Posts Tagged ‘Johann Lodewyk Marais’

Louis Esterhuizen. Ekopoësie en die droogdok van menslike begeerte

Tuesday, June 25th, 2013

 

Dat die hele kwessie van ekologie en die sogenaamde “groen”-poësie toenemend van belang raak in ons eie digkuns, is ‘n gegewe. Vroeër vanjaar was daar hoeka ‘n “Eco-poetics Conference” aangebied by die UC Berkeley en Evelyn Reilly, wat een van die aanbieders was, het dan ook haar lesing, getiteld  “Environmental Dreamscapes and Ecopoetic Grief,” volledig aan Omniverse beskikbaar gestel vir plasing; ‘n lesing waarin sy sommer heelwat gedagtes opper wat ook vir ons van belang mag wees …

Volgens die lokteks by The Poetry Foundation, die volgende: “Reilly’s talk includes fantastic analysis on the state of ecopoetics, what it feels like to be an eco-poet, thoughts on Alan Gilbert’s recent scholarship on interdisciplinary arts in relation to poetry, and a neat segment about the romantics. “

Reilly se lesing is lank, maar absoluut fassinerend. Enkele uittreksels daaruit:

 

Evelyn Reilly

“The pitfalls of thinking of ecopoetics as a developing genre have been present from the start. Not only are there the facile dismissals to deal with, there is also the aesthetic disappointment of much that might fit into such a genre: updated nature writing, ruined-landscape writing, over-earnest science-inflected writing, call to arms writing, none of it really anything to get the big aesthetic glands salivating—and I say this as someone who has written most of the above. Which brings me back to my initial ambivalence and secondary impasse: Why would any poet want to touch this stuff? Perhaps because it is not ‘stuff’ at all, meaning it is not a genre or a movement, but rather a fact of writing in a world of accelerated environmental change, meaning one cannot not touch it. And this makes me wonder if it is a poetics at all.”

“At the end of the introduction to Gilbert’s book (i.e. Alan Gilbert, skrywer van Another Future: Poetry and Art in a Postmodern Twilight), he also turns to the subject of hopelessness and hope. ‘If the cultural conditions that arise in the wake of postmodernism call some of the questions of postmodernism into question, then how does one begin to define the idea of hope? . . . After postmodernism’s thorough debunking of the idea of a linear progress of history . . . it’s difficult to justify clinging to either this linear model or the paradigm of enforced modernist utopias that paralleled it.’ He then proposes the following: ‘Perhaps by hope one means something more like resistance . . . not a resistance of the imagination, but an imaginative resistance. A resistance that is as fluid and ubiquitous as power’.”

Mmm … Gaan lees gerus die volledige artikel; ‘n artikel wat helaas meer met die problematisering(s) van die onderwerp te make het, as wat dit met konkrete voorstelle en/of oplossings kom.

Hieronder volg twee gedigte deur twee van ons vernaamste begroendes.

***

OP VER STRANDE

Malindi, Kenia

 

Ek het uit die binneland gekom

en ‘n Thomson se gaselle

het opgespring en soos ‘n dolfyn

in die lugspieëling verdwyn.

 

Nou duik ek in die warm see

agterna tot by ‘n oorhang

in die rif waar dit rondwemel

van steen-, blink- en papegaaivis

so bont soos ‘n tropiese lap.

 

Terug op die strand hurk ek neer

en met my vinger teken ek

in die wit sand ‘n halfmaan, kruis

en sirkel met pyle deur getrek.

 

© Johann Lodewyk Marais (Uit: In die bloute, 2012: Cordis Trust) 

 

***

 

Without

(Ilex mitis)

 

 

Laat die waterval val waar hy val,

 

die stroom afstroom na die see:

 

ek wil net onder die without sit.

 

Vergeet van planke vir waens,

 

van stele saag vir pik en graaf:

 

ek wil net onder die without sit.

 

Hoe soet sulke rooi bessies proe

 

is ’n oorlewering slegs vir die voëls:

 

ek wil net onder die without sit.

 

Vanmelewe het houtkapper dalk

 

in die seepskuim van die blare gebad:

 

ek wil net onder die without sit.

 

’n Konkoksie uit die bas sal kwansuis

 

al my sorge en skete laat verdwyn,

 

maar ek wil net onder die without sit.

 

Maak toe al jou boeke, kom sit hier by my.

 

 

© Hennie Nortjé (Uit: in die skadu van soveel bome, 2012: Queillerie)

 

 

 

René Bohnen. Op die grenslyn van oorgang

Tuesday, June 18th, 2013

Gesprekke op Facebook is maar soos enige sosiale interaksie – dit het die potensiaal om interessant te raak. So gebeur dit een aand dat ek tegelyketyd drie aparte kubergesprekke aan die gang het; een in Kanada, een Pretoria en een in Grootbrak. Twee gaan oor liminaliteit, die ander oor ʼn selakant. Teen middernag begin ek die gedagte kry dat hierdie eintlik één gesprek is. Hoe meer ek aan die liminale vis gedink het, hoe meer het ek gegoogle. Ek wou veral sien wat die kunste al opgelewer het. Is daar iewers ʼn selakantballet? ʼn Klein simfonie, dalk?

Hierdie installasiekuns deur Marcelle van Bremmel is die eerste waarop ek afgekom het http://catalogue.nimk.nl/site/?page=%2Fsite%2Fart.php%3Fid%3D9  Die meegande “artist statement lui:  “The coelacanth… represents a transitory period from life in the water to life on land and has hence become a metaphor for a crucial evolutionary step…  In a broader sense, Coelacanth could be viewed as being a metaphor for the processes of transition…”

Die nugterheid wat helder sonskyn bring het my die volgende oggend natuurlik laat besef dat my diepnagtelike mymeringe nie so oorspronklik of vreeslik aardskuddend is nie. Maar die proses was aan die gang en ek het vir die eerste keer in jare weer die selakant se spoor gevat.  J.L.B. Smith se seun, Rob, was my skoolhoof en een oggend het hy toegelaat dat skool nie te veel inmeng met ons opvoeding nie, à la Mark Twain. Ons het klasse afgekry en in die skoolsaal vergader om te luister na  J.L.B. Smith se vrou wat vertel van haar man en van die selakant. Sy was ʼn goeie spreker, vol entoesiasme en dit was vir my soos om ʼn Jaques Cousteau of ʼn Jules Verne te ontmoet. Ek het daarna lank gesoek, maar ons klein dorpsbiblioteek het niks oor die selakant gehad wat ek kon lees nie. Hoe anders as vandag, waar soveel beskikbaar is op my klein skermpie in die middel van die nag.

Die selakant se storie is so vol spanning en aksie, ek meen al vir jare dit kan ‘n suksesvolle fliek word, as dit intelligent aangepak word. Afrika in 1938. ‘n Skraal vroutjie sukkel met ‘n vyfvoet-lange vis in ‘n warm Suidelike somer. Niemand wil haar help nie. ʼn Telegram. En dan: om die onmoontlike te glo. Hier is ʼn oervis.

Geen dokumentêre DVD is te koop nie, sover ek kon vasstel. Maar hier is stukke ou “footage” wat dele van die storie vertel. Courtenay-Latimer kan gesien word.  http://www.youtube.com/watch?v=yz1oTHXvbHg

Intussen het ek baie boeke gelees oor die selakant, party meer akademies of wetenskaplik as ander, maar vir my vergelyk niks met J.L.B. Smith se eie boek nie. Old Fourlegs lees boeiend, dis soos ʼn persoonlike dagboek. Een van my vriende het ʼn oorspronklike eksemplaar  by sy pa geërf en ek is heilig daarvan oortuig dat dit eintlik langs my eerste-uitgawe Siel van die mier hoort, maar hy wil nie daarvoor val nie! Ou boeke is amper so mooi en spesiaal soos ou visse, voel ek.

In 1998 is die R2 goue herdenkingsmunt beskikbaar gestel. Dit is nou skaars en waardevol, ek het ene gesien by die Munt se opedag in 2001. Al afdruk wat ek daarvan kon kry het ‘n watermerk op….

 

Wat die ander kunste betref, het my soektog ook die volgende opgelewer: ʼn Tydskrif, http://www.thecoelacanthpress.co.uk/The_Coelacanth_Journal.html, ʼn paar wetenskapfiksie/fantasie tekeninge op plekke soos Deviantart (gaan kyk maar self www.deviantart.com) en ‘n punkrock-groep.http://www.youtube.com/watch?v=ZdBTKDIsLNI Daar was ook die gebruiklike “B-grade” grufilm, wat ek (genadiglik) nie gesien het nie Horror on the campus (vrygestel in 1958). Gister verneem ek so per riemtelegram dat ons eie Triggerfish animasie-studio ʼn konsepvoorlegging in Annecy doen (http://variety.com/2013/film/news/triggerfish-sets-sea-monster-movie-exclusive-1200493414/)  vir ʼn vollengte fliek oor ʼn professor en ʼn fossielmonster uit die see iewers in Afrika.  Ek wonder, ek wonder…!

Maar wat van gedigte? My gesprek met Marie Bredenkamp op facebook het juis gegaan oor ons onderskeie kennismaking met mense in die destydse Natal. Sy het Shirley Bell geken, wat die 1969 kinderboek Old man coelacanth geskryf het en in besit is van baie van J.L.B. Smith se korrespondensie en geskrifte. Ek wou al lankal ʼn gedig oor die selakant skryf, maar het elke keer halfpad opgehou. Uiteindelik het ons laatnaggesels en Marie se verjaarsdag my toe meer op vrouens se stories gefokus en ek het maar solank die volgende vers gepleeg:

Van M tot by die see

(vir Marie)

Vir jou verjaarsdag wil ek ʼn vers voltooi

wat ek voor my ma se dood begin het,

sommer omdat haar naam dieselfde was

as joune en die opnoem van woorde my koers gee;

ek volg hulle soos spore of sporte, soos toonlere

wat my moet lei na oewers of waters, la mer, mare,

sê ek, Maria, Marjorie – ek skryf

lossies, los en los. En vas :

 

Marjorie Courtenay-Latimer, hoe gepas

dat sy die lewe in 1907 moes binneglip

onder die sterreteken van die vis

 

asof iemand toé reeds kon raai dat die see haar ʼn roeping en ʼn lot

present sou gee, dat sy kort voor Kersfees sou moes heen en weer

van taksidermis tot lykshuis, dringend op soek na ʼn koelkamer of ys

om maaiers en rotting weg te hou van die sogenaamde rotskabeljou.

 

Wie kon voorspel dat ʼn longvis op vinne sou stap

tot in die binneland van haar hart,

dat haar bestaan van strand tot strand

gevul sou word deur die professor

en die selakant ?

 

Sy kon as hoogbejaarde vrou helder

soos in ʼn kinderrympie onthou

haar swemmende fossiel, die blou

latimeria chalumnae

 

            “was covered in hard scales

and it had four limb-like fins

and a strange puppy-dog tail”

 

Toe sy alleenlopend sterf op 97 jaar

het sy seker lankal besef:

soms word ʼn hele lewe

in sout en formalien bewaar.

 

Ons het die selakant en sy misterie miskien lief vir die vrae wat dit vra, meer as vir die antwoorde wat dit verskaf. Ek spoor ʼn kinderrympie op, “The coelacanth flip flop” en ook Matthew Ladd se gedig wat begin: “Is it such a crime to stop writing/ we could all burn our manuscripts”. Dan is daar nog Elizabeth Spires se vers wat begin “I saw you in a book: bubble-eyed and staring” uit haar bundel The Wave-maker. (Ek kon nog nie die volledige verse opspoor nie). Rick Mullin se bundel kon ek nie kry nie, net die voorblad:

Op die Saatchi-galery se webblad is net een selakantskildery beskikbaar: http://www.saatchionline.com/art/Painting-Oil-Frozen-Coelacanth/314069/219054/view

Sedert my hoërskooljare is lewendige selakante nou al in hulle habitat verfilm en baie spesimens is versamel. Selekant is eintlik nie net een vis nie, dis ʼn orde. Die soorte in die Ooste is net familie van ons eie Latimeria chalumnae. Nogtans vind ek dit ironies dat die mens die selakant se verdere voortbestaan juis bedreig noudat ons hom ontdek het! Gaan lees gerus maar orals op die internet hoeveel selakante gevang en doodgemaak word. Daar is selfs ‘n geval van “a coelacanth and her 23 pups unfortunately died”.

ʼn Dooie selakant is nie eers naastenby so mooi soos ʼn lewendige een nie. Om mee te begin, verloor hy sy kleur en sy oë word dof. En juis daarom, vind ek Johann Lodewyk Marais se koeplet uit sy bundel In die bloute so skrynend, so verskriklik ráák.

J.L.B. Smith

“Die selakant is pragtig blou en grys

op die oomblik wanneer sy swemblaas bars”

 

 

Onderhoud met Johann Lodewyk Marais

Friday, June 7th, 2013

Louis Esterhuizen in gesprek met Johann Lodewyk Marais oor In die bloute (2012)

 

LE: Johann, van harte geluk met ’n verruklike toevoeging tot jou reeds indrukwekkende oeuvre; dié bundel het ek geweldig gevind … Kom ons begin dan sommer daar: Hoe het die idee vir dié “seeboek” tot stand gekom?

JLM: Baie dankie, Louis. Die see speel geruime tyd reeds ’n rol in my poësie. Op 19 April 2009 het ek op Versindaba (https://versindaba.co.za/2009/04/19/poetiese-leerjare-jl-marais/) redelik uitgebreid oor my belangstelling in dié rigting geskryf. Ek het onder meer vertel van ’n opmerking van die Duitse filosoof Hans-Georg Gadamer in 1980 tydens ’n lesing by die Universiteit van Pretoria. Een van die dinge wat die mens uniek maak, was volgens hom dat ons ons dooies se grafte met skulpe versier. Dié opmerking van die vader van die hermeneutiese etiek het die verwantskap tussen dink en dank beklemtoon en heelparty van my jeugervarings in ’n filosofiese en/of poëties verrykte verband geplaas. ’n Hand vol gedigte oor die see (en heelparty ander onderwerpe!) het daarop gevolg. Ná die publikasie van Aves (2002) het ek ernstig aan die moontlikheid begin dink om ’n bundel uitsluitlik aan die see te wy, maar dit was natuurlik makliker gedink as gedaan. Vir my wat nie by die see grootgeword het of daar woon nie, was dit ’n uitdaging omdat dit my sou dwing om deur middel van leeswerk, navorsing en eerstehandse ervaring meer van die onderwerp tewete te kom. Die werk van digters soos J. Slauerhoff, Pablo Neruda, Uys Krige, D.J. Opperman, Derick Walcott en Grace Nichols het natuurlik die idee vir so ’n bundel verder gevoed.

LE: Jy is jare reeds bekend as een van ons tegnies mees vernuftige digters; iemand wat nie net die afsonderlike verse noukeurig afrond nie, maar ook die bundel as geheel. Is hierdie konsepmatige benadering vir jou belangrik? En indien wel, hoekom?

JLM: Daar is inderdaad ’n duidelike konsepmatige benadering in van my bundels te bespeur. Hiervan is Aves (2002) en In die bloute sekerlik die beste voorbeelde. In die Afrikaanse literatuur het die eenheidsbundel nogal ’n hoë status waarvan Opperman se Komas uit ’n bamboesstok (1979) nog altyd ’n modelvoorbeeld is. Oor die eenheid van sekere Afrikaanse digbundels het Edith H. Raidt en Leon Strydom belangrike studies onderneem, terwyl Evert van der Starre en Ad Zuiderent in De tweede gisting: Over de compositie van dichtbundels (2001) eweneens die onderwerp ter sprake bring. ’n Digbundel hoef natuurlik nie ’n duidelike eenheid te vorm om goed te wees nie (dink byvoorbeeld aan N.P. van Wyk Louw se Nuwe verse, 1954) en dalk het die konseptuele benadering die status van die enkel teks ’n bietjie aangetas. My poësie is ’n projek en die fokus op sekere temas help my om verder aan hierdie projek te werk. Die fokus op ’n bepaalde onderwerp inhibeer weliswaar soms my spontane skryf van gedigte oor ander onderwerpe (soos toe ek aan Aves gewerk het), maar daar kom altyd gedigte by wat ek nie “beplan” het nie. Ek het ook heelwat “bundellose” gedigte in my laai.

LE: Tussen In die bloute en jou vorige bundels bestaan daar uiteraard heelwat raakpunte. Tog is daar ook met dié bundel belangrike groeipunte na ’n ander tematiek – en veral tegniese aanslag – teenwoordig. Kan jy dalk hierop uitbrei, asseblief? Anders gestel: Hoe plaas jy as digter In die bloute binne jou oeuvre?

Heelwat van die eerste gedigte wat ek vir hierdie bundel geskryf het, het uit agt versreёls bestaan. Nadat ek A. Roland Holst se Een winter aan zee (1938) gelees het, het ek besluit om met die agtreёlige vers te eksperimenteer. Daar het egter ander korter én langer gedigte bygekom, maar ek het tog probeer om ’n redelik kompakte gedig te skryf waarin ek verskillende spesies aan die orde stel. Ek het probeer om die dinglikheid en (ander-)soortigheid van seelewe te ondersoek en redelik spontaan het die gedigte ’n ander karakter gekry (of so voel ek in elk geval).

Hoe die bundel in my oeuvre inpas sou ek natuurlik veral by my lesers wou hoor. Tematies sluit die bundel aan by my vroeëre gedigte oor voëls, soogdiere en plante en is deel van my poging om oor lewe op aarde te skryf. Die bundel bevestig waarskynlik my belangstelling in die biologiese wetenskappe en mense wat hulle daarmee besig gehou het. Ek werk in die Darwinistiese tradisie en bou ’n legkaart oor lewe op aarde, sodat ek beter kan verstaan en die wonder en weerloosheid van lewe te midde van die globale omgewingskrisis kan aantoon. Hierna sou ek nog oor insekte, kieme, virusse en bakterieë wou skryf. Ek het egter ook ander belangstellings wat my op ander paadjies deur die landskap kan neem.

LE: Ek het die indeling van die bundel besonder interessant gevind, aangesien die sewe afdelings elkeen ’n bepaalde fokus (en aanslag) het, maar terselfdertyd ook na mekaar toe uitreik ten einde ’n afgeronde geheel daar te stel. Vertel kortliks hoe jy die bundel ingedeel het?

JLM: Die bundel bevat ’n inleidende gedig of programgedig, gedigte waarin die projek uitgestippel word, gedigte oor biologiese seelewe, seeplante, mense wat hulle met die see bemoei het, gedigte oor meer persoonlike “seebelewenisse” en ’n laaste gedig wat teen die vernietiging van lewe op aarde waarsku. Eendag gaan ek hopelik nog ’n bundel publiseer waarin die gedigte bloot alfabeties volgens die titels van die gedigte gerangskik is. En ’n bundel waarin die cowboy in die rigting van die ondergaande son ry.

LE: ’n Geweldige fonds in dié gedigte is die indrukwekkende galery van Afrikaanse benamings: lemoenspons, maanjellievis, tierkourie, toldolfyn, rooimangliet en nog vele ander. Is hierdie almal erkende benamings of het jy ook van neologismes gebruik gemaak?

Hierdie is almal erkende benamings en ek het moeite gedoen om die name in die subtitels te kontroleer en minstens een gesaghebbende bron te hê vir elke naam wat ek gebruik. By die gedigte oor individuele spesies gebruik ek ook die wetenskaplike name. Hierdie name behoort dit vir die leser maklik te maak om vas te stel oor presies watter spesie elke gedig handel; maar wetenskaplike naamgewing is ’n uiters interessante onderwerp. In die subtitels is ’n boeiende stuk natuur- en kultuurgeskiedenis opgesluit. Ek hoop dat daar lesers sal wees wat erns met hierdie name sal maak omdat dit hulle met verrassende nuwe wêrelde sal laat kennis maak. Miskien moet ek weer noem dat ek werklik in die onderwerpe waaroor ek skryf belangstel en dat my gedigte nie net as ’n “literêre projek” gesien moet word nie.

LE: Nog ’n kenmerk van dié bundel is die verskeidenheid ten opsigte van sowel tyd as lokalisering. Uiteraard laat dit ’n mens wonder oor hoe dié verse tot stand gekom het … Moes jy baie navorsing doen of is die meeste van dié verse op eie ervarings gebaseer?

JLM: My gedigte is op sowel eie ervaring as navorsing gebaseer. Sonder genoeg eie ervarings oor die see sou dit onmoontlik gewees het om oor die onderwerp te skryf. Die ervaring wat ek as sosiaal-wetenskaplike naby Tshipise in die Limpopo-provinsie opgedoen het, het byvoorbeeld neerslag in “Landslak” gevind waarin ek skryf oor werklike ervarings wat ek in daardie kremetart- en landslakryke gebied gehad het. Die prikkel vir die gedig “Tierkourie” was ’n gesprek met ’n oudstudentemaat en deesdae taalonderwyseres by die Hoërskool Menlopark in Pretoria, naamlik Nerine Ahlers. Sy het vertel van ’n Franse gedig waarin die digter “selfs die binnekant van die gedig” beskryf het. Ek het nog nie die gedig gelees waarvan sy vertel het nie, maar haar opmerkings was die direkte prikkel vir die skryf van my gedig; asook heelparty ander van my seegedigte. Nog ander gedigte is geskryf na aanleiding van persoonlike ervarings by die see, byvoorbeeld “Rooimangliet” oor die mangliete wat ek voor die Keniaanse paleoantropoloog dr. Richard E. Leakey se Swahili-strandhuis op Lamu-eiland in Kenia gesien het. Die talle boeke wat ek oor verskillende aspekte van die see geraadpleeg het, word ook op een of ander manier in van die gedigte betrek. Ek mag ook net byvoeg dat navorsing wat ek doen nie noodwendig aanleiding tot gedigte gee nie. Enkele jare gelede het ek ’n lang artikel oor “C. Louis Leipoldt en J. Slauerhoff se reisgedigte oor die Ooste” vir Ronel Foster, Yves T’Sjoen en Thomas Vaessens (reds.) se Over grenzen/Oor grense: ’n Vergelykende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poësie (2009) geskryf. Die navorsing vir die artikel het maande geduur en ek het Slauerhoff se gedigte deeglik bestudeer. Dié ywer het egter nie direk tot een van die seegedigte in In die bloute aanleiding gegee nie.

LE: ’n Verrassende verwysing onder aan die gedig “Maanjellievis” (p.21) gee erkenning aan Laura Riding, ’n ietwat minder bekende digter wat nie net jare lank Robert Graves se meeloper was nie, maar ook van die meer opwindende digters in die 1930’s was. In 1941 het sy haar egter formeel van die digkuns gedistansieer en dié stap in 1976 verduidelik met die volgende stelling: “My faith in poetry was at heart a faith in language as the elementary wisdom.” Haar toenemende besef dat taal as sodanig ontoereikend is om die menslike ervaring te verwoord, het tot haar ontnugtering en gevolglike distansiëring aanleiding gegee. Is ek verkeerd indien ek heelwat van dié ontnugtering (frustrasie?) ook in hierdie verse van jou raaklees?

JLM: Louis, dit is ’n interessante waarneming. My gedigte probeer iets weergee van die komplekse verhouding tussen my/ons en die omringende werklikheid. In talle van die gedigte in In die bloute probeer ek om iets van hierdie magteloosheid om die dinge om ons te ken en weer te gee. Filosowe soos Martin Heidegger, Hans Georg-Gadamer en Jacques Derrida het ook baie daartoe bygedra om my van die ongemaklike verhouding tussen die mens en die omringende werklikheid bewus te maak. Taal is nie noodwendig toereikend om byvoorbeeld die oneindige verskeidenheid lewe op aarde tot spreke te bring nie. Daarom is gedigte dikwels bloot aantekeninge, kanttekeninge, optekeninge, skrifbeelde. Ja, “Iets staan in sterre-en-helderte geskryf:/ en ek skryf ná in stof,” het Van Wyk Louw in “Ex unguine leonem” in Tristia (1962) gesê. Deur middel van die poësie probeer ek nietemin om iets van ’n wete of kennis van ons wêreld te oor te dra.

LE: Johann, jy is baie aktief met die plaas van gedigte en lewering van kommentaar op veral Facebook, in so ’n mate dat jy vereer is met Die Orde van die Goue Pen vir jou bevordering van die Afrikaanse digkuns via sosiale media. Watter voordele bied dié wyer (sosiale) betrokkenheid vir jou as digter?

Die sosiale media het my ’n groot aantal nuwe lesers besorg. Hulle is mense wat andersins niks van my sou geweet het nie of glad nie met my werk in aanraking sou kom nie. Heelwat van my Facebook-vriende is kennisse van my skool- en kinderdae en dit was ’n groot verrassing om weer van hierdie mense te hoor en om te weet dat hulle al van my gedigte gelees het. Daarbenewens gebruik ek ook die sosiale media as “werkswinkel” vir my gedigte. Ek publiseer natuurlik ook graag van my gedigte in literêre tydskrifte, waar ek ook die geleentheid gebruik om my gedigte te toets voor hulle uiteindelik in ’n bundel opgeneem word. Ons as digters het nie noodwendig baie lesers nie en ons moet hulle soms maar self gaan soek. Daarbenewens hou ek van die gedagte om nuwe publikasiegeleenthede en -vorme te verken.

LE: In jou loopbaan het jy al verskeie pryse ontvang. Aan die einde van verlede jaar is jou vorige bundel, Diorama, byvoorbeeld met die SALA-toekenning vir Afrikaanse poësie bekroon. Daarom die óú tandeknersvraag: Wat beteken hierdie pryse vir jou? Ervaar jy dit as intimiderend of inspirerend?

Pryse is inspirerend en belangrik, maar die uitdagings van nuwe skryfwerk (in my geval ook meer onlangs in ’n ander dissipline soos Geskiedenis waarin ek hopelik in September 2013 my doktorsgraad sal verwerf) en die daaglikse bestaan laat my gewoonlik nie te veel oor bekronings besin nie. Ek verdien ook my brood in ’n omgewing waarin min aandag aan my as skrywer gegee word. Ek het geen probleem daarmee nie. Ek het in ’n nuwe Suid-Afrika geleer om in verskillende kontekste te funksioneer en oorlewe.

LE: Ten slotte, ’n gedig waarna ek telkens terugkeer is die treffende vers “Please, let me wonder” (p.69), ’n vers wat nie net jou tegniese vernuf toon nie, maar ook die emosionele diepgang wat jy met dié bundel bereik. Sal jy daarom so vriendelik wees om dit hieronder te plaas as leestoegif, asseblief? En baie dankie vir die geleentheid om oor ’n besonderse toevoeging tot ons digkuns te kon gesels.

 

PLEASE, LET ME WONDER

 

 

Sy het dadelbruin en mooi teruggekom

van die strand af en in ’n fles water

seeslakke en klipvissies geskommel.

 

                *

 

In die opdrifsels van notaboeke

het ek woorde van verlange gevind.

 

                *

 

Die see skuur skouer met die strand

en lê sy diepste geheime

reg voor my voete oop en bloot.             

 

                *

 

Ek wil nie fondament wees nie –

eerder ’n steier teen die buitemure

waarteen die suidooster ruk en pluk.

 

                 *

 

’n Brander is net ’n brander as hy breek.

                                Wanneer hy klaar is, hou hy op bestaan,

                                maar soms gaan die brander net aan en aan.

 

 

 

Johann Lodewyk Marais. Hond

Wednesday, April 24th, 2013

Hond

Canis lupus familiaris

 

Die hond poseer teen die blou, blou hemel

en die haelwit wolke wat hom omraam,

maar wat kan ék uit hierdie beelde haal?

 

Die hond staan fier op sy hoë pote

op die uitgestrekte Karoolandskap

asof hy hom uit ydelheid laat kiek.

 

Dit lýk so met die eerste oogopslag,

maar dan val die gespitste ore op

en die krom agter- en reguit voorpote.

 

Die hond is skaars in beheer, word gelei

deur sy natuur en word so die voorwerp

vir dié wat oor hom heers: hom wil teiken.

 

Hy is die som vir alle antwoorde

en in die stip van sy peilende oë

sien ek huiwering en vergetelheid.

 

Alles om hom bly dié uur dieselfde,

bly wag asof ’n skoot nou sal afgaan,

maar vir eers word dooierus geneem.

 

             Na ’n foto van Daniel Naudé

 

© Johann Lodewyk Marais – 2013

Johann Lodewyk Marais ontvang SALA-toekenning vir “Diorama”

Saturday, November 10th, 2012

 

Saterdagaand is die ontvangers van vanjaar se SALA-toekennings tydens die Africa Century International African Writers Conference in Bloemfontein bekendgemaak. In die kategorie vir Afrikaanse digkuns is Johann Lodewyk Marais (foto) as wenner aangewys vir sy bundel Diorama wat verlede jaar verskyn het. Ander benoemdes in dié kategorie was Johann de Lange (Weerlig van die ongeloof) en Marlise Joubert (Splintervlerk). Al drie bundels is deur Protea Boekhuis uitgegee.

Volgens die lofrede, die volgende:

“Diorama bevat van die mees deurdagte gedigte oor die natuur en die mens se verhouding met die natuur wat die afgelope jare in Afrikaans verskyn het. Die bundel is goed gebalanseer deurdat dit op verskillende wyses, in verskillende afdelings en deur middel van ‘n groot verskeidenheid digterlike vorme die leser uitdaag om betrokke te raak en verantwoordelikheid te neem vir verskeie vraagstukke met betrekking tot natuurbewaring en die natuurlike lewe in Suid-Afrika en die res van Afrika.

Deur klemlegging op individue wat op een of ander wyse by natuurbewaring betrokke was, soos Thomas Baines (die skilder wat kolonialisme deur sy skilderye uitgebeeld het), Jan Smuts (‘n kenner van grassoorte en skrywer van Holism and Evolution), Richard Leaky (bekend om sy paleontologiese studies in Kenia) en Jane Goodall (gorilla-kenner), word die sterk verhaalmatige aard van die bundel gesuggereer.

Diorama

Diorama

Die bundel word gekenmerk deur sterk progressie, soos deur verskeie resensente aangetoon word. Die eerste afdeling van die bundel bevat gedigte oor die oorsprong van die mens, daarna kom onderskeidelik die diereryk, die voël- en insekteryk en die planteryk onder die vergrootglas (in gedigte wat volgens een resensent met fabels vergelyk kan word) waardeur die evolusieproses en die eenheid van alle lewende vorme op aarde gesuggereer word. Die slotafdelings handel oor die mens as vernietiger van sowel sy eie spesie as die ander spesies op aarde. Sodoende kom daar ‘n holistiese beeld van die lewe op aarde te voorskyn wat ‘n beduidende bydrae lewer ten opsigte van sogenaamde “groen” argumente wat tans oral ter wêreld veld wen. Die mens se verantwoordelikheid as beskemer van alles spesies word sterk gesuggereer.

Literêr gesproke is die bundel van hoogstaande gehalte. Marais word dikwels gekritiseer vir sy kort gedigte wat volgens resensente dikwels eenselwig voorkom. Volgens die insigte van die beoordelaars kan die kort gedigte in afdelings II tot IV egter gesien word as ‘n soort poëtiese skryfievertoning van spesies waarin die aard van elke lewende wese in ‘n kort gedig vasgevang word soos in ‘n foto. Die gedigte in ander afdelings is oor die algemeen goed deurdag en deur middel van interessante en stimulerende intertekstuele verwysings word ‘n groot aantal onderwerpe en ‘n wye verskeidenheid wetenskaplike navorsingsterreine betrek wat deel uitmaak van ‘n diggeweefde verhalende bundel – tematiek wat mense oor grense van ras, klas, kleur en nasionaliteit saambind in hulle gemeenskaplike menslike opdrag van bewaring en verantwoordelike omgang met die aarde en wat daarop lewe.”

Wat ‘n prestasie! Van harte geluk, Johann …

As leestoegif volg een van die gedigte uit die bekroonde bundel:

***

 

Rietduiker

Phalacrocorax africanus

 

Hy het uit die kabbelende water

geglip

en op ‘n seepgladde klip

langs die rivier tussen die mopanies

gewip

e n  h o m  m e t  u i t g e s p r e i d e  v l e r k e

in die wit son

droog gedrup en gedrup.

 

© Johann Lodewyk Marais (Uit: Diorama, 2011: Protea Boekhuis)

 

South African Literary Awards (SALA). Doelstellings en prosedure

Friday, October 19th, 2012

 

Verlede week is berig dat drie Afrikaanse digters, te wete Johann  de Lange (Weerlig van die ongeloof), Marlise Joubert (Splintervlerk) en Johann Lodewyk Marais (Diorama) vir vanjaar se SALA-toekennings benoem is.

Op navraag is onderstaande inligtingstuk ten opsigte van SALA se doelstellings en prosedure van die organiseerders ontvang:

SOUTH AFRICAN LITERARY AWARDS (SALA)

SALA is nou in sy sewende bestaansjaar en word bestuur deur die wRite associates, in samewerking met die Nasionale Department van Kuns en Kultuur, Sowetan en Nutrend Publishers. Aanvanklik is slegs met enkele pryse begin, maar geleidelik is daar meer pryse toegevoeg, sodat die spektrum van genres vergroot is om veral skrywers in inheemse tale aan te moedig om te skryf. SALA bekroon skrywers in alle amptelike tale van Suid-Afrika sonder om enige taal te bevoordeel.

Die doel van die SALA-pryse

  • Om verdienstelike Suid-Afrikaanse skrywers te vereer vir hulle werk en die bydrae wat hulle ten opsigte van die Suid-Afrikaanse letterkunde in sy geheel maak.
  • Om literêre uitnemendheid te huldig. In ‘n land soos Suid-Afrika het letterkunde die vermoeë om verskillende mense en kulturele groepereringe by mekaar uit te bring. Wanneer literêre werke verskillende perspektiewe op die Suid-Afrikaanse geskiedenisse, op waardesisteme, filosofieë en kuns uitbeeld, skep dit ‘n besondere platform waarop hierdie dinge met mekaar gedeel word. Die verskillende tale waarin skrywers hier skryf en die verskillende literêre werke wat hier tot stand kom, preserveer as’t ware ‘n paradigmatiese beeld van ons samelewing en ons kultuur soos dit op die oomblik is. In ‘n land waarin ons daarop aanspraak maak om ‘n nasie te wees, is dit nodig om van mekaar kennis neem en om mekaar se sieninge van die waarheid (in soverre daar ‘n waarheid is!) respekteer. Net kan daar ooit versoening en begrip tussen verskillende groeperinge in ons land ontstaan. Die letterkunde stel ons in staat om verskillende sieninge te respekteer, al is dit nie noodwendig ons eie sieninge nie.
  • Om die mees invloedryke en gerespekteerde literêre pryse in Suid-Afrika te word. SALA is immers ‘n organisasie wat skrywers in ‘n groot aantal literêre genres en kategorieë dwarsoor die spektrum van die 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale bekroon.

Die nominasieproses

Daar word in die media geadverteer en versoeke word gerig dat enige iemand skrywers in die verskillende kategorieë benoem. Gewoonlik benoem uitgewers skrywers wat by hulle gepubliseer het, maar enige ander persoon mag ook ‘n skrywer benoem, solank daar ‘n sekondant is. Die genomineerde werk moet dan natuurlik aan die gestelde vereistes voldoen.
 
Die 9 kategorieë waarin SALA-toekennings gemaak word

Lifetime Achievement Literary Award

Dit word toegeken vir die oeuvre van ‘n skrywer – m.a.w. iemand wat al heelwat gepubliseer het op ‘n hoë standaard.

Posthumous Literary Award

Hierdie prys is, soos die naam aandui, vir skrywers wat reeds dood is en nie in hulle leeftyd vereer is met groot pryse nie.

Nadine Gordimer Short Story Award

Hierdie prys word toegeken uit ‘n fonds wat deur Nadine Gordimer uit haar Nobelprys geskenk is en dit is slegs vir skrywers van inheemse SA tale. Vanaf 2013 sal dié prys ook aan Afrikaanse en Engelse skrywers toegeken word.

K. Sello Duiker Memorial Award

Die prys word toegeken vir ‘n enkele verdienstelike literêre werk wat onlangs verskyn het.

Literary Journalism Award

Hierdie prys is vir joernalistieke uitnemendheid in die bevordering van letterkunde in Suid-Afrika.

Literary Translators Award

Dit word toegeken aan die vertaler van ‘n letterkundige werk van ‘n Suid-Afrikaanse skrywer.

Poetry Award

 Die prys is vir ‘n digbundel wat onlangs verskyn het.

First-time Published Author Award

Dit is vir ‘n debutant in enige literêre genre.

Chairperson’s Award

Hierdie is ‘n spesiale prys wat deur die voorsitter van die SALA-raad aan enige verdienstelike Suid-Afrikaanse skrywer toegeken word nadat nominasies deur Raadslede van SALA ontvang is.

 
Beoordelingkriteria

Wanneer literêre pryse toegeken word, is dit nie net ‘n eer vir die betrokke skrywers wat pryse wen nie, maar ook vir alle sprekers van die taal waarin die werk geskryf is en inderdaad vir die hele wêreld, want dié pryse gee erkenning aan kunstenaarskap en aan die waardes en norme wat uit dié kunswerke spreek. Omdat die SALA-pryse nasionale pryse is (‘n deel van die prysgeld word deur die Departement Kuns & Kultuur geborg), is dit vir beoordelaars belangrik dat die onderliggende waarhede wat uit die bekroonde werke spreek, in ooreenstemming is met die identiteit van die mense van Suid-Afrika soos dit byvoorbeeld in die Grondwet vervat is. Natuurlik is dié identiteit meestal ‘n geïdealiseerde identiteit, maar in beginsel is daar niks verkeerd met die droom en die strewe na ‘n mate van eenheid en onderlinge begrip in ‘n multi-kulturele land soos Suid-Afrika nie.

Beoordelaars verwag nie dat skrywers spesifiek oor die problematiek en die tema van sosiale kohesie en nasiebou skryf wat deel van die beoordelingskriteria uitmaak nie, maar wanneer pryse toeken word wat daarna streef om ‘n geheelbeeld van die Suid-Afrikaanse letterkunde te verteenwoordig, word verwag dat lesers dwarsoor oor die spektrum van Suid-Afrikaanse kulture sal kan vereenselwig met die norme en waardes wat uit ‘n teks spreek (wat nie gelyk gestel kan word met die inhoud en gebeure wat in ‘n letterkundige werk uitgebeeld word nie). Dit is ook belangrik dat die proses die unieke karakter en konvensies van skryf in ‘n spesifieke taal in aanmerking neem.

In die eerste instansie is dit belangrik dat gemeenskappe nie afsonderlik van die res van die mensdom bestaan nie. Daarom moet ‘n letterkundige werk wat aanspraak maak op bekroning, primêr voldoen aan die standaarde wat wêreldwyd aan uitnemende letterkunde gestel word. Om dit algemeen aanvaarbaar te maak vir die leserspubliek waarop dit gemik is, moet dit natuurlik gegrond wees op algemeen-menslike problematiek en universele waarhede. Eers dan kan gekyk word na meer spesifieke eienskappe van genomineerde werke. Dit gaan dus allereers oor literêre meriete en dan eers oor die bevordering van ‘n gedeelde ideaal van ‘n gesamentlike nasionale identiteit.

Die genomineerde werk word dan aan die hand van die volgende kriteria beoordeel:

  • bedrewenheid in die taal waarin dit aangebied word en die kreatiewe hantering van taal oor die algemeen,
  • hoe dit die nasionale identiteit uitbeeld, byvoorbeeld deur vooropstelling van versoening en die verbeelding van ‘n nuwe samelewing,
  • sosiale waardes wat daarin vervat word,
  • universele waarhede,
  • kulturele waardes wat verteenwoordig word,
  • bydrae ten opsigte van sosiale kohesie, nasiebou en oorskryding van ruimte en tyd (byvoorbeeld die aard van menslike lyding, magsmisbruik, skuld en vergiffenis ens.)

 

Hoewel die bydrae ten opsigte van sosiale kohesie en nasiebou dikwels tot kritiek lei en SALA daarvan beskuldig word dat hulle eng norme neerlê, beskou ons hierdie aspekte van ‘n teks in die heel breedste perspektief. Wanneer ons as nasie kan trots wees op ‘n skrywer wat hom sodanig onderskei dat hy byvoorbeeld die Nobelprys wen of dat sy werk in ‘n verskeidenheid van tale vertaal word, lewer dié literêre werk eweneens ‘n bydrae ten opsigte van sosiale kohesie en nasiebou. Dit is dan nasiebou in dié sin dat dit ons as Suid-Afrikaners kan saamsnoer in ons trots op so ‘n kunswerk en dat dit bydra tot die algemene statuur van die Suid-Afrikaanse letterkunde op die wêreldfront.

Sedert sy ontstaan in 2005 het SALA reeds meer as honderd pryse aan skrywers toegeken. Hierdie skrywers is mense, wit en swart, oud en jonk, lewend en dood wat hulle lewe gewy het aan die uitbou van ons literêre erfenis. Dit maak ons trots en nederig om betrokke te wees by so ‘n lofwaardige projek!

Die uwe, 

Morakabe Raks Seakhoa

Project Director – Africa Century International African Writers Conference/S.A Literary Awards

Managing Director – wRite associates

arts . culture . heritage . projects . events . strategists

P.O Box 4488 . Randburg . 2125 . Gauteng . South Africa

74 Mimosa Road . Randpark Ridge . 2194 . Gauteng . South Africa

Tel: +27 11 791 3585/791 4102 . Fax: 086 605 3642 . Email: info@writeassociates.co.za

Websites: www.writeassociates.co.za . www.africacenturyconference.org . www.sala.org.za

 

Hannalie Taute. Doekies omdraai

Monday, October 15th, 2012

Dit is amper somer. Die perfekte tyd om ons jongste van die doeke af te kry.

Die gedagte neem my terug na ʼn tyd toe ons oudste pas begin doek dra het en waar hy en sy pappa onder haiku bedrukte wit doeke van Strijdom van der Merwe staan.  Wapper en dapper in die laatmiddag Karoo son tydens ʼn Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

Ek was weer gelukkig om Strijdom van der Merwe se kuns tydens nog ʼn kunstefees te ervaar, maar die keer PArt (Die eerste Prins Albertse kunstefees), en om hom boonop te ontmoet.

Die titel van die kunstefees was ‘A Vulnerable Landscape’.  Die meeste werke op doek  het die ‘landskap’ ondersoek.  Te veel om een hier uit te sonder.

Al die bome in Prins Albert was getooi in swart doek.  Protes teen die beoogde ontginning van Skalie-gas oftewel ‘Fracking’ in die Karoo.

Van landskap en kuns spring my gedagtes na Helen Martins, wat haar eie wereld geskep het in haar agterplaas in ʼn Klein Karoo dorpie, meer bekend as die ‘Uilhuis’ van Nieu Bethesda.

VRAE AAN DIE UIL- Johann Lodewyk Marais

Sal ek aan jou wat wys is my vrae

oor ons verrinneweerde aarde vra?

Is daar ʼn gat in die dun osoonlaag?

Word die aarde warmer of kouer?

Waarom word die tropiese reënwoude

Uitgekap en gaan die iguana dood?

Wie het gif op die liewenheersbesie

in die roostuin gespuit en weggestap?

Wie het die witkruisarend verwilder?

ʼn slagyster vir die muishond gestel?

Wie het die waterkoedoe skrikgemaak

en sy moerasgebiede drooggelê?

Wie het die swartrenoster afgemaai

en sy horings bloererig uitgekap?

Wie sleep nog steeds kiefnette deur die see?

Waar gaan die woestyne eendag eindig?

Wie gaan die kind met kwasjiorkor voed?

Sal ʼn entstof teen vigs ooit gevind word?

Hoe lankkan die aarde dit nog deurstaan?

Sal jy in jou wysheid kan antwoord gee?

Louis Esterhuizen. Drie Afrikaanse digters vir SALA-toekennings genomineer

Thursday, October 11th, 2012

Inderdaad betree ons hier in die afloop van die jaar die hoogsomer van pryse en bekronings. Een só ‘n prys wat sedert sy totstandkoming in 2005 geweldig in statuur gegroei het, is die South African Literary Awards (SALA) wat dit ten doel het om Suid-Afrikaanse skrywers in ‘n veelheid van kategorieë te erken vir hul betrokke bydraes.

Volgens hul amptelike webtuiste die volgende: “Founded by the wRite associates in partnership with the National Department of Arts and Culture (DAC), the main aim of the South African Literary Awards (SALA) is to pay tribute to South African writers who have distinguished themselves as groundbreaking producers and creators of literature, while it celebrates literary excellence in the depiction and sharing of South Africa’s histories, value systems, philosophies and art as inscribed and preserved in all the official languages of South Africa. The Awards aim to become the most prestigious and respected literary accolades in South African literature […] Since its inception in 2005, SALA has played a significant role to encourage and motivate writers to raise the bar in our literary endeavours. To date SALA has proudly honoured 101 (hundred and one) authors. These are men and women who have dedicated their lives to preserving our literary heritage.”

En teen hierdie agtergrond is dit uiters verblydend dat die digkuns – in die verskillende taalgroepe – ook teenwoordig is; veral in die lig daarvan dat die aantal beskikbare pryse vir die verskillende genres tans bra skeefgetrek is, met die poësie wat oudergewoonte maar hoed-in-die-hand by die agterdeur moet staan en bedel vir sy stukkie brood.

Daarom dat ek vanoggend besonder opgewonde is om bekend te kan maak dat daar gisteraand nie minder nie as DRIE Afrikaanse digters deur die SALA-bestuurskomitee genomineer is vir vanjaar se toekenning in die kategorie vir poësie. Hulle is (in alfabetiese volgorde): Johann de Lange (vir: Weerlig van die ongeloof), Marlise Joubert (vir: Splintervlerk) en Johann Lodewyk Marais (vir: Diorama). Aldrie dié genomineerde bundels het in 2011 by Protea Boekhuis verskyn. In die kategorie vir Engelse digkuns is Ingrid de Kok, Isobel Dixon en Jenna Mervis genomineer vir onderkeidelik Other Signs (Kwela Books), The Tempest Prognosticator (Umuzi) en Woman Unfolding (Modjadji Books).

Nog ‘n interessante feit, vir diegene wat skepties staan oor die verteenwoordiging van die Afrikaanse letterkunde binne die breë bestel: Uit die 23 skrywers wat benoem is in die 10 kategorieë is nie minder nie as 13 van hulle Afrikaanse skrywers (40.6%). En vir ‘n kleinerige taalgroep soos Afrikaans is dít gewis geen geringe prestasie nie …

Nietemin, die wenners van die onderskeie afdelings sal op 10 November tydens die Africa Century International African Writers Conference (ACIWC) in Bloemfontein aangekondig word. Uiteraard word aldrie digters wat vir ons van belang is, voorspoed toegewens.

By wyse van lusmaker plaas ek graag die volgende oor die onderskeie bundels:

Weerlig van die ongeloof

Weerlig van die ongeloof

In Zandra Bezuidenhout se resensie van Weerlig van die ongeloof het sy die volgende gesê: “Ná agt digbundels en ‘n onlangse keur uit sy gedigte (Judasoog, 2010) bring hierdie veelbekroonde digter en Hertzogpryswenner (2011) iets nuuts deurdat hy in ‘n enkele bundel uitsluitlik die kwatrynvorm bedryf. Dit verbaas nie dat De Lange hierdie streng en gedronge versvorm met soveel sukses hanteer nie; hy was nog altyd ‘n digter van die essensie, ‘n meesterlike eksponent van taalaanwending wat geen eksesse duld nie. Selfs in sy vryer verse in vorige bundels het dit opgeval hoeveel waarde hy heg aan vormvernuf en verstegniese afronding, terwyl hy nietemin ‘n merkwaardige soepelheid van segging behou.”

splintervlerk

splintervlerk

Oor Splintervlerk het Bezuidenhout, wat ook die resensent vir dié bundel was, die volgende opmerking gemaak: “Haar jongste verse skep […] nie die indruk dat `n “ouer” stem aan die woord is nie, en ook jonger lesers sal genot put uit die wyse waarop die spreker haar met groot intensiteit in- én uitleef in die lewe en die liefde. Soos voorheen konsentreer sy op die intiem persoonlike ervaring van die liggaam en die natuur, asook op bepaalde plekke, van Cambridge tot Stilbaai, wat in fyn besonderhede beskryf word. Terwyl die titel Splintervlerk te kenne gee dat die heelheid op een of ander wyse geskend is, bevestig die aanvang van die bundelinhoud dat die spreker ‘n fisieke aantasting ervaar. Voorlopig gaan dit gepaard met ‘n verlies aan die vermoë om voluit te funksioneer en vryelik te beweeg, of by wyse van spreke te vlieg, omdat die ‘vlerk’ deur `n mediese ingreep ‘versplinter’ is.”

Diorama

Diorama

Met Johann Lodewyk Marais se bundel was Bernard Odendaal aan die woord as resensent: “Met Diorama lewer Marais ‘n waardige voortbouing op sy vorige digwerk. Temas en vormlike en stilistiese fasette bekend uit veral die vorige drie bundels van Marais, oorheers. Veral sy reputasie as voorste natuur- en omgewingsbesorgde digter in Afrikaans word versterk. Soos ook in die uitgewersbrief aangedui, brei Marais met die fauna- en floraverse in hierdie sewende bundel van hom veral uit op sy ‘voëlboek’ uit 2002, Aves – hoewel sulke gedigte ook in sy ander bundels ‘n belangrike rol gespeel het. ‘n Soort versmuseum van spesies word algaande opgebou […] Maar dit gaan nie net oor die diere en plante self nie. Dis ook, en miskien veral, die mens se verhouding en bedreigende omgaan met hierdie dinge wat dioramies belig word. (Luidens die HAT is ‘n diorama ‘‘n visuele voorstelling waardeur ‘n skildering deur deurvallende lig lewendig na vore kom’.)”

Vergun my egter om dié vreugdevolle berig af te sluit met ‘n kopknik na Marlise Joubert in haar hoedanigheid as Versindaba se hardwerkende en toegewyde webmeester deur ‘n vers van haar as die gebruiklike leestoegif te plaas.

***

in die koel lug

 

en wat van die lyf die hunkeringe van die lyf

die invou die vat die toemaakpalms van jou hande

soos die vlerke van ‘n duif

 

 

in die koel lug van die kamer

word ons hande droog,

 

word ons dors met mekaar,

maak jy my vingers weer klam.

 

een vir een in jou mond,

room jy met die tong.

 

in die koel lug van die kamer

vlieg ons die oerleegte in, gebeur

 

daar vreemde ritmes in die lyf.

ons sal geen kinders hiervan maak nie.

 

dis ook van minder belang –

ons plant ‘n boom in die graf

 

in plaas van ‘n kraaiende kind. in

die koel lug befluister ons mekaar

 

jaar in en jaar uit

met die nag se skroeiende wind.

 

 

(Uit: splintervlerk, marlise joubert; Protea Boekhuis, 2011)

 

 

  •