste doen, maar verpak die storie, die feite, die openbaring, in digvorm.

Die indrukwekkende visuele voorblaaie van jou bundels het my dadelik opgeval. Met Nomade het jy dit ’n stap verder geneem met Lynette ten Krooden se tekeninge wat die digbundel soos ’n reisalbum met vere, foto’s en sketse verryk.

Waarom dié besluit?

JLM: Christa, ons eerste gesprekke het inderdaad op Facebook begin, en ek waardeer die geleentheid om met jou oor Nomade te gesels. Baie van die gedigte in sowel In die bloute (2012) as Nomade het op sosiale media verskyn, en jy het meermale waardevolle en meelewende kommentaar gelewer. Ek waardeer ook jou hulp met die afronding van Nomade se manuskrip.

Een van die voorregte wat ek tot dusver gehad het, was om visuele kunstenaars persoonlik te leer ken. In my matriekjaar het Terence McCaw (1913–1978) op Harrismith uitgestal, en ek het ’n bespreking vir die Harrismith Chronicle geskryf. Dit was my eerste kennismaking met ’n voorste kunstenaar asook my eerste gepubliseerde artikel. Later het ek heelparty kunstenaars ontmoet, en van hulle het tot my publikasies bygedra. John Clarke, Annette Pretorius, Iaan Bekker (wat die Suid-Afrikaanse landswapen ontwerp het), Daniël du Plessis, Jo Roos en Lynette ten Krooden het kunswerke gemaak wat op die omslae van my boeke en/of op plakkate gebruik is om belangrike gebeurtenisse bekend te stel. In 2013 het Jaco Sieberhagen na aanleiding van enkele van my gedigte vier beeldhouwerke vir die Innibos Nasionale Kunstefees in Nelspruit gemaak.

Aangesien Lynette self baie reis en die Arabiese Skiereiland en fasette van lewe langs die Ooskus van Afrika goed ken, was sy die ideale persoon om saam met my te werk aan Nomade waarin verskillende ervarings van Afrika ter sprake kom. Sy het altesaam 45 tekeninge gemaak wat in die bundel opgeneem is en ’n waardevolle visuele dimensie toevoeg. Ek dink daaraan as visuele kanttekeninge en is baie ingenome met die eindproduk.

Met die motto van die Poolse joernalis en reisskrywer Ryszard Kapuściński voor in jou bundel verklaar jy jou sigbare belangstelling en liefde vir reis, filosofie en geskiedenis. Die deeglike oorweging, observasie en optekening van lewe oor tyd is essensieel menslik, maar dis ’n blote weergawe van die werklikheid. Hoe bring jy dit by digkuns en jou aandeel daarin uit?

Omslag

Filosofie was een van my hoofvakke by die Universiteit van Pretoria, en verlede jaar hert ek ’n D.Phil.-graad in Geskiedenis oor internasionale reisliteratuur oor Kenia sedert onafhanklikheid in 1963 verwerf. Formele studie het my met verskillende kennisvelde laat kennis maak en my perspektief op die Westerse metafisika en die geskiedenis van Afrika verdiep. Hierdie blootstelling het my verryk en vind neerslag in my skeppende werk. Ek het al baie vertel hoe groot die invloed van die Duitse filosoof Martin Heidegger (1889–1976) op my is; asook die kontinentale filosofie van die afgelope eeu of twee. Die spore daarvan kan in my gedigte gesien word. Mettertyd het die behoefte ontstaan om meer oor die geskiedenis van Afrika te wete te kom en formele studie in hierdie verband te doen. Ek was meer as tien jaar lank met die geskiedenis van Afrika en in die besonder Mosambiek en Kenia besig. Dit is onvermydelik dat gebeure en figure in Afrika ’n rol in my werk sal speel. Dit was al in Diorama (2010) merkbaar. Geskiedenis het my gehelp om ’n sterker historiese bewussyn te ontwikkel en onderwerpe voorsien om oor te kan skryf.

Ek wil graag iets sê oor hoe ek die rol van die geskiedenis in my werk sien. Die geskiedkundige Arthur Marwick lê in The new nature of history: Knowledge, evidence, language (2001) klem op die wyse waarop romanskrywers, digters en dramaturge taal op ’n ander manier as geskiedkundiges gebruik. Van skeppende skrywers word verwag om die dubbelsinnighede en resonansies van taal te ontgin en om selfs die ingewings van die onbewuste, wat nie altyd logies in woorde uitgedruk kan word nie, te verwoord. Geskiedkundiges, daarenteen, moet hulle bevindings so helder en duidelik moontlik aan die leser oordra.

Vandag word aanvaar dat geskiedskrywing in ’n verskeidenheid literêre vorme tot uitdrukking kom. Die groot verskeidenheid onderwerpe waaroor geskiedkundiges skryf, is een van die redes vir hierdie magdom vorme. Wat geskiedkundiges en skeppende skrywers veral met mekaar gemeen het, is die rol wat beskrywing en vertelling in hulle werke speel.

Dit is vir my ’n uitdaging om op die koppelvlak (of “interface”) tussen literatuur en ander kennisvelde (dit sluit die natuurwetenskappe, die filosofie en die geskiedenis in) gedigte te skryf.

Met die titel en Deel I van die bundel het ek myself reggemaak vir ’n reis, rondtrekkend, kruis en dwars, in jou gedagtes, my gedagtes en oor Afrika. Digkuns kan mos gelukkig raak waar hande nie kan nie; dit kan jou neem waar voete nie kan nie. Met hart en verstand het ek jou woorde stap vir stap gevolg die verlede in, saam na jou begin – ons begin – in Suid-Afrika en verder deur Afrika. Dis nie stof wat van jou voete geskud kan word nie, en jy verwoord dit in treffende beelde waarby ek groot aanklank vind, maar waarom die droewige stemming/toon in “Sonnewende” en die woorde “Ons is kinders van dié wye en droewe land” in hierdie gedig?

Sonnewende” is oorspronklik as ’n opdraggedig by geleentheid van die digter en dramaturg Adam Small se tagtigste verjaardag geskryf. Ek het die gedig die eerste keer tydens Versindaba 2011 op Stellenbosch voorgelees. Dit is saam met ander geleentheidsgedigte in die bundel Vir Adam (2011) opgeneem. Ek en Small verjaar albei op 21 Desember, die dag van die sonnewende, en ek het iets van hierdie interessante toevalligheid probeer maak. Vir my is my verjaardag van besondere betekenis omdat dit in die hart van die somer is. Aangesien Small so ’n groot bewondering vir N.P. van Wyk Louw se werk het en ’n keur van sy gedigte in Oh wide and sad land (1975) gepubliseer het, het ek dit gepas gevind om by die woorde in Louw se “O wye en droewe land”, vir my een van die aangrypendste gedigte in Afrikaans, aan te sluit. Ek probeer om met hierdie woorde van Louw iets te sê in verband met sy politieke idees waarby Small sterk aanklank gevind het.

Ek merk dat jou verjaardag op die grens tussen die boogskutter en steenbok val – hoe dink jy aan die rolle van, en die grens tussen, jagter en prooi (à al “Sonnewende”)?

Ek was van jongs af daarvan bewus dat ek op die grens tussen twee sterretekens gebore is en daar dus minstens vermoedelik konflik tussen die jagter en die prooi en ook in my lewe sal wees. Uit ’n omgewingsperspektief gesien, is die mens minstens voorlopig die mees dominante spesie wat in ’n stryd met ander lewe op aarde gewikkel is. Ek kom uit ’n deel van die Vrystaat waar baie gejag is en mense ’n groot liefde vir gewere gehad het. Ek kan iets van daardie passie as baie kenmerkend van die mens se aard as jagter en versamelaar verstaan, maar talle spesies en groot dele van lewe op aarde word die slagoffers van die mens as jagter en vernietiger. Ek probeer veral sedert Verweerde aardbol (1992) om ’n bydrae tot hierdie gesprek te lewer.

Jou liefde vir die natuur kom sterk na vore in Deel II en III wat plante en diere as onderwerpe het, maar temas wat ’n mens veel wyer as dit laat reis die verlede in. Ek verstom my aan die lae van tyd wat ’n mens in poësie kan ontgin en hoe dit met tyd verander en vermeerder. Dink byvoorbeeld aan die tyd wat jy as digter kies om vir my te skets, die tyd waartydens jy dit gedoen het, die tye wat jou beïnvloed het, die tyd wat ek dit lees en hoe dit vir my sal verskil as ek dit weer lees – op ’n ander tyd. Hoe lesers dit tydens jou leeftyd en lank, lank daarna kan lees. Dit alles saam vorm die swart inkpunte van die skets wat jou gedigte en bundels is; saam vorm dit ’n prentjie wat oor tyd en tydsgrense ontvang word en kan verander. Ek kry ’n gevoel van oordenking in hierdie bundel – hoe sal jy jou belewing van tyd in hierdie fase van jou lewe bestempel?

Jy maak interessante opmerkings oor tyd in gedigte. Ek is baie bewus van verskillende tydperke as lae van die geskiedenis in my bestaan, wat sedert Palimpses (1987) duidelik moes gewees het. Deur terug te probeer kyk na die vroeë hominide (soos in die gedig “Oorsprong”), probeer ek om die panoramiese diepte van my werk te verbreed. Dit is egter die tyd en figure sedert Europese kolonialisme wat die meeste aandag in my onlangse werk en in Nomade kry. Vir die geskiedkundige Ernst Bloch, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog gefusilleer is, was dit belangrik vir werklike insig in die geskiedenis om tydperke en objekte in samehang met mekaar te sien. Om veranderinge in die hede te verstaan, moet die oorsake daarvan in die verlede gesoek en die politieke gebeurtenisse deur ’n begrip van ekonomiese, sosiale en kulturele geskiedenis onderskraag word. My gedigte probeer om ’n geskakeerde beeld van die kontinent en my bestaan hier te gee. Om dit te kan doen, betrek ek verskillende tydperke in my eie lewe, wat van my enigsins geïsoleerde landelike bestaan op ’n plaas (kyk die gedig “’n Lewe”) tot die wyer wêreld van die reisiger en die nomade in hierdie bundel uitgekring het. In die geslaagde gedig is daar moontlik magiese tyd ter sprake (kyk “Voortgang”): daardie unieke wêreld met sy eie buro van standaarde en tydruimtelike ratwerk wat die poësie in werking stel.

Deel IV stel my voor aan fassinerende reisgenote. Jou keuse van min of meer woorde sê op hul eie natuurlik ook baie. En dan is daar stilte. Poësie word gewoonlik in stilte gebore en ontvang. As ek in die stilte van jou bundel begin spook, watter figure sou ek kon vind wat jy besluit het om nié in te sluit nie, en waarom?

Jou vraag kan my daartoe verlei om met baie “names dropping” vorendag te kom. Daar is natuurlik fassinerende figure waaroor ek beslis sou kon skryf, maar tog nie by uitgekom het nie omdat ek nie die regte invalshoek gekry het nie of nie genoeg moeite gedoen het nie om voor ’n tuiste binne die kort bestek van hierdie bundel te kry nie. Dit is ook ’n ordeningsbeginsel van my wanneer ek aan ’n bundel werk om net ’n sekere aantal gedigte oor ’n onderwerp te skryf. Nietemin, ek sou gedigte oor die Egiptiese koningin Kloepatra VII, die ontdekkingsreisiger sir Henry Morton Stanley, die Namaleier Hendrik Witbooi, die Britse eerste minister Harold MacMillan, president Léopold Sédar Sengor van Senegal, die Keniase presidente Jomo Kenyatta en Daniel arap Moi, die ontdekkingsreisiger sir Wilfred Thesiger en president Robert Mugabe van Zimbabwe in die bundel kon opneem. Elkeen van hulle het ’n unieke rol in die geskiedenis van Afrika gespeel, en oor die meeste van hulle het ek al iets in klad.

Ek wil jou gelukwens met jou gedig “Nelson Mandela”, wat in die onlangse matriekeindeksamenvraestel verskyn het. Jou kinderlike verbasing op Facebook was een van my hoogtepunte. Akademici en literêre skrywers kom maklik formeel en stug oor, jou liefde vir jambiese pentameter skep ook so atmosfeer, maar jou “Oh, my word!” en menslikheid wat ek gereeld op sosiale media raakloop, laat my met sagte oë na jou as medemens kyk – en natuurlik twee keer na alles wat jy skryf. Vertel my meer van die F.W. de Klerk-gedig – dit staan sterk op die bene van N.P. van Wyk Louw, waarom het jy besluit om hom so uit te lig?

Ek is verheug oor die positiewe terugvoer wat ek oor my gedig oor Mandela gekry het sedert ek dit by geleentheid van sy negentigste verjaardag geskryf het. Vir my is die gedig ’n bevestiging van die geloof wat ek in dié besondere mens en staatsman as ’n hoeksteen vir ’n vreedsame toekoms vir al die mense van Suid-Afrika het. Die gedig oor F.W. de Klerk gee erkenning aan De Klerk se rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en omdat hy tydens sy Nobelprystoespraak op 10 Desember 1993 in Oslo in Noorweë aan die einde ’n gedeelte van Louw se “O wye en droewe land” aangehaal het. N.P. van Wyk Louw is ongetwyfeld die grootste digter wat Suid-Afrika in enige taal opgelewer het, en hy sou ’n waardige wenner van die Nobelprys vir Literatuur kon gewees het. Ek is bly De Klerk het op hierdie manier aan hom erkenning gegee en bowendien van die roerendste woorde oor hierdie land “onder die suidersterre” daar aangehaal.

Deel V en VI bevat van my gunstelinggedigte met stories wat my meevoer en besondere beskrywende woorde soos “meerminbeursie” en “lampskulp”. Ek het elkeen daarvan vir my kinders gelees, en nou wil ons met mag en mening ook self na daardie Afrikabestemmings reis. Lynette se sketse het ons verder nuuskierig gemaak. Die gedig “Dhow-wedvaart” speel steeds soos ’n lied in my gedagtes.

Weer eens is dit die afwesigheid van woorde wat jy sterk gebruik in die gedig “Kaïro”. Hoe wonderlik dat my verbeelding as leser joune as digter op so stil plek kan ontmoet. Is dit ’n persoonlike styl of eienskap van jou om minder te sê oor dit wat vir jou meer belangrik is?

Dit is vir my belangrik om van suggestie asook van stiltes tussen die woorde gebruik te maak. Daarom vermy ek meermale half onbewustelik klinkende slotte en/of slotte wat die voorafgaande suggestie te maklik sal ophef of relativeer. Natuurlik probeer ek so ekonomies moontlik met woorde omgaan en moet ek soms lank vir die regte woord soek. Party gedigte lê jare lank in my laai wagtend op die regte adjektief of genoeg lettergrepe in ’n versreël (sic). Daarenteen is daar ongetwyfeld ’n sterk narratiewe element in my werk (onthou, ek het twee proefskrifte oor prosa-onderwerpe geskryf!), wat sedert Palimpses by my aanwesig is en by hedendaagse tendense in die poësie aansluit (dink maar aan die werk van digters soos Charl-Pierre Naudé en Danie Marais).

Nog iets wat my in jou werk opval, is die gebruik van Engelse titels vir baie van jou gedigte. Waarom?

Gewoonlik is daar in die Engelse titels verwysings na tekste of konsepte waarmee ek in gesprek tree, en ek aktiveer dus doelbewus so ’n gesprek. Ek verkies ook om die Engelse name te gebruik van byvoorbeeld die “Bird Hall” van die “Nairobi National Museum” om iets van die outentieke ervaring en/of milieu te skep. Hopelik dra hierdie gebruik daartoe by om die koloniale en/of postkoloniale sfere te suggereer wat ek probeer oproep. Ek hou daarvan om iets by die naam te noem.

Deel VII laat my soos ’n toeris voel; ek verken en verwonder my aan mense, vreemde voorwerpe en artefakte in museums en op markte. Die reisgogga het jou duidelik behoorlik gebyt. Elke gedig van jou is soos ’n winkel waar mens reisboeke, verkykers, kaarte en mikroskope kan vind – as jy begin deurblaai, met jou vinger volg en kyk, sien en ruik, vergeet jy dis die digter se ervaring, want dit voel of dit jy is wat daar reis, met jou voorvinger wys: kyk hier; kyk daar; hoor jy dit?; ruik jy dit?; proe net hier.

Maak jy doelbewus gebruik van intertekstualiteit en woorde eie aan ’n spesifieke omgewing, vreemde plek- en mensname om jou leser op ’n ondersoekende ontdekkingstog te neem? Ek vind gereeld dat jy my laat google vir meer inligting, of is dit soos jy in jou vorige antwoord noem, bloot jou liefde om iets by die naam te noem?

Kliek om te vergroot.

Reis was die onderwerp van my studie oor Kenia; asook in Lae wolke oor Mosambiek: ’n Reisboek (2003). Ek probeer om oor ervarings te skryf wat ek op verskillende plekke gehad het, terwyl perspektiewe deur leeswerk aangevul word. My belangstelling in reis neem verskillende vorme aan. Natuurlik is daar in die eerste instansie die opwinding om ’n nuwe land, stad, dorp, rivier of berg die eerste keer te sien. Ek het Afrikastede soos Windhoek, Maseru, Francistown, Bulawayo, Maputo, Nairobi, Mombasa, Kisumu, Douala en Bangui fassinerend gevind; ook die verskeidenheid landskappe, vergesigte en stemmings wat daarmee gepaard gaan. Om aan my reisbelewenisse uitdrukking te gee, het ek ’n akademiese studie en artikels, populêre artikels en gedigte geskryf, baie foto’s geneem en onderhoude opgeneem. Taal speel ’n groot rol in die representasie van die uiteenlopende belewenisse. In my Afrikaanse gedigte oor byvoorbeeld die Swahilikus van Kenia het ek moeite gedoen om woorde uit daardie kulturele en maritieme kontekste te gebruik en selfs in te smokkel, wat die leser iets van ’n gevoel vir my eie oorspronklike ervarings kan gee. Dié skryf is tewens ’n poging om my herinneringe so goed moontlik weer te gee. In my gedigte oor Mombasa, Malindi en Lamu het ek dit dalk reggekry.

In Deel VIII kom jy weer tuis – ’n sirkel word voltooi. In jou laaste gedig is daar verwysings na van jou vroeëre gedigte, en hier vind ek weer die stemming/toon verander in die bundel; erns, oordenking, die afsluiting van iets. Het hierdie bundel ’n duidelike begin en einde? Kan enige gedig of storie ’n duidelike begin of einde hê? Of reis ons altyd weer? Heen en weer? Lewenslank lid van ’n nomade?

Die gedig “Skeurklip” het ek geskryf na aanleiding van ’n droom, naamlik dat ek gekyk het hoedat ’n ganse berg voor my in duie begin stort en hoe ek vir ’n gesprekgenoot na aan my daarvan probeer vertel en daardeur onaangeraak gebly het. Die droom het onmiddellik groot simboliese betekenis vir my gehad en ek het dit net so in die gedig weergegee. In die gedig “’n Lewe” is daar toespelings op van my vroeë gedigte om ’n mosaïek van my lewe daar te stel. Hierdie gedig neem my terug na my grootwordjare en belangrike/nietige dinge wat oor my pad gekom het. Aan die einde van die gedig is daar ’n gevoel van ontnugtering oor die bestaan in, ja seker, die “wye en droewe land”. Ek haal graag die laaste dertien reëls aan:

 

In ’n klipskooltjie het ek op ’n lei

onseker syfers en letters leer maak:

in die klaarte en digtheid van syfers

en die sinsbedrog van woorde verdwaal.

Die wind het oor die berge opgesteek

en om Skeurklip, Pelaan en Hlomisa

gehuil en kilte en verdriet gebring.

’n Reis het begin na ander plekke,

oorkant hierdie berge, waar die wolke

laatmiddag soos aandblomme verskyn.

Met my oog op ’n verweerde aardbol

en ruwe kaarte van groot trekroetes

het alles onherstelbaar begin kwyn.

Min gedigte wat ek al geskryf het, het my gedagtes so besig gehou soos hierdie een. Die skryf van hierdie gedig, om uiteindelik sover te kon en moes gekom het om so ’n gedig te skryf, het nie sonder groot wroeging gepaard gegaan nie. Die pad wat ek sedert my grootwordjare op die plaas geloop het en wat die tema van my tweede bundel, Palimpses, en heelparty gedigte daarna was, was ’n lang een. My nomadiese oomblikke het weliswaar vir heelwat fassinerende poëtiese momente gesorg.

Maar jy het ook gevra of hierdie bundel of my gedigte ’n duidelike begin en/of einde het. In ’n sekere sin het al my bundels ’n duidelike begin en einde. Die rede daarvoor is natuurlik dat ek aandag aan die volgorde van gedigte en die eenheid van my bundels gee. Dit is een van die grootste hoofbrekings waarmee ek te doen het wanneer ek ’n bundel moet afrond. In Nomade word ’n nomadiese reis onderneem, wat in die openingsgedig, “Oorsprong”, die siening van Stephen Oppenheimer in Out of Africa’s Eden: The peopling of the world (2003) eggo dat een groep mense Afrika meer as 70 000 jaar gelede Afrika verlaat en al langs die Arabiese kus na die Arabiese Golf beweeg het, waar hulle die eerste groep mense geword het wat Europa baie later sou koloniseer. Volgens Oppenheimer het elke mens wat vandag lewe die mitokondriale DNA (mtDNA) van ’n vrou wat meer as 150 000 jaar of 10 000 generasies gelede in Afrika gelewe het en in my gedigte kom ek as Afrikaan “nou weer tuis by […]/[…] hierdie moeder/ met die chromosome van lank, lank terug”. Ek dink die reise in my werk het nie ’n duidelike begin en einde nie en dat daar sprake van voortdurende beweging, verandering en nomadiese hunkering is. Op dié manier is ek dalk wél met ondersoekwerk besig, soos jy aan die begin van die onderhoud gesê het.

Die Britse reisskrywer John Feltham het St. Augustinus so aangehaal: “[G]reat advantages of travelling, [he] says, [is] that the world is a great book, and none study this book so much as a traveller. They that never stir from their home read only one page of this book.” Ek dink dis ’n goeie beeld, behalwe dat ek glo dat dit meer as een boek is. Kyk maar na Nomade: Jou aanspraak op die onmiddellike in elke vers roep inherent iets op van veel ouer, ’n herinnering of ervaring gebind aan emosies soos nostalgie, interessante dinge wat jy raakgeloop, gesien, gelees, gehoor en ervaar het. Al die geografiese, geskiedkundige, wetenskaplike verwysings, die semantiese inhoud én agtergrond, is in totaal veel meer as net die beskrywing van dit wat ’n mens byvoorbeeld in ’n foto kan sien.

Johann, weer eens baie dankie vir hierdie reis waarop jy my oneindig neem. Mag ek jou asseblief vra om die gedig in Nomade wat die diepste spore in jóú hart trap te kies en hier te deel, en as afsluiting kortliks te vertel wat nou vóór jou op jou skrywerspad wag.

Ek is lank reeds geïnteresseerd in die kremetartboom en het moeite gedoen om in Afrika agter hulle aan te ry. In die gedig, “Kremetart”, probeer ek iets hiervan vertel. Die gedig vervang nie die monografie wat ek nog graag oor hierdie besondere boom sou wou skryf en waarvoor ek selfs al in Kew in Londen navorsing gedoen het nie, maar iets van my band met die boom en die reisgeleenthede wat so ’n obsessie my bied, word hopelik in die gedig weergegee:

 

KREMETART

Adansonia digitata

Met G.E. Wickens se kaart op my knie

soek ek die kremetarte ver en wyd

– van die Laeveld tot in die Sahel,

van die Caprivi tot by Mombasa –

en verkyk my aan hulle voorkome.

Ver suid onder die boom van Tshokwane

maak ek ’n ligte merkie op die kaart

en nog ’n paar tot langs die Luvuvhu.

By Sagole kom ek al slingerend

deur die dik rooi riviersand aangery,

in die toiletboom van die Caprivi

maak ek broek los, op Kukonje-eiland

kyk ek na ’n uil hoog in die takke,

in Mombasa sien ek laat in die aand

hoe mense ná die roep van die muedzin

verby die boom in Nkrumahweg loop,

hoe wortels by die Takwaruïnes

tussen die grafte in dwing en bemerk

die bome al langs The Lunatic Line.

By die Victoriameer gesels ek

met die gids in koeltes van ’n kolos,

van Timboektoe na Dakar oefen ek

aan nuwe name (“hamao”, “oro”

en “calebassier du Sénégal”)

en op ’n Vrydagmark in Kaïro

sien ek die ovaal vrugte oopgebreek

en ’n hand vol pitte soos die woorde

van ’n gedig in my kaart toegevou.

 

Mense wat my aktiwiteite op die sosiale media en die Internet dophou, sal weet dat ek tans aan ’n klompie gedigte oor insekte werk. Die gedagte is om uiteindelik ’n bundel daaroor te publiseer. Op jou aanbeveling het ek ook daaraan begin dink om ’n lang, moontlik epiese, gedig te skryf. Die digter D.J. Opperman het altyd gesê ’n mens moenie lol met koek in die oond nie en om daardie rede wil ek nie te veel kombuisgeheime uitlap nie. Kortom, ek voorsien dat ek nog meer gedigte oor hierdie fassinerende kontinent (en die fauna en flora!) sal skryf wat klaarblyklik my lotsbestemming is, maar ek sal ook ander wêrelde en ervarings wil betrek.

Die kamer van die poësie het baie wonings en ek wil my horisonne verbreed. Jy het my nie verniet verder met die werk van digters soos Margaret Atwood en Robert Kroetsch laat kennis maak nie. Die inspirasie vir my werk sal in elk geval nie net uit Afrika kom nie. Ek is opgewonde oor die moontlikhede om verder in ’n globaliserende wêreld te lewe en te funksioneer. Die media wat toenemend tot die inhoudskepper se beskikking is, sal waarskynlik ook my oeuvre help bepaal.

Christa, baie dankie vir die stimulerende vrae. Ek sien uit daarna om ons gesprek op sosiale media voort te sit.

 

***

Christa Morrison het aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer, waar sy ’n M.Phil. (Wetenskap en Tegnologie)-graad in Joernalistiek behaal het. Sedertdien het sy in Botswana en in Toronto in Kanada gewoon. Tans spesialiseer sy daarin om nuusorganisasies, joernaliste en inhoudskeppers te help om vaardighede te verwerf om strategiese eietydse multimedia-inhoud te skep en effektief te versprei – in pas met ontluikende tegnologie en verbruikersgedrag. Sy bied ook kursusse in entrepreneurskap vir joernaliste aan. Sy is ’n dosent aan die Sheridan Institute of Technology and Advanced Learning in Toronto. Gedurende 2014 het sy as gasdosent by die Institute for the Advancement of Journalism in Johannesburg, die Departement Joernalistiek van die Universiteit Stellenbosch en Media24 in Kaapstad opgetree. Morrison het ’n wye belangstelling in wetenskap, tegnologie en verskillende kunsvorme. Sy neem onder meer deel aan gesprekke oor poësie en visuele kuns in die groter Toronto area en op sosiale media.

 

(c) Christa Morrison / Desember 2014

 

Wicus Luwes. Ode aan ‘n Souttekort

Saturday, November 29th, 2014

 

Hierdie tyd van die jaar begin die souttekorte erg deurslaan. Dis veral die binnelanders, wat deur skoolvakansies vasgepen word, wat dit die ergste voel. Hulle kan al die Groot Dam ruik. Hulle kan al die meeue en raserige branders hoor. Hulle kan al die growwe sand onder hul tone voel (al hou hulle nie van sand nie). Die Dam se water bring genesing vir klein snytjies wat ander medisyne nie kan heel nie.

Ek wonder waarin die helende effek van die Groot Dam lê. Miskien is dit die afskakel van die normale dagtake. Dit is moontlik soos die rustigheid van ‘n ouer se asemhaling op ‘n klein kindjie – daardie oerritmes van die kosmos wat die maan en die sterre deur eb- en springgety vir ons kom openbaar. Dit is moontlik die ironie dat water, wat ons dors normaalweg les, ons eerder dors kan maak.

“Wit is the salt of conversation, not the food.”
– William Hazlitt

Deel van die resep, maar nie bo die dis verhewe nie. Sout is deel van ons dieët, maar die regte hoeveelhede is soos met enigiets die belangrikste deel daarvan. Jy kan altyd sout byvoeg, maar as jy eers te veel sout bygevoeg het, is dit moeilik om die dis weer eetbaar te maak. ‘n Groepie vriende smul by geleentheid aan ‘n heerlike dis en begin redeneer oor wat alles in die dis kan wees.
“Ek dink ek proe origanum,” sê die een gas.
“Miskien baie fyn gesnyde sampioene?” raai die volgende.
Die gasheer het geknik as hul reg geraai het.
Na verskeie raaiskote en kopknikke, het die gasheer laat weet:
“Julle het al die bestanddele nou reg geraai, behalwe vir een.”
Die gaste het eksotiese en inheemse speserye genoem en met kullinêre kinkels a-la-Kokkedoor vorendag gekom. Aan die einde van die aand, was dit die gasheer wat met ‘n skalkse glimlag sy gaste elkeen by die deur kon groet met die woorde:
“Die laaste bestanddeel was sout!”

“Julle is vir die aarde soos sout in kos. Maar as sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan niemand dit weer soos sout laat smaak nie. Daardie sout beteken niks. Mense gooi dit buite weg en hulle trap daarop.
– Matteus 5:13 uit die ‘Bybel vir almal’-vertaling

Daar is party dinge wat ons as vanselfsprend aanvaar. Ander dinge waarby ons verbykyk alhoewel dit ‘n bitter belangrike deel van ons samestelling is. Daar heers bekommernis oor die mens se Jodium-inname in ons moderne tyd. In die 1920’s is Jodium by sout gevoeg om die tekorte aan te vul. Dit speel ‘n belangrike rol by die skildklier en tekorte kan tot gebrekkige konsentrasie, stadige metabolisme en selfs goiter-probleme lei. Die moderne mens word geleer dat sout sleg is vir die hart en verder voeg vervaardigers ook minder en minder Jodium by sout. Die lewe gaan mos maar oor balans en soos met jou verlange na die sout van die see, weet ‘n mens dit nie eers altyd dat jou liggaam na ‘n bietjie Jodium smag nie. Dit is net asof daar iets kortkom in jou kos of jou lewe.

My Oupa het dikwels ‘n eetlepel sout gesit en eet. Ek het as kind ook somtyds hom probeer na-aap, maar ek het gegril daarvoor. Daar sou seker een of ander mediese rede vir sy sout-etery wees, maar ek sal dit maar eerder oor my kos neem. Die belangrikheid van sout in die verlede is interessant. Tydens die sluit van belangrike ooreenkomste, moes daar sout geruil word. Ek wonder of die gebruik dat besigheid oor ‘n lekker maaltyd bespreek word, nie sy oorsprong by die sout-ruil gebruik kry nie, want daar word mos sout oor die kos gegooi. Die woord ‘salaris’ het ook sy oorsprong by sout, want Romeinse soldate se ransoen was hul ‘geld om sout mee te koop’. Die salaris was dus ‘n soort ‘geld vir sout’ of soutgeld. Dit het definitief raakpunte met die spreekwoord dat ‘n goeie werker sy ‘sout werd’ is.

Ode aan sout
deur Pablo Neruda (vertaal deur De Waal Venter)

Hierdie sout
in die soutpot
het ek gesien op die soutvlaktes.
Ek weet
jy sal my nie glo nie,
maar
dit sing,
die sout sing,  die vel
van die soutvlaktes
sing
met ‘n mond versmoor
deur die aarde.
ek het gesidder in daardie
verlatenheid
toe ek geluister het
na die stem
van die sout
in die woestyn.
Naby Antofagasta
die hele
salpeter pampa
weerklink:
dis ‘n gebroke
stem
‘n treurige
lied.

En daar in sy grotte
die soutjuweel, berg
van verborge lig,
deurglansde katedraal,
kristal van die see, vergetelheid
van die golwe.

En daar op elke tafel
op aarde,
sout,
jou rats
substans
gesprinkelde
lewenskragtige lig
op ons kos.

Preserveerder
van antieke
skeepsruime,
ontdekker
jy het gevaar
op die oseaan
eerste
die onbekende, half verborge
paaie van die skuim in.

Poeier van die see, die tong
ontvang van jou ‘n soen
van die nagsee:
smaaklikheid in elke
heerlik gegeurde dis
berus op jou oseaanagtigheid
en so wys
die kleinste
miniskule
golfie uit die soutpot
ons nie alleen sy huishoudelike witheid nie,
maar die sentrale smaak van die oneindige.

Kantlyn-nota: Hierdie blog het eintlik begin toe ek die belangrikheid van sout in die realm van religie probeer navors het. Ek is ‘n groot aanhanger van gruwelflieks (alhoewel ek nie gruwelboeke kan lees nie, want dit bly my te lank by). Baie gruwelfilms wys dat slegte geeste ‘n lyn of sirkel van sout respekteer. Die Algemis binne-in my is nog besig met die navorsing, maar ek vind dit werklik interessant.

Ons besef baie keer eers te laat dat ons ‘n sout-tekort het of gehad het. Ek sien daarna uit om een van my seesout-tekorte aan te vul met die lees van ‘n ander soort see in ‘In a burning sea’. Die vertalings kan ‘n mens opnuut na ‘n gedig laat kyk – amper soos wanneer jy bo en onder die oppervlak van die see inbeweeg.  Een so ‘n dimensie van die see het vir my oopgegaan met die lees van Johann Lodewyk Marias se bundel ‘In die bloute’.

Tierkourie
Cypraea tigris
deur Johann Lodewyk Marais

‘n Digter het eens oor ‘n skulp geskryf,
selfs die binnekant in detail verbeeld
en voor die leser se oë laat leef.
Ek het met verwondering geluister.
Tuis het ek die skulp in my hand geneem,
hom om en om gedraai en goed bekyk.
Hoe moet ek dan te werk gaan as ook ek
dié sieraad uit die see nou wil vereer?
Moet ek eers weer op my boekrak gaan soek
om meer oor die oseane, vorm
en gedrag van dié boorling van Pemba
te lees voor ek ‘n woord op papier sit?
Moet ek hom desnoods alkant bestudeer,
in sy binneste inkyk, notas maak
en sy samestelling deeglik vasstel?
Moet ek die man van Maputo loop pols
by wie ek hom vir ‘n hand vol munte
van die hoop voor sy voete gekoop het?
Of moet ek hom liewer teen my oor druk
en luister of hy self iets te sê het?
Miskien sal ek maar ‘n digter moet vra.

Vir T.T.Cloete

Dit is partykeer nodig om die aarde se ritmes te probeer naboots, want dit is groter en langer en wyer as ons. Die asemhaling van die see. Die sout wat die see vir ons as geskenk aanbied. Partykeer is daar kalmte te bespeur in die nabootsing van daardie ritmes. Die see is net ‘n skulp-oor-die-oor ver en die sout is bietjies-bietjies in alles verstrooi.

Ballade van ‘n soutpot wat leegloop

sout

sou

so

s

Bronne:
1. Internet: http://blogs.24.com/poems/2013/12/22/neruda-se-ode-aan-sout/
2. Internet: http://www.bybel.co.za/search/search-detail.php?prev=-2&book=MAT&chapter=5&version=2&GO=Wys
3. Internet: https://pbs.twimg.com/profile_images/313400428/salt_shaker_photo.jpg
4. Marais, J.L. In die bloute. Pretoria: Cordis Trust Publikasies, 2012

Johann Lodewyk Marais. F.W. de Klerk

Thursday, November 13th, 2014

F.W. DE KLERK

Oslo, 10 Desember 1993

 

 

U Majesteite, u Eksellensies,

Dames en Here …

 

… in die uur van luister

en verydeling noem ons

in die wye en droewe land

onder die groot suidersterre

die naam Van Wyk Louw.

 

© Johann Lodewyk Marais / November 2014

Johann Lodewyk Marais. David Livingstone

Monday, September 2nd, 2013

DAVID LIVINGSTONE

         Brought by faithful hands

over land and sea […].

                       

Hulle haal die harslag en derms uit

en begrawe dit langs ’n mvula.  

Vryf hom dan in met sout en brandewyn

en droog die lyk in die tropiese son

voor hulle dit optel, die bene buig

en versigtig met kaliko verbind.

Dan skuif hulle hom in ’n myonga se bas

en word alles in seildoek toegedraai,

met teer bestryk en omswagtel.

Op die laaste reis van Chitambo af

na die voet van die Tanganjikameer

en deur woude, moerasse, riviere

en klowe op pad na Bagamoyo

bengel op die skouers van die draers

die liggaam van Livingstone aan ’n paal.

Ná die reis per skip na Southhampton

en per trein na Londen eien artse

die linkerbo-armpyp wat lank terug

deur ’n stormende leeu gebreek is.

 

© Johann Lodewyk Marais / 2013

 

 

Andries Bezuidenhout. Johann Lodewyk Marais as feesdigter – fotobeeld

Wednesday, July 3rd, 2013

Johann Lodewyk Marais was die eerste Afrikaanse digter om as die Innibos kunstefees se feesdigter aangewys te word. Tydens ʼn geleentheid by die fees is ʼn oorkonde deur Chris Barnard aan hom oorhandig. Elize Cawood het gedigte uit sy agt digbundels voorgelees en ʼn oorsig van sy loopbaan as digter gegee. Luna Paige het twee van sy gedigte getoonset en by die geleentheid opgevoer. Verder het die beeldhouer Jaco Sieberhagen ʼn werk geskep op grond van temas uit Johann Lodewyk Marais se digkuns en daaroor gepraat by die geleentheid. Hier onder is ʼn fotobeeld.

Johann Lodewyk Marais ontvang oorkonde tydens Innibos Kultuurfees

Friday, June 28th, 2013

 

Verlede maand het ons berig dat die organiseerders van die Innibos-kultuurfees die inspirerende besluit geneem het om ‘n feesdigter in die persoon van Johann Lodewyk Marais aan te wys. Sy optrede was vanoggend, 28 Junie, en na afloop van sy voordrag is hy vereer met ‘n spesiale oorkonde wat aan hom oorhandig was deur niemand minder nie as Chris Barnard …

Watter welverdiende verering is dit nie! Van harte geluk, Johann.

As leestoegif volg ‘n toepaslike gedig.

***

INNIBOS

Drie vroue dans ‘n Vrydagles
toe-oë, in capulanas
wat rooi en swart en plegtig pas
en die ritme van hulle dye hou.

“Hý wou sien,” sê Dan Dlamini
en sy vinger wys na my
wat volg hoe die vroue stof trap
in ‘n besielde raserny.

Die aanstigter slaan op ‘n trom:
al skriller en meegevoer
skuifel die voete uit die kring
en word die ritueel volvoer.

 

© Johann Lodewyk Marais

 

 

Louis Esterhuizen. Ekopoësie en die droogdok van menslike begeerte

Tuesday, June 25th, 2013

 

Dat die hele kwessie van ekologie en die sogenaamde “groen”-poësie toenemend van belang raak in ons eie digkuns, is ‘n gegewe. Vroeër vanjaar was daar hoeka ‘n “Eco-poetics Conference” aangebied by die UC Berkeley en Evelyn Reilly, wat een van die aanbieders was, het dan ook haar lesing, getiteld  “Environmental Dreamscapes and Ecopoetic Grief,” volledig aan Omniverse beskikbaar gestel vir plasing; ‘n lesing waarin sy sommer heelwat gedagtes opper wat ook vir ons van belang mag wees …

Volgens die lokteks by The Poetry Foundation, die volgende: “Reilly’s talk includes fantastic analysis on the state of ecopoetics, what it feels like to be an eco-poet, thoughts on Alan Gilbert’s recent scholarship on interdisciplinary arts in relation to poetry, and a neat segment about the romantics. “

Reilly se lesing is lank, maar absoluut fassinerend. Enkele uittreksels daaruit:

 

Evelyn Reilly

“The pitfalls of thinking of ecopoetics as a developing genre have been present from the start. Not only are there the facile dismissals to deal with, there is also the aesthetic disappointment of much that might fit into such a genre: updated nature writing, ruined-landscape writing, over-earnest science-inflected writing, call to arms writing, none of it really anything to get the big aesthetic glands salivating—and I say this as someone who has written most of the above. Which brings me back to my initial ambivalence and secondary impasse: Why would any poet want to touch this stuff? Perhaps because it is not ‘stuff’ at all, meaning it is not a genre or a movement, but rather a fact of writing in a world of accelerated environmental change, meaning one cannot not touch it. And this makes me wonder if it is a poetics at all.”

“At the end of the introduction to Gilbert’s book (i.e. Alan Gilbert, skrywer van Another Future: Poetry and Art in a Postmodern Twilight), he also turns to the subject of hopelessness and hope. ‘If the cultural conditions that arise in the wake of postmodernism call some of the questions of postmodernism into question, then how does one begin to define the idea of hope? . . . After postmodernism’s thorough debunking of the idea of a linear progress of history . . . it’s difficult to justify clinging to either this linear model or the paradigm of enforced modernist utopias that paralleled it.’ He then proposes the following: ‘Perhaps by hope one means something more like resistance . . . not a resistance of the imagination, but an imaginative resistance. A resistance that is as fluid and ubiquitous as power’.”

Mmm … Gaan lees gerus die volledige artikel; ‘n artikel wat helaas meer met die problematisering(s) van die onderwerp te make het, as wat dit met konkrete voorstelle en/of oplossings kom.

Hieronder volg twee gedigte deur twee van ons vernaamste begroendes.

***

OP VER STRANDE

Malindi, Kenia

 

Ek het uit die binneland gekom

en ‘n Thomson se gaselle

het opgespring en soos ‘n dolfyn

in die lugspieëling verdwyn.

 

Nou duik ek in die warm see

agterna tot by ‘n oorhang

in die rif waar dit rondwemel

van steen-, blink- en papegaaivis

so bont soos ‘n tropiese lap.

 

Terug op die strand hurk ek neer

en met my vinger teken ek

in die wit sand ‘n halfmaan, kruis

en sirkel met pyle deur getrek.

 

© Johann Lodewyk Marais (Uit: In die bloute, 2012: Cordis Trust) 

 

***

 

Without

(Ilex mitis)

 

 

Laat die waterval val waar hy val,

 

die stroom afstroom na die see:

 

ek wil net onder die without sit.

 

Vergeet van planke vir waens,

 

van stele saag vir pik en graaf:

 

ek wil net onder die without sit.

 

Hoe soet sulke rooi bessies proe

 

is ’n oorlewering slegs vir die voëls:

 

ek wil net onder die without sit.

 

Vanmelewe het houtkapper dalk

 

in die seepskuim van die blare gebad:

 

ek wil net onder die without sit.

 

’n Konkoksie uit die bas sal kwansuis

 

al my sorge en skete laat verdwyn,

 

maar ek wil net onder die without sit.

 

Maak toe al jou boeke, kom sit hier by my.

 

 

© Hennie Nortjé (Uit: in die skadu van soveel bome, 2012: Queillerie)

 

 

 

  •